Mark Felt: ’n filmresensie

  • 0

Mark Felt

Draaiboek en regie: Peter Landesman

Spelers: Liam Neeson, Diane Lane, Maika Monroe, Julian Morris, Marton Csokas, Tom Sizemore, Eddie Marsan

Hierdie verhaal oor die Watergate-skandaal is as’t ware die vervolg op The Post wat vroeër vanjaar op ons kringloop was. Die subtitel, The man who brought down the White House, kon eerder gewees het The man who brought down Richard Nixon, want in wese is dit waaroor die hele debakel gaan: Nixon wou ten alle koste ’n tweede termyn as Amerikaanse president hê, en daarvoor is vuilspel soos die afluister van sy politieke opponente ingespan.

Die film open in 1972, kort voor die dood van die legendariese (en omstrede) J Edgar Hoover, wat vir 48 jaar FBI-hoof was. Mark Felt (Liam Neeson) is sy adjunk, en die man wat Hoover na regte moet opvolg – ás hy bereid sou wees om bevele uit die Wit Huis te ontvang. Felt, reeds dertig jaar by die buro, weier egter weens sy onwrikbare geloof dat die FBI onafhanklik moet wees. Dus word Patrick Gray (Marton Csokas) ná Hoover as waarnemende hoof aangestel, en toe die Watergate-ondersoek begin, word dit gou duidelik dat Gray die Wit Huis ingelig hou oor elke verwikkeling. Felt wil bo alles die integriteit van die FBI bewaar (hy het geen illusies oor die integriteit van politici nie) en daarom begin hy inligting lek aan die Post-joernalis Bob Woodward (Julian Morris). Uiteindelik moes Nixon oneervol bedank minder as ’n jaar ná sy tweede verkiesing (hopelik is hy nie die laaste Amerikaanse president wat op dié manier moet gaan nie).

Felt (uitstaande vertolk deur Neeson) word in die tipies Amerikaanse tradisie deurgaans as ’n onkreukbare karakter voorgestel, maar die film verkry ’n menslikheid deur ook te fokus op sy persoonlike probleme: sy gefrustreerde vrou Audrey (Diane Lane) en sy dogter Joan (Maika Monroe), ’n belowende Fulbright-student wat betrokke geraak het by die protesbeweging teen die Viëtnam-oorlog. Wat Joan betref, is Felt net ’n bekommerde pa wat sy dogter probeer opspoor nadat sy spoorloos verdwyn het.

Mark Felt is ten spyte van die stewige skeut heldeverering ’n boeiende drama wat aanbeveel word vir geskiedenisvrate en politieke diere.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top