Marius Crous (1965–)

  • 0
Foto: Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Marius Crous is op 9 Junie 1965 op Villiersdorp in die Wes-Kaap gebore. Hy het een jonger broer en hulle twee verskil aansienlik. Sy broer is skerpsinnig en vir hom as boer is ’n oordrewe preokkupasie met skrywers en boeke ietwat onsinnig, vertel Marius.

Marius gaan skool op Vredenburg aan die Kaapse Weskus en sy Afrikaans-onderwysers het ’n baie groot rol in sy liefde vir die Afrikaanse letterkunde gespeel. Daar is veral twee wat hy kan uitsonder: Hanina Loubser en Nic Deetlefs. “Ek wens alle kinders het sulke entoesiastiese onderwysers gehad; onderwysers wat wyer gelees het as die vier boeke wat op skool voorgeskryf is.”

“Die boekwinkel op Vredenburg het veral die werk van Sheila Cussons aangehou, en alhoewel ek dit nie behoorlik verstaan het nie (en eers later self Katoliek geword het), het dit iewers vasgesteek,” vertel Marius aan Abraham de Vries (OuLitNet). “Destyds was daar ook die hype rondom Annesu de Vos en ek dink dit het my ook na my pen laat gryp.” 

Marius het sy eerste gedigte onder dwang in standerd vyf geskryf as deel van “kreatiewe skryfwerk”. Later, op hoërskool, het hy ernstiger begin skryf en “die arme Petra Müller by Tafelberg gebombardeer met my skryfsels, wat sy geduldig gelees en van kommentaar voorsien het”.

Marius matrikuleer in 1983 aan die Hoërskool Vredenburg.

Verdere studie en werk

Na skool is Marius na die Universiteit Stellenbosch, waar hy sy BA-graad behaal. Hy behaal sy MA op Stellenbosch onder leiding van Lina Spies en meen dat haar belangstelling in Emily Dickinson nogal aansteeklik was en dat sy hom gehelp het om ’n tipe feministiese stem te kry.

Hy verwerf sy DLitt in 2002 met ’n Foucaultiaanse ondersoek na die diskoers van Antjie Krog se Lady Anne. In 2005 verwerf hy ook sy MA in Engels. Hy is later ’n student in Marlene van Niekerk se Kreatiewe Afrikaanse Skryfkundeklas aan die Universiteit Stellenbosch en behaal sy M-graad in Kreatiewe Skryfkunde met lof. Marius beskryf Marlene as meesterlik as dit kom by die inspireer van kreatiwiteit. En hy wil alle aspirantskrywers aanmoedig om aansoek tot toelating tot hierdie kursus te doen. “’n Mens het daardie kreatiewe vonk nodig. Of is dit eerder daardie kreatiewe skop onder die gat?”

Naas Afrikaans is hy op universiteit ook blootgestel aan die Engelse, Duitse en veral die Nederlandse letterkunde. “Kyk, ek het nog destyds Nederlandse boeke op skool gelees – sulke droefsinnige skryfwerk oor mense in ‘de straat’ of die meesterlike drama Voorlopige vonnis. So Nederlands was nie vir my, soos vir die meeste mense vandag, Sanskrit nie.”

Die filmvereniging aan die Universiteit van Stellenbosch was vir Marius ’n wonderlike ervaring. “Om Maandagaande na Bunuel te kon kyk of blootgestel te kan word aan films van oral oor. Tot vandag toe is ek net spyt dat ek nooit Battleship Potemkin gesien het nie.”

Na universiteit het Marius gaan onderwys gee by Vista Nova in die Kaap. Hy vertel aan Melt Myburgh dat dissipline in die skool nie sy sterk punt was nie. “Ek het altyd my manlike kollegas bewonder wat kinders met een forse roep tot orde kon dwing. Ek was ook nie streng genoeg nie en het eerder probeer om die kinders te outwit. Een erge, woelige jonge het ek eendag uit radeloosheid om die skool laat hardloop om van sy energie ontslae te raak, net om te moes ontdek dat die kind nog woeliger en opgehype was met die terugkomslag. En as die kinders in Afrikaans gevloek het, was ek tog bly dat hulle ten minste ’n Afrikaanse woord of twee besig.”

Hy het gewalg aan die skynheilige onderwysers wat alles so maklik aan God kon toeskryf. “En in my dae op skool was daar nog die gewraakte kadette op Woensdae. Dit was vir my altyd opvallend hoe die godvresendste bidder die grootste vark kon word as hy in uniform was. Seker maar die inherent sadomasochistiese geneigdheid van die Afrikanerman: sit hom in ’n uniform en hy kry ’n styfte in die lende.”

Marius was later dosent in Afrikaans aan die Universiteite van KwaZulu-Natal en Namibië voordat hy in 1996 as taalpraktisyn by die parlement begin werk het. Hy is tans verbonde aan die Skool vir Tale en Letterkunde aan die NMMU in Port Elizabeth.

Melt Myburgh wou weet of hy ooit weer sou gaan skoolhou as die parlement hom in die pad sou steek. “Gots, wil mense dan nog na dese skoolhou? Veral met al daai nasienwerk? As ek aan skole dink, dan kom al daai Amerikaanse gangster-tipe films voor my op. Van die kinders wat die klas afbreek en die onderwyser wat vir sy lewe vrees. Miskien by ’n privaatskool. Skoolhou was vir my kreatief. Veral om interessanthede uit te dink vir Afrikaans Tweede Taal-kinders wat sommer op die eerste dag vir my gesê het: ‘Afrikaans sucks’.”

