Mediaverklaring: kykNET se hoogtepunte in Januarie 2021

  • 0

Januarie 2021 is die amptelike begin van 2021 en kykNET skop dit met vele hoogtepunte af. Dis nuwe vermaak!

Die langverwagte wag vir een van die grootste realiteitesreekse in die land, Boer Soek ’n Vrou, is amptelik weer terug in Januarie 2021! Tien nuwe boere en die splinternuwe aanbieder, Marciel Hopkins, reis oor die land in ’n opwindende reeks wat wag op kykers.

kykNET dramas stel nooit teleur nie en die SLOT en 4 Mure sal vanaf Januarie kykers weer op die rand van hul stoele hou. Rolanda Marais lei die rolverdeling van SLOT as ’n briljante en gerekende psigiater wat ’n dwelm ontwikkel wat onmiddellik pasiënte se onderbewussyn kan binnedring.

Die legendariese aktrise, Lida Botha, is ook weer terug op die kykNET-skerm in 4 Mure wat beloof om ’n uitsonderlike drama te wees van skrywer, Tertius Kapp, en regisseur, Jaco Bouwer.

Feestelike Fiësta is terug en nuwe aanbieders en Leandie du Randt is weer aan die stuur van sake op die nuwe seisoen van Slank. Die bekoorlike Boland word weer in die tweede seisoen van Anzél in die Boland vasgevang. Boonop is Leah terug op kykNET as die aanbieder van die nuwe leefstyl reeks, Duidelik Dapper.

kykNET Storiefilms bied voorwaar ’n verskeidenheid in Januarie met Gielie, Kansel, Kantlyn, Klarinet en Nuus om 6.

Fynskrif 2 begin vanaf Januarie op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en Maak My Famous 2 op kykNET&NOU (DStv-kanaal 146). kykNET Lekker bied nostalgie in goeie programme soos Kayak Visvang en op fliekNET wys van die beste rolprente in Afrikaans!


SLOT

Drama

Begin Dinsdag 12 Januarie om 20:00

Met Rolanda Marais, Brendon Daniels, Greta Petersen, Albert Pretorius en Trudy van Rooy

Weet ons ooit wat in die onderbewussyn van ons medemens aangaan?

Slot, ’n riller uit die pen van Leon Kruger, beloof om kykers op ’n eiesoortige reis van misterie, intrige en spanning te neem.

’n Briljante en gerekende psigiater ontwikkel ’n dwelm wat onmiddellik pasiënte se onderbewussyn kan binnedring om sodoende toegang tot onderliggende traumas te gee. Omdat die dwelm onwettig is, bied sy in die geheim wegbreek-terapiesessies aan. Wat sy nie besef nie, is dat die volgende vier dae haar en drie oënskynlike pasiënte se lewens onherroeplik sal verander.

“Hierdie spanningsriller sal kykers beslis vasgenael hou,” sê die regisseur, Jozua Malherbe. “Die akteurs het hulself ten volle in hul karakterisering verdiep. Die reeks van vyf episodes vorm uiteindelik saam ’n speelfilm van 125 minute. Elke episode is deel van die groter verhaal; ’n legkaart wat die kyker oor die verloop van vyf weke uiteindelik, tot groot verligting, kan voltooi.”

In die rolverdeling is Rolanda Marais, Brendon Daniels, Greta Petersen, Albert Pretorius en Trudy van Rooy.

Slot begin Dinsdag 12 Januarie 2021 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


4 Mure

Drama

Begin Dinsdag 12 Januarie om 20:30

Met Lida Botha, Tinarie van Wyk-Loots, Beer Adriaanse, Charlton George, Deon Lotz, Tarryn Wyngaard, Wessel Pretorius en Carel Nel

4 Mure is ’n dramareeks van vyf episodes geskryf deur die bekroonde Tertius Kapp. Die regie word deur Jaco Bouwer behartig.

Die reeks speel in dieselfde hotelkamer iewers in Suid-Afrika af. Elke episode het egter nuwe karakters en is in ’n ander genre, maar word verbind deur Marcelina, die sjarmante kamerskoonmaker wat met haar kop in die wolke lewe.

