Mediaverklaring: Skryf in vir Die groenste vingers

  • 4

Foto: Pixabay

Daar is min dinge so mooi soos ’n pragtige ruiker in ’n voorportaal, ’n kleurvolle rangskikking op ’n tafel of ’n romantiese bos blomme vir jou beminde nie. Maar, ons vergeet van die mense wat hierdie kunswerke skep.

Die groenste vingers is kykNET se splinternuwe kompetisie program waar twee tuiniers, blommerangskikkers en passievolle blom-entoesiaste teen mekaar kompeteer om as Die groenste vingers-wenner gekroon te word! Daar is groot pryse en ’n totale kontantprys van R20 000 op die spel.

Met verskeie uitdagings moet hulle elk ’n unieke rangskikking ontwerp en aanmekaar sit, waarna die beoordelaars besluit watter deelnemer blom en watter deelnemer verlep. Hulle gaan kyk na ontwerp, kleur, balans en of ’n gekose tema suksesvol geïnkorporeer is.

“Dit is soos ’n kookkompetisie, maar met blomme!” Só beskryf Philip Nolte, die skepper van die nuwe kykNET realiteitsprogram, Die groenste vingers, hierdie nuwe program. Hy het tydens die eerste inperking van 2020 met die idee opgekom om blommerangskikkings die held van ’n televisieprogram te maak. “Dit was eintlik heel eenvoudig. Ek hou van mooi blomme en het gedink hoe ’n mens ruikers ’n bietjie meer dramaties kan maak.”

Die aktrise en sanger, Edrien Erasmus, is die aanbieder. “Ek is van kleins af baie lief vir tuinmaak – ek het ná universiteit in ’n blommewinkel gewerk en het selfs my eie blommewinkel gehad. My ma het die mooiste tuin, en sy en my pa het ’n kwekery in Botswana. Ek is nie altyd oortuig ek het groen vingers nie, maar ek is ’n blommekind en ek het verseker ’n baie groot liefde vir ons wonderlike natuur. Dit is ’n groot eer en voorreg om deel van Die groenste vingers-span te wees. Dit maak my opgewonde om saam met die deelnemers meer van plante te leer en ontdek.”

Die vervaardiger van Die groenste vingers, Lyall Ramsden, is net so opgewonde oor die projek. “Dit is regtig wonderlik om saam met KykNET aan hierdie unieke konsep te werk, ’n eerste in sy soort in Suid-Afrika. Ek sien uit daarna om te sien wie vir hierdie kompetisie gaan inskryf. Wie weet? Ons kan dalk ’n nuwe Suid-Afrikaanse blom-kultuur skep.”

Franz Gräbe, van Franz Gräbe Flower Couture, is een van die beoordelaars. Hy het al blommerangskikkings vir Oprah Winfrey opgetower en modelle het in sy ‘blom-couture-uitrustings’ op die loopplank gepronk. Van die bekendes wat Gräbe se skeppings gedra het sluit Judith Sephuma, Minnie Dlamini en Brümilda van Rensburg in.

So, wie is immergroen? Wie kort kunsmis? En wie is die roos tussen die dorings?

Inskrywings is nou oop vir Die groenste vingers en sluit 12 Februarie 2021. Gaan na www.kykNET.tv om in te skryf.

  • 4

Kommentaar

  • Surina Serfontein

    Wow!! Ek is byna 70 maar ek is so opgewonde!! Kom uit die mooie (nou baie droog en vaal) Oudtshoorn, waar volop rose, lelies en bont blomme moes plek maak vir droë takke, klippe en aalwynsade. Maar mooi bly maar mooi!! Solank ons kan dink en doen.

  • Ek was 'n blommeboer in Grahamstad vir baie jare; nou tower ek op rangskikkings om mense se lewens op te helder - funksies, verjaarsdae, welkom tuis, ek is jammer, ons dink aan jou, ek is lief vir jou, totsiens - blomme maak alles beter. Wat 'n wonderlike idee wat julle beet het! Ek kan nie wag om die program te sien nie!! Ek is seker ek sal so baie kan leer.

  • ELIZE Riekert

    Hi, ek is 'n blommekind, altyd reg vir die pluk van 'n bos blomme. Op die plaas is daar altyd iets om te pluk en uit te deel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top