Marius se eerste gedigte het in publikasies soos Tydskrif vir LetterkundeStandpunte en Literator en op LitNet verskyn.

In 2003 word sy eerste digbundel, Brief uit die kolonies, deur Protea Boekhuis gepubliseer. Dit word in 2004 bekroon met die RAU-Mardene Marais-prys vir die beste debuutwerk. Een van die keurverslae lui: “Marius Crous se Brief uit die kolonies bied ’n onthutsende blik op die kolonisasie van Afrika, die reste daarvan in ons eietydse saamleefpatrone en die ironieë van dekolonisasie.

“Die perspektief op die geweld van koloniale onderwerping, waarvan die uitbuiting van die vrou in fel en skreiende terme verbeeld word, word gestel naas ’n blik op die wit mens in Afrika vandag. Kartering van die landskap, soos blyk uit die kaart-motief en -struktuur, word ondersoek as deel van die kolonisasieproses.

“Die bundel is ‘deurgekomponeer’ op die wyse waaraan ons gewoond geraak het in Afrikaanse eenheidsbundels, soos dié van Opperman en Krog. Wat verder bydra tot die eenheidsindruk, is die konsekwent beheerste woordgebruik wat nêrens kunsmatig ‘poëties’, soetsappig of moralisties is nie. Crous se digterskap getuig van ’n duidelike beheer oor sy medium, ’n bereidheid om met intellektuele kwessies te worstel en ’n vermoë om intense emosies suiwer te verwoord. Daar is veral ook blyke van ’n potensiaal om nog verder te ontwikkel, ’n belangrike oorweging by ’n debuut.” (Beeld, 16 September 2004)

In sy dankwoord by die ontvangs van die RAU-debuutprys het Marius vermeld dat een van die opmerkings wat oor sy bundel gemaak is, is dat daar ’n veelheid van stemme aanwesig is. “Miskien het die titel iets daarmee te doen. Dit is immers ’n brief wat deur iemand aan iemand anders geskryf word. Maar ’n veelheid van stemme het ook bygedra tot sy goeie ontvangs. Van Karen de Wet tot Jeanette Ferreira – die eerste kritiese stemme. Van die eerste resensente se ‘miskien tog wel’ tot die gawe e-pos van Marthinus Beukes om my daarop te wys dat hierdie prys bestaan – en Goddank vir so ’n prys vir beginners – en dat ek moet toesien dat die uitgewer die digbundel inskryf vir die prys.

“Die stemme van lesers wat terugvoer gee, tot die stemme van diegene wat my voortdurend daarop wys dat mense  (1) nie gedigte skryf nie en (2) veral nie in Afrikaans gedigte skryf nie; en eerder ’n aksieroman moet skryf vol stomende seks en gespierde helde met die gesig van Victor Matfield, die bolyf van 7de Laan se Bart en die onderstel van Paul van Pasella. In ieder geval, gelukkig is hulle nie die stem van my gewete nie en dig ek maar hardkoppig voort. (...)

“’n Dankseggende stem aan die RAU en die beoordelaars vir hierdie grootse erkenning. Dit verheug my enersyds, maar andersyds maak dit my besonder bang om aan ’n pen te vat. Want dan gaan my kritiese stem in overdrive.”

Joan Hambidge (Die Burger, 29 Maart 2004) meen dat Marius met sy digdebuut die postkoloniale diskoers ondersoek. Sy skryf dat die bundel sterk inspeel op Antjie Krog se Lady Anne en die wit mens se problematiese verhouding met die kolonieland. “Die fokus is die herkenbare (Suid-) Afrika, maar uit motto’s word daar deeglik aangesny by die groter problematiek tussen moeder- en kolonieland. Die bundel word ook ryklik van motto’s en aanwysings voorsien om die leser te lei na teoretiese tekste oor die onderwerp. Dit is baie mooi uitgegee met kaarte wat ook ’n duidelike spel met Krog se poësie aankondig, en die manlike diskoers, en dikwels ook die gay-diskoers, word hier uitgewerk. In hierdie opsig is Johann de Lange se Nagsweet met sy bruuske, grensoorskrydende en kragtige poësie die pendant.

“Die postkoloniale diskoers kan ook nie van die postmodernisme losgedink word nie. Said, Spivak, Ngugi wa Thiong’o en verskeie ander teoretici se sieninge van verbintenisse is hier aanwesig. Taalbeleide en die implikasies van skryf in ’n taal van verdrukking word in ‘vergifnis’ beskou. (...) Ook die gender-diskoers word aangekondig: Soms word uit die perspektief van ’n vrou gepraat; ander kere uit die posisie van die kolonis of die (gay) man. (...)

“Hierdie bundel problematiseer die siening van die outonome teks, omdat gedigte opsetlik inskryf op reeds bekende tekste. Die brief kan dan ook gelees word as ’n brief aan Groot verseboek. (...) Waar hy wel sy ‘eie stem’ laat opklink, sou ’n mens van belofteryk kan praat. Dikwels word die verstegniese aspekte nie genoegsaam ontgin nie, en die digter is kennelik oorweldig deur sy teoretiese kennis. Vir die aanhanger van Harold Bloom is hierdie bundel ’n plesier om al die angstige invloede uit te wys en die kaarte van mis- en herlesings. (...)