Die rol van Marcelina word deur die legendariese aktrise Lida Botha gespeel.

Die res van die rolverdeling sluit Beer Adriaanse, Charlton George, Deon Lotz, Tarryn Wyngaard, Tinarie van Wyk Loots, Wessel Pretorius en Carel Nel in.

4 Mure begin Dinsdag 12 Januarie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Boer Soek ’n Vrou

Realiteit

Begin Donderdag 21 Januarie om 20:00

Met Marciel Hopkins as aanbieder

Die langverwagte nuwe reeks van Boer soek ’n vrou is terug op die lug.

Op Donderdagaand 21 Januarie om 20:00 is die nuwe aanbieder, Marciel Hopkins, op haar pos om tien boere in hul soektog na liefde te begelei.

Marciel, wat in 2016 ’n Mej. Suid-Afrika-finalis was en deesdae ’n model en lewensafrigter is, is die sesde aanbieder van dié gewilde reeks. Sy het ’n honneursgraad in sielkunde en is reg vir die uitdaging. “Ek is passievol oor mense en om ’n impak op hulle lewens te kan maak. Ek kon nie vir ’n beter geleentheid as Boer soek ’n vrou gevra het nie.”

Vanjaar se tien boere is Albert (24) van Clanwilliam, Hannes (52) van Kroonstad, Marthinus (25) van Arlington, Neil (32) van Grabouw, Richann (29) van Vredefort, Déan (29) van Nelspruit, Kobus (52) van Randfontein, Mathys (25) van Dullstroom, PF (30) van Laingsburg en Stephan (41) van Lichtenburg.

Hierdie is die dertiende seisoen van ’n reeks wat kykers nie net deur die jare vasgenael gehou het nie, maar ook ’n hele paar boere gehelp het om ware liefde te vind.

Boer Soek ’n vrou begin op 21 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Fiësta

Leefstyl

Begin Maandag 4 Januarie om 20:30

Met Vilje Maritz, Frazer Barry, Lundi Khoizan en Franci Swanepoel as aanbieders

Fiësta, een van die oudste en vertroudste programme op kykNET, is terug op die lug. Sedert dit in Maart 2000 die eerste keer uitgesaai is, het die Fiësta-span elke moontlike fees in Suid-Afrika, en selfs ’n paar in die buiteland, besoek.

Op 4 Januarie, en soos oudergewoonte op ’n Maandagaand, maak Fiësta ’n terugkeer met die span wat weer die land gaan deurkruis op soek na feestelikheid.

Frazer Barry en Lundi Khoisan is twee van die nuwe aanbieders. Frazer, ook bekend as musikant en voorsanger van die groep Tribal Echo, het reeds verskeie toekennings en benoemings ingeryg vir produksie waarin hy betrokke was – van musiek tot die skryf van tekste.

Lundi is oorspronklik van Wellington in die Boland en is onder meer ’n radio-aanbieder, ’n lektor in radio- en TV-aanbieding aan die Universiteit van Pretoria en ’n stemkunstenaar.

Viljé Maritz is terug as ’n Fiësta-aanbieder. “Daar was ’n leemte in my oor ons nie vanjaar enige feeste kon bywoon nie. Ek wou deur die dak spring toe ek hoor ons is terug!” sê hy. Franci Swanepoel, wat in die beginjare Fiësta se enigste aanbieder was, maak ook haar terugkeer. “Ek is gryser en wyser, maar nog lank nie uitgefees nie,” sê sy. Nog ’n lid van die span is Edrien Erasmus, wat so elke dan en wan gasaanbieder sal wees.

In die eerste episode besoek Frazer die Teksmark wat deur die KKNK vir die vyfde keer by die Baxterteater in Kaapstad aangebied is. Die Teksmark is ’n uitsonderlike geleentheid waar jong én gevestigde dramaturge die geleentheid kry om nuwe werk aan feesbestuurders voor te lê.

