Martin Luther herdenk na 500 jaar: deel 3

  • 0

Luther as himnodis

Martin Luther was ’n prolifieke en veelsydige skrywer van geestelike liedere om by die erediens in die kerk gesing te word. Vir sy stofgewe het hy Bybelse materiaal geneem, asook gebeurtenisse wat in sy eie lewe  én in die vroeë Reformasie plaasgevind het. Sy melodieë het hy uit die ryke Duitse volksmusiek geneem. Self was hy ’n resonante tenoor lief vir sing (sien Walther von Loewenich, Martin Luther: The Man and his Work, Augsburg, 1982, bl 286), en het hy sy liedere soms self begelei met die luit – waaruit die Duitse waldzither as nasionale musiekinstrument later ontstaan het.

Psalm 46 (“God is ’n toevlug”) het hom sy grootse en beroemde “Ein feste Burg ist unser Gott” (“’n Vaste burg is onse God”) laat skryf, en Lukas 2:11–12 (waar ’n engel aan die herders op die oop veld verskyn het, en hulle die tyding van Jesus se geboorte in Bethlehem aangekondig het) was weer die inspirasie vir sy “Vom Himmel hoch, da komm ich her” (“Vanuit die hoë hemel kom Ek”). Die teregstelling van Johann Esch en Heinrich Voes deur die RK Kerk as die eerste martelare vir hulle Lutheraanse sieninge, het hom weer die stof gegee vir “Ein neues Lied wir heben an” (“Ons hef ’n nuwe lied aan”). Luther se lied van geloofsbelydenis van 1524, “Wir glauben all an einen Gott” (“Ons glo almal in één God”), vorm ’n belydenis in drie stansas van die Apostoliese Geloofsbelydenis in sy Klein Kategismus. Sy 1538-versifikasie van die “Onse Vader”, naamlik “Vater unser im Himmelreich”, kom ook uit sy Klein Kategismus, met ’n stansa elk vir die sewe bede, plus die openings- en besluitende stansa.

Die bewaar-geblewe manuskripte van Luther se liedere toon dat hy dit voortdurend hersien en verfyn het.

Luther het “Aus tiefer Not schrei ich zu dir” (“Uit diepe nood roep ek U aan”) in 1523 geskryf as ’n himniese versifikasie van Psalm 130 (“Uit die dieptes”) en het dit as ’n voorbeeld gestuur aan ander evangeliese kollegas om Psalmiese himnes in Duits te skryf vir gebruik by eredienste. In samewerking met Paulus Speratus is hierdie, en sewe ander liedere, opgeneem in sy Achtliederbuch, die heel eerste Lutheraanse gesangeboek. In 1924 het Luther sy oorspronklike stansa Psalmfrasering in ’n vyf-stansa-Reformasielied ontwikkel op die tema “deur genade alleen”. Omdat dit die essensie van Reformasieleerstelling uitgedruk het, het dit ’n verbreide uitbreiding gaan vorm van “Aus tiefer Not schrei ich zu dir”, en het dit die aangewese komponent gevorm by verskeie regionale Lutheraanse liturgieë, en is wyd gebruik by begrafnisse, Luther s’n ingesluit. Saam met Erhart Hegenwalt se himniese verwerking van Psalm 51 (’n boetelied van Dawid) is Luther se verbreide lied ook aangeneem as die vyfde deel van sy Kategismus, waar dit gaan om belydenis van sondes.

Luther het ook die bekende “Ach Gott, vom Himmel sieh darin” (“O God, sien neer vanuit die hemel”) gekomponeer. Sy “Nun komm, der Heiden Heiland” (“Kom nou, Redder van die heidene”) is gebaseer op die bekende Latynse frase “Veni redemptor gentium”, en het die Hauptlied geword by die Advent. Ook die Latynse “A solus ortus cardine” het Luther getransformeer tot “Christum wir solle loben schon” (“Laat ons Christus nou prys”). “Veni Creator Spiritus” (later Karl Barth se motto) het hy omskep in “Komm, Schöpfer Geist” (“Kom, Skepper-Gees”).

