Madame Pylinska en die geheim van Chopin: gedagtes oor die boek, die teaterstuk en die vertaling

  • 0

Foto van die boekomslag: Naledi; foto van Chris van Niekerk verskaf en geplaas met erkenning aan die Vrystaat Kunstefees (Klank en Klassiek)

Madame Pylinska en die geheim van Chopin
Éric-Emmanuel Schmitt (vertaal deur Naòmi Morgan)
Naledi
ISBN: 9781776172214

Éric-Emmanuel Schmitt, ’n Frans-Belgiese skrywer en regisseur, is duidelik ’n gesoute storieverteller. In hierdie juweeltjie van ’n boek (van ’n skamele eenhonderd bladsye) beskryf Schmitt sy verhouding met die musiek van die Poolse komponis Chopin: hoe hy vir jare sukkel om Chopin se komposisies op die klavier te bemeester, en hoe hy die perfekte leermeester vind in die eksentrieke Madame Pylinska. Haar metodes is als behalwe konvensioneel, maar op die ou end leer Schmitt (én die leser) veel meer – nie net oor Chopin nie, maar ook oor hoe om sin te maak van die lewe.

Schmitt het al vele romans en novelles geskryf, maar hy is veral bekend vir sy dramas. Akteurs staan tou om in sy dramas te speel, want Schmitt skryf uit die hart, vír die hart. Sy werke is nie gemik op die kritici wat met skewe koppe na hogere kuns sit en luister nie; hy smokkel nie met ons koppe nie, hy smokkel met ons emosies.

Schmitt skryf met ’n kleurvolle pen: sy beskrywings van musiek en emosies is sag op die geestesoog. Wanneer die verhaal by die skadukant gaan draai, is dit nie oordadig nie, en die somber word goed gebalanseer met skalkse humor. Die vertaalwerk uit die oorspronklike Frans, gedoen deur Naòmi Morgan, het my groot vreugde verskaf. Haar woordkeuses is net so kleurvol soos Madame Pylinska se tulband.

Alhoewel die boek alreeds in 2018 in Frans verskyn het, is die boek nog nie in Engels vertaal nie, maar wel in Bulgaars, Italiaans, Nederlands, Pools, Roemeens, Russies, Oekraïens, en nou ook in onse moedertaal. Om ’n boek te vertaal sit egter nie in enige ou se broek nie. Ek woon op die oomblik in Oesbekistan (en glo my, Oesbeeks is ’n tameletjie), maar ek het vir Naòmi Morgan gebel om meer uit te vind oor die proses.

Eerstens moet jy die vertaalregte kry, en net ’n uitgewer kan dit aanvra. As jy dan wegspring met die vertaalwerk, is daar vele hekkies om oor te spring.

Naòmi vertel hoedat die kleinste dingetjies die grootste uitdagings kan bring. In die boek word gepraat van ’n spesifieke voëlsoort. In Engels staan die voëlsoort bekend as ’n “tit”. In Afrikaans is dit ’n “mees”. Boonop kry mens meer as een tipe mees. As vertaler moes Naòmi professionele voëlkykers se hulp inroep om seker te maak dat die korrekte mees in die boek verskyn. Sy sê om ’n vertaler te wees, is soos om ’n spioen te wees – om elke hoek en draai is daar ’n ding wat jy moet uitsnuffel en ondersoek.

.........
Sy sê om ’n vertaler te wees, is soos om ’n spioen te wees – om elke hoek en draai is daar ’n ding wat jy moet uitsnuffel en ondersoek.
...........

Madame Pylinska sê ook byvoorbeeld dat as mens die beste in iets wil wees, jy bereid moet wees om deur “die nou deur” te stap. Dit is ’n verwysing na ’n werk van die Franse skrywer André Gide. Maar wie gaan nou dáárdie kloutjie by die oor bring? