Vodou* is een van daardie godsdienste waaroor die meeste van ons bitter min weet. En as ons dink ons weet iets daaroor, is dit dikwels nie heeltemal in die kol nie, het Annamarié van Niekerk onlangs besef.
Gedurende 2010 kruis my paadjie met die Nederlandse digteres Maria van Daalen, toe Writer-in-Residence aan NIAS, ’n internasionale navorsingsinstituut, geleë in die serene en sprokiesmooi bos-en-duingebied van Wassenaar, net noord van Den Haag. As jy deesdae daar loop, kom jy tussen die bome en groen grastapyte af op ’n verrassing. ’n Gedig.

@NIAS
Hoe de boomschaduwen over de grasmat
wandelen, rondom, onophoudelijk. Stil
staan als een beuk in het struikgewas. De wil
om te groeien is wet: van leven, maar wat
weten we van de vogels die tussen blad
en takken in ons nestelen? Is er pril
geluk dat nog uitgebroed moet? Het wil
hier aan de dag waar het strijklicht ons omvat.
Tussen ons allen vallen eierschalen
op de aarde. Het jaargetijde kennen
is zo onmogelijk als de kruin dragen:
voelt je hoe ons hart buigt in de windvlagen?
Elke ochtend aan het hernieuwde wennen.
Doorstaan. Er is zwaar weer op til. Niet falen.
’n Gedig van Maria van Daalen. Jy kyk dit nie maklik mis nie, die woorde wat ’n groot muur vol staan. Jy kyk Maria self ook nie maklik mis nie. Sy’s lank, mooi met kortgeknipte blonde hare, sy’s intelligent en uitgesproke, sy’s intuïtief en sag, sy’s dinamies en borrelend, sy’s speels, en soms vou daar ’n tasbare stilte om haar en is dit asof sy terugvloei in haarself, en as sy na jou kyk, kyk sy met oë wat lankal vergeet het wat aan die buitekant sit. Dan sien ek die digter Maria wat woorde iewers gaan haal en in haar kop rondrol.
Maria is nie net digter nie, sy is ook Vodou-priesteres wat in Haïti ingelyf is tot die priesterdom. ’n Besonderse kans, dus, om iets oor Vodou te hore te kom van iemand wat regtig weet, en ek laat dit nie deur my vingers glip nie.
“Hoe op aarde raak ’n Nederlandse digteres betrokke by Vodou?”
Dit gaan terug na die herfs van 1995, verduidelik sy. By ’n internasionale skrywersprogram aan die Universiteit van Iowa het sy heelwat oor Afro-Amerikaanse literatuur begin lees en ook kennis gemaak met die werk van Ishmael Reed. Sonder om aanvanklik die Vodou-konneksie te merk, was sy veral gefassineer deur sy roman Mumbo Jumbo (1972).
“Maar toe die Vodou-element tot my deurdring, wou ek dadelik meer oor hierdie godsdiens leer. Dit was ’n lang proses wat my uiteindelik ook laat besluit het om ’n boek oor Vodou te skryf. Tydens my werk hieraan het ’n Mambo (’n Vodou-priesteres) my genader oor die moontlikheid om ingelyf te word tot die godsdiens. ’Maar ek’s dan wit, blond en Europees,’ was my antwoord. Die priesteres was duidelik: ’Vir die Loa [Vodou- godhede] is jou velkleur nie van belang nie.’ Uiteindelik kon ek met oortuiging ’ja’ sê.”
“Vodou is ’n godsdiens wat mondelings oorgedra word, maar jy is ’n skrywer, iemand wat daagliks met die geskrewe woord besig is. Is dit vir jou moeilik, dié ratwisseling van die geskrewe na die orale woord?”
“Vodou het vanweë sy Afrika-wortels inderdaad ’n sterk orale tradisie. Dis een van die sogenaamde slawe-godsdienste of Karibiese godsdienste – ongeveer 25 godsdienste wat geografies vanaf die suidelike state van die VSA strek tot by die Antille, Suriname, Venezuela, Brasilië - wat almal mondelings oorgedra word met die gebruik van dans, tromme, sang, ritme. Die godsdienste het tot stand gekom tydens die slawehandel vanaf die laat 15de eeu tot die 19de eeu. Vir hierdie godsdienste is die goddelike gesetel in die liggaam en in die realiteit. As ’n mistieke digter het ek dit nog altyd self ook so beleef, daarom was dit nie vir my vreemd toe ek dit in Vodou raakloop nie. Om terug te kom na jou vraag: nee, die wisseling van die geskrewe na die orale is nie vir my ’n hindernis nie; my MA het gehandel oor Middeleeuse Nederlandse hofpoësie uit die oorgangstydperk tussen orale en geskrewe literatuur. Die orale woord het my dus lankal geprikkel.”