Luther het ook twee liedere oor die Tien Gebooie geskryf, naamlik “Die sind die heiligen Zhen Gebot” (“Dit is die heilige Tien Gebooie”) en “Mensch, willst du leben seliglich” (“O mens, wil jy salig lewe”). Luther se “Gelobet seist du, Jesu Christ” (“Loof U, Jesus Christus’) het weer die Hauptlied by Kersfees geword. Vir Pinkster het Luther die lied “Nun bitten wir den Heiligen Geist” (“Nou smeek ons die Heilige Gees”), en vir Paasfees “Christ ist erstanden” (“Christus het opgestaan”), gebaseer op die Latyn “Victimae paschali laudes”, geskryf. Luther se “Mit Friend und Freud ich fahr dahin” (“Met vrede en vreugde gaan ek heen”) is ’n parafrase van Lukas 2:25 vervolgens (die loflied van die ou Simeon) se “Nunc dimittis”. Dit was aanvanklik vir reiniging bedoel, maat het mettertyd ’n begrafnislied geword. Die bekende “Te Deum” het Luther geparafraseer as “Herr Gott, dich loben wir” (“Here God, ons loof U”).

Oor die kategismus rondom die Doop (in sy Klein Kategismus) het Luther in 1541 die lied “Christ unser Herr zum Jordan kam” (“Na die Jordaan het Christus onse Here gekom”) geskryf.

Luther het ook die melodieë van ander komponiste gebruik, Soos Johann Walter s’n met die opstel van Psalm 67 as ’n gebed, en Wofgang Heintz se melodie wat hy gebruik het met die introduksielied van die Lutheraanse Reformasie te Halle in 1541.

Martin Luther het selfs ook meermale die musiek geïnspireer van Johann Sebastian Bach, wat verskeie van Luther se verse as korale in sy kanto’s ingesluit het.

Luther se siening van die lewe na die dood

Hierdie onderwerp is een waaroor daar al veel gespekuleer is. Die Stellenbosse filosoof Johannes Degenaar (1926–2015) het in 1963 sy opspraakwekkende werk die lig laat sien oor die sterflikheid van die siel. Martin Luther het hom ook die vraag afgevra wat van die mens se siel word na sy dood, dws in die interim na sy sterwe en die Groot Opstanding en Oordeel. Selfs die ou Egiptenare kon nie hierop ’n klinkklare antwoord gee nie: hulle het die ka beskou as die lewensprinsipe en dubbelganger van die mens in onderskeiding met sy ba as die siel weer in onderskeiding met sy liggaam. Om te sterf was vir hulle “om na jou ka te gaan”.

In kontras met Johannes Calvyn en Philipp Melanchthon het Luther volgehou dat wanneer die mens sterf, sy siel “gaan slaap”. Daarom het hy die NT-gelykenis van die ryk man en Lasarus (Lukas 16:19–31) soos tradisioneel geïnterpreteer bevraagteken. Luther het dus die RK dogma van ’n reinigende vagevuur in die Hiernamaals verwerp. As die mens sterf, gaan sy siel na ’n “dodekamer” waarin hy in volkome rus en vrede slaap, vry van enige tormentasie vir sy vele vergrype gedurende sy lewe op aarde. Daarvoor lê Oordeelsdag voor. Luther het wel die kontinuïteit van persoonlike voortbestaan verdedig – al die spore wat die pelgrim op aarde agterlaat. Franz Pieper wys in sy Christliche Dogmatik van 1920 daarop dat Lutheraanse volgelinge later van sy mening gaan verskil het, soos Johann Gerhard byvoorbeeld, en gesê dat die mens se siel direk na sy bestemming gaan. Maar dan is die laaste Oordeel onduidelik.

Luther se kommentaar op Genesis bevat ’n passasie waarin hy tog sê dat die siel van die gestorwene nie slaap nie (anima non sic dormit), maar wakker bly (sed vigilat) om visioene te ervaar. Gottfried Fritschel het in 1867 daarop gewys dat hier nie van die siel van die dode gepraat word nie, maar van ’n man wat nog leef (homo enim in hac vita), moeg van sy dagtaak (defatigus diurno labore), wat saans in sy kamer gaan slaap (sub noctem intrat cubiculum suum), waar hy slegs normale drome ervaar. As ’n mens slaap, hoe ook al, rus jy, vry van die kwade, die helse vuur en moord, het Luther (vir homself) volgehou. Sien hier verder Luther se Schmalkaldische Articuli van 23 Februarie 1537, waar hy te Schmalkalde in Thurgina vir die Duitse prinse en Lutheraanse teoloë weer eens die essensie van sy hervormende idees uiteengesit het – en dan ook veral eerder met die klem op die amp en werk van Jesus Christus as Verlosser.

