Marlene Lehnberg, die skêrmoordenaar

  • 2

murdercasebook

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

Die ouer lesers onder ons sal ongetwyfeld nog die opspraakwekkende moordverhoor van Marlene Lehnberg en haar handlanger, Marthinus Choegoe, onthou. Lehnberg was maar 19 jaar oud toe sy op 'n oggend in 1974 vir Choegoe per motor by sy huis gaan haal het en hom geneem het na die woonhuis in Bellville van ene mnr Van der Linde met wie sy op daardie stadium reeds byna drie jaar lank 'n intieme verhouding gehad het. Die verhouding was egter in 'n doodloopstraat, aangesien Van der Linde nie bereid was om van sy vrou te skei om met die jeugdige Lehnberg te trou nie. (Terloops, Lehnberg was dertig jaar jonger as haar minnaar.)

Lehnberg het Van der Linde se vrou eers per telefoon en daarna tydens 'n persoonlike ontmoeting probeer oorreed om van haar man te skei sodat sy, Lehnberg, met hom kon trou – 'n voorstel wat uit die aard van die saak vir mev Van der Linde heeltemal onaanvaarbaar was.

Van der Linde het wel vir Lehnberg laat verstaan dat as sy vrou voor hom sou sterf, hy dan met haar sou trou. Hierdie soort gesprek het ongetwyfeld moordgedagtes by Lehnberg aangewakker. Op daardie stadium het sy reeds vir Choegoe ontmoet wat 'n pasiënt was by die ortopediese sentrum in Kaapstad waar sy en Van der Linde gewerk het. Choegoe het sy been bo die knie as gevolg van 'n ongeluk verloor en het by die betrokke ortopediese sentrum 'n kunsbeen gekry.

In Julie 1974 het Lehnberg vir Choegoe genader om mev Van der Linde dood te maak. Sy het verskillende beloftes aan Choegoe gemaak: geld, 'n motor, selfs 'n huis en seks. 'n Paar maal het Choegoe uit sy eie na die Van der Lindes se huis gegaan en een keer het Lehnberg hom naby die huis afgelaai met 'n hamer om haar minnaar se vrou dood te slaan, maar hy kon nie tot die daad oorgaan nie. Uiteindelik, op daardie noodlottige oggend in November 1974, is die twee wéér na die oorledene se huis, waar Lehnberg vir Choegoe in die huis ingelei het. Sy het mev Van der Linde met 'n harde voorwerp, waarskynlik 'n pistool, in die gesig geslaan en terwyl sy op die grond gelê het, is sy sewe steke met 'n skêr in die linkerbors toegedien waarvan vier die hart ingedring het. Die skêr is deur Lehnberg aan Choegoe oorhandig.

Lehnberg en Choegoe is albei deur die hooggeregshof in Kaapstad aan moord skuldig bevind. Die hof het bevind dat daar geen versagtende omstandighede was nie en albei is ter dood veroordeel. Teen dié vonnis het albei geappelleer en op 23 Julie 1975 het die appèlhof, by monde van hoofregter Rumpf, sy uitspraak[i] gelewer.

Wat Lehnberg betref, het die appèlhof beslis dat tienderjariges in die algemeen as onvolwasse beskou word en derhalwe geregtig is op versagting, tensy die omstandighede van die saak van só 'n aard is dat 'n hof homself verplig voel om die doodsvonnis op te lê. "Jeugdigheid," het regter Rumpf beslis, "is onvolwassenheid, gebrek aan lewenservaring, onbesonnenheid, en veral 'n geestestoestand van vatbaarheid vir beïnvloeding, veral deur volwassenes ... Ek dink nie dat die regspleging van 'n beskaafde staat begerig is om, behalwe in buitengewone omstandighede, tienderjariges te laat ophang nie. Daarom word die jeugdigheid van tienderjariges deur ons howe dikwels as 'n versagtende omstandigheid bevind."

In die betrokke saak was dit volgens die hof duidelik dat Lehnberg koelbloedig, gevoelloos en met voorbedagte rade te werk gegaan het. Indien sy 24 of 25 jaar oud was, sou dit volgens die hof beswaarlik gesê kon word dat daar versagtende omstandighede was. Maar nou het die getuienis getoon dat vandat sy 16 jaar oud was, sy onder die invloed gekom het van Van der Linde, op wie sy intens verlief geraak het. Hy het háár klaarblyklik nie lief gehad nie, maar het haar alleen vir sy seksuele drange gebruik.

Toe Lehnberg 19 jaar oud was, het daar in haar jeugdige gemoed 'n krisis ontstaan en het sy moordgedagtes begin kry. Hoewel sy koelbloedig en wreed te werk gegaan het, was die hof van mening dat die getuienis getoon het dat sy die moord begaan het nie uit inherente boosheid nie, maar omdat haar persoonlikheid op 'n baie ontvanklike stadium deur haar verhouding met Van der Linde ondermyn is. Haar jeugdigheid, tesame met die invloed wat Van der Linde op haar gehad het, was dus versagtende faktore. Die daad wat sy gepleeg het, was egter van só 'n aard dat sy swaar gestraf moes word, en daarom het die hof haar vonnis verander tot 20 jaar gevangenisstraf.

Wat Choegoe betref, het die hof ook bevind dat daar versagtende omstandighede aanwesig was. Ook hy moes volgens die hof swaar gestraf word, maar minder as in Lehnberg se geval, en daarom is sy vonnis verander tot 15 jaar gevangenisstraf. Sowel Choegoe as Lehnberg is in 1986 op parool vrygelaat.

'n Interessantheid is dat Choegoe deur 'n senior advokaat, adv Ismail Mahomed, verdedig is. Ná 1994 is hy aangestel as adjunkpresident van die konstitusionele hof en in 1996 is hy tot Suid-Afrika se hoofregter bevorder. Hy is in 2000 oorlede.

 

[i] Staat v Lehnberg en 'n Ander 1975(4) SA 553 (A)

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top