“Marius Crous bied vir sy leser ’n interessante en opwindende spel in Brief uit die kolonies. Wanneer hy hom oorgee aan die ‘waansin van die poësie’, is daar genoeg blyke dat die digter nog ’n belangrike bydrae kan lewer – as hy daardie kopreis deur die ‘ongekarteerde gebied’ kan onderneem.”

Bernard Odendaal se oordeel is dat veral Krog se werke palimpsesagtig op die agtergrond van heelwat gedigte in Brief uit die kolonies figureer – sodanig dat sulke verse ’n ietwat afgeleide indruk maak. “Bowendien werk die collage-agtige inwewing van soveel (prosa-) intertekste, tesame met die haas verhalende bundelstruktuur, ’n prosaïese gehalte in onderdele in die hand. Eintlik bevat die bundel relatief min gedigte wat digterlik treffend in die geykte sin van die woord aandoen. (...) Nogtans, vanweë die bloedwarme aktualiteit én heldere verwikkeldheid van die tematiek, kan ek getuig dat Crous se debuut ’n boeiende leeservaring oplewer.” (Volksblad, 23 Februarie 2004)

En vir Fanie Olivier (Beeld, 10 Mei 2004) is Brief uit die kolonies een van die “mooiste versorgde digbundels waarmee Protea die kroon span op sy bydrae tot die keurige uitgee van Afrikaanse verse en tegnies die maatstaf stel vir dinge vorentoe.”

Olivier gaan voort: “Marius Crous steek met hierdie 48 verse dadelik sy kleim as digter af. “Dit is nie dat al die verse ewe knap afgewerk is of uit die verf gekom het nie en daar is ’n eenselwigheid wat tematies dreunerig word; wat my beïndruk, is die deurgekomponeerde indruk wat die bundel as geheel skep. Die gedigte is vrye vers, sonder vertonerige beeldspraak, sodat dit by geleentheid amper in prosa verloop. Die digter se sterk aanvoeling vir versritme verseker egter dat dit nie gebeur nie – die toets daarvoor bly altyd deur die gedigte hardop te lees (of ten minste hardop in die kop te hoor).

Brief uit die kolonies (soos ’n mens uit die titel verwag) is essensieel ’n post-koloniale bundel, waarin die digter deur ’n reeks sprekers enersyds ’n koloniale bestel krities teken en andersyds die era daarna voorstel.

“Die kaart op die buiteblad is die eerste sleutel; verder word die vier afdelings met ’n kaart en afdrukke uit ou tekste ingelei, terwyl daar telkens aangehaal word uit ’n verskeidenheid bronne om afdelings toe te lig of om ’n ander perspektief te verleen aan ’n spesifieke gedig. Brief uit die kolonies is tegnies een van die knapste illustrasies van hoe post-koloniale letterkunde in die praktyk werk. Hierdeur lewer Crous ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en uitkomkans vir die talle literatore wat in die teorie vasgeval het.”

Marius het (op LitNet) aan Abraham de Vries vertel dat sy bundel kolonialisme belig en in ’n mindere mate ook postkolonialisme, vanuit bepaalde invalshoeke. “Ek dink die sentrale tematiek van my werk – en ek dink ek kry dit by Lettie Viljoen – word verwoord in die openingsreël van my gedig ‘taal’: ‘ek kry nie my draai in hierdie landskap[.]’ Waar pas ek in? Pás ek in? Móét ek noodwendig inpas? Spivak praat van die bevoorregte wat na die kantlyn moet uitbeweeg en toelaat dat die verontregte na die sentrum beweeg. Miskien probeer ek dit verwoord – hoe selfondermynend dit ook al mag klink. Of is dit ’n maklike uitweg om te sê ‘identiteit en identiteitsoeke’? Hoort mens enigsins êrens?”

Aan ’n beentjie sit en kluif is Marius se tweede digbundel; dit verskyn in 2006, ook by Protea. Op Versindaba vertel Marius dat hierdie digbundel oor beendere en gebeentes handel – soos die titel aandui – “maar daar is ’n algehele preokkupasie met die liggaam (oor kos, oor eet, lewe en dood). Daar is ook ’n paar gedigte oor bekende kosmakers soos Nigella en Jamie. Na dese lyk die gedigte ook vir my besonder gestroop, amper soos afgeknaagde bene. Die titel skakel ook met die Engelse to pick a bone, maar ek dink nie ek doen dit soseer nie. Daar is lewe buite die Afrikaanse literêre dampkring.”

Hy vertel aan Melt Myburgh: “My partner, wat sowat ’n jaar gelede dood is, het graag skedels en beendere geteken en ek dink dit het afgevrywe op my. Snaaks, voor ek hom leer ken het, het ek teenoor iemand genoem dat ek belangstel in beendere en miskien daaroor wil skryf. Miskien het hierdie nekrofiliese morbiditeit my voorberei op sy tragiese dood en my pogings om dit verwerk.”

Sy inspirasie vir die bundel was dus hierdie gedeelde belangstelling met sy lewensmaat. Een van laasgenoemde se vroeëre sketse is op die buiteblad van Aan ’n beentjie sit en kluif en eer sy nagedagtenis. Ander inspirasie is “musiek en die ellende om my. Ek kan my nooit so ver kry om oor mooi natuurtoneeltjies liries te raak en daaroor te skryf nie. Ek hou van die hardcore stuff.”

