Marcia Moon: "Ek is op soek na my klank"

  • 0

Die sanger en liedskrywer Marcia Moon het al menige feesganger en toevallige luisteraar vinnig laat oorslaan tot getroue volgelingskap van haar en haar musiek. Sy beantwoord ’n paar vrae oor musiek, skryf en die lewe.

Goeiedag, Marcia. Hoe's dinge?

Nee, aan die gang; swem maar, mag nie sink nie.

marcia1web

Jou tweede, self-titled album het verlede jaar verskyn. Geluk daarmee. Hoe ervaar jy die reaksie daarop en hoe voel jy terugskouend self oor wat jy bereik het met die album? Hoe het jy die tweede album spesifiek anders benader as jou debuutalbum, A Gradual Awakening? Waarmee hoop jy stap luisteraars en aanhangers weg nadat hulle ’n bietjie tyd met die album spandeer het?

Dankie, Henry. Ja, daar's altyd ’n gevoel van diep tevredenheid ná elke album. Die reaksie is goed van dié wat my terugvoering gee, maar mens verkoop baie albums en weet dan nooit wat mense dink nie. Ek voel naby aan die spesifieke album, omdat dit eintlik maar my eerste probeerslag met producing was – ek het baie hulp gekry van my mede-producer, Illimar Neitz, maar ek het baie vryheid gehad om te besluit wat ek wou doen sonically met die album, en dis van iemand wat ’n oor het, maar nie die tegniese ervaring het nie, net idees. Ek is op soek na my klank, en mens leer maar deur trial and error, so dis hoekom die tweede album self-titled was – dis meer my styl in terme van producing, en mens maak maar foute, maar die foute is niks in vergelyking met wat mens daaruit leer nie.

A Gradual Awakening was baie spesiaal vir my, maar met Marcia Moon hoop ek mense begin verstaan waarnatoe ek as ’n kunstenaar op pad is, en dit is baie meer minimalisties as die eerste album, maar baie meer kunstig in terme van die songwriting, gees en klanke wat ek gebruik. Dis ’n ander genre as die eerste album: dis meer “theatrical” op ’n folk-manier. Ek wil graag hê mense moet weggevoer word na ’n wêreld waar dinge so ’n bietjie meer misterieus en donker is.

Die jongste album kom goed sewe jaar ná die debuut. Waarom het dit so lank geneem om dit te voltooi, of dink jy dit is beter om soveel as moontlik tyd daarop te spandeer om ’n album te "perfect"? Het jy dit oorweeg om eerder geleidelik snitte aanlyn vry te stel, soos sommige bands en kunstenaars maak, of wat dink jy is die nadele verbonde aan só ’n benadering?

Ja, ek is skaam oor dit. Ek het ’n rukkie gevat om die tweede album op te neem, maar glo my, daar was baie tyd wat ek net nie spandeer het aan recording nie – die groot verskoning was maar geld, maar ek weet nou, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. My eerste album was vooruit betaal, die tweede een het ek stuk-stuk betaal, en elke paar weke, maande ingegaan soos wat die geld ingekom het. Liedjies was nog nooit ’n probleem nie, ek het altyd genoeg liedjies vir ten minste nog twee albums, at any give time. Ek dink dis was maar geld hoofsaaklik, en om te wag vir die regte persoon om mee saam te werk. Ek is nie iemand wat net na ’n bekende studio gaan en opneem nie. Dieselfde met die musikante saam met wie ek werk – ek wag dat daar êrens met iemand ’n konneksie vorm.

Ek is nie mal oor die idee om snitte soos wat dit klaar is vry te stel nie. Ek verstaan hoekom hulle dit doen, en in vandag se wêreld werk dit, maar ek is maar old-school, ek hou daarvan om eerder vollengte-albums uit te bring, en hopelik luister die mense na die hele album op ’n slag om nie net ’n liedjie nie, maar ’n hele ervaring te hê. Wat ek wel doen is om video clips te maak, wat ek “house clips” noem, waar ek die liedjie wat nog nie opgeneem is nie, vrystel op YouTube. Sodoende bly ek vars met wat ek wil kommunikeer met mense, want ek skryf aanhoudend baie nuwe materiaal, en mens wil dit met mense deel. Dit gebeur wel by gigs, maar deur house clips kan ek my “nou-gevoel” met mense deel.