In die program op 11 Januarie besoek Viljé die Springfontein Sixes – ’n jaarlikse kriekettoernooi wat op die plaas Prior Grange buite Springfontein in die Vrystaat gehou word. Op 18 Januarie maak Edrien ’n draai by die Suidoosterfees se unieke inryteater by Atlantic Studios in Kaapstad waar feesgangers produksies op ’n unieke en innoverende manier kon beleef.

Lundi wys op 25 Januarie wat deelnemers moes trotseer by Legend Runner in die Paarl – een van Suid-Afrika se grootste hindernisresiese.

Fiësta begin Maandag 4 Januarie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Karoobewonders

Leefstyl

Begin Dinsdag 5 Januarie om 21:00

Dié nuwe reeks deel persoonlike stories wat verweef is met ’n plek wat op die oog af lyk of dit onveranderd gebly het. Ons kuier by Karoobewoners en kykers vind meer uit oor hul lief en leed en alledaagse bestaan in dié dorre, uitgestrekte streek.

Die reeks skop af in Montagu waar Petrus en Liana hulle droom uitleef. Jacques en Hein wys die pragtige 1854 Kaaps-Hollandse huis wat hulle restoureer het. In die tweede program kuier ons op Barrydale by Magpie Collective waar kunstenaars ’n passie het vir die omgewing en herwinning. Ashley Janicker wys waarom sy melkskommels legendaries is.

Rosheen Kriegler het die stadslewe vir die plaaslewe buite Calitzdorp verruil en deel haar ervaring in die derde program. Ons maak ook ’n draai in Zoar waar die toergids en storieverteller Alistair Reizenberg van sy passie vir taal en erfenis vertel.

Van die ander programme in die reeks gaan fokus op die wêreldbekende keramiekkunstenaar Hylton Nel, die Prins Albert Vastrappers, Lizzy Snoek en haar tradisionele kos en ’n paartjie wat ’n verlate huis in ’n oase vir kunstenaars omskep het.

Karoobewoners begin op Dinsdag 5 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Kwêla: Hannes aan huis

Geselsprogram

Begin Dinsdag 5 Januarie om 17:30

Met Hannes van Wyk as aanbieder

Hierdie reeks van 13 episodes bestaan uit hoogtepunt-onderhoude van die afgelope vyf jaar met bekendes in hulle eie huise.

In die eerste episode, wat op 5 Januarie uitgesaai word, kuier Hannes by Emsie Schoeman – Suid-Afrika se eie Mevrou Etiket – en die veteraan-akteur Hans Strydom.

Op 12 Januarie is daar weer twee legendes aan die beurt: die aktrise Wilna Snyman en die Bek van Boomstraat – die bokslegende Kallie Knoetze. Anneline Kriel-Bacon, die voormalige Mej. Wêreld wat deesdae in Mauritius woon, en die komediant Marc Lottering kuier saam op 19 Januarie. Sonja Herholdt en Anton Goosen is die twee musieklegendes wat op 26 Januarie hul huise en harte vir Hannes oopmaak.

Ander bekendes wat ook in die program te sien gaan wees, is Riaan Cruywagen, Anneli van Rooyen, Laurika Rauch, Brümilda van Rensburg, die rugbyhelde Mannetjies Roux en Corné Krige, Sandra Prinsloo en die natuurkenner, Dave Pepler.

Kwêla: Hannes aan huis begin op 5 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Slank

Fiksheidprogram

Begin Sondag 3 Januarie om 17:30

Met Leandie du Randt as aanbieder

Leandie du Randt en die span van Slank is terug vir nog ’n seisoen.

In die eerste episode vertel Anja Retief, ’n 38-jarige ma van twee, hoe sy haar gewig van 103 kg na 59 kg afgekry het en die Bikini Fitness-kompetisie gewen het. In die grendeltyd het sy egter 15 kg opgetel en nou wys sy wat sy gaan doen om dit te verloor.

Charles Smidt, bekend as lid van die groep Beeskraal, die sangeres Irene-Louise van Wyk en die bokser Jimmy Abbot en sy vrou is ook deel van dié nuwe seisoen.