Andries Visagie skryf in Insig van Januarie/Februarie 2007 dat ’n digter se tweede bundel dikwels ’n groter uitdaging is omdat dit ’n aanduiding gee of hy sal kan voldoen aan die hoë verwagtinge wat deur sy aanvanklike sukses gewek is. “Aan ’n beentjie sit en kluif is weliswaar ’n bundel van ongelyke gehalte, maar daar is tog ’n gerf gedigte wat die ontvanklike leser sal bybly. Die tergende titel wek reeds die verwagting dat vleis en eet belangrike elemente in die bundel sal wees.

“Crous verras die leser met ’n afdeling in sy bundel waarin die donkerder eetvoorkeure van die kannibaal, die lusmoordenaar en die vampier die uitgangspunte vorm van geslaagde gedigte soos ‘Ter wille van eksperimentering’, ‘Jou hart is weer myne’ en ‘Model’.”

Visagie meen dat Marius op sy beste is wanneer hy oor die liefde skryf. Die werklik goeie gedigte “Bed 1”, “Sonnet1”, “Sonnet 2’’ en “Skets 2” sal volgens Visagie vermoedelik hul pad na toekomstige erotiese bundels vind. “Dit is veral in ‘Sonnet 1’ waar die digter hom posisioneer binne die homoërotiek met ID du Plessis wat om die hoek loer. Uitdagende en taboedeurbrekende seks word die kondisionerende en bevrydende element wat die gay minnaars moet bevry ‘uit hierdie heterohel’. […] Crous se aweregse humor dra aansienlik by tot die genot wat ’n mens put uit die lees van dié bundel.”

Marthinus Beukes is die resensent in Rapport van 26 November 2006: “Die liggaam in Aan ’n beentjie sit en kluif word metafoor vir die merke van verlies, verrotting, verorbering en erotiek. Die bundel begin met ’n motto van die Nobel-poësiepryswenner Derek Walcott waarin die doodsmetafoor sentraal gestel word. Hierop word die gedigte netjies in vyf afdelings aan die leser aangebied. ’n Mens kan amper sê opgedis – byna soos ’n vyfgangmaaltyd. Stemme wat intertekstueel in die bundel saampraat, is eggo’s van sterfteverheerliking: ’n verwysing na die onderhoud van Jim Morton met Karen Greenlee, The unrepentant necrophile, is die openingsgedig van die bundel en belangrike sleutel vir die doodsmetafore. So ook is Mary Roach se doodsaanhang verdig in ‘Model’ (bl 15) en ‘Being dead is absurd’ (bl 16).

“Die bundeltitel neem die leser nie op ’n dwaalspoor voor die ete opgedis word nie. Die laaste afdeling van die bundel word in besonder ’n gastronomiese hoogtepunt van eet, seks en destruksie. Die direktheid van die dood in die gedigte is sintuiglik merkbaar verwoord. Die leser is van die eerste gedig af bewus daarvan dat die spreker, soos die aanhaling van Karen Greenlee aanvoer, die reuk van dood eroties ervaar: ‘I find the odor of death very erotic’ (bl 13).

“Crous werk in hierdie bundel vernuftig en vernuwend met die metafore van dood, eet en erotiek in Afrikaans. Die homoërotiese liefde en die verkeer met die geliefde se liggaam word geteken soos om te eet. […] Crous rym ook die kluif aan ’n beentjie met die knaag aan die geliefde se liggaam. Die uitruilbaarheid van die eet- en seksdaad is wat die bundel kragtig, en in die Afrikaanse poësie , taboedeurbrekend maak. Die leser word gekonfronteer met die liggaam se verval wat parallel met die skryfdaad loop. Die digter skryf oor mortaliteit as wyse om die verlies te besweer, en so word die skryfhandeling soos om aan ’n beentjie te kluif. […]

“Crous se tweede bundel is ’n definitiewe voortbou op die stem wat in sy 2004-debuutbundel, Brief uit die kolonies, begin klink het. Met hierdie bundel is hy gespeen van invloede van Antjie Krog en Johann de Lange. Die intertekstuele raakpunte wat hier tot stand kom met verwysings na Karen Greenlee en Mary Roach het ’n teks help weef waarin die tema van mortaliteit ’n hegte web tot gevolg gehad het. Aan ’n beentjie sit en kluif is ’n bekragtiging van Crous se digterskap.”

In Volksblad (30 Oktober 2006) is Joan Hambidge nie heeltemal so vleiend in haar beoordeling van die bundel nie. Sy meen dat as sy vinnig tel, daar net twee verse is wat vir haar oortuigend is. “Die res is dikwels verse in aantog, op pad, indien die digter net meer aandag aan die tegniek gegee het. J Hillis Miller se bekende essay Reading as eating kom hier ter sprake: Om te lees, is soos ’n spyskaart wat jy nader trek. Daar is egter té veel poeding en té min substansie in hierdie bundel. Die kamperige verse wis die psigoanalitiese verse oor die dood uit sodat die leser geflous voel. Asof jy na ’n kookprogram op TV kyk ...”

