Die aanvanklike bedoeling van verlede week se Wyngaard Weekliks-gesprek was om ’n vergelyking te tref tussen die skuldigbevinding van Julius Malema, leier van die EFF, en die oënskynlike kwytskelding van Cyril Ramaphosa aangaande die Phala Phala-diefstal.
Maar vars(er) nuus moes eers gehanteer word, naamlik dat die nasionale polisiehoof, Fannie Masemola, nou ook ’n beskuldigde is, naamlik in die sogenaamde Medicare24-tenderbedrogsaak van R360 miljoen.
Die vraag wat in die gesprek tussen die joernalis Pauli van Wyk, prokureur Willie Spies en afgetrede senior polisielid Jeremy Vearey gestel is, is intussen beantwoord. Die vraag was waarom Masemola nie summier geskors is nie – en verlede week het pres Cyril Ramaphosa aangekondig dat Masemola inderdaad nou “voorkomend” (totdat die hofsaak afgehandel is) in sy pos vervang word deur Puleng Dimpane.
Vearey, wat as ’n generaal-majoor en hoof van die Wes-Kaapse speurdiens uitgetree het, het beklemtoon dat die nasionale kommissaris nie aan dieselfde reëls onderhewig is as ander polisielede nie. Gewone polisielede, en selfs senior offisiere, word onmiddellik geskors indien hulle in hegtenis geneem word vir beweerde misdrywe. Die nasionale kommissaris se kontrak is egter met die President aangegaan, wat hom oënskynlik van bepaalde aanspreeklikhede vrywaar – of so wil dit voorkom – en “dit is ’n probleem”, stem Vearey en Spies saam.
In die geval van ’n politieke party geld natuurlik ander reëls. Net die leier kan homself verwyder – en dit sal nooit gebeur terwyl “alleenheerser” Malema aan die bewind van die EFF is nie, sê Van Wyk, want hy het sy eie “fiefdom” deur die party opgebou. Dit is waarom hy sukkel om te aanvaar dat ’n hof hom skuldig bevind het aan ’n ernstige oortreding gedurende ’n sogenaamde verjaardagviering vir die party. “Malema se optrede is dié van ’n tipiese krimineel,” sê Spies met verwysing na sy “verskuiwing van blaam”. Hy verwys na Malema se beskuldigings van rassisme teen die (wit) landdros, Twanet Olivier, en ook die (bruin) aanklaer, Joel Cesar.
Vearey vra ’n belangrike vraag: Wat het gebeur tussen die oorspronklike klagte teen Malema en die dossier wat daaroor opgestel is en op grond waarvan aanvanklik besluit is dat hy nie vervolg gaan word nie – teenoor die klagte en dossier wat uiteindelik daartoe gelei het (op aandrang van AfriForum se private vervolgingseenheid onder leiding van Gerrie Nel) dat hy wel vervolg, skuldig bevind en nou tot vyf jaar effektiewe tronkstraf gevonnis is?
“Duidelik het dit nie gegaan oor meriete nie as die feite in die dossier dieselfde is,” sê Vearey, “en as dit bewys word dat daar politieke inmenging was, moet die aanspreeklikheid tot op daardie vlak gedryf word.”
Beweerde politieke inmenging is ook ’n element in die voortgesette besprekings oor die Phala Phala-saak. Hoe sal ons ontslae raak van hierdie onding as miljoene rande by die woning van Cyril Ramaphosa gesteel word – die oorsprong daarvan steeds ’n raaisel – waarvoor Ramaphosa nie verantwoording hoef te doen nie, maar die hoof van sy beskermingseenheid, Wally Rhoode, word nou voor stok gekry?
Ramaphosa het nie verkeerd opgetree toe hy die diefstal by Rhoode aangemeld het nie, sê Veary, ’n jare lange vriend en kameraad van Rhoode. Solank as wat dit ’n polisielid is by wie ’n misdaad aangemeld word, is die saak reg, verduidelik hy, maar die reëls is baie duidelik oor wie ’n ondersoek mag doen – en dít was nie binne Rhoode se pligstaat nie.
Maar dis ook nou nie asof politieke gedienstigheid ’n nuwe verskynsel in ons land is nie, neem Vearey ons terug na die verlede. Die politieke skandes van ouds, soos die Inligtingskandaal, dien as ’n bewys daarvan, sê hy. “Vir my is dit deel van die kultuur wat moet verander.” Hy self is ook al genader deur politieke kamerade om “te praat” oor sake – met die verwagting dat hy buite die grense van sy verantwoordelikhede sal optree – maar hy het botweg geweier om dit te doen.
Van Wyk neem ons terug na die oorspronklike vraag wat ons deur hierdie Wyngaard Weekliks-gesprek wou beantwoord: Is alle politici gelyk voor die reg? Dit is nadat die onderhoudvoerder verwys het na die parlementêre geregtelike ondersoek waardeur aan die lig gebring is dat Ramaphosa tog ’n prima facie-saak oor Phala Phala het om op te antwoord. “In hierdie geval dink ek die President word so ’n bietjie meer verskoon, so ’n bietjie meer beskerm,” sê sy.
Spies, wat as die VF Plus se burgemeesterskandidaat in Tshwane vir die komende plaaslike verkiesing aangewys is, word deur Van Wyk se stelling herinner aan ’n ou, antieke Engelse regsreël. Dié bepaal: “The King can do no wrong.” Suid-Afrika moet wegbeweeg van daardie gedagtegang, stel hy voor. “Ons moet elke persoon aanspreeklik hou wat verkeerd optree.”
Maar hoe lyk die toekoms solank as wat daar senior polisielede is (en ook ander in die regstelsel) wat glo dat politici nie enigiets verkeerd kan doen nie? Dit is veral ’n kenmerk van die ou (bedeling se) polisielid, voer Vearey aan, maar dié soort denke is nie algemeen binne die polisie vandag nie, voeg hy by. Van Wyk: “Dit is in die aard van menswees dat daar diegene is wat altyd aan hulself of aan ander ’n soort uitsonderlikheid sal wil toedig, maar gelukkig is daar ander wat nie net maak soos hulle lus kry nie.”
Ten spyte van alles wat skeef loop, wend Vearey ’n poging aan om die gesprek op ’n bemoedigende noot te laat eindig: “Die demokrasie wérk nou – en daar is mense in ons gemeenskap, buite die politieke bestel, wat van die demokrasie gebruik maak om die magtiges aanspreeklik te hou.”
Kyk en luister ook:
Wyngaard Weekliks: Malema, Phala Phala en Masemola: Is alle hoë koppe gelyk voor die reg?