“Maar dit bly ver verwyderd van jou eie kultuur. Was jy nie bang hoe jou mense hierop sou reageer nie?”
“Daar is soveel godsdienste wat in Nederland beoefen word dat ek nie regtig probleme verwag het nie. ’n Fotograaf het onlangs ’n uitstalling gehad van 70 portrette** van verskillende priesters, nonne, dominees, imams, ens – een vir elke geloofsuiting hier in Nederland … Sewentig!
“Wel, sommige van my bure hou seker nie daarvan nie, maar dan is daar weer diegene wat nuuskierig is juis omdat dit vreemd is, en weer ander wat nie ’n bloue duit omgee nie. Ek verkondig dit nou ook nie in my buurt van die huise se dakke af nie, maar my literêre netwerk weet daarvan, dis op die internet bekend, en ek moet sê, oor die algemeen voel ek dat ek as mambo gerespekteer word.”
“Is Vodou vir jou net ’n belangstelling soos ander tydverdrywe, of is dit as godsdiens vir jou werklik van bestaansbelang?”
“Vir my spirituele welstand is dit baie belangrik, ja. Ek glo dat almal van ons sekere basiese behoeftes het, en een daarvan is religie … daaruit put ons ook ons morele waardes. Vir my vervul Vodou een van my bestaansbehoeftes.”
“Hoe praktiseer jy jou Vodou tuis?”
![]() |
| "De grondtekening is een zgn. vévé, die gemaakt kan worden met koffie zoals deze, of met maismeel, of met steengruis, of nog anders. Er zijn honderden verschillende. Een priester of priesteres kent er vele uit het hoofd." – Maria van Daalen |
“Ek het met ’n eenvoudige altaar begin - ’n prent, ’n kers, ’n glas water. Maar deesdae het ek my eie badji. Dit is ’n altaarkamer vol altare, ook ’n voorouer-altaar, want voorouers is vir ons belangrik. Ek het ook ’n klein tuintjie en sommige van my godhede gee voorkeur aan buite bo binne – eintlik verstaanbaar, want Vodou is ’n natuurgodsdiens. As mambo verrig ek daagliks klein rituele in die badji, soos kerse aansteek, drankies inskink en bid … nie soveel anders as wat ’n Katolieke priester doen nie. Terloops, ek is ook Katoliek. In die badji behandel ek my kliënte, hoofsaaklik deur middel van helingsrituele.”
“Hoe word mens so ’n mambo, ’n priesteres?”Sy verduidelik die verskillende fases van die Kanzo gedurende ’n week van afsondering. “Die Kanzo gee jou toegang tot ’n Vodou-huis of -familie. Daarbinne het jy ’n moeder en ’n vader wat jou leer en leiding gee en wie jy moet respekteer en gehoorsaam. By hulle kry jy ook ’n nuwe naam wat die Loa aan hulle bekendmaak. Ons elkeen het ’n loa, ’n soort beskermengel, die ’Mèt-Tèt’ of Meester-van-die-Hoof en ’n paar ander wat jou deur die lewe begelei, elkeen met sy eie spesiale talente. Jou ’Mèt-Tèt’ sê iets oor jou persoonlikheid en eintlik sal jy nie sommer met ander praat oor wie jou ’Mèt-Tèt’ is nie. Dis privaat.”
“Mag ek wel vra wat jou nuwe naam is?”
“Natuurlik. Dis ’n pragtige naam:Fouye Racine Bon Mambo. Die laaste twee woorde spreek die bedoeling uit dat ek ’n goeie mambo sal wees, en die eerste twee dat ek op soek is na die essensie. ’Racine’ (’root’ in Engels) is ’n baie belangrike woord in die godsdiens.”
“Na aanleiding van die Vodou wat jy beoefen is daar waarskynlik riglynewaarby jy leef? Watter het vir jou prioriteit?”
“Ek probeer om in alle opsigte moreel goed te lewe. Maar eerlikheid het vir my ’n hoë prioriteit. Vodou het my ook geleer dat ek nie op my eie moet probeer staan nie, dat ek in hierdie lewe ander mense nodig het. In die verlede was ek te trots om ander om ondersteuning te vra. Dit is ongelooflik hoeveel mense regstaan om te help as mens net vra!”
“Sien jy ’n verband tussen jou liefde vir poësie en jou betrokkenheid by Vodou?”