Volgens Ampie Coetzee (Die Burger, 12 Maart 2007) is hierdie bundel nie vir sissies nie. “Soos in die gedig wat voorafgaan. Enkele reëls:

sou nogal graag
jou velle van jou lyf
wou aftrek
die vleis sekuur afsny
van die been
jou skelet ooplê
op die bed
wou kyk hoe die ribbes
gerangskik in rytjies
klou aan die klavikels ...

“Die titel daarvan is ‘Ter wille van eksperimentering’: eksperimentering met onderwerpe én met die gedig.

“Die woord ‘kluif’ beteken: kou of knaag soos ’n dier aan ’n been waar daar nog vleis is; maar ook: dis ’n moeilike onderneming – soos die onderwerpe en die poësie daaroor. Die titel word implisiet of eksplisiet deurgevoer.”

Coetzee verwys ook na die motto van Derek Walcott by bogenoemde gedig wat na dooie metafore verwys en hy gaan dan voort: “Hoewel die betekeniswaarde van die metafore in hierdie bundel meestal effektief is, is die metafore dikwels hulpmiddels wat die grieselrige, die aaklige, die ontstellende belig. Daarvan is die dood – die doodsmetafoor – die heel ergste. (...)

“Naas liefde en dood, sinisme, pessimisme en gedigte waarvan die nie-gay-persoon nie sal hou nie – maar wat relevant is en waarvan dit nodig is om bewus te wees – is daar die slim en soms komiese reeks oor kos en die seksuele. (...) Daar is darem nie ’n afwesigheid van humor in hierdie soms sadistiese en gruwelike verse en doodskreiende bundel nie. (...) Maar die verse in hierdie bundel is uitdagend; en die dood is die oorsaak daarvan – en die gedig weet en sê dit, al wil ons soms nie luister nie.”

In Literator (Augustus 2006) skryf Marlies Taljard dat wat struktuur, metaforiek en tema betref, die bundel ’n redelik sterk eenheid vorm, maar dat die feit dat die digter so gou na sy debuut weer gepubliseer het, dalk die rede is waarom die bundel mank gaan aan werklik sterk, uitstaande gedigte. “Crous moet egter krediet kry vir sy vormgewing, sy soms verbysterende metafore en die moed waarmee hy kwessies soos eksplisiete beskrywing van die weersinwekkende en gayverhoudings hanteer. Hierdie bundel bevat beeldmateriaal wat sensitiewe lesers mag ontstel, maar wat die ingeligte leser nie onaangeraak laat nie!”

Oor sy insluiting in Groot Verseboek se nuwe uitgawe vertel Marius aan LitNet: “Dit laat my dadelik dink aan daardie toneel in The devil wears Prada waar Miranda die voorskou van die jong ontwerper bywoon en dan met gesigsuitdrukkings en mondtuite haar afkeer of aanvaarding bedui. Dit voel vir my asof Brink my voorskou bygewoon het en die regte reaksies getoon het. Mens voel deel van die digtende gemeenskap en dis ’n voorreg om in daardie kring toegelaat te word, selfs al is dit nou net in die agterste ry van die saal.”

Mense wat Marius uitsonder as diegene wat as voorbeelde gedien het vir sy soort poësie, is Neruda met sy surrealistiese metafore, die wit vroue van Kenia (Blixen, Galman en Huxley) en hul pogings om sin te maak uit hul omgewing, Frost se bedrieglike eenvoud, Heaney se eiesoortige manier van politieke verse skryf, Ted Hughes se doodsliedere aan Sylvia Plath, Margaret Atwood se Susanna Moodie-siklus. In Afrikaans beny hy Lucas Malan se vormtug, Hambidge se produktiwiteit, Krog se spel met identiteite en Cloete se sintaksis.

Abraham de Vries wou by Marius weet wat dit in Antjie Krog se werk is wat hom so akademies geïnteresseer het dat hy oor haar werk gepromoveer het. Marius meen dit is omdat sy in elke bundel met iets nuuts vorendag kom. “Of sy nou geil te kere gaan oor die sappighede van die lyf en sy luste en of sy oor die klipperigheid van die landskap skryf, word mens telkemale heeltemal stom van verwondering. Haar herdigting van die geskiedenis en die jukstaponering van die hede en die verlede. Haar besinning oor feminisme en feministiese kwessies, asook haar interessante digterlike stryd met die digter-vaders binne die tradisie, te wete Van Wyk Louw, Opperman en Breytenbach – en haar aanwending van die verskillende registers van die taal. Na die lees van Krog weet ons van Plath en Neruda, van haplografie, van die Jerusalemgangers, van lady Anne se treur oor haar man, lees ons weer lady Anne se dagboeke en hoor ons die stemme van stilgemaakte mense. Glo ons stellig dat Susanna Smit mistieke wet dreams gekry het en kyk met ander blikke na David Hockney en Marlene Dumas se werke.’

Oor die stand van Afrikaanse poësie wou Marius weet: Wie lees nog poësie? “Die Afrikaanse kultuur bestaan grotendeels uit Kurt Darren en Patricia Lewis en ek dink nie daardie uitgelese groep gee juis veel om vir wat in die Afrikaanse poësie aangaan nie. Hulle weet van gedigte wat hulle op skool gedoen het, van Antjie Krog se voorblaaie en van Breyten die tronkvoël. Van Hambidge as polemiseerder en fliekjoernalis. Soos my pa dit stel: ‘Skryf hy dan ook resitasies?’”

