Die Afrikaanse Taalraad loods ’n inisiatief om studente met taalklagtes te ondersteun en met dosente en tersiêre instellings saam te werk om meertaligheid ’n sukses te maak.
“Studente se toegang tot Afrikaans en die ander inheemse tale binne en buite die lesingsale móét eenvoudig verbeter,” sê dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad. “’n Nuwe benadering is egter nodig om te verseker dat studente én dosente meertaligheid as ’n waardevolle hulpbron beskou wat inklusiwiteit en studentesukses bevorder. Om taalkonflik en Engelse hegemonie in lesingsale te bekamp, moet meertaligheid van onder af opgebou word.”
Dié samewerking vereis ’n de-eskalering van die debat oor Afrikaans, eerder as nog hofsake. Die inisiatief volg dus ’n konstruktiewe benadering tot meertaligheid wat probeer om die beste van universiteite se bestaande taalbeleide te maak.
Die Taalraad moedig studente met taalklagtes aan om universiteite se formele klagteprosedures te gebruik. Studente en dosente met taalklagtes en konstruktiewe idees vir meertaligheid kan ook daaroor met die Taalraad skakel (atr@afrikaansetaalraad.co.za).