“Daar’s beslis ’n verband en dit lê veral in die mistiek wat ek aanhang. Interessant genoeg het resensies van my eerste bundel (Raveslag, 1989) my aangekondig as ’priesteres van die poësie’! In my mees onlangse Nederlandse bundel (De wet van behoud van energie, 2007) is daar ’n paar gedigte*** waarin Vodou-goddelikhede voorkom.
“Jy’s ’n dinamiese vrou. As jy in iets glo, gaan jy voluit daarvoor. Het jy as Vodou-priesteres enige vernuwende planne?”
“Jy’s reg: dit waarin ek glo, leef ek uit met mening, maar Vodou het geen sendingsmissie nie. Ek het geen behoefte om mense te ’bekeer’ nie. Ek het wel November verlede jaar my eie Vodou-huis, Sosyete Lakansyel Ginen, die eerste in Nederland, opgerig. Vodou het soveel helende spirituele praktyke wat werk sonder dat jy daarin hoef te glo. Hier kan ek mense help. Dus: ek wil nie mense oorhaal tot die godsdiens nie, ek wil heling bring deur middel van die godsdiens. Dit is ’n groot verskil.”
“En jou eie lewe, Maria? Het Vodou jou lewenshouding verander?”
“Ek het geleer dat ek nie te ver vooruit hoef te beplan of my te bekommer nie. Jou loa skep vir jou geleenthede, maar as so ’n geleentheid dan op jou pad kom, moet jy vinnig reageer. My lewenshouding stem al hoe meer ooreen met my houding ten opsigte van poësie skryf. Ek skryf baie, en dan kom die nuwe gedigte vanself. So is dit ook in die lewe: werk, en die verrassings sal vanself kom. Maar wees gereed om hulle raak te sien as hulle verskyn! Hulle mag nie altyd strook met jou verwagtings nie.
“Ek het ook geleer om meer geduldig te wees met ander mense, en meer respekvol, selfs as mense my irriteer, want elkeen het ’n mèt-tèt en ons moet die mèt-tèt van ander respekteer.”
“Enige boodskap vir Suid-Afrika?”
“Vodou is sterk beïnvloed deur Afrika. Daarvoor het ek waardering. Eenkeer op ’n Durbanse strand het ek ’n Zoeloe-wasritueel dopgehou en was verstom oor die ooreenkomste met ’n soortgelyke Vodou-ritueel. Ek het julle pragtige land twee keer besoek, in 2006 en 2007, toe ek vir poësielesings uitgenooi was, en is albei kere warm ontvang. Maar ek het ook baie onderdrukte woede gemerk, en die misdaad en verkragtings is natuurlik afskuwelik. Ek sal in my badji spesiaal ’n kers vir Suid-Afrika aansteek, om op hierdie manier ook vir julle iets terug te gee. En ek sal bid dat dit wat sleg is, sal verander, vir julle kinders en julle kleinkinders.”
![]()
* Voodoo word soms gebruik ipv Vodou (met die klem op die tweede sillabe), maar laasgenoemde is korrek. Eersgenoemde is ’n heeltemal ander ART (African Traditional Religion) wat veral in die suidelike state van die VSA voorkom. Vodou word veral in Haïti beoefen.
** Maria is een van hulle: Kunsthal.nl
*** Ogou Badagris, the Papa of my House
Ogou bears a thousand wounds,
Ogou of the drums,
Ogou of the dancing machetes.
Ogou heals a thousand wounds,
Ogou of the scars.He cuts the straight path through the sugar cane.
He chops the image and the memory.
Ogou forges the iron knife for the birth,
so that the child comes,
even if the mother bleeds.Papa Ogou opens up the body.
Papa Ogou knows the rhythm of blood,
of the heart.The twelve tones strike upon the anvil
accompanied by sparks and voices.
The fiery glow lies round his neck like a mouswa.
No-one holds a hammer as my Papa does.I put military insignia ready for him
and the blue and red of the soldiers.
His machete slices through the smoke.
The blade is cool upon my hand.Papa Ogou lays his forehead against mine
and nothing in the world can stop me now.
Vertaal deur Kevin Cook. Roots & More / The Journey of The Spirits, Afrika Museum (2009), bl. 180. ISBN 978-90-71611-18-6.
http://www.mariavandaalen.com/
www.mariavandaalen.nl
|
Annemarié van Niekerk is ‘n letterkundige in Den Haag en skryf onder andere boekresensies vir die Nederlandse koerant Trouw. Sy het 'n skrywerstudio in Amsterdam wat te huur is vir skrywers of ander besoekers. Hiervoor kan sy gekontak word by avnemail@gmail.com. |


