"Mamma, hier’s huiswerk vir jou!"

  • 0

Die meeste van ons het al meer as een maal gegradueer. Een keer vir onsself en een keer vir elke spruit. Teen hierdie tyd behoort jy al ’n PhD te hê in Amfibieë, Kitskosrestaurante, Insekte, Die Ruimte en My Familiestamboom.

In laer grade het kinders tog hulp nodig met take. Dis hoe ons hulle voorberei om latere jare onafhanklik navorsing te kan doen en take te voltooi. Maar waar en wanneer trek ’n mens die streep? Moet ’n mens baie help? Of net ’n bietjie?

Sommige mammas bederf dit vir die res van ons wat net probeer om ons kinders aan die asemhaal te hou. Dié wie se kinders blykbaar al in die baarmoeder die alfabet agteruit kon opsê en kort ná geboorte volsinne gepraat het. Húlle wat met opgetrekte wenkbroue na jou kant toe loer wanneer jou kind met Pick n Pay-kolwyntjies by die skool opdaag vir haar klaspartytjie, in plaas van tuisgemaakte lean and organic, naturally gluten and sugar-free-verversings.

Dis hulle wat handopsteek vir elke moontlike geleentheid om te skitter: Vanaf die hoof van die toiletpapierkomitee tot die daaglikse studente-high fiver. Terwyl ons soos Superwoman voel omdat ons ons kind net-net betyds afgelaai het vir die skoolkonsert, het dié mamma die hele konsert georkestreer en boonop al die eendjiekostuums self gemaak – dit kan selfs kwaak.

........
Terwyl ons soos Superwoman voel omdat ons ons kind net-net betyds afgelaai het vir die skoolkonsert, het dié mamma die hele konsert georkestreer en boonop al die eendjiekostuums self gemaak – dit kan selfs kwaak.
........

Hierdie oorpresterende mammas koop geskenke vir Juffrou, sommer net om haar te “bless”. Maar nie net gewone geskenke nie. Lewensveranderende geskenke soos ’n bootrit of ’n Facebook-blad opgedra aan “Juffie van die Jaar – #blessed #superonnie #dankbaar”.

En terwyl jou kinders verjaarsdagpartytjie hou deur mekaar met watergeweertjies nat te spuit en “Happy birthday to you … you look like a monkey …” te sing, hou dié ma vir haar kind ’n partytjie gelykstaande aan die Royal Wedding.

Terwyl jy jou kind aanmoedig langs die D-span-rugbyveld waar hy meer geïnteresseerd is daarin om die insekte in die gras te bestudeer as om die bal te jaag, gil A-span-Mamma by die veld langsaan op die ander span se “worst ref ever!” en dring daarop aan dat dit wel ’n drie was wat haar graadeentjie gedruk het. Die arme kind lyk verward.

Ná die wedstryd moet Mamma en Pappa ook met die tuisafrigter gesels, en blom wanneer hy saamstem dat hul kind beslis Springbokspan-materiaal is. Hul reël sommer vir privaatoefening ook (wat hy iewers sal moet inpas tussen skool, vyf ander sporte, klavierlesse en ekstra kunsklasse).

Sulke ma’s maak ons ander net plein moeg.

........
Sulke ma’s maak ons ander net plein moeg.
........

Om nie eens te praat van as dit kom by skooltake nie. Jou kind moet (een van nog vele male wat sal volg) ’n taak doen oor een of ander dier. ’n Diere-uitstalling. Hy kies ’n geitjie. Dit maak vir jou sin. Dis klein en lig en maklik om te vervoer. Dis tog nou nie asof jy jou 80 kg-boerboel aan ’n leiband kan saamstuur skool toe nie. Jy google prentjies van geitjies, jou kind kies van watter hy hou en jy druk dit op jou swart-en-wit-drukker. Dis duur om iets in kleur te laat druk. Buitendien, jou kind kan dit mos sommer self inkleur?

Julle blaai deur feiteboeke en hy besluit watter van die interessante feite hy vir die klas wil vertel. Hy maak die plakkaat soos hy wil. Jy help wel met spelling (sodat onder andere “akkedisse” nie “akkiesdisse” lees nie – alhoewel sy getekende geitjies meer by dié beskrywing pas) en om die (skewe) hoekies van die prentjies beter vas te plak.

Julle spandeer die res van die naweek om ’n geitjie in ’n mayonnaise-fles te probeer vang. Maar teen die einde van die naweek is al wat julle kon vaskeer, twee kokkerotte en ’n vlieg. Jy gee amper moed op en sê jou kind moet sy plastiekakkedis gaan uitstal (dis immers net ’n graadtwee-taak) toe jy ’n geitjie sien. Al probleem is – dis dood.

Maar seer sekerlik is dit beter as niks en voldoende vir ’n sewejarige se taak? Jou kind is baie in sy skik met jul vangs.

“Eers gaan ons hom bad,” beveel hy.

“Uhm … Goed dan … Hoe?” vra jy skrikkerig en gaan skink eers ’n glas wyn vir die okkasie.

“Só,” sê jou kind toe jy terugkeer en tel versigtig die dooie geitjie met een hand op en begin dit met die ander hand afspoel met water uit ’n bakkie. “Oukei, nou kan Mamma hom afdroog”, en hy oorhandig trots die dooie geitjie tesame met ’n droë waslap.

