Die ATR verwelkom die robuuste debat verlede week Donderdag in die parlement oor Erfenisdag en die rol van inheemse tale en kultuur in die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit is verblydend dat Afrikaans asook ander inheemse tale op dié vlak beredeneer word, het die ATR in ’n verklaring gesê.
Die voortdurende aanvalle op Afrikaans as taal het veral aftrek gekry, nadat Vuyisile Malomane, die ANC-LP, die EFF gekritiseer het omdat hulle tydens die sing van die volkslied gewoonlik gaan sit as Die Stem-deel gesing word.
Afrikaans gaan egter om veel meer as Die Stem en die ATR beaam onder andere die stellings van Ganief Hendricks, Al-Jama-ah-LP oor Afrikaans se bande met die Kaapse Moslemgemeenskap en die vroeë gebruik van Arabiese skrif vir die taal. Die meerderheid van die sprekers van die taal is nie wit nie.
Die populistiese politici wat die taal so graag as etniese slaansak gebruik, ignoreer egter willens wetens die diverse herkoms én toekoms van Afrikaans.
Hulle ignoreer ook die waarde wat miljoene eerste, tweede en derdetaalsprekers aan die taal heg. Hulle verdelende optrede weerspreek daarmee die doel van erfenisdag, naamlik om die land se eenheid by wyse van ’n inklusiewe diversiteit te vier. Dit sluit Afrikaans in, die derde grootste en mees diverse taal in die land.
Die regering moet ’n leidende rol speel en ’n voorbeeld stel om alle kulture en tale te omarm en om Suid-Afrikaners sodoende te verenig – wat tog die doel van Erfenisdag is. Die sentraliteit van Engels ten koste van die inheemse tale en kulture moet bevraagteken word. Eentaligheid van die staat en opvoedkundige instellings moet eenvoudig hokgeslaan word. Meer as simboliese optrede is nodig om ons tale tot hul reg te laat kom.


Kommentaar
Taalraad, bestaan dit regtig?
Ek sekondeer!
Afrikaans word die "mees diverse taal in die land" genoem. Is daar krag in diversiteit of eerder in eenheid? Pleks van 'n versplinterde Afrikaans te propageer, sou dit beter wees om Standaardafrikaans te bevorder.