Mediaverklaring: PEN Afrikaans besorgd oor taalbeleid en -praktyk aan die Universiteit Stellenbosch

  • 0

’n Aantal gebeure het die afgelope weke saamgeval om die kwessie van taal by die Universiteit Stellenbosch opnuut op die spits te dryf. Die universiteit se hersiene konseptaalbeleid is vir kommentaar gepubliseer en die amptelike konsultasieproses is onderweg. Daar was ook ’n senaatsbesluit dat, met inagneming van die impak van die Covid-19-pandemie en die groter werkslas op personeellede, alle kursusse aan die universiteit slegs in Engels aangebied word vir die eerste semester van 2021. Verder was daar gerugte oor gevalle van taaldiskriminasie in koshuise, waar Afrikaanssprekende studente na bewering belet is om in hul moedertaal met mekaar te kommunikeer. 

PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers, vertalers en ander belanghebbendes wat in die Afrikaanse taal werk. Alhoewel ons as vereniging nie primêr in die onderrigsfeer werksaam is nie, sou dit kortsigtig wees om te dink dat taalkwessies by die Universiteit Stellenbosch ons en die Afrikaanse skryf- en leserspubliek nie raak nie. Inteendeel, die versterking en uitbou van Afrikaans, ook as onderrigtaal, is uiteraard van groot belang vir ons en ons lede.

Deur lidmaatskap van PEN International, die wêreld se voorste skrywersvereniging, verteenwoordig ons ons lede in die internasionale konteks en onderskryf ons die organisasie se doelstellings. PEN International is gerig op die bevordering van letterkunde, die beskerming van uitdrukkingsvryheid en die handhawing en uitbou van taalregte regoor die wêreld.

Teen hierdie agtergrond lewer ons oorhoofs kommentaar oor bogenoemde verwikkelinge wat taal by die Universiteit Stellenbosch betref en waarvan ons met kommer kennis neem.

Die bestuur van PEN Afrikaans se uitgangspunt is dat die Afrikaanse taal ’n nasionale bate is en ’n waardevolle hulpbron wat ingespan kan en, veral in die Wes-Kaap, móét word ter wille van toegang tot kennis en daarmee saam ekonomiese bemagtiging. Dit is tot voordeel van alle sprekers van Afrikaans en daarmee saam tot voordeel van Suid-Afrika.

Die universiteit se konseptaalbeleid is op die oog af ten gunste van meertaligheid, en spesifiek die aanwend van Afrikaans, Engels en isiXhosa as onderrigtale van die universiteit. Die gebruik van Afrikaans en isiXhosa is egter onderworpe aan soveel voorwaardes en kwalifikasies, en die klem op inklusiwiteit deur middel van Engels as verstektaal is so sterk, dat dit aanleiding gee tot ’n diskrepansie tussen die ideaal van meertaligheid en die praktyk van eentaligheid wat na bewering toenemend op die US-kampus toegepas word.  

Om eentaligheid en ’n gedwonge verengelsing as primêre taaloplossing te sien om integrasie en transformasie na te streef, is nie net verbeeldingloos nie, dit is ’n verskraling wat skade aanrig. Dit is skadelik vir die tale wat uitgesluit word en vir die mense wat in daardie tale leef, werk en, seker die belangrikste in die konteks van die universiteit as instansie: leer. Die bewese waarde van moedertaalonderrig moet nie uit die oog verloor word nie.

PEN International se Girona Manifes oor Taalregte, wat PEN Afrikaans ten volle steun, meld onder meer: “Elke taalgemeenskap het die reg dat sy taal as ’n amptelike taal in sy gebied gebruik word” en “Alle mense leer om te praat in die hart van ’n gemeenskap wat aan hulle lewe, taal, kultuur en identiteit skenk.”

In die Wes-Kaap praat bykans die helfte van die bevolking Afrikaans.

As die universiteit die plaaslike gemeenskap wil dien en meertaligheid wil bevorder, moet die uitsonderlike reëling ten opsigte van Engels as enigste onderrigtaal in die eerste semester van 2021 ’n uitsondering bly. Dit is reeds ’n verreikende inkrimping van taalregte. Die instansie moet hom verder daadwerklik daartoe verbind om Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale te ontwikkel en te versterk sonder al die voorwaardes wat in die konseptaalbeleid raakgelees word.  

Die konseptaalbeleid se nie-erkenning van Afrikaans as inheemse taal is, soos verskeie kommentators al uitgewys het, problematies en ook foutief. Die Departement Afrikaans en Nederlands verwoord dit as volg in ’n ope brief aan die rektor:

“Die uitsluiting van Afrikaans uit hierdie groep tale is eerstens wetenskaplik foutief en tweedens ideologies gekleur. Die verklaring is dalk dat hierdie bewoording gewoon oorgeneem is om met die oorhoofse beleidsdokument te strook, maar dan moet hierdie feit eksplisiet gestel en gekontekstualiseer word deur ook ondubbelsinnig te sê dat die universiteit beslis die taal Afrikaans as die inheemse taal beskou wat dit is. Dit is immers ook hoe taalkenners dit beskou.”

PEN Afrikaans skaar ons sonder voorbehoud by die brief van die Departement Afrikaans en Nederlands en moedig die universiteisbestuur aan om ernstige oorweging te skenk aan die inhoud daarvan.

Klik op die skakel vir die volledige brief.

Ons neem verder met kommer kennis van gerugte dat studente in informele kontekste verbied word om Afrikaans te praat. Indien dit die geval is, veroordeel PEN Afrikaans hierdie optrede as outoritêr en diskriminerend.

Ons doen ’n beroep op die Universiteit Stellenbosch om sterk standpunt in te neem teen antagonisme jeens sprekers van Afrikaans op kampus of in koshuise, en om daadwerklik ’n kultuur te kweek van nie net verdraagsaamheid nie maar wel ’n viering en bevordering van meertaligheid ter wille van inklusiwiteit en akademiese uitnemendheid.

Dit behoort duidelik genoeg die universiteit se beleid te wees – in woord en in daad – dat daar weinig ruimte is vir misverstande in koshuise, lesinglokale, raadsale en elders. 

Navrae: [email protected]

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top