
Prent: https://pixabay.com/illustrations/family-stay-at-home-pandemic-4976408/
Pandemie laat tasbare voetspore wêreldwyd
Die pandemie het op vele terreine en wêreldwyd ’n amperse tasbare voetspoor gelaat. Onlangse navorsing toon COVID-19 het ook ’n hernude fokus op van die jongklomp se liggaamsontwikkeling geplaas.
Volgens globale beriggewing het vroeë puberteit, wat hoofsaaklik meisies onder die ouderdom van agt jaar raak, tydens Covid in etlike wêrelddele toegeneem.
Dokters berig hoër vlakke van vervroegde puberteit
Luidens ’n verslag wat saam met The Washington Post en The Fuller Project gepubliseer is, berig dokters hoër vlakke van dié verskynsel – ’n werklikheid wat ook nou die fokus op kindergesondheid plaas.
Uit Europa, die VSA, Indië en die Midde-Ooste word berig dat meisies so jonk as ses jaar tydens die pandemie reeds fisiek begin ontwikkel het. Gedokumenteerde gevalle bevestig dat meisies selfs al op vyf begin het om borste te ontwikkel.
In Italië het ’n studie bevind dat meer as 300 meisies tussen Maart en September 2020 na vyf pediatriese endokrinologiesentrums verwys is, in teenstelling met 140 verwysings gedurende dieselfde tydgleuf in 2019.
COVID-19 skep bodem vir vervroegde puberteit
Kundiges beklemtoon die moontlikheid dat Covid ’n bodem kon geskep het by sommige meisies om vroeë puberteit binne te gaan.
Verskynsels soos stres, depressie, slegte eetgewoontes en onaktiwiteit wat uit die pandemie gespruit het, word as van die snellers uitgewys en aan die groot klok gehang.
Ankia Coetzee, ’n endokrinoloog, aan die woord
’n Stof wat in ontsmettingsmiddels en sommige soorte seep voorkom, Triclosan, wat as ’n endokrien-ontwrigtende chemikalie erken word, kon ook vroeë puberteit gestimuleer het, sê dr Coetzee van die Universiteit Stellenbosch.
“Daar is al hoe meer studies wat dui op die nadelige uitwerking van sekere chemikalieë wat inmeng met die normale hormonale balans. Alle fenols, waarvan Triclosan een is, is al met vroeë puberteit in dogters geassosieer,” sê sy.
Vroeë puberteit en moeilike kinderjare
Volgens navorsing deur die Perelman Skool vir Geneeskunde aan die Universiteit van Pennsylvania en die Kinderhospitaal van Philadelphia (CHOP) in 2019 is daar duidelike lyne tussen vroeë puberteit en moeilike kinderjare.
Die span het bevind dat trauma van veral kinders uit arm gemeenskappe waarskynlik gekoppel kan word aan versnelde puberteit, abnormale breinontwikkeling en groter geestesgesondheidsversteurings.
“Vroeë puberteit gebeur dikwels met meisies wat moeilike kinderjare ervaar. Met die aanvang van Covid regoor die wêreld het mense finansieel swaargekry en huishoudelike spanning het toegeneem. Trauma wat jong kinders ervaar, kan lewenslange gevolge hê,” sê Ruben C Gur, die studie se senior navorser en professor in psigiatrie, radiologie en neurologie.
............
Die span het bevind dat trauma van veral kinders uit arm gemeenskappe waarskynlik gekoppel kan word aan versnelde puberteit, abnormale breinontwikkeling en groter geestesgesondheidsversteurings.
“Vroeë puberteit gebeur dikwels met meisies wat moeilike kinderjare ervaar. Met die aanvang van Covid regoor die wêreld het mense finansieel swaargekry en huishoudelike spanning het toegeneem. Trauma wat jong kinders ervaar, kan lewenslange gevolge hê,” sê Ruben C Gur, die studie se senior navorser en professor in psigiatrie, radiologie en neurologie.
..............
Coetzee sê die endokriensisteem is baie sensitief vir omgewingsveranderinge, beide biologies en psigologies. Die interaksie tussen genetika en omgewing speel ook ’n groot rol met die aanvang van puberteit.
“Daar is wel lande, soos Italië en Brasilië, wat vroeër puberteit ná COVID-19 aangemeld het. Dit word aangevoer dat vervroegde puberteit in hierdie studies gepaard gegaan het met gewigstoename weens fisiese onaktiwiteit, elektroniese-toestel-gebruik en slegter eetgewoontes tydens die pandemie. Meer vetweefsel gaan gepaard met hoër estrogeenvlakke, wat lei tot vroeë borsontwikkeling,” sê sy.