Kontroversie oor die Nagmaal tussen Luther en Zwingli

In Oktober 1529 het Philip van Hesse ’n samespraak in Marburg gereël om eenheid te verkry tussen die Saksiese en Switserse hervormers oor die aard van die Eucharistie.

In I Korinthiërs 11:23–-26 lees ons dat met die instelling van die Nagmaal, Jesus brood gebreek het en gesê het: “Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word”, en daarna het Jesus die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Die Evangelies rep nie ’n woord oor hierdie formulier nie (en Paulus haal die NT ook nêrens aan nie – want die Evangelies het vir ’n groot deel tot stand gekom nadat Paulus sy briewe begin skryf het, hoewel geensins totaal (soos by die Vierde Evangelie) nie. Het Paulus Johannes se Evangelie en briewe ooit gelees?

Luther het hier die transsubstansiasie-leer gevolg, maw dat die brood werklik die liggaam van Christus is, en die wyn sy bloed. Zwingli, Melanchthon, Martin Bucer en Johannes Oecolampidius uit Switserland het weer gemeen dat die brood en die beker slegs simbolies opgeneem moes word. Vir Luther was die liggaam van Jesus en sy bloed ’n werklike teenwoordigheid van Jesus self nadat die priester dit geheilig het. In tekenkryt sou Luther op sy lessenaar geskryf het: Hoc est corpus meum (“Dit is my liggaam”).

Die vergadering, waarin soms harde woorde geval het volgens transkripsies daarvan, kon nie die saak besleg nie. Dit was by hierdie vergadering dat Zwingli opgemerk het dat die lesing van Johannes 6:63 dat die vlees van geen nut is nie, glad niks beteken nie (hê sàrks ouk ôpheleî oudén), sy “nek breek”, waarop Luther sou geantwoord het dat die Duitsers sterker nekke het.

Die rol van die rede by Luther

Sommige studente van Luther se leerstellings voer aan dat die rede, per se, geen rol in sy teologie speel nie, en dat die rede in werklikheid antiteties fungeer teenoor geloof. Luther het dit gestel dat al die artikels van die Christelike geloof alleen deur God in sy Woord openbaar word, en dat die teenwoordigheid van enige rede daarin volkome onmoontlik, absurd en selfs vals is. Die rede is die grootste vyand van die geloof, het hy volgehou, want dit kan op geen manier tot geloof of tot die spirituele bydra nie (vgl hier sy Tischreden [“Tafelpraatjies”] wat sy volgelinge sedert 1529 gereeld aangeteken het). Maar dan weerspreek Luther hom elders weer as hy beweer dat die menslike rede, wanneer dit “verligtend” is, nie teen die geloof veg nie, maar dit eerder versterk (vgl sy Tischreden, CCXCIV).

Vanweë sy ingewikkelde karakter (psigonomie) was Luther ’n uiterste pessimis, soos hy dit dan ook by geleentheid gestel het: “Es ist doch unser Tun umsonst, auch in dem besten Leben” (“Alles wat ons doen is tevergeefs, selfs die beste in die lewe”). Die stryd tussen Wissen und Glaube woed nog steeds voort in die Christelike teologie.

Luther en Islam

Ten tye van die Marburg-samespraak was Suleiman die Grote besig om Wene te beleër met sy groot Ottoman-leër (vgl Richard Marius, op cit, bl 220). Die beleg van Wene is op 14 Oktober 1529 afgeweer – iets wat Luther as ’n groot wonderwerk gesien het. Luther het die Weste aangemoedig om die Turke te verdryf in sy 1518-“Verklaring van die 95 Stellings”. Hy het die Turke gesien as ’n vloek wat God gestuur het om die Christene te straf, selfs as die agens wat God bewerk het om die pous (van die RK Kkerk) as Antichris te onttroon. Luther het egter enige “heilige oorlog” verwerp, want dit sou stry teen die Evangelie van vrede en liefde van Jesus Christus (vgl William P Brown, The Ten Commandments: Reciprocitry of Faithfulness, Westminster John Knox Press, 2004 en Bernhard Lohse, Martin Luther: Eine Einfüring in sein Leben und sein Werk, München, 1981, 61). ’n Niereligieuse oorlog teen die Turke het hy egter onderskryf (Marty, op cit, bl 166; Marius, op cit, bl 219; Brecht, op cit, ble 365 en 368).