Hy meen nie dat daar ’n oplewing in die Afrikaanse poësie is nie en as dit gebeur het, het dit by hom verbygegaan – “amper soos wanneer iemand ’n stywe kry onder die tafel en niemand is bewus daarvan nie”.

Versindaba wou weet watter digter se werk Marius inspireer. “Ek het nou die dag weer Margaret Atwood se gedigte herlees en tot die slotsom gekom dat die anti-Krog-histerie oor my eerste bundel eintlik belaglik was, want veral Atwood se Moodie-siklus het ’n baie groter rol gespeel by my eerste gedigte as Lady Anne. Beteken dit ons kritici ken nie Atwood se gedigte nie? (Lees Kannemeyer trouens ooit skrywers buite die Afrikaans-Nederlandse sfeer?) Ag maar nou ja, mens vat die kritiek van wie dit af kom. Breyten Breytenbach se beeldryke verse; Lucas Malan se vormbeheer; Henning Pieterse; Krog natuurlik; Johann de Lange se onverskrokke verkenning en beskrywing van die erotiek. En ek het Eybers en Stockenström hierdie jaar herontdek.”

Marius hoop om in die nabye toekoms ’n derde digbundel te publiseer. “Ek sien dat digbundels deesdae R140 plus kos; so wat dit vir die toekoms van die digkuns inhou, weet net die Boeddha alleen. En omdat ek probeer om volgens die gulde reël van ‘Begeertes lei tot lyding’ leef, is ek maar dankbaar vir elke kriesel vers of inspirasie wat ek kan neerstip. Of watter emosies die Generation Y-jongens by my ontlok. Ek het pas paar van Jackie Collins se boeke gelees, asook Janice Dickinson se Check please. Ek dink dis waarheen mens moet mik: blitsverkoperromans vol seks en sjarme.”

In 2014 skryf Versindaba ’n poësiekompetisie vir lykdigte uit. Die wenner van die kompetisie was René Bohnen met haar gedig oor Peter Blum, terwyl Marius Crous die derde prys ingepalm het vir “Lykdig vir Wislawa Szymborska”.

Marius se bundel wat hy in die vooruitsig gestel het, is toe in 2012 (ses jaar ná sy vorige bundel) deur Protea Boekhuis uitgegee onder die titel Vol draadwerk. Die titel het by hom opgekom toe hy Nieu-Bethesda in die Karoo besoek het. Marius vertel verder op Versindaba aan Marlies Taljard: “Ek het op ‘n skroothoop met ineengevlegte drade afgekom. Ja, ander mense gaan kyk na die fossiele en die natuurskoon en ek vergaap my aan skroot!

“Die titel bevat vir my spore van soveel moontlikhede: nukke, die bedrading van die brein, die liggaam en dan natuurlik ook die seksuele. (Ek moes al etlike kere verduidelik dat die titel werk bevat en nie trek nie.) Dalk is die oorkoepelende tema: Ek verstaan dit nie, maar wil dit probeer verstaan, selfs al moet ek terug na die klassieke bronne (ad fontes) of na wat ander reeds gesê of gedink het. Maar, soms wil ek ook nie probeer verstaan nie, soos in die twee vaderlandsgedigte. Dalk is onvergenoegdheid die kern van alles?”

Hy vertel ook in die onderhoud met Taljard van sy fassinasie met ou tekste soos blyk uit sy verwysings na Odusseia, na Aenias, die gedigte “Gaea”, “Kerberos”, “Empedokles” en ook nog ander. Hy brei hierop uit: “Die ou tekste fassineer my omdat hulle sulke verbeeldingryke tekste is. Hulle is magiesrealisties en slaag daarin om die boaardse en die aardse in ‘n mate te versoen. Miskien is hulle objektiewe korrelate? Heelwat van die verse het ook ontstaan as ‘n tipe what if-respons. Margaret Atwood meen dat ’n goeie vertrekpunt vir ’n storie moet wees, what if?. So, wat sou Polufemos vir sy vader sê? Of wat dink Odusseus terwyl hy gevange sit by die nimf? Die klassieke tekste is die oertekste, die kollektiewe onderbewuste waarmee ons almal een of ander tyd in gesprek tree. In die jaar 2012 (en na die superstorm Sandy) kyk ek ook weer met nuwe oë na ’n gedig soos ‘Gaea’ (19) en ek wonder of ek werklik so grootbek in dié eindtye gaan wees.”

Vir Marius is dit moeilik om ’n gedig in Vol draadwerk uit te sonder waarvan hy die meeste hou, maar as hy moet, is dit dalk “Gesonke katedraal” en “Messiaen”: “Die twee gedigte vorm ’n tweeluik en staan in opposisie tot mekaar. Ten spyte van die intellektuele inslag, dink ek tog daar is ietwat deernis met die figure in die verse, soos met Helen Martins, Elizabeth Donkin of selfs Penelope se vryers.”

Op haar blog, Woorde wat weeg, is Joan Hambidge van mening dat Vol draadwerk ’n vooruitgang op Om aan ’n beentjie te sit en kluif is: “[J]uis omdat die leser uitgedaag word om mitologies spits te lees en uitdagende psigoanalitiese toepassings te maak. Teenoor die apostase of afwysing van religie staan die mitologie van onder andere Anchises se liefdesavonture. Dit word weer geplaas teenoor die banale seksuele avonture van die ek. Homerus teenoor Vergilius. Ons vind Dido en Carthago. Die ghat oftewel die trappies na die heilige rivier in Varanasi waar lyke verbrand word.