As ’n mens luister na A Gradual Awakening en die tweede Marcia Moon-album langs mekaar, voel dit of daar met die tweede album gemik is vir ’n baie meer gestroopte klank – die instrumentlae is in die algemeen minder, die liédere is meer in-jou-gesig. Tog is daar verskeie ongewone produksie-elemente betrokke, soos die didgeridoo op "Hippie Family". Jy is bekend as ’n liedskrywer van formaat – dink jy die trefkrag van liedjies raak verlore as ’n mens dit toegooi met te veel produksie? Is dit ’n algemene fout wat te veel groepe en kunstenaars maak? Hoe werk die skryfproses by jou, vandat die eerste akkoord en woord neergeskryf word tot dit uiteindelik vrygestel word, en hoe vinnig hoor jy in jou geestesoor hoe dit uiteindelik moet klink?

Interessant hoe jy die vraag so stel, want dis presies waaroor ek vroeër met jou vorige vraag oor die albums gepraat het. Ja, soos ek vroeër genoem het, ek het die album heeltemal teruggevat na die “basics”, sodat ek van daar af kan begin bou. En met my eerste album, wat deur die briljante dromspeler Peter Auret gedoen is, was daar ’n oomblik waar ons die proses moes stop, want ek het gevoel dit word “overproduce”. So ons het toe ’n middeweg gekry, en ek is trots op A Gradual Awakening, veral met ouens soos Peter en Jonathan Crossley wat daarop gespeel het. Ek dink ek sukkel net met iets wat mens nie weer op die verhoog kan hoor nie.

Ek is op soek na ’n meer organiese klank – ek wil nie net my liedjieskryftegnieke meer gesofistikeerd laat word nie, maar ook my kitaarspel. En om te werk as musikante, met instrumente, om produkte te skep wat van “skill” afkom, is dan ook wat ’n produk meer kuns as vermaaklikheid maak. Ek dink akoestiese kunstenaars moet pasop vir te groot produksies, want mense wil jou hoor soos jy rêrig klink, en mure van kragklank kan werk vir metal en electronica, maar ek hou van nuanses van elektroniese goed, en metaalgoed in die agtergrond.  Producing moet tegniek wees, dit moet ’n gees vasvang, nie wegjaag nie.

My skryfproses was nog altyd dieselfde – as daar ’n gevoel in my opkom. So wanneer mens honger word, en kos gaan maak, gaan sit ek, gewoonlik in die aand, en begin eers met die akkoordprogressie, oor en oor, totdat die melodie kom, en saam met dit kom woorde. Ek skryf holisties, die kitaar vir atmosfeer, die melodie om die woorde uit te lok, en soos die woorde kom, kom die storie of boodskap. Ek dink baie min aan hoe die eindproduk sal klink op ’n album, of op die verhoog. Vir my is die produk klaar as die liedjie klaar is. Wat daarna deur ander musikante of in die studio of op die verhoog gebeur, gebeur in die oomblik, en ons beitel dit in daai oomblik.

Die snitte op A Gradual Awakening was slegs in Engels; op Marcia Moon is daar Engelse en Afrikaanse liedere. In watter taal skryf jy meer gemaklik, en wat is vir jou lekkerder om uit te voer? In watter taal sal jy graag voorts meer wil opneem? Hou jy die verskil in die Afrikaanse en die Engelse "mark" of toneel in gedagte as jy skryf, of hoe beskou jy dié verskil en hoe erg kunstenaars hulle daaraan moet steur?

Ek het grootgeword met meestal Engelse musiek. Ek was vir ses jaar weg uit Pretoria voor ek A Gradual Awakening opgeneem het – in Londen en Kaapstad – so ek het gemaklik en baie in Engels geskryf. Toe ek later terug is in Pretoria het ek, met baie moeite, aan die begin in Afrikaans begin skryf. Ek was vandat ek ’n kind was af lief vir Afrikaans, maar dit was ’n heeltemal ander sentiment as Engels, en iets waaraan ek moes werk. Dit het meer gewig, Afrikaans.