Slank begin op Sondag 3 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Kingdoms van Vuur: Ys & Feëverhale

Dokumentêr

Begin Donderdag 14 Januarie om 20:00

Met Bonné de Bod as aanbieder

Kingdoms van Vuur: Ys & Feëverhale, ’n uitsonderlike dokumentêr uit dieselfde stal as die veelbekroonde Stroop, is in Januarie vir die eerste keer op kykNET te sien.

Die aanbieder Bonné de Bod en die regisseur Susan Scott het vir Kingdoms of Fire, Ice & Fairytales na die uithoeke van die aarde gereis om daardie plekke te besoek wat jou in verwondering laat – van ysige temperature in die Arktiese Sirkel tot die versengende hitte van Yellowstonepark se vulkaan.

Hulle het legendariese verhale gaan soek oor hoe vrees oorkom kan word en siele weer verkwik kan word deur die wonders van die natuur.

Kingdoms van Vuur: Ys en Feëverhale is op Donderdag 14 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Duidelik Dapper

Leefstyl

Begin Vrydag 1 Januarie om 17:30

Met Leah as aanbieder

Duidelik dapper is ’n nuwe leefstyl- en gesondheidsprogram wat deur Leah aangebied word en in Januarie op kykNET begin.

Elke episode van Duidelik dapper word in drie segmente gedeel.

In die eerste segment word daar na gesondheid gekyk en word nuwe tendense en innovasies met dokters, aptekers, terapeute en spesialiste bespreek.

Die tweede segment draai om leefstyl. Alles van sportwetenskap tot maaltye vir diabete en oefeninge wat jy by die huis kan doen, kom onder die loep.

In die derde segment word hulde gebring aan persone wat merkwaardige dinge doen ten spyte van hulle omstandighede.

In die eerste episode, wat op 1 Januarie 2021 uitgesaai word, is daar ’n fokus op Covid-19 wat sonder twyfel nog ’n tyd lank deel van ons lewe gaan wees. Covid-19 is egter nie die enigste siektetoestand waarop ons moet fokus nie. Dis ook belangrik om aan bloeddruk, cholesterol en hartgesondheid aandag te gee. En siende dat dit Nuwejaarsdag is, word daar gekyk na Nuwejaarsvoornemens en wat haalbaar is en wat nie. Die spesiale gas is Mortimer Williams, ’n sanger en akteur wat op 1 Januarie 2020 in ’n skietvoorval voor ’n kuierplek in Melville, Johannesburg, beseer is. Hy praat oor sy trauma en wat hy gedoen het om dit te verwerk en sterker aan die anderkant uit te kom.

Duidelik Dapper begin op Vrydag 1 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Anzél in die Boland

Leefstyl

Begin Donderdag 7 Januarie om 17:30

Met Anzél Stofberg-Rabie as aanbieder

Die borrelende Anzél is terug vir nog ’n seisoen. Sy kuier weer in die hartjie van die Kaapse wynlande. Verwag nog meer praatjies oor kos, wingerd en kultuur en tonele wat jou asem sal wegslaan.

Het jy geweet? Anzél is ’n geoktrooieerde rekenmeester wat, onder meer, in Kanada en Amerika as ouditeur gewerk het. Hierdie slimkop was ook ’n finalis vir Mej. Suid-Aafrika 2014 en een van haar groot passies is om te reis. Sy is lief vir tuinmaak, geniet die buitelewe en het die Comrades-marathon al twee keer voltooi.

Anzél in die Boland begin op Donderdag 7 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Ons Koop ’n Kar

Leefstyl

Begin Maandag 11 Januarie om 17:30

Met Solomon Cupido

Om ’n motor te koop is vir die meeste mense ’n groot storie.

In hierdie reeks van 13 episodes volg ons die reis van 13 mense wat op soek is na ’n nuwe paar wiele.

Ons Koop ’n Kar begin op Maandag 11 Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144).


kykNET Storiefilms

Opwindende nuwe storiefilms van elk 50-minute sal vanaf Desember 2020 op kykNET begin uitsaai. Hierdie televisiefilms is almal plaaslik vervaardig en bring weer ongelooflike rolverdelings na die kykNET-skerms.