“’n Ryk verwysingsveld oor die verhouding tussen lewe en dood word hier uitgewerk: die Odusseia, die Aneid en die Bengali-siening van die dood. Ook die Ogygia, die eiland in die Odusseia word weergegee. Soos die verheerlikte  Antinous.

“Daar is onthutsende portrette soos ‘Wawielstraat’ (68) en ’n meedoënlose bevraagtekening van die Reële in Lacan se terme. ’n Sentrale vers is dan ook ‘Hades’ (24) waar die lot van die ‘onbegraafdes’ beskou word. Die catch-22 van hierdie bundel is dat die digter júis in sy poging om die mitologie of die religieuse te onttroon, tegelyk ’n bevestiging daarvan word. Die spreker bly dus vasgevang in die ‘kamer van katse en kettings’ (24).

“Dit is ’n bundel wat uitdagings stel aan die leser met vele verwysings (en verswygings) en ’n siniese blik gee op die invloed van die gode, ook in die digkuns soos beskryf in ‘Metateks’ (63) waar die digters rooiwyn en ink drink.”

Dewald Koen is LitNet se resensent van Vol draadwerk, en ook hy dink dat daar ’n besliste groei in hierdie tweede bundel van Crous te bespeur is: “Dit bevat ’n ryk skakering van gedigte wat allerlei temas aanroer, maar tog as geheel ’n hegte eenheid vorm. Die bundel bestaan uit ses afdelings wat onder andere gedigte oor Griekse en Romeinse mitologiese figure, oor literêre figure soos Angela Carter, oor Port Elizabeth sowel as homoërotiese gedigte bevat. Intertekstuele verwysings resoneer deurgaans. […]

“Crous se gay-gedigte hou beslis kers vas by die werk van digters soos Johann de Lange en Joan Hambidge. Dié gedigte ontlok allerlei emosies by die leser – van skreeulaggend snaaks tot besonders somber.

Vol draadwerk is ’n noemenswaardige bydrae tot die Afrikaans poësie-oeuvre. Ten spyte van die sterk akademiese inslag wat soms in die bundel voorkom en vir sommige lesers problematies kan wees, is die meerderheid gedigte toeganklik. Die bundel raak ’n ruim verskeidenheid temas aan waarby menige leser aanklank sal vind. Met Vol draadwerk het Crous homself weer eens as ’n gerekende digter bewys.”

Alwyn Roux skryf in Tydskrif vir Letterkunde (2013) só oor Vol draadwerk: “Die sinspeling op die idioom ‘vol draadwerk’ herinner ons wel daaraan dat die bundel gepaardgaan met aanstellerigheid, slim praatjies en skelmstreke, wat sodoende die relevansie van ’n teoretiese 178 aanpak bevraagteken. Die bundel is wel nie net beperk tot die psigoanalise nie, maar bied ’n ryk verkenning van uiteenlopende temas en onderwerpe. Dit is ’n bundel wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, wat strek van die verbandlegging met, en belang van teoretiese aspekte in terme van die gedigte, tot die verkenning van musikale, skilderkunstige en mitologiese intertekste om die betekenisse van die gedigte te ontsluit.”

Agt jaar later, in 2020, verskyn Crous se vierde digbundel, onder die titel Tussenganger, weer by Protea Boekhuis.

Dewald Koen het op Versindaba ’n onderhoud met Marius gehad en wou weet wat Marius se werkswyse is wanneer hy gedigte skryf, en of hy ’n spesifieke proses volg of plek het waar hy skryf. Marius se antwoord: “Tydens vergaderings, tydens Powerpoint-aanbiedinge oor herstrukturering? Terwyl ek iets lees en dit my prikkel om verder te dink. Wanneer ek na musiek luister en dit my op ’n kopreis laat gaan. Of ’n uitspraak van Trump en veral mense se reaksie daarop my laat nadink. Ons kan wildparke en renosters en die mooiste sonsondergange hê, maar dit maak nie van ons land ’n leefbare plek nie.”

Oor die voorblad van Tussenganger met Michelangelo se geheime kamer wat daar afgedruk is, verduidelik Marius aan Koen dat dit nog altyd vir hom moeilik was om gepaste voorblaaie te kies: “Met my vorige bundel het ek hierdie idee gehad en die uitgewer het dit te makaber gevind. Nou laat ek dit maar aan hulle oor.  My knap redakteur Deborah Steinmair het dit voorgestel en ek dink dit sluit heel goed aan by die titel. Dis ’n tipe tussenruimte, maar dit illustreer ook die idee van skeppend wees, selfs al is jy gevange in ’n bepaalde ruimte.”

Louis Esterhuizen, digter en resensent, beskryf Tussenganger só (Netwerk24, 19 Januarie 2020): “Dit is duidelik die werk van ’n digter wat in die volle krag van sowel sy eie kreatiewe denke as vakkundige vernuf staan. Dit is ’n digverweefde, deurgekomponeerde en uitdagende teks wat die leser nie net met die totaliteit van sy/haar menswees konfronteer nie, maar ook dwing om afstand te doen van opvattings en veral geykte opvattings. Genadelose poësie, inderdaad, en by uitstek hermeties van aard met geen ‘gemaklike’ toegewing aan die leser óf die aangesprokene nie. Trouens, nog selde was TS Eliot se uitspraak ‘genuine poetry moves before it is understood’ só van toepassing as met hierdie gedigte.”