Ná jy ’n groot sluk rooiwyn gevat het en toe DooieGeitjie stadig “afgedroog” het, verklaar jou kind: “Nou room.”

Jy kyk grootoog hoe die Epi-Max oorhandig word, ledig jou glas (en wens dit was groter) en begin dan met die bevogtigingsproses. Maar terwyl jy besig is, val een poot af – en jy skrik so groot dat jy die arme ding op die grond gooi.

“Mamma! Wat maak jy?!”

“Ek’s so jammer, maar sy een been het afgeval!”

Jou kind bekyk die dooie geitjie; tel sy orige pote. “Dis oukei. Hy het nog drie oor,” verklaar hy dan en sit die nou driepotige gediertetjie weer terug in die mayonnaise-fles, opgewonde om dit by die skool te gaan uitstal.

Behalwe dat jy gril vir die moontlike kieme wat so ’n dooie ding kan hê, stink dit ook effens. Maar jy troos jou daaraan dat die uitstalling die volgende dag is en is trots op jouself dat jy net betyds ’n geitjie kon vastrek – én hom nog kon bederf met ’n spa ook. Ma van die jaar!

Maar dan breek die volgende dag aan en jy besef gou dat dié geleentheid in ’n ander liga is en dat jy nié die Ma van die jaar-toekenning gaan ontvang nie. Jou mond hang letterlik oop.

Jy stap deur die saal en bekyk die uitstallings.

Daar is dié wat jy dink oulik is. ’n Wurmpie in ’n goggaboks; ’n marmot wat op sy wieletjie hardloop ...

Maar dan kom jy by dáárdie ma’s se uitstallings – skies, ek bedoel hulle kinders s’n: Eksotiese skoenlappers uitgestal op natuurlike ingevoerde plantegroei; die wêreld se raarste slang in ’n glaskas so groot soos ’n 10-sitplek-tafel; een of ander bedreigde, lewensgrootte skilpad waarvoor die ma die permit bekom het – spesiaal vir hierdie projek …

Waar jou kind se lyne op sy plakkaat skeef is, die paar woorde geskryf in sy eie onnet handskrif en hy dan nog boonop Pokémon-karaktertjies rondom die krom-uitgeknipte prentjies geteken het, lyk hierdie kinders se plakkate soos iets uit Vogue-cum-National Geographic.

Gelamineerde A3-foto’s waar die kind ’n dieretuin of slangpark besoek en die dier self vashou; ’n lewensgrootte, drie-dimensionele dinosourus gebou uit stokkies; ’n uitnodiging om die kind se oom se leeuplaas te gaan besoek; ’n broeikas met hoendereiers in waar jy kan staan en kyk hoe die nuwelinge onder die liggies uitbroei; ’n foto waar ’n kind, wat byna verdrink in ’n pak klere, ’n persoon se hand skud. Jy kan sweer dis die Minister van Bosbou en Visserye …

Daar is selfs ’n petting zoo – geborg deur een van die pa’s (dieselfde pa wie se kind O/8A-rugbykaptein is).

Jy gaan huis toe met ’n mislukking-van-die-jaar-ma-gevoel. Maar die middag ná skool is jou kind in ’n vrolike bui toe jy hom by sy klas gaan kry. Hy het 8/10 vir sy taak gekry.

........
Jy gaan huis toe met ’n mislukking-van-die-jaar-ma-gevoel. Maar die middag ná skool is jou kind in ’n vrolike bui toe jy hom by sy klas gaan kry. Hy het 8/10 vir sy taak gekry.
.........

Met die een oor hoor jy ’n ma in gesprek met Juffrou: “Maar hoe kon hy net 9 kry? Weet Juffrou hoeveel hierdie taak my uit die sak gejaag het? Nie eens te praat van die nagte wat ek deurgewerk het nie.”

Juffrou probeer verduidelik dat haar kind nie geweet het wie se hand hy skud op die foto nie. Blykbaar gedog dis ’n All Blacks-speler en toe sommer ook sy weergawe van die Haka vir die klas gedoen. En jy dink: Kinders bly maar net kinders. Ons as ma’s kan so hard werk soos ons wil aan ons kinders se take – hulle sal altyd ’n manier kry om dit hul eie te maak, of dit nou is om die klas te wys dat hy sy potlood op sy neus kan balanseer of om homself te onderbreek om eers vir Juffrou van twee jaar gelede se seevakansie te vertel …

Jy kan om middernag al links begin skryf, net dat hy die volgende dag die helfte van die bladsye by die huis vergeet en dan op die ingewing van die oomblik besluit om oor iets heeltemal anders mondeling te praat …

Dalk lê die antwoord in die middel?

Dis sekerlik belangrik om betrokke te wees in jou kind se skoollewe, maar terselfdertyd hom nie te kruppel om eendag op sy eie voete te staan nie.

En dalk selfs nog belangriker om in gedagte te hou: ’n Kind bly maar net ’n kind.

Lees ook:

Hoekom doen jy dit aan jouself? Oor moederskap en vakansiehou

#kouekoffie: ’n Onderhoud met Carla Lang

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top