Arnold Schoonwinkel

Arnold Schoonwinkel is in 1955 in Bloemfontein gebore en het sy hoërskooljare in die Wes-Kaap deurgebring.

Hy het elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en op meestersvlak afgesluit. In 1998 het hy ’n PhD in Lug- en Ruimtevaartingenieurswese aan Stanford Universiteit in Kalifornië verwerf. Hy het ook in 1993 ’n MBA aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Hy is tans ’n ingeskrewe PhD-student aan die Katolieke Universiteit Leuven (België) met die navorsingsonderwerp “Modellering van universiteite se finansiële stelsels”.

Arnold Schoonwinkel se loopbaan het begin met 15 jaar se diens in die petrochemiese en ruimtevaartbedryf. Hy het in 1993 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit en tot professor in rekenaar- en beheerstelsels gevorder. Hy was ’n kernspanlid vir die ontwikkeling van SUNSAT, Suid-Afrika se eerste satelliet in die ruimte, en medestigter van SunSpace, een van die eerste afwentelmaatskappye uit die Universiteit Stellenbosch.

Prof. Schoonwinkel is sedert 2002 dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.

Tussen 2006 en 2009 het hy sy satelliet- N&O-funksies op ’n deeltydse basis voortgesit as programleier vir die MSMI- multi- en hiperspektrale ruimtekamera, asook Suid-Afrika se jongste “Sumbandila”-satelliet.

Arnold Schoonwinkel is die outeur van verskeie akademiese joernaalartikels en ’n gereelde aanbieder by internasionale konferensies. Hy is genoot van die SA Akademie vir Ingenieurswese en ’n geregistreerde professionele ingenieur.

Hy is getroud met Tilda en hulle het drie seuns en ’n dogter. As gesin het hulle verskeie tydperke in Europa, Israel en die VSA gewoon, waar Arnold gewerk en gestudeer het om internasionale kennis en werksondervinding op te bou.

 

Opgedateer/Updated: 2010-12-14

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Matriekuitslae: 'Standaarde moet verhoog word'

Henry Cloete, Arnold Schoonwinkel 2013-01-10 "Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel moet standaarde in vakke verhoog, meer goed-opgeleide onderwysers voorsien, en hulle na waarde vergoed."
Top