“Die digter se nuutste bundel spreek van 'n digterlike selfvertroue en verg inspanning van sy leser,” skryf Reinhardt Fourie in Tydskrif vir Letterkunde (2021). “Dit is ’n lywige teks met nege afdelings en talle tematiese fokuspunte. Daar is ’n sterk Klassieke en kerklike inslag wat deur die bundel geweef is, en die sentrale teken in hierdie verwysingsraamwerk word reeds deur die bundeltitel aangegee. Soos baie lesers ook aanvanklik sal vermoed, is die tussenganger waarna hier verwys word Maria, die moeder van Jesus Christus, maar ook die ander gedaantes van die tussenganger word met die lees van die bundel almaardeur aan die leser openbaar. […]

“Toenemend word dit vir die leser duidelik dat die tussengangersfiguur nie net tematies in hierdie bundel bespied word nie, maar ook deur die digterstem aangeneem word. Die bundel se epigraaf, ’n aanhaling van Kenneth Goldsmith, kondig dit aan: ‘The function of a writer is more like being a DJ than being Jimi Hendrix.’ Met ander woorde is die skrywer – hier digter – nie net die skepper van die kuns nie, maar ook interpreteerder, aanbieder en remixer om dit opnuut in ’n ander vorm en gedaante vir die leser aan te bied.”

Fourie sluit sy bespreking so af: “Wat duidelik is, is dat hierdie bundel nie net van ’n digterlike selfvertroue spreek nie, maar ook dat dit onbeskaamd hoë eise aan die leser stel. Crous se verse is dig verweef en put uit ’n ryke erfenis van verwysings uit verskeie tale, kulture en identiteite. Dit is daarom nie ’n bundel wat sonder inspanning en moeite gepak kan word nie, en dit sal om dié rede waarskynlik sekere lesers afsit. Soos egter die geval is met ander lywige bundels van die afgelope dekade, is Tussenganger ’n bundel wat die leser wat volhou sal uitdaag en met diepgaande verskeidenheid sal beloon.”

Joan Hambidge se resensie van Tussenganger het in Rapport verskyn en is ook op haar blog, Woorde wat weeg, te sien: “In die begeleidende motto word CA Conrad aangehaal: ‘Poetry is a blueprint of who we are at the time of writing it.’

“Die digkuns as bloudruk en afdruk word op verskillende maniere in hierdie bundel ondersoek. Hoe verwoord die digter die dood? Hoe neem 'n mens afskeid van ’n moeder of ’n geliefde? Hoe kan die woordelose taal van die musiek opgevang word in woorde? En kan gedigte troos? Hoe beskryf ’n mens grensoorskrydende betredings? 

“Crous se bundels besoek – soos in die digkuns van Johann de Lange – die gevaarlike ruimtes van die manlike of queer-identiteit. Die kompromislose ondersoek van die ruimtes van die abjekte en cruising; die dood wat loer om elke draai, hetsy fisies of deur siekte is waaroor hierdie bundel handel, onder andere.

“’n Tussenganger is ’n bemiddelaar, ’n middelman; dit aktiveer ook die woord tussenspraak. En die gedig speel immers in op die bekende idiome en woorde en draai dit metafories op sy kop. Hierom heet ’n bundel vol draadwerk: om ingewikkeld te wees, maar ook skérp verweef. [...]

Tussenganger is nie ’n maklike bundel nie. Daar is baie verwysings na kunstenaars en musiek; na verre plekke en ruimtes. Na hóé verskillende kulture eiesoortig met identiteitspolitiek werk. Die abjekte en gebruik van plat woorde wil die idee van poësie as ’n skoonheidstroos bevraagteken. Lykdigte, portretverse, spirituele gedigte, reisverse, kunsteoretiese analises, ekfrastiese verse; dit staan alles hier met ’n verwysing na Kenneth Goldsmith: Hoe word taal in ’n digitale era bestuur of beheer? [...]

Tussenganger is ’n uitdagende bundel vir naspeur en nadink. Jy moet lees met ’n vergrootglas of lornjet.”

Twee gedigte van Crous is opgeneem in die versamelbundel Merang wat deur Alwyn Roux en Neil Cochrane saamgestel is en in 2025 deur Naledi uitgegee is. Merang beteken “fees” en is deel van die Kaapse Moesliemafrikaans. Die gedigte daarin benadruk die idee van feesvier.

Publikasies:

Publikasie

Brief uit die kolonies

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190297 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

RAU-Mardene Marais-debuutprys 2004

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Aan ’n beentjie sit en kluif

Publikasiedatum

2006

ISBN

1869191099 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vol draadwerk

Publikasiedatum

2012

ISBN

97871869197667 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Tussenganger

Publikasiedatum

2020

ISBN

9781485310884 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Studiegids: Sterkykers

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639604350 (ebook)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Studiegidse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen   

 

Marius Crous as redakteur

  • Marlene van Niekerk, die tempteerbare oog deur Marius Crous (redakteur). Kaapstad: Naledi, 2023 [ISBN 9781991256126 (sb)]

Artikels oor Marius Crous

Artikels deur Marius Crous

Marius Crous se ATKV-Skrywersalbum is oorspronklik op 14/10/2010 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top