Vervroegde puberteit nie nuutgebore verskynsel
Vervroegde puberteit is nie ’n nuutgebore verskynsel nie en word reeds geruime tyd in etlike lande waargeneem. In 2013 het die destydse Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, in ’n onderhoud gesê: “Die vroeë aanvang van puberteit is ’n wêreldwye kwessie. Baie Suid-Afrikaanse meisies begin op die ouderdom van nege menstrueer – en hierdie vroeë aanvang van puberteit kan gekoppel word aan groeihormone en ander chemikalieë in voedsel. Dit is ook gekoppel aan dieet en hormone wat ingespuit word in voedsel wat ons in die modern tyd eet.
“Maar dit is iets waarvan die mense by die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Voedsel- en Landbou-organisasie baie bewus is. Dit is een van die moderne tyd se ingewikkelde kwessies,” het hy gesê.
Opvoedkundige sielkundige oor moontlike snellers en suiker
Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige in privaatpraktyk in Kaapstad, sê hoewel wetenskaplikes nog nie die presiese oorsake van die tendens kon vaspen nie, kan ’n ongesonde dieet ook die proses aanhelp.
“Wetenskaplikes het nog nie sekerheid oor wat presies vervroegde puberteit veroorsaak nie. In sekere gevalle is dit eenvoudig geneties en in ander is daar ’n onderliggende mediese probleem. Daar is ook studies gedoen wat vervroegde puberteit aan ’n ongesonde, hoë-suiker-dieet koppel. Laasgenoemde veral die tipe suiker wat in gaskoeldranke en versoete vrugtesappe voorkom,” sê sy.
Johan van Rooyen, ’n kliniese sielkundige, berig
Luidens ’n artikel in Rapport sê Johan van Rooyen, ’n kliniese sielkundige van Brackenfell wat gereeld met kinders en tieners werk, die aantal gevalle van vroeë puberteit waarmee hy te doen kry, het beslis die afgelope vyf jaar toegeneem.
“Die meeste van hierdie kinders word afgeknou. Hulle besef eers as tieners, wanneer die res van hul vriende ingehaal het, dat dit waardeur hulle gegaan het, normaal was. Ongelukkig is die skade op emosionele vlak dan reeds gedoen.”
Berader Julia Starck beklemtoon toename
Julia Starck, ’n berader by The Parent Centre in Kaapstad, sê vroeë navorsing beklemtoon die toename in vervroegde puberteit in sommige wêrelddele: “’n Literatuuroorsig deur Eckert-Lind ea het aangedui dat wêreldwyd, vanaf 1977 tot 2013, die gemiddelde ouderdom van puberteit met ’n gemiddeld van byna drie maande per dekade gedaal het. Die navorsers sê dus dat die voorkoms van vervroegde puberteit ten minste in die VSA, China, Denemarke en Kenia toegeneem het.”
Wat gebeur tydens vervroegde puberteit by kinders?
Vervroegde puberteit is die verskynsel waar ’n kind se liggaam op ’n te vroeë ouderdom in ’n volwasse liggaam begin verander. Dit kan met meisies sowel as seuns gebeur, maar dit is 10 keer meer waarskynlik dat meisies aan vervroegde puberteit sal ly as seuns, sê Annandale.
“Met normale aanvang van puberteit vind veranderinge in biologiese, psigiese en sosiale terreine min of meer gelyktydig plaas, maar met vervroegde puberteit is die tydreëling van die veranderinge totaal omvergegooi – die kind se liggaam begin regmaak vir die grootmenslewe terwyl die jongeling se psige beslis nog nie reg is daarvoor nie.”
Die uitvloeisels van vervroegde puberteit
Vroeër puberteit beteken ook vroeër fisieke ontwikkeling as by tydgenote, hormonale buierigheid, selfbewustheid en moontlike ongewenste seksuele aandag voor die kind emosioneel of verstandelik reg is daarvoor.
Meisies met vervroegde puberteit is meer geneig tot depressie en om op ’n jonger ouderdom seksueel aktief te raak en alkohol en dwelms te misbruik.
Starck sê volgens haar navorsing staar vroeë fisieke ontwikkelaars meer uitdagings in die gesig in vergelyking met dié van hul eweknieë.
“Wanneer hulle die vroeë stadiums van adolessensie betree, beskik hulle nog nie oor die volwassenheid op ander gebiede om dié druk te hanteer nie. Die grootste aanslag is op ’n selfbeeld en die ontwikkeling van ’n gesonde selfkonsep,” sê sy.
