Marley: ’n Goeie dokumentêr wat verskeie perspektiewe open

  • 0


Marley

Regisseur: Kevin Macdonald

Rolverdeling: Bob en Rita Marley, Lee Perry, Jimmy Cliff, Cindy Breakspeare, Chris Blackwell

Elke Euro-Afrikaan moet darem so ’n bietjie reggae in die bloed hê. Want Afrika se gróót bydrae tot die wêreld, volgens my, is musiek.
Regisseur Kevin Macdonald gaan haal dan ook die begin van hierdie dokumentêr oor reggae-koning Bob Marley in Afrika – by die “deur van geen terugkeer” op Goree-eiland, waarvandaan slawe uit Wes-Afrika verskeep is. Marley is gebore in 1945; hy het sy pa, ’n Brit, nooit geken nie. Die verwerping wat hy as kind van gemengde afkoms ervaar het, het ’n lewenslange invloed op hom gehad. Dit het hom gedryf om deur middel van musiek uit te styg bo sy armoedige omstandighede in Kingston, Jamaika, en hy het reeds op sestien sy eerste solo-opname gedoen. The Wailers, die groep saam met wie hy mettertyd internasionale roem behaal het, is so genoem omdat hulle in Trenchtown gewoon het, die ellendigste deel van die hoofstad waar almal “bedel en kla”.   

Marley het in sy vroeë twintigs sy vaderfiguur gevind in die Rastafariër-geloof, en die basiese lering van “happiness, love, peace and unity” het die grondslag van sy diep-religieuse werk gevorm. Uit onderhoude met Wailers-lede, familie en vriende word die beeld geskep van ’n uiters talentvolle musikant en besonderse mens wat die wêreld wou bereik met sy boodskap. Tussendeur kan jy jou verlustig in argiefopnames van Marley se konserte. Soos soveel begaafde kunstenaars het hy jonk gesterf, maar sy invloed het inderdaad oor die hele wêreld uitgekring, soos die regisseur ten slotte op ’n slim manier wys wanneer die erkenningslys rol.

’n Goeie dokumentêr bied soveel ineen: kultuur, politiek, ekonomie, sosiologie. Hierdie een het vir my verskeie perspektiewe geopen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top