In 1542 het Luther ’n Latynse vertaling van die Qur’aan gelees (Brecht, op cit, vol 3, bl 354). Daarna het hy verskeie kritiese pamflette teen “Mohammedanisme” of “Die Turk” geskryf. Hoewel hy hulle gesien het as ’n werktuig van die duiwel, het hy tog gesê: “Laat die Turk glo en lewe soos hy wil, net soos ’n mens die pousdom en ander valse Christene laat lewe.” Luther was teen die verbanning van die Qur’aan omdat hy wou hê dat die Qur’aan homself moes blootstel aan ontmaskering (Brecht, op cit, vol 3, bl 355).

Luther en die Tien Gebooie in die OT

Vroeg in 1537 het Johannes Agricola (1494–1566), toe pastoor van Luther se geboortedorp Eisleben, ’n preek (sermoen) gelewer waarin hy beweer dat die NT-evangelie van liefde die wettiese OT met sy tien gebooie vervang het. Dit het gelei tot ’n beweging van groot teenstrydigheid (antinomisme < nómos, “wet”). Luther moes bontstaan deur enkele stellings daarteen die lig te laat sien waarin hy beide waarhede moes verdedig. Hy het die toepassing van die wet (Torah) in die Nuwe Bedeling beskou as die werktuig waarmee die Heilige Gees die gelowige op die regte pad hou. Eintlik lê die OT baie na aan die natuurwet van wat reg en wat verkeerd is, onderskei. As die tien gebooie van die OT nie meer op die Christene van toepassing sou wees nie, sou dit beteken dat die Christene nie langer sondaars is nie, maar net ’n kerk vol heiliges uitmaak. Die tien gebooie druk alleen die wil van God uit wat die Christen ook moet nakom. Vir Luther het die nakoming van die OT-wet sekerlik saamgehang met die leer van die eskatologie, dws die Oordeel van God oor die mens wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom. Die wederkomsverwagting van die vroeë Christelike kerk was natuurlik reeds baie sterk: Jesus sou binne hulle eie leeftyd nog terugkeer vir die finale Oordeel. Vir die Jode het dit saamgehang met die koms van die beloofde Messias (kyk veral by Jesaja). Paulus het dit ook behandel in I en II Thessalonisense, en die apokaliptiek van die skrywer van die boek Openbaring is werklik skrikwekkend.

Die anti-Semitisme van Luther

So onlangs nog as 1993 het Richard Geary van Nottingham in Engeland die kwessie van Martin Luther se anti-Semitisme weer in besonderhede opgeneem in sy boek Hitler and Nazism. Hy het oa statisties daarop gewys dat die Nazi-party destyds heel buite verhouding stemme verkry het van die Protestantse gebiede in Duitsland in vergelyking met die Rooms-Katolieke dele. Dit is moeilik om in hierdie debat volkome reg te laat geskied aan hierdie kwessie, want Luther het sy anti-Joodsheid gebaseer op ’n godsdienstige beginsel en nie ’n politiese een nie. Tog is ’n eeu oue atmosfeer teen die Jode in Duitsland geskep.

Drie jaar voor sy dood in 1546 het Luther twee monumentale werke oor die Jode gepubliseer: Von den Juden und Ihren Lügen en Von Schem Hamphoras und vom Geschlecht Christi. Sy hoofprimêre argument was natuurlik dat die Jode verantwoordelik was vir die dood van Jesus –- deur wie se einste bloedoffer, so uiters paradoksaal beoordeel, die mensheid juis alleen gered kan word. Luther, dit klop nie! Die kruisdood van Jesus het die tragedie van die Jode, die uitverkore Bondsvolk van hul God Jahwe, geword.

Luther het sy hele lewe deur teen die Jode gepreek: brand hulle sinagoges af, verwoes hulle huise, vernietig hul gebedeboeke, verbied hulle rabbi’s om te preek, lê beslag op hulle eiendomme en geld, verban hulle vir altyd, en laat hulle gedwonge arbeid verrig. Doen dit alles as, ja, ’n diepe offer aan God (“scharfe Barmherzigkeit”).