“Meisies wat vroeg ontwikkel, beskou dikwels dié vroeë volwassenheid negatief. Hulle beskik nog nie oor die intellektuele, emosionele en sosiale vaardigheid om byvoorbeeld die druk te hanteer wat gepaard gaan met vroeë aandag van die (dikwels ouer) teenoorgestelde geslag nie.”
Vroeë seksuele aktiwiteit en dwelms
Volgens Starck kan hulle wel ’n behoefte voel om selfbeeldbehoeftes aan te vul deur by vroeë seksuele aktiwiteit betrokke te raak. Daar is ’n groter geneigdheid om dwelms te gebruik, hetsy om gevoelens van onwaardigheid te verdoof of om gewildheid te verkry (Marceder-yus 2018).
Volwassenes se onrealistiese verwagtinge kan die adolessent ook belaai met verantwoordelikhede wat sy nog nie kan hanteer nie, sê Starck.
Kort- en langtermyn-gesondheidsrisiko’s
Die verskynsel word volgens kundiges ook aan omvangryke langtermyn-gesondheidsrisiko’s gekoppel. Hoër risiko’s van bors- en eierstokkanker is gedokumenteer, asook vetsug, hoë bloeddruk en hartsiektes.
...........
“Behalwe om net ’n meisie se fisiese kinderjare kort te knip, is vroeë puberteit gekoppel aan gevolge wat deur haar lewe kan weerklink. Dit word verbind aan groter risiko vir borskanker, tienerswangerskap, hartsiektes en diabetes, sê Louise Greenspan, ’n pediatriese endokrinoloog van die VSA en medeskrywer van die boek The new puberty: how to navigate early development in today’s girls.
..............
“Behalwe om net ’n meisie se fisiese kinderjare kort te knip, is vroeë puberteit gekoppel aan gevolge wat deur haar lewe kan weerklink. Dit word verbind aan groter risiko vir borskanker, tienerswangerskap, hartsiektes en diabetes, sê Louise Greenspan, ’n pediatriese endokrinoloog van die VSA en medeskrywer van die boek The new puberty: how to navigate early development in today’s girls.
Annandale sê dié kinders is dikwels korter as ander kinders in hul ouderdomsgroep omdat hul groeifase vroeër ophou wanneer die liggaam deur puberteit gaan.
Kry mediese ondersteuning – daar is lig in die tonnel
Vanweë die erns van die verskynsel wat ons hier beskryf, is kundiges dit eens dat ouers dié vervroegde ontwikkeling by hul spruite medies moet aanspreek.
............
“Moet dit nie net los nie – neem jou kind dokter toe. Dit is ’n baie moeilike ding vir jong kinders om mee saam te leef en dit moet nooit net eenvoudig as ’n natuurlike proses aanvaar word nie,” sê Annandale.
“Vervroegde puberteit kan verskeie mediese oorsake hê wat dalk so gou moontlik behandel moet. Dit maak ook ’n kind se kans om sekere siektes te ontwikkel groter,” sê sy.
..............
“Moet dit nie net los nie – neem jou kind dokter toe. Dit is ’n baie moeilike ding vir jong kinders om mee saam te leef en dit moet nooit net eenvoudig as ’n natuurlike proses aanvaar word nie,” sê Annandale.
“Vervroegde puberteit kan verskeie mediese oorsake hê wat dalk so gou moontlik behandel moet. Dit maak ook ’n kind se kans om sekere siektes te ontwikkel groter,” sê sy.
Volgens die Britse nasionale gesondheidsdiens is die gemiddelde ouderdom vir meisies om puberteit te begin 11 jaar, en enigiets tussen agt en 13 jaar word as normaal beskou. Enige ontwikkeling van seksuele kenmerke soos borsknoppies voor agt jaar of pubiese of onderarmhare word as vroeë puberteit beskou.
Bronne
https://www.washingtonpost.com/lifestyle/2022/03/28/early-puberty-pandemic-girls
https://www.iol.co.za/lifestyle/family/parenting/girls-reaching-puberty-at-age-of-9-1600751
https://www.netwerk24.com/netwerk24/as-n-kind-vroeg-begin-ontwikkel-20180428
http://edition.cnn.com/2010/HEALTH/08/09/girls.starting.puberty.early/index.html
https://www.theatlantic.com/health/archive/2016/06/the-long-term-risks-of-early-puberty/488834