Kansel

Televisiefilm

Vrydag 1 Januarie om 20:00

Met Reynard Slabbert, Kate Roothman en Tiaan Slabbert

Kansel is ’n storie oor ’n gekanselleerde plan wat twee mense gebring het tot by ’n gekanselleerde troue.

Elke pot het ’n deksel, al sit die deksel skeef… Die skrywer is Wynand Kotze en André Velts is die regisseur.

Kansel is 1 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Kantlyn

Televisiefilm

Dinsdag 5 Januarie om 20:00

Met Jill Levenberg, Oscar Petersen, Albert Maritz en Beer Adriaanse

Kantlyn is ’n komedie oor ’n groep ouers wat tydens ’n bulletjierugbywedstryd langs die veld soos kinders te kere gaan.

Die rolverdeling sluit in Martelize Kolver, Jill Levenberg, Isodora Verwey, Beer Adriaanse, Jill Levenberg, Roeline Daneel, Laudo Liebernberg, Elana Afrika-Bredenkamp en Albert Maritz.

Kantlyn is Dinsdag 5 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Gielie

Televisiefilm

Woensdag 13 Januarie om 20:00

Met Wynand Vollenstee en Reginald Hufkie

Soms is dit waarna jy soek, reg voor jou…

Gielie Goosen se groot liefde, Dollie en Pollie, is landuit en woon nou in Engeland. Gielie wil ook nou soontoe.

’n Misverstand oor sy identiteit beland hom in kookwater.

Gielie is Woensdag 13 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Klarinet

Televisiefilm

Sondag 24 Januarie om 20:00

Met Melissa Willering en Alex van Dyk

“As die lewe vir jou tamaties gee, maak tamatiebredie…”

Dit is die lewensleuse wat Klarinet se pa haar geleer het, maar ironies genoeg ook die een waaraan hy nie self getrou kon bly nie.

Klarinet en haar boeties probeer kop bo water hou, en uiteindelik leer hulle dat alles uiteindelik oukei gaan wees, selfs wanneer dit nie is nie.

Klarinet is Sondag 24 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


Nuus om 6

Televisiefilm

Sondag 31 Januarie om 20:00

Met Amalia Uys, Dann-Jacques Mouton en Wilhelm van der Walt.

As ’n man met ’n ongelooflike storie ’n lewendige nuusanker en haar ateljeespan gyselaar hou, probeer die polisie hulle red, maar dan word dit duidelik dat die gyselaar die goeie man is.

Nuus om 6 is Sondag 31 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).


kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

kykNET&kie is ’n verskeidenheidskanaal wat beskikbaar is op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premium-pakkette. Die kanaal bied outentieke kykgenot vir die hele gesin asook eksklusiewe inhoud wat nog nooit vantevore op lug gesien is nie.


Arendsvlei

Telenovela

Maandae tot Donderdae om 19:30

Dis die begin van die jaar en dinge is glad nie rustiger as 2020 nie! Ons begin sommer met drama tussen die friendship! Beatrice Abrahams (Jolene Martin) is nou terug in die Vlei en reg om weer haar pos as skoolhoof oor te neem by Ronel Martin-Cupido (Melanie Du Bois). Maar Ronel staan nie so maklik terug nie. Sy het besluit om langer aan te bly as skoolhoof en nou is dit oorlog tussen die besties. Wie sal die nuwe hoof wees noudat Beatie terug is?

Petra Meintjies (Shimmy Isaacs) is nog lank nie klaar met haar streke nie. Terwyl sy nou eindelik haar sekswerkswinkels gemaklik by die skool aanbied, vind Hein Venter (Merlin Balie) uit. En almal weet Petra en Hein kom glad nie oor die weg nie. Hein is nie beïndruk met Petra wat die skoolsaal gebruik nie en sy smeek hom om niks te sê. As hy nie wil hoor nie, neem Petra drastiese stappe om hom te keer. Gaan Ronel uitvind?

Daniel Lafras (Cantona James) en Saartjie Petersen (Hunter Plaaitjies) neem eindelik hul langverwagte verhouding na die volgende stap. Maar dinge is van korte duur as Daniel vir Angelique Galant (Chelsea Thomas) ontmoet. Hulle voel dadelik aangetrokke tot mekaar, maar gaan Saartjie toelaat dat Daniel haar los?

