Maya se musketier: ’n onderhoud met Marga Jonker

  • 0

Foto van Marga Jonker: NB-Uitgewers

Maya se musketier
Marga Jonker
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624086857

Marga Jonker praat met Naomi Meyer oor Marga se Maya se musketier, oor haar ander skryfwerk en oor die perde wat orals opduik.

Hallo Marga. Ek het Maya se musketier onlangs ontdek as gevolg van ’n jong leser in my huis. Skryf jy nog altyd of wou jy nog altyd skryf?

Hallo Naomi, ek beskou myself eerstens as ’n leser, van kinder- en- tienerboeke veral. Ek is egter ook iemand wat altyd hoop dat ek iets kan bydra dat kinders lesers sal word. Ek is passievol oor my beroep as onderwyseres, en die kwessie hoe om kinders te kry om te lees het my nog altyd geïnteresseer. Ook om my eie kinders te kry om te lees was ’n reis. Laat kinders stories lees oor dinge waarvoor hulle lief is bly vir my ’n belangrike faktor hoe om lesers te kweek.

Was jou skryfdroom om vir jongmense te skryf? Wat geniet jy hiervan?

Ek het eers kleutergediggies geskryf en ook ’n kinderboek, Wat is jy Kartoffel?. Kinders se reaksie op versies en kinderboeke is vir my so aangrypend ek wou kyk of ek ook verse en stories kon skep wat kinders sou wou geniet.

Wat my opval, is dat jy oor perde skryf. En dit klink asof jou navorsing hieromtrent baie natuurlik deel is van jou stories, so natuurlik soos wat ’n jong ruiter op ’n perd klim. Ek neem aan jy het self ’n voorliefde vir perde en ry ook perd? En hoe doen jy verdere navorsing oor perde?

Ek het perdgery van my voorskools se dae. Ek het aanhou ry tot ek en my man ons in Bellville gevestig het. Ek het toe heeltemal verstedelik en so besig geraak met my beroep en my rol as ma dat ek vergeet het dat daar ’n tyd was waar ek elke dag teen die see gaan perdry het. 

Ek het probeer om boeke oor perde aan my kinders bekend te stel, maar hulle het van kinderboeke na fantasie gespring. Hulle was tieners in die Harry Potter-era, en voor ek hulle aan Groenheuwels of Black Beauty kon bekendstel, was die fantasiegenre reeds hulle eerste liefde. Nogtans in hierdie tyd toe my kinders tieners was, het ek herontdek hoe lief ek vir boeke oor perde is. Ek het ook gevind dat boeke oor perde in Afrikaans steeds nie so uitgebrei was soos wat ek voor sou gehoop het nie. Ek het besluit om ’n boek te probeer skryf vir myself oor my kindertyd op ’n plaas aan die Weskus waar perde my beste vriende was.

Om seker te maak ek weet nog steeds iets van perde af en kan nog self ry, het ek besluit om weer te begin perdry. My kinders het nie eens geweet ek kon perdry of dat ek so ’n passie vir perde het nie. Ek self was verstom om myself te herontdek.

Sedertdien het almal in my familie besluit dat ek minstens een maal per week moet gaan perdry, want ek is glo dan ’n baie vroliker persoon. Dit is waar. Ek ry nou elke Vrydag perd, want daar gebeur iets met my hart en my longe en my hele wese as ek by perde is. ’n Vrede en ’n heilsaamheid wat ek nie weer wil van vergeet nie, ontsluit vir my by perde. Daar tussen die perde kry ek baie nuwe storie-idees en ek sal graag nog perdestories wil skryf. (Ek het gelukkig ’n vierdag-onderwyspos, so Vrydagoggende gaan ek op ’n uitrit.)

Ek het die eerste drie perdeboeke vir myself geskryf. Al drie was avonture gebore uit avonture wat ek as kind beleef het. Die stories van hierdie eerste boeke het gedraai om perde wat ek op die Weskus geken het. Ek het die stories gevind en geplooi dat die troppie perde deel van die karakters se lewens kon wees in my boeke. My uitgewer, Michelle Cooper, het my aangemoedig om nog te skryf. Ek het begin om by skole oor my boeke te praat en dit was vir my heerlik om te hoor hoe my stories deur ruiters geniet is, maar ook jong lesers wat van natuuravonture hou, het my boeke gelees.

