Mans in magsposisies en hul "komplekse nalatenskap"

  • 3

Wat is dit omtrent sportsterre en die heldeverering wat hulle ontvang? Die persone wat x-strale uitgevind het, of antibiotika, het heelwat meer gedoen om die mensdom te red en waarde tot lewens toe te voeg, maar die gemiddelde persoon sou sukkel om hul name te onthou.

Sportsterre, en filmsterre, en sangers, aan die ander kant, word vereer asof hulle die redding van Armageddon is – al is hulle soms meer bekend vir skade en skande as enigiets anders.

Sedert die nuus van Kobe Bryant se dood is dit onmoontlik om op enige sosiale media te gaan sonder om vas te kyk in foto op foto, lofprysing op lofprysing, oor sy talent en die bydrae wat hy tot die mensdom gemaak het. Bryant was ’n basketbalspeler, wat weliswaar groot geld in Amerika beteken, maar nie regtig in die res van die wêreld enige impak maak nie. Geboue is in die pers en goud van sy span, die Lakers, geklee. By die Grammys is toekenning op toekenning aan hom opgedra.

Die masjinerie wat gewone sterflinge tot heiliges verhef, het begin inskop die oomblik toe dit rugbaar word dat hy in ’n helikopterongeluk omgekom  het. Roxane Gay is omtrent die enigste bekende wat enigsins verwys het na wat sy genoem het “his complex legacy”. Dis natuurlik ’n verwysing na die 2003-beskuldiging dat hy ’n 19-jarige hotelwerker in sy hotelkamer verkrag het. Hy het beweer dat sy toegestem het, ten spyte van die feit dat sy wurgmerke aan haar nek gehad het, en spatsels van haar bloed aan sy klere gevind is.

Verkragting is een van die misdrywe waar opset altyd ’n element van die misdryf is. ’n Beskuldigde kan nie sê: “Oeps, ek het nie bedoel om haar te verkrag nie.” Daar is regtig net twee verwere wat ’n beskuldigde kan opper. Hy kan toestemming beweer, soos wat Bryant gedoen het. Met ander woorde: “Ja, ek het met haar seks gehad, maar sy het toegestem.”

Die tweede verweer is identiteit. “Ek is seker daarvan dat sy verkrag is, en dis regtig iets verskriklik, maar dis nie ek wat dit gedoen het nie, dis iemand anders.” In Bryant se geval is sy semen in haar gevind, en ander DNS-getuienis is ingewin. Dat sy ’n fout gemaak het oor wie haar verkrag het, sou dus nooit gewerk het as verweer nie.

Kort nadat die bewerings bekend gemaak is, het iemand die klaagster se identiteit uitgelek. Bryant se bewonderaars het haar begin dreig en gevolg en oor die algemeen haar lewe hel gemaak. Daar is geen aanduiding dat hy enigiets gedoen het om dit te probeer stopsit nie. (Presies net soos Zuma met sy bewonderaars). Wie haar identiteit uitgelek het, het nooit regtig bekend geword nie. Die staat, wat haar moes beskerm en haar getuienis wou gebruik, sou dit nie gedoen het nie. Hulle het niks gehad om te wen daardeur nie. Bryant, aan die ander kant, het als gehad om daardeur te wen indien die klaagster so ontsenu is dat sy besluit het om die saak te los.

Dit het dan ook gebeur. Bryant het vir sy vrou ’n $4-miljoen-ring gekoop om verskoning te vra. In ’n latere siviele geding het hy met die klaagster, wat toe nou die eiser was, geskik. Dis nie seker watter bedrag geld hy haar betaal het vir haar stilte nie. Hy het nooit regtig erken dat hy skuldig is nie.

Dis ’n verhaal so oud soos die berge. Bekende man word beskuldig van een of ander misdryf teenoor ’n vrou, gewoonlik minder bekend of heeltemal onbekend. Die onmiddellike reaksie is dat die man se onskuld aanvaar word en die vrou aangeval word. Sy word uitmekaar geskeur. Haar seksuele geskiedenis word opgehaal, terwyl syne maar net afgemaak word as  “boys will be boys”.