Arendsvlei, Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).


Tussen Ons

Geselsprogram

Maandae tot Donderdae om 17:30

Met Tracey Lange, Kay Karriem, Ingrid Jones, Success Lekabe en Zelda le Grange as aanbieders

Tussen Ons is terug met hope opwinding, vurige gesprekke en interessante gaste wat wag!

Die pandemie het miljoene mense se finansies geknou, maar die meeste miljardêrs se welvaart was immuun teen COVID-19. En boonop maak die top-55-rykstes meer as 50% van die wêreld se bevolking! Die Tussen Ons-dames gesels oor ekonomie en debatteer miljardêrs se plek in die samelewing. Een van Suid-Afrika se voorste kenners van ekonomie, professor Rachel Jafta, kom deel interessante insigte oor sosialisme en kapitalisme.

Spits jou ore, want Dokter Darren Green gesels oor sensoriese gesondheid! Ricky Schroeder is in die ateljee om meer te leer oor gehoor, en Darren wys hoe jy jou ore kan versorg. ’n Neuroloog praat oor pyn, en hoe dit onlosmaaklik deel is van emosies. Sy verduidelik ook die verskil tussen akute pyn en chroniese pyn. Die legendariese ekoloog en TV-aanbieder Dave Pepler deel sy fassinasie én interessante staaltjies oor reuk.

Een van Suid-Afrika se voorste astroloë kuier in die #TBT-ateljee. Hy het ’n Meestersgraad in Astrologie en hy is die man wat ander astroloë oplei. Dis Rod Suskin, en hy kom deel sy voorspellings vir 2021. Yusuf Daniels is die skrywer van Living Coloured en Living Lekka.

Tussen ons, Maandae tot Donderdae om 17:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).


Fynskrif 2

Drama

Begin Saterdag 2 Januarie om 20:00

Met Chris van Niekerk, Neels van Jaarsveld, Tinarie van Wyk-Loots, Marguerite van Eeden, Rolanda Marais, Elana Afrika-Bredenkamp, Charlton George en Beer Adriaanse

Fynskrif 2 begin in Januarie op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).

Die tweede seisoen tel drie maande later op met Van Wyk en Vennote wat aan ’n draadjie hang na Hans (Chris van Niekerk) se aftrede. Lara (Tinarie van Wyk Loots) is so gefokus op nuwe kliënte werf dat sy nie die gaping raaksien wat tussen haar en Jaco (Jacques Bessenger) ontstaan het nie. Boonop sit Katrien (Cintaine Schutte) met Kobus se moordsaak wat dreig om haar lewe saam met Ben en die praktyk totaal te ruïneer. Corne (Beer Adriaanse) se toekoms is duister. Wian (Edwin van der Walt) en Anne (Kim Cloete) probeer hulle lewens herdefinieer. Dolf (Charlton George) neem ’n groot besluit oor sy verhouding met Gertrude (Elana Afrika-Bredenkamp). Ben (Neels van Jaarsveld) probeer alles bymekaar hou terwyl Hans in sy studeerkamer sit en sy memoires skryf. Waar dit alles gaan eindig, bly ’n ope vraag. En natuurlik is daar ook ’n paar sake wat almal grys hare gee. Ivan Nel (Armand Aucamp) maak sy terugkeer as popster, wat Dolf teen die mure uitdryf. Egskeidings, intellektuele eiendom geskille, onregverdige afdankings en aanranding is maar net ’n paar probleme wat ons prokureurs moet trotseer.

Fynskrif 2 begin Saterdag 2 Januarie 2021 om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145).


kykNET NOU! (DStv-kanaal 146)

kykNET NOU! is die plek vir lekker tunes en goeie vibes. Dis beskikbaar op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premiumpakkette én op DStv NOW.


Maak my Famous 2

Musiekprogram

Begin Vrydag 8 Januarie om 21:00

Met Emo Adams en Tarryn Lamb as aanbieders.

En Emo is weer opsoek na een gelukkige talentvolle kunstenaar om famous te maak.

