
Material
Regisseur: Craig Freimond
Rolverdeling: Riaad Moosa, Vincent Ebrahim, Denise Newman, Nic Rabinowitz, Quanita Adams
![]()
Hierdie film is in vele opsigte ’n klein juweel. Dit voldoen aan die wekroep dat die Suid-Afrikaanse filmbedryf “ons eie stories met ons eie mense” moet vertel. Craig Freimond, regisseur van die wonderlike komedie Jozi (2010), sorg vir ’n pragtig verfilmde, tegnies goed afgeronde produk.
Cassim (Riaad Moosa) werk bedags saam met sy pa (Vincent Ebrahim) in hul materiaalwinkeltjie in Fordsburg, maar saans doen hy stand-up comedy waar hy ook al die geleentheid kry. Toe hy die kans kry om saam met die bekende komediant Dave (Nic Rabinowitz) by ’n groot klub op te tree, gryp hy dit aan, want dis sy hartsbegeerte om op die verhoog te wees. Dis net dat dit besonder moeilik is om naam te maak as ’n Moslemkomediant, veral as jou pa ’n moeilike en uiters tradisionele man is wat dit hoegenaamd nie sal goedkeur nie.
Hierdie film is beslis die kyk werd, maar die einde, wat ’n bietjie vinnig afgerammel word, kos dit ’n vierde ster. Die akteurs is puik, veral Moosa, Ebrahim en die altyd betroubare Denise Newman.