Dit was die tragiese milieu waarbinne Adolf Hitler en sy miljoene volgelinge tradisioneel grootgeword het. Hitler se biograaf, Roland Bainton, het die versugting uitgespreek dat Luther tog maar moes gesterf het voordat hy sy anti-Joodse geskrifte van sy laaste drie jaar van sy lewe geskryf het. Op 10 November 1938, dws die dag van Luther se verjaarsdag, het biskop Martin Sasse hom in ’n preek verheug dat die Joodse sinagoges in Duitsland besig was om in vlamme op te gaan. Christopher Probst toon in sy boek van 1012 oor die demonisering van die Jode toe Hitler aan bewind gekom het, aan hoe die Lutherse kerk, ex cathedra, in die hande van die Nazi’s gespeel het. Heinrich Himmler het Luther in 1940 as ’n profeet van die Derde Ryk gesien. EH Schulz en R Frercks het in hul “Ariese Wetgewing” die Jode as volk ook gediskrediteer soos hulle geleer was. Mark Edwards het in sy Luther’s Last Battles van 1983 Luther se al erger wordende anti-Semitiese uitsprake aan die einde van sy lewe toegeskryf aan die “verswakte denke”’ van sy laaste jare. Hy het op 62-jarige ouderdom gesterf. En hierdie argument is slegs ’n naïewe poging om hom te wil “regverdig”.

Dink dan vir ’n oomblik aan Hitler, die tiran wat hy was, en wat as Führer die verantwoordelikheid gedra het vir sy eie volk se jammerlike ondergang, binne hierdie historiese perspektief. Ons leef binne ’n gebroke werklikheid. Om politiek met godsdiens te vervleg, sorg meestal vir ’n gevaarlike en dodelike konkoksie – soos tans met die “Kalifaat” in die Midde-Ooste. Hierdie kwessie vorm die groot skadukant van Martin Luther.

Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu het die Lutherse kerk die anti-Joodse uitsprake van Martin Luther egter uitdruklik gerepudieer.

Luther en die bigamie van Philip van Hesse

Martin Luther het ook ’n tweede groot oordeelsfout gegaan. Philip I, landgraaf van Hesse, wou ook met een van sy vrou se hofdames trou, en die Christelike kerk keur veelwywery nie goed nie. In Desember het hy Martin Luther, Philipp Melanchthon en Martin Bucer as vriende genader en gevra of dit tog vir hom geoorloof sou wees, en ’n voorbeeld van poligamie by ’n ou kerkvader aangehaal. Die hervormde teoloë wou nie ’n algemene reëling hier gemaak het nie, maar het die landgraaf aangeraai dat as dit sy vaste besluit was, hy dit dan maar dig geheim moet hou. Op 4 Maart 1540 het Philip toe ook in die huwelik getree met Margaretha von der Saale, met Melanchthon en Bucer as getuies. Die geheim het egter gou uitgekom, en Philip het toe gedreig om Luther se toestemming daarvoor openbaar te maak. Luther het hom geadviseer om eerder ’n deeglike en goeie (wit) leuen te vertel aan die volk daar buite om sy naam skoon te hou. Luther se biograaf, Martin Brecht (op cit, vol 3, ble 206, 212, 214 en 205–15) het hierdie misstap van Luther met groot omsigtigheid bespreek, en sê dat dit een van die grootste foute was wat die groot hervormer in sy lewe begaan het. Koning Dawid, lees ons in die OT, was ’n “man so na die hart van God”, tog het ook hý eenmaal gruwelik gefaal as ons in volle besonderhede gaan oplees in II Samuel 11 van hoe hierdie einste koning Dawid owerspel gepleeg het met Batseba wat hy kaal sien bad het (en daarmee ’n kind verwek het). En koning Dawid het toe gesorg dat Batseba se man, Uria, die Hetiet, in die voorste gevegslinie sou sterf.

Luther se siektes en dood

Martin Luther was, met al sy diverse verpligtinge, vir baie jare nie ’n gesonde man nie. Hy het in sy later jare aan Ménière se sindroom gely, ’n komplekse siekte waarby, aanvalgewys, hardhorendheid, draaiduiseligheid en motoriese nustagmus (“oë wat nie stip aandag kan behou nie” < Grieks vustádzein) voorgekom het. In moderne taal sou ons dit ook deels vertigo kon noem. Daarby het hy later ’n gedurige oorsuising (tinnitus) gehad. Hy het ook soms floutes ervaar, en het op sy oudag ook katarakte op sy ooglense ontwikkel (< Grieks kataráktes, “watervalle (voor die ooglens”)). Daarby het hy later ook angina pectoris (hartkrampe) ervaar, en stene in sy niere en blaas gekry. Artritis en heupjig was hom ook nie gespaar nie. By geleentheid het hy ook infeksie in een van sy ore gekry wat die oordrom laat bars het. ’n Gekweste man op 60. En hy het ook, volgens homself, gereeld psigiese versoeking (Anfechtung, “aanvegtinge”) belewe van die verkeerde te wil doen. Sien hier Friedrich Küchenmeister, Dr Martin Luthers Krankengeschichte (Leipzig, 1881).

