Matriekuitslae: 'Standaarde moet verhoog word'

  • 0

In Suid-Afrika is omstredenheid met die uitreik van matriekuitslae nie ’n onbekende verskynsel nie, en 2012 se uitslae was in hierdie opsig geen uitsondering nie. Arnold Schoonwinkel, viserektor: Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch, gee sy mening oor die uitslae.

Wat was u onmiddellike reaksie met die uitreik van 2012 se matriekuitslae en die nuus van ’n effens verbeterde slaagsyfer wat gerapporteer is?

’n Mens wonder maar of die klein verbeterde slaagsyfer beter-opgeleide matrikulante impliseer. Daar is te veel ander faktore wat kan inspeel op die styging, waaronder variasies in vraestelstandaarde en moontlike punte-aanpassings.

Verskeie meningskrywers, joernaliste en ontleders meen daar is teenstrydighede in die uitslae en dat dit nie ernstig opgeneem kan word ten opsigte van hoe dit leerders voorberei op die toekoms nie. Wat is u gevoel hieroor?

Solank ons in Suid-Afrika volhou om vir sekere modules ’n onderste grens van 30% as “slaag” te beskou, bly mens skepties oor ’n leerder se potensiaal om met vertroue op daardie vakgebied voort te bou. Leerders wat ses vakke van ’n hoë internasionale standaard elkeen met meer as 50% slaag, sal onteenseglik beter toegerus wees vir die werkplek of verdere studie. 

Daar word natuurlik ook melding gemaak van die kloof wat bestaan tussen "ryk" en "arm" skole. Kortliks, watter fundamentele elemente moet getakel word om die gaping te verklein, en is dit moontlik om dit in die afsienbare toekoms te bereik?

In sogenaamde “ryk” skole betaal ouers ekstra skoolgeld sodat meer onderwysers aangestel kan word. Die gevolg is kleiner klasgroepe, meer aandag aan individuele leerders en gevolglik beter akademiese sukseskoerse. Daar is waarskynlik nie ’n kitsoplossing vir “arm” skole wat net op staatstoelaes aangewese is nie, tensy regeringsbegrotingsprioriteite nog verder na opvoeding verskuif. Suksesvolle leerders, ook uit die ryk skole, sal op medium termyn ’n groter belastingbasis hiervoor help vestig.

Kommer bestaan veral oor Suid-Afrikaanse skoolverlaters se vermoëns in wiskunde en wetenskap en dat dit ver onder die internasionale standaard is. Is dit die geval? Wat kan skole en universiteite onderskeidelik doen om hierdie agterstand aan te spreek?

Suid-Afrikaanse skoolverlaters se wiskunde- en wetenskapsvaardighede vergelyk swak met vooruitstrewende lande s’n. Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel moet standaarde in vakke verhoog, meer goed-opgeleide onderwysers voorsien, en hulle na waarde vergoed. Universiteite volg ’n tweeledige strategie om die tekortkominge in sekere skoolvakke aan te spreek, naamlik keuring om studente se kanse op graadsukses te verhoog en remediërende onderrig in sekere vakke (onder meer wiskunde, natuurwetenskappe, maar ook in byvoorbeeld taalvaardighede). Daar is natuurlik perke aan hoeveel universiteite kan bestee om skoolagterstande by studente te probeer uitwis.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top