En dis die ongelooflike teenstrydigheid in Afrikaans – aan die een kant kry jy hierdie diep musiek, van baie diep Afrikaanse geeste, en dan, wel, dan is daar ons ander vriende wat so soetsappig en vlak as moontlik is dat mens wonder wie die melkman se kind is. Maar ja, om in Afrikaans kwaliteit te skryf is die mees bevredigende ding wat daar is, want in my geval, ek skryf goed in Afrikaans, van my heel nuutste goed, wat daar geen vorige voorbeelde van is nie. Binne Afrikaans is daar al ’n paar reeds gevestigde genres, maar daar is so baie wat nog nie gedoen is in Afrikaans nie. En ek bedank Pretoria daarvoor – hierdie plek is lewendig met Afrikaanse kunstenaars en musikante wat my oë laat oopgaan het. En my tweede album maak mense dalk deurmekaar, want mense sê, kies ’n taal, en hulle praat van my mark, en dis vreemd om so ’n CD op iTunes US te hê, met ’n bietjie Engels en dan hierdie taal wat hulle nie verstaan nie, maar ek sit liedjies op my album wat op daai oomblik die meeste vir my beteken. Ek dink nie aan ’n bemarkingsaanslag nie, nie as dit by my kuns kom nie.

Ek dink dis belangrik dat mense kunstenaars volg, en nie andersom nie.

Gepraat van die Afrikaanse snitte – die liriekwerk in die Afrikaanse snitte is besonder poëties. Trouens, dit is ook so met die Engelse snitte. Hoe belangrik is die lirieke vir jou in terme van die verhouding daarvan met die musiek en melodie, en ook die uiteindelike uitvoering? Daar bestaan skynbaar deesdae ’n gevoel dat die gehalte van lirieke in die hoofstroom drasties aan die afneem is – dink jy dit is wel die geval? Wat sou jou algemene raad aan opkomende kunstenaars wees wat liriekskryf betref?

Ek waardeer jou aandag aan dit. Ek dink weer eens dat dit dalk die verskil is tussen kuns en vermaaklikheid. Dis net jammer dat vermaaklikheid meer en meer tyd en geld en vrystelling aan die groter publiek gegee word, en dit gaan natuurlik oor geld, en kitsgevoelens. As ek dan en wan op radio hoor wat aangaan, is dit duidelik dat dieselfde akkoordprogressies, dieselfde afgewaterde stories en sentimente aan mense gevoer word soos kitskos, en dit laat my wonder wat van mense se siele gaan word, want musiek is wat ons siele voer, soos kos ons liggame. Maar weer eens is daar ’n teenstrydigheid: daar is deesdae toegang tot beter-kwaliteit musiek en lirieke as ooit tevore (ons praat nou van folk-georiënteerd meer as die klassieke meesters), net soos wat die kommersiële kanale meer en meer met gemors gevul word. En ek het nie simpatie met mense wat val vir dit nie. Dit beteken nie dat as iets op radio en TV speel dat dit die beste is wat ons land te bied het nie, dit beteken net die besigheidsmanne “have caught up to the system”. So, mense moet gaan soek vir wat in die ondergrond aangaan, op die internet.

Lirieke is baie belangrik. Instrumentele musiek is ’n ongelooflike genre op sy eie, maar as jy lirieke in jou liedjies gaan sit, is dit essensieel om seker te maak elke woord beteken iets – moet nie net iets insit wat rym of wat so voorspelbaar is dat jy weet wat dit gaan wees nog voor dit geuiter word nie. Maar moet ook nie vrees as jy nie die mees poëtiese skrywer is nie – van die beste liedjieskrywers werk meer met idees en stories wat hulle oordra, en nie noodwendig met woord-vir-woord-perfeksie nie.

Jy is die stigter van ’n projek genaamd “We are songwriters” in Pretoria – dit lyk na ’n lekker projek, met verskeie bedonnerde sangers en kunstenaars wat betrokke is. Hoe het die stigting hiervan gebeur? Wat was die mikpunte met die stigting en hoe verloop ’n bymekaarkoms van dié groep?   

Ek is nou al ’n hele paar jaar besig met hierdie projek. Dit het destyds nog by die ou Café Barcelona gebeur, maar nou is hy meer tuis by die Asbos Teater, eerste Vrydag van elke maand (behalwe Augustus, Oppikoppi-maand). Hierdie is ’n groot hartsprojek vir my. Ek het dit begin met die idee om Pretoria ’n plek te maak wat bekend kan begin staan as ’n Liedjieskrywerstad, soos Austen, Texas. Daar is ’n oudmodiese en baie belangrike element aan Pretoria wat jy nie sommer meer kry nie, en die mense is nog goed tradisioneel met kitaarspeel en stories vertel. As ons dit kan vasvang en behou in Pretoria, ten minste, sal dit dalk die plek word waar mense van heinde en verre sal kom om die ou kunsvorme te kom waardeer. En ons is oop vir enigiemand wat ’n instrument speel en ’n storie vertel, en ja, ons het al mense van regoor Suid-Afrika gehad wat kom speel het, en ek kies elke ou wat daar speel – dit moet eg en outentiek wees.