In Maya en die musketier veroorsaak ’n tante se eienaardige testament dat ’n meisie en haar gesin uiteindelik moet trek om die tannie se wense te vervul. Wat het jou hierdie idee gegee en wat was die ander inspirasies vir die storie (soos die katte!)?

.......

Sommige aspekte van skryf is werklik ’n misterieuse, onverklaarbare avontuur.

........

Sommige aspekte van skryf is werklik ’n misterieuse, onverklaarbare avontuur. Ek het ’n vriendin met ’n baie kleurvolle huis en vier Maine Coon-katte. Haar huis en haar katte het my so bekoor, ek moes net ’n manier vind om daaroor te skryf. Ek het ook vriende in Nederland en Frankryk wat in daardie tyd met ons gesels het oor die vreemde verskynsel van kuratorskap in kastele en hoe jy ’n huis kan erf of koop met ’n bewoner wat deel is van die eiendom. Ek wou ook skryf oor die impak wat verhuising op ’n tienerruiter se lewe kan hê, wat jy alles in ag moet neem as jy ’n perd en ’n tiener wil skuif. Ook die inpak van gehoorverlies op tieners. Dan wou ek oor pensteek (tentpegging) as perdesport skryf, en ek wou ook die diefstal van perde en die wrede bestaan van "bosperderesies" uitlig.

Watter aspekte van die storie was vir jou die lekkerste om oor te skryf? En wat was vir jou moeilik - enige plek waar jy nie geweet het wat volgende moet gebeur nie?

Dit was heerlik om die vier katte te leer ken en hulle in die storie te kon inskryf. Dit was ook lekker om by Heidi my vriendin te kuier in haar eksoties eksentrieke huis saam met Custu, Flora, Jamie en Jazzy. Dit was egter moeilik om oor Poppy (die perd) te skryf, want sy is in die tyd wat ek die boek geskryf het, oorlede. Sy was ’n vriendin van my dogter, Mia van Tonder, se perd. Simon, my seunskarakter, het ek ook nogal gesukkel om op so ’n manier te skets dat mens hom as nors, maar tog aangenaam ervaar. Ek moes baie hard werk om die storie se verskillende temas bymekaar te bring.

Beplan jy ’n storie vooruit, of laat jy dit organies ontwikkel?

.......

’n Storie-idee suis gewoonlik amper soos ’n lokfilm deur my kop, soms selfs as drome, gewoonlik interessant, maar kripties en onvolledig. Hierdie keer wou ek ’n storie oor Poppy skryf, die bruin merrie met die sagte oë, ’n interessante huis met katte en ’n persoon wat saamleef met gehoorprobleme.

........

’n Storie-idee suis gewoonlik amper soos ’n lokfilm deur my kop, soms selfs as drome, gewoonlik interessant, maar kripties en onvolledig. Hierdie keer wou ek ’n storie oor Poppy skryf, die bruin merrie met die sagte oë, ’n interessante huis met katte en ’n persoon wat saamleef met gehoorprobleme. My eerste samestelling (skrywe) van my manuskrip is gewoonlik net langdradige wanordelike hope woorde. Ek is dankbaar vir Michelle Cooper se leiding en geduld, want ek het dikwels te veel karakters en lang paragrawe met uitgebreide omskrywings oor hoe elke perd lyk. Sy skroom nie om my te laat snoei en herskryf aan hoofstukke nie.

Vertel my van jou karakters. Ken jy sommige van hulle so ’n bietjie in die regte lewe, of ontmoet jy hulle in die storie, of kom klop hulle aan die deur in jou kop en so word hulle gebore?