’n Jaar voor sy dood het Luther drie keer in die Markkerk van Halle nog gaan preek. Hy was ’n uitstekende prediker. Hy kon sy moedertaal, Duits, op ’n besonder geslypte wyse hanteer, en daarby was hy ’n redenaar wat die truuks van die antieke retoriek geken het.

Luther se laaste preek het hy op 15 Februarie 1546 op sy geboortedorp, Eisleben, gelewer, drie dae voor sy dood. En hierdie preke was in hulle geheel gerig teen die Jode wat Jesus nie as hulle Messias wou aanvaar nie. Léon Poliakov (The History of Anti-Semitism: from the time of Christ to the Court Jews, oorspr Frans, 1955; vert 1966, Vanguard Press, bl 220) sê dat die Jode ’n obsessie by Luther geword het, en dat Luther in hierdie laaste preke van hom dit as ’n saak van groot noodsaaklikheid gesien het dat al wat ’n Jood is, van Duitse grondgebied verwyder moes word. Poliakov, Russies van geboorte, ’n man wat later in Frankryk gaan woon het, het sy hele lewe gewy aan skrywes oor die groot “Ariese Leuen”, die anti-Semitisme en die Joodse volksmoord (Holocaust < Grieks holókaustos, “geheel verbrand”) onder Hitler. James McKinnon, ’n Skot wat om gesondheidsredes aan die Teologiese Seminarium van Stellenbosch kom studeer het (1881–85) en later professor in kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Edinburgh geword het, het in sy Luther and the Reformation (in 4 volumes, 1925–30) gestel dat Luther met sy laaste vurige preke besluit het “to drive the Jews bag and baggage from their midst, unless they desisted from their calumny and usury and became Christians” (vol IV, bl 204).

Martin Luther se laaste reis was na Mansfeld, waar hy die familie se belange in vader Hans se kopersmeltery vir sy nageslag wou gaan verseker. In 1545 en 1546 het hy drie reise daarheen onderneem.

Die aand van 17 Februarie 1546, teen agtuur nm, het Luther gekla van erge borspyne. Hy het toe na sy bed gegaan en gebid: “In U hande gee ek my gees oor, U wat my verlos het, O Here, getroue God” (Psalm 31:5). Op die oggend van 18 Februarie, teen eenuur, het hy wakker geword van pyne op die bors en is hy met handdoeke toegemaak. Hy het God weer gedank vir sy Seun wat aan hom geopenbaar is en in wie hy geglo het. Hierop het sy vriende Justus Jonas en Michael Coelius hom hardop gevra: “Geëerde vader, is u gereed om te sterf met u geloof in onse Here Jesus Christus? En bely u (steeds) die leerstellinge wat u vir ons in sy Naam geleer het?” Hierop het Luther duidelik geantwoord: “Ja”. ’n Beroerte het hom kort daarna sy spraak laat verloor, en hy het teen 2:45 op die oggend van 18 Februarie 1546 gesterf. ’n Groot gees op aarde was nie meer nie – na ’n veelbewoë leeftyd van 62 jaar.

Luther is daarna in die Kasteelkerk (die “Slotkerk van Stellinge”) op Wittenberg reg voor die preekstoel begrawe. Die begrafnis is gelei deur sy vriende Johannes Bugenhagen en Philipp Melanchthon. ’n Jaar later toe Karl V, keiser van die Heilige Romeinse Ryk, se troepe die stad ingeneem het, is hulle opdrag gegee om Luther se graf onversteurd te laat.

Karakter en voorkoms van Martin Luther

Na sy uiterlike voorkoms was Martin Luther ’n forse en indrukwekkende figuur. Hy het ’n vol gesig met ’n vleessagte vel gehad, met ’n sterk mond en ’n diepdeurdringende kyk in sy oë. Hy het ’n kort en dik nek gehad met ’n ietwat dubbele ken. Ons besit vandag goeie houtsnee-afbeeldinge van Luther deur Hans Brosamer (1530), asook Lucas Cranach die Ouere, en Lucas Cranach die Jongere (1546, Luther se sterfjaar).