Nou kan kykers dit weer kyk op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).

Emo Adams loods ’n landswye soektog na nuwe vermaaklikheidsterre. Die eerste 12 finaliste se toekoms in die kompetisie is egter in die hande van die 100 uitgesoekte lede van die gehoor.

Maak My Famou 2 begin Vrydag 8 Januarie om 21:00 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).


Gauteng Filharmoniese Orkes bied aan: Die Kerskonsert

Konsert

Sondag 3 Januarie om 10:30

’n Pragkonsert van Kersfeesmusiek opgestel deur Willem Vogel met die Gauteng Filharmoniese Orkes onder leiding van David Scarr en koorlede van Studio Chorale.

Gauteng Filharmoniese Orkes bied aan: Die Kerskonsert is Sondag 3 Januarie om 10:30 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146).


kykNET Lekker (DStv-kanaal 148)

kykNET Lekker is ’n verskeidenheidskanaal wat slegs beskikbaar is op die DStv Access-pakket. Die kanaal bied ’n verskeidenheid van die beste kykNET programme van sepies, leefstyl- en kinderprogramme tot musiek.


Alie Barber

Komedie

Saterdae om 19:30

Met Emo Adams, Loukmaan Adams en Taliep Petersen

Alie oorweeg dit om af te tree. Hy bring sy seun, Abdol, om die besigheid oor te neem. Abdol het ’n klomp nuwe idees. En so begin ’n nuwe reeks avonture vir die vriende van Alie Barber.

Planne om die barbier salon te omskep in ’n karaoke kroeg vorder goed. ’n Dit lyk asof Margie haar hart verloor op ’n vreemdeling uit Gauteng.

Uncle Bobby reel ’n 21st vir sy dogter. As die dansintrukteur wat die outjies moet leer wals verdwyn, bied Computer die dienste van Oscar Tango aan om Bobby uit die verknorsing te red.

Alie Barber is Saterdae om 19:30 op kykNET Lekker (DStv-kanaal 148).


Kayak-Visvang

Musiekprogram

Begin Vrydag 1 Januarie om 23:30

’n Avontuur-reeks wat jou alles en nog wat wys van die interessante sportsoort van Kayak visvang. Die span draai in Mosambiek om vir jou die beste kayak visvang plekke op aarde te wys.

Kayak-Visvang begin Vrydag 1 Januarie om 23:30 op kykNET Lekker (DStv-kanaal 148).


fliekNET Vuil Wasgoed

Rolprent

Saterdag 9 Januarie om 20:00

Met Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Simoné Nortmann, Leandie du Randt Bosch en Louis Minnaar

Wim en Kevin werk in ’n klerewassery en trek hul kliënte se klere na partytjies toe aan.

Hulle word by ’n onderwêreld betrek wanneer hulle ’n vinger in ’n baadjiesak ontdek.

Die onderduimse eienaar van die vinger, sy seuns en ’n ongenaakbare verraaier is op Wim en Kevin se spoor en nie besorg oor hul welsyn nie.

Vuil Wasgoed is Saterdag 9 Januarie om 20:00 op fliekNET (DStv-kanaal 149).


Nommer 37

Rolprent

Woensdag 30 Januarie om 20:30

Met Irshaad Ally, Monique Rockman en Danny Ross

Randall, gebonde aan sy rolstoel, is in skuld gedompel en word geteister deur ’n bendeleier.

Hy is die ooggetuie van ’n misdaad, wat sy en sy geliefdes se lewens onherroeplik verander.

Nommer 37 is Woensdag 30 Januarie om 20:30 op fliekNET (DStv-kanaal 149)


Liewe Lisa

Rolprent

Donderdag 31 Januarie om 20:00

Met Hendrik Cronje, Elani Dekker en Zane Meas.

In sy strewe na opwinding word Daniel vasgevang in ’n buite-egtelike verhouding met ’n besigheidsman se vrou.

Maar dan raak hy ook verlief op die besigheidsman se dogter...

Liewe Lisa is Donderdag 31 Januarie om 20:00 op fliekNET (DStv-kanaal 149)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top