Die gety in hierdie tendens het maar eers met Brock Turner begin draai, en ook net omdat aktiviste vuiste gebal en in die arena geklim het om te veg vir beter regte vir verkragtingslagoffers. Bill Cosby het agtergekom dis nie so maklik om weg te kom met verkragting nie. Harvey Weinstein se verhoor is nou aan die gang, en ek hou dit met belangstelling dop om te sien wat daar gebeur.

Maar dis nou. In 2003 was die situasie heelwat anders.

Bryant was nooit in ’n hof skuldig bevind nie. Sy aanhangers, en die beste verdediging wat geld kan koop, het daarvoor gesorg. Die hotelwerker, aan die ander kant, moes staatmaak op die staat om hulle werk te doen. Daar is dus nooit regskuld aan sy kant bewys nie. Maar morele skuld? Daarvan is daar hope. En om iemand se stilte te koop is nie dieselfde as om verantwoordelikheid te aanvaar nie.

Was Bryant ’n talentvolle sportster? Ja. Was hy ’n filantroop? Waarskynlik. Maar dis nie al nie. Hy was ook ’n man wat sy posisie misbruik het om seks af te dwing op ’n persoon wat geen bedingingsmag gehad het nie. Die feit dat hy dood is, verander niks daaraan nie.

Dis nie Bryant se nalatenskap wat kompleks is nie. Wat kompleks is, is die reaksie op verkragting, die dubbele standaard, die wyse waarop vroue se liggame as goedkoop afgemaak word, die wyse waarop vroue se toestemming as vanselfsprekend aanvaar word wanneer die man beroemd is.

Dis ’n sisteem wat moet verander. Niks kompleks daaraan nie.

  • 3

Kommentaar

  • Wat Bettina hier sê oor verkragting stem ek mee saam. Wat haar vraag oor die afgodstatus van slebs betref - dis maar 'n menslike ding. Die dood van 'n plaasboer wat byna weekliks plaasvind, of die honderde wat daagliks aan die Koronavirus sterf is vir familie en vriende net so traumaties soos die dood van 'n politikus of sportster maar het nie nuuswaarde nie.

  • Francois Verster

    Die pen(is) skerper as die swaard. Van lemme/messe gepraat, objektiwiteit en gebalanseerde perspektiewe is deesdae belangriker as ooit, gewewe die invloed van die elektroniese Hermesse soos Whatsapp en Facebook. Veral veralgemenings sny soos warm messe deur sagte botter, en dui op agendas en vendettas. Wanneer is 'n stuk eintlik maar moddergooi-in-die-bondel en wanneer is dit 'n bydrae tot gemeenskapsredding? Die positiewe, die navolgenswaardige voorbeeld en die geloofwaardige mening sal altyd 'n meer wenslike opsie wees. Opvoeding wat lei tot gesonde selfsienings mag 'n goeie begin wees.

  • Strangely sportsmen of note don't seem to realize how their fall from grace can and often does come in a nanosecond. Regardless of their available funds to fight off all the collateral damage their reputations come crashing down. Oscar P and OJ are perfect examples of that, as are many others who assume they are above the law through fame and fortune. Hansie Cronjé crossed the line and today one hardly ever remembers him regardless of his otherwise proud achievements. Perhaps all of which could so easily have been prevented with a bit of solid experiential engineering up front considering the pitfalls are often much the same. Besides the fact that career criminals can be placed in a separate category, sadly the Hansies and Oscars etc of the world fall victim to 'opportunity maketh the thief, or the killer etc'.

    Erring writers of note on the other hand leave a legacy etched in the public psyche quite beyond anything achieved by sportsmen, and it's seldom indeed that they walk the road of self destruction so easily. Jeffrey Archer is a good example of one who crossed the line and was imprisoned but his reputation remains intact (moot point) in the eyes of many, or most. His penalty for perjury was however much harsher than Bill Clinton's across the pond. We are now seeing another sad example courtesy of Trump who is by deafening report a liar but thoroughly protected by the GOP Senate stranglehold. Clearly, the commander-in-chief of the western world is above the law.

    As with so much else in life, everything often remains relative.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top