Malema sê: “Bring jou AK-47!”

  • 1

Dit maak my bang om te sien dat ’n leier van een vannie grootste politiese partye ’n wapen kan uithaal en skiet voorie mense wat hom volg. Dit was nou kamma as deel vannie celebrations, maa watse soorte celebrations het julle dan, huh EFF? Wat proebee hy te sê deu dit te doen? Watse boodskap stuur hy an dies wat hom volg? Is dit miskien, “Al moet ôs gun ruk! Sal ôs ôs se way kry!”

Djy kannie soe iets vat met ’n knippie sout of suikerie, wan dissie hoe dit wêkie. In ’n nuusberig wat gesit was oppie Nuus24-webwerf sê die EFF ja dit wassie ’n regte wapenie. Hulle sê dat dit deel was van hulle celebrations waa hulle oek fireworks afgeskiet het en struggle songs gesing het. Nou goed en wel virrie celebrations ennie fireworks ennie struggle songs, but wat issie boodskap wat djy stuur mettie vuur van ’n wapen, al was dit volgens hulle nie ’n regte wapen nie? Dit het gelyk soes ’n regte AK-47, dit het geklink soes ’n AK-47, en die vonke het gespat soes ’n regte AK-47. Soe, die boodskap wat ek gekry het, was: “Ôs sal baklei, en ôs sal vat wat ôs sinne is, al moet ôs doodmaak vi dit.”

Vi my issie vraag: Op wie en wanne gan daai gun, wat innie EFF se hand lê, gerig wôd en beginte skiet?’

Issit oppie “Boere”? Ek praatie net vannie wit mense wat boer nie, maa die Afrikaner van Suid-Afrika. Issit oppie Indiërs, wat volgens Malema amal rassisties is? Issit oppie “kleurlinge” wat nou beginte opstaan vi hulle regte vi grond wat hulle voo’ouers gestap het? Of oppie swat foreigners wat apparently te veel is in Suid-Afrika? Offie wit foreigners wat, volgens my, allie beste grond in Suid-Afrika besit?

Soes dit nou lyk met daai see van rooi barette kan Malema in 2019 die president van Suid-Afrika raak. Maa waantoe gan die land getrek wôd as soe ’n militante man die land lei?

Voo die incident het ek beginte hou vannie politikus wat Malema beginte raak het. Hy lat hommie vetellie. Hy sal ienige een challenge oorie oppressiewe liewens wat mense van kleur moet liewe. Hy’t hom nou al soe bewys om trug skool toe te gan soedat hy bietere kan vestaan die liewe om hom. Maa die gun storie is nie ’n storie om effentjies na te kykie. Hy beginte lyk dan nou mee soes ’n Mugabe, of soes ’n gang leader, dan ’n leier wat rêrigie land, en oek Afrika, kan vorentoe vat soedat elke pesoon wat deel is van die land ’n plek kan het hie innie land.

Ek stem saam met Malema wanne dit kô by die swak ekonomiese status van die meederheid van Suid-Afrikaners, wan dis mos net reg dat elke mense oekie kans kan hê om vorentoe te beweeg. Die issue vi my is, ’n mens moet mos wêk vi dit? Djy kannie net afvat soes djy willie. En reg genoeg, die veliede moet reggemaak wôd, maa ommit te doen deu force? Is dit reg? Ek wil oek wiet hoekô is daa net ’n handjievol van mense wattie hoef te warrie oo honge bed toe gan innie aane nie. Ek wil oek wiet hoekô is daa net ’n paa mense wat rêrig kan goeie gesondheidsorg het, en senitasie kan bekostig. Ek wil oek wiet hoekô is daa net som Suid-Afrikaners wat ’n hoër vlak van education kan kry ennie res van ôs moet okay wies met postapartheid “Bantu” education? Ek stem saam mettie feit dat dit onregverdig is tienoo die res van ôs dat daa ’n handjievol mense is wat kan grond besit in Suid Afrika, maa die res van ôs wôd gebore in ’n agtejaarthokkie, en bly ôs liewe lank in daai hok, om annie einde van ôs liewens daa uit begrawe te wôd. Ek stem saam met Malema en sy party oorie feit dat ôs se inner-cities wôd gegentrified, ennie mense wat vi generasies daa gebly het moet uit om plek te maak virrie wit mense wat met hulle sakke vol geld uitie Weste uit kô. Ek is met Malema wanne hy praat van ommie mines trug te vat, maa watte nuwe handjievol mense gan dan wee die vrugte pluk van daai myne? Dit is tyd dat Suid-Afrikaners, en oekie res van Afrika, die resources trugkry wattie koloniseerders kô steel het. En maakie saak wat hulle afstammelinge sê nie, dit was gesteel. Maa om ’n gun uit te haal en vi jou volgelinge te sê: “Dies hoe ôsit gan doen”, daamee stem ekkie saamie. En oek om nog steeds soesie res vannie politicians an te gan, dan maak dit jou mos net êger.

Ek dink dis rêrig tyd dat Suid-Afrikaners, dié wat gloe in ’n land waa amal kans het om vorentoe te gan as equals, moet saam staan. Die Boere wattie wil hulle land deelie, en wat voel dat hulle ingedoen wôd, ek is jammer dat julle soe voel, maa daai man en vrou en hulle kinners wat nou al vi hoe lank vi julle wêk, hoekô issit reg dat hulle nie die grote land wat djy het, kan deelie? Hoekô moet hulle vi generasie agte generasie mettie selle uitkyk oppie liewe liewe? Hoekô kan hulle oekie boer soes djy boerie?

Ek is bly dat AfriForum vi Malema gat ankla het vi wat hy gedoen het. Ek is nou nie vesieke dat ienige iets daavan sal kô nie, maa ek hoep maa soe. Wan Mr Malema, jou geskietery stuur ’n vekeere boodskap an jou volgelinge en oek dié wat tien jou party is. Mr Malema, djy het nou trug skool toe gegan, soe vi wat moet djy angan soes iemand wattie vestand hettie? Daai gun wat djy geskiet het, mag miskien nie regte bullets in gehad hettie, but daai invisible bullets gat innie toekoms baie onskuldige mense se liewens niem. Dan wonner ek vi wie gat djy blameer? Siekerie slagoffers.

Daa is baie maniere om dinge te doen. Maa gun skiet issie een van hulle nie. Hoekô is ôs in ’n oolog met ôsself? Die Jirre moet ôs rêrig help op die pad vorentoe.

Ek is Livy vannie Rive. Bly te kenne, en dankie virrie onnersteuning.

  • 1

Kommentaar

  • Want as hulle wou en kon boer soes ekke dan sou da nie goete soos die communal lands gewies het nie. Maak die communal lands plase dan kan ons ammal lekka boer en baie kos maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top