Martin Luther het ’n komplekse karakter gehad: sy vriende was baie lief vir hom, en sy vyande het hom ewe-eens net so goed gehaat. Hy was ’n baie emosionele mens wat erg driftig kon word. Selfs sy vrou, Katharina, het hom by geleentheid gemaan om nie soms so onbeskof en kortgebaken te wees nie. Terwyl Johannes Calvyn van Genève deurentyd sy helder intellek laat spreek het, het Luther hom meer dikwels deur sy emosies laat lei, wat soms bloot impulsief was.

Martin Luther het ’n goeie woordeskat gehad om iemand mee te kon slegsê. Hy het die berugte Engelse koning Henry VIII, ofskoon hy hervormingsgesind was teen Rome, daarvan beskuldig dat hy alleen maar sy eie wellustigheid verskoon wou kry, en na hom verwys as “’n vark, ’n esel, ’n kewer, ’n vlooi, die kind van ’n adder; ’n loodvoetige imbesiel; ’n liegbek, ’n flatus ventris (slegte reuk); ’n skaapboud; ’n mal vark met ’n skuimbek; ’n koue asem; ’n mishoop; ’n besemkop; ’n boelie; ’n stoflekker; en ’n koolkop”.

Teologies het Luther na die Jakobusbrief in die NT verwys as “’n strooibrief” (Darum ist sanct Jakobs Epistel eyn rechte stroerin Epistel denn sie dret keyn Evangelisch art an yr hat, doch dawon weytter yan andern Vorrheden) – sekerlik omdat dit die nutteloosheid van geloof sonder werke verkondig. (Vgl 2:24: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” Goeie werke het hy alleen gesien as uitvloeisel van die geloof, en nie as voorwaarde vir redding nie. Net so het hy na die Mosaïese wet van die Jode verwys as ’n Sachsenspiegel (’n Middeleeuse OT-wetboek opgestel deur die Sakser Eike von Repkow.)

Tog het hy homself steeds net ’n “bedelaar” genoem. Daar is ’n “geestelike testament” van hom op ’n aparte stukkie papier gevind wat sekerlik sy hele lewensbeskouing tipeer. Dit lui driedelig: (1) Niemand kan ooit Vergilius se Bucolica (pastorale digkuns) werklik verstaan wat nie vir minstens vyf jaar ’n veewagter was nie, en ook nie sy Georgica as jy nie vir vyf jaar ’n landbouer was nie. (2) Niemand kan ooit Cicero se Briewe verstaan, soos ek geleer het, tensy hy hom vir 20 jaar met prominente staatsake besig gehou het nie. (3) En ek weet ook dat die Heilige Skrywers nooit genoegsaam begryp kan word as iemand nie self vir 100 jaar oor kerke saam met sy profete regeer het nie, soos Elija, Elisa, Johannes die Doper, en Christus en sy apostels. Moenie die goddelike Aeneïs aanval nie, nee, kniel eerder eerbiedig neer op die grond wat dit betree. Ons is bedelaars. Luther het hierdie stukkie in Latyn opgestel; slegs die heel laaste sinnetjie was in sy moedertaal, Duits: “Ons is bedelaars.” Dit herinner aan Desiderius Erasmus van Rotterdam, wat sy hele lewe lank net in Latyn, die akademiese taal van die tyd, geskryf het, maar wie se laaste woorde, op 12 Julie 1536, ook in Nederlands was: “Lieve God”.

Literatuur by Martin Luther

Soos te verwagte is daar natuurlik al ontsettend veel oor Martin Luther deur die eeue heen geskryf. Oor Luther se lewe, en (spesifiek) teologie (ook krities van Rooms-Katolieke kant gesien), kan die volgende lys van werke, redelik volledig uit die 20ste eeu alleen, ook geraadpleeg word naas die titels wat ek reeds in die teks hier bo aangegee het:

R Friedenthal, Luther, sein Leben und seine Zeit (München, 1967); Ernest G Schwiebert, Luther and his Times (St Louis, 1950); P Smith, The Life and Letters of Martin Luther (1911); Gerhard Ritter, Luther, Gestalt und Tat (1949); Hans Preuss, Martin Luther. Seele und Sendung (1947); AW Bronsveld ea, Maarten Luther in zjin leven en werken (1917); Julius Köstlin en G Kawerau, Martin Luther (in twee dele, 1903); HJJ Wachters, Luther (1930); Georg Buchwald, Martin Luther’s Leben und Lehre (1947); J Drijver ea, Het Lutherboek (1917); Lucien Febvre, Un destin: Martin Luther (1928); HA van Bakel, Lutherlegenden (1946); Heinrich Boehmer, Der junge Luther (1939); Franz Lau, Luther (1959); Otto Scheel, Martin Luther (in twee dele, 1921–30); W Kooiman, Martin Luther (1946); Idem, Martin Luther, Doctor der Heilige Schrift, reformator der kerk (1947); Hanns Lilje, Luther, Anbruch und Krisis der Neuzeit (1946); Joseph Lortz, Die Reformation in Deutschland (in twee dele, 1939–40); Wilhelm Pauck, Heritage of the Reformation (Boston, 1950); J Atkinson, Martin Luther and the Birth of Protestantism (1968); Ernst Walter Zeeden, Martin Luther und die Reformation (in twee vols, 1950–52); Heinrich Denifle, Luther und Luthertum (in drie dele, 1904–09); FXP Duynstee, Maarten Luther in de kritiek (in drie dele, 1927 vervolgens); Hartman Grisar, Luther (in drie dele, 1924–25); Idem, Martin Luther’s Leben und sein Werk (1927); Paul Kalkhoff, Luther und die Entscheidungsjahre der Reformation (1917); AG Dickens, Reformation and Society in Sixteenth Century Europe (1966); RH Fife, The Revolt of Martin Luther (1957); B Lohse, Mönchtum und Reformation (1963); Reinhold Seeberg, Die Lehre Luther’s (1933); Johann von Walter, Die Theologie Luther’s (1940); E Hirsch, Lutherstudien (in twee vols, 1954); R Hermann, Gesammelte Studien zur Theologie Luthers under Reformation (1960); E Wolf, Peregrinatio (in twee vols, 1954); G Ritter, Luther; Karl Holl, Luther (1932); Gestalt und Tat (5de druk, 1949); Heinrich Bornkamm, Luthers geistige Welt (2de druk, 1953); G Ebeling, Luther. Einführung in sein Denken (Tübingen, 1965); Theodor Harnack, Luther’s Theologie mit besonderer Beziehung auf seine Versöhnungs- und Erlösungslehre (in twee vols, 1862–86); Ottmar Dittrich, Luther’s Ethik (1930); OH Pesch, Die Theologie der Rechfertigung bei Martin Luther und Thomas von Aquin (1967); R Schwarz, Fides, Spes und Caritas beim Jungen Luther (1962); BA Gerrish, Grace and Reason (1962); J Heckel, Lex Charitatis (1953); E Bizer, Fides ex auditu (3de uitgawe, 1966); J Köstlin, Luthers Theologie (in twee vols, 1863); HH Kramm, The Theology of Martin Luther (1947); PS Watson, Let God be God! (1947); E Gordon Rupp, The Righteousness of God. Luther Studies (Londen, 1953); E Hirsch, Lutherstudien (in twee vols, 1954); H Boehmer, Luther in Lichte der neueren Forschung (1904, 5de druk 1918); Idem, Luthers Romfahrt (1914); K Müller, Luther und Karlstadt (1907); EG Rupp, Luther’s Progress to the Diet of Worms, 1521 (1951); H Preuss, Martin Luther. Der Künstler, Prophet, Deutsche Christenmensch (in vier dele, 1931–42); Wilhelm Link, Das Ringen Luthers um die Freiheit der Theologie von der Philosophie (1940); FJM Potgieter, Die verhouding tussen die Teologie en die Filosofie by Calvyn (Amsterdam, 1939); EG Rupp en PS Watson, Luther and Erasmus (in Early Theological Writings, 1969); CM Carlson, The Reinterpretation of Luther (1948); PJS Reiter, Martin Luthers Umwelt, Character und Psychose (in twee vols, 1937–41); EH Erikson, Young Martin Luther: A Study in Psychoanalysis and History (1958).

Lees ook:

Martin Luther herdenk na 500 jaar: deel 1

Gerrit van Wyk Kruger
Seminare en essays

"Martin Luther was die absolute stigter en grondlegger van die Duitse Christelike kerkhervorming en ook die seminale figuur wat die dwalende Rooms-Katolieke Kerk uit die Donker Middeleeue na die ware oorspronklike evangeliese lig gelei het."


Martin Luther herdenk na 500 jaar: deel 2

Gerrit van Wyk Kruger
Seminare en essays

"Luther het die Griekse NT met strakke forsheid en tog innerlike warmte vertaal. Geleerdes bewonder dit vandag nog – dié briljante werk van één man onder die grootste spanning."

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top