Die meeste van my karakters is skimbeelde van jonger weergawes van ouer mense wat ek ken. Eienskappe van sommige mense tref my – dikwels as ek met mense gesels, dan stel ek my voor hoe die persoon as tiener of jong kind sou wees, en op dié manier vorm my karakters. My Durbanville Voorbereidingskool-leerders is weer baie jonk; soms leer ek kinders ken en dan dink ek hoe so ’n kind gaan wees as tiener en so word my karakters werklik vir my. Ek ervaar mense deur te hoor wat hulle sê en wat hulle met ander mense gesels, dan plaas ek my karakter in dieselfde geselskap en wonder ek wat hulle sou gesê het. Ek het ’n baie lewendige verbeelding en kan my storie-omgewing en karakters voor my sien en hulle hoor. Ek praat egter nie direk met hulle nie. Ek skroom ook nie in die regte lewe om vir tieners en jongmense te vra oor wat hulle sou dink of sou sê oor sekere situasies nie.

Watter ander stories het jy al geskryf? Was daar ook perde teenwoordig?

Ek het bygedra tot Toulopers van Jaco Jacobs en ook tot die Nuwe kinderverseboek (geen perde nie). Ek het ook bygedra tot Galop van Fanie Viljoen (daar was perde in). Ek het Wat is jy Kartoffel? geskryf (Strandwolfie en ander diere).

My reeks by Tafelberg was almal perdeboeke: Sonder Chocolate Charlie, Brigadier en die raaiselponie, City Girl en die swart hings, Gabriella en die Hertog van Harte, Jenna en die leesperd, en Maya se musketier.

Skryf jy op die oomblik aan iets?

Ek werk nou al baie jare met grondfasekinders. Hulle is vir my net die wonderlikste kinders om op hulle ouderdom mee te werk en ek wil graag vir hulle stories skryf. Hier en daar kry ek soms ’n graad 3 wat my perdeboeke ken; dit is dan vir my baie lekker om met hulle oor my stories te gesels.

Ek werk aan ’n boek met robotika as tema wat in die negejaaroud-genre gaan val.

Ek stel baie belang in robotika en het my eie Lego-robotikastelle, Lego WeDo 2.0 en Lego Mindstorm EV3.

Hoe het die pandemie jou lewe en/of jou skryfwerk beïnvloed?

Die pandemie het my skryfwerk feitlik tot stilstand gebring. Buiten dat my werk as onderwyser fisies ongelooflik meer van my, en van alle ander onderwysers vra, het my ma in Maart 2020 geval en moes sy by ons kom woon. Sy was baie verswak en ons kon haar nie iewers plaas vir versorging nie. Dit was ’n uitdagende tyd, maar goeie uitkomste is bereik en die waarde van heilsame familiebande is weer bewys. Dit gaan nou al baie beter met haar en sy sal binnekort in ’n hulpversorgingsafdeling in ’n aftreeoord kan gaan woon.

Nogtans het ons as gesin so baie om voor dankbaar te wees. Ons 2020-matrikulant kon eksamen skryf en hy het goed gevaar. Hy studeer hierdie jaar uit ons huis uit. Ons volwasse werkende dogter loseer by ons en werk ook van ons huis af. My man is ook elke dag in sy tuiskantoor. Ons oudste seun woon baie naby aan ons en kan van sy woonstel af werk.

Ek is dankbaar om by ’n skool te werk waar die personeel ’n toegewyde en hardwerkende span vorm. Personeel moet elke oggend om sewe-uur by die skool aanmeld. Ek is in die hekkepersoneelspan. Ons moet die leerders by die hekke ontvang, maskers kontroleer, skandeer en saniteer. Die klasonderwysers moet dan weer op hulle poste wees om die leerders in die klasse te ontvang. Die leerders is baie dapper en ons as personeel probeer om hulle veilig en kalm te hou. Dit gaan onder die omstandighede met ons baie goed en dit help dat die meeste van ons hierdie week ons inenting ontvang het.

Ek het baie interessante nuwe maniere van klasgee omarm. Ek het deur die Microsoft Education Centre sertifikate in die aanbied van robotika voltooi en ook my sertifikaat in Minecraft Education verwerf.

Ek gebruik Minecraft Education om Xhosa Tweede Addisionele Taal aan te bied. Ek is ’n groot aanhanger van Minecraft. Ek speel self Minecraft in Windows (met die “kreatief”-instelling).

Die hoof het my dié jaar ontplooi om vir die graad 3-leerders robotika aan te bied. Dit is ’n wonderlik opwindende vakgebied, daarom hoop ek dat die tema deel van my skryfwerk sal kan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top