Ons wil met tyd hê dat daar ’n plek is vir singer-songwriters om te speel, waar mense luister en stil is en waar musikante betaal word vir wat hulle doen. Ons wil ook mense van alle ouderdomme lok, nie net jongmense en studente nie. Mense moet kan uitkom na ’n kwaliteit-ervaring, want in Pretoria is daar die studente en dan hier en daar ’n plek vir ouer ouens, en nou en dan gaan kyk die 30-plussers iets, soos ’n Afrikaanse superster, of betaal geld vir iemand van oorsee, maar ons wil dit terugbring na die roots toe. Die waarde van ons eie kunstenaars, die ondergrondse scene, meer kommersieel maak, mense aan kwaliteit begin voorstel. En ook hulle voorstel aan die kreatiwiteit en diversiteit van singer-songwriters deesdae.

En dis natuurlik ’n plek vir ons om te oefen om heeltemal solo voor ’n volwasse gehoor te speel, wat luister en goeie geld betaal. Ek het al ouens daar sien speel wat tonne gigs by feeste en ander venues speel, wat senuweeagtig en skaam op daai verhoog raak, want hulle is nie gewoond aan die sober, “attentive” aandag nie (ek insluitende), daar's niks om agter weg te kruip nie. En dan is die groot geskenk om dit reg te kry, met gedimde ligte, stil gehoor, jou rou emosies, goeie klank, om te vergeet van jouself en daai magic waarvan jy van droom as songwriter te voel, en te gee.

Marcia Moon is al ’n geruime tyd aktief as musikant – jy het ’n swetterjoel optredes en toere agter die rug. Enige herinneringe wat vir jou uitstaan, wat dit betref? Enige agter-die-verhoog-staaltjies wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige venues of gebeure wat jy eerder sal wil vergeet?

Sjo, ja, daar’s al baie gigs en stories agter die rug. Um. Ek dink een van die komieklikstes was ’n gig wat ons in Johannesburg gedoen het waar ’n baie ou tannie die gig kom stop het, en aangedring het ons hou op speel, want sy hou nie van my gesig nie, en dit was haar presiese woorde. Ek lag nou nog as ek daaraan dink, en ek het vir ’n paar dae gewonder oor my gesig.

Dan was daar ook die keer toe my kitaar gebreek het die aand voor ’n oggendgig in Haenertsburg, waar ek die aand tienuur met ’n geleende bakkie, met baie dim ligte, op my eie in die diep woude van die Magoebaskloof moes gaan soek vir ’n Druid-man met ’n Gibson copy akoestiese kitaar wat ek kon leen, as ek hom kon vind. Ná lang ure en baie vreemde ervarings het ek hom en die kitaar gevind.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Marcia Moon in, in so verre jy dit kan beheer?

Om soveel moontlik kuns te maak, om kultuur te bevorder in Pretoria en Suid-Afrika. Om te gaan toer in Oos-Europa, verkieslik Transylvania om my gotiese siel verder te voer, my ma-hulle weer in Afrika opvat om te gaan toer, om oorsee te speel en te verstaan wat mense daar doen, en genoeg geld te maak om eendag my eie plek te kan koop waar ek foto's teen die mure kan hang van al my ervarings.

Wat is die sin van die lewe?

Ek sou sê om dit reg te kry, om altyd, gee nie om wat nie, ’n onderlangse gevoel van “contentment” te voel. En om alles wat ’n mens is, tot die maksimum te wees, en om te onthou wat jy gevoel het as kind, al daai towerkuns en drome, en dit aan te hou volg. En nooit spyt te wees oor die wilde goed nie, en om die donker net so naby as die lig aan jou te hou, en om te luister en te ervaar, en nederig te staan voor die groot heelal. En laastens om te baklei vir dit wat reg is.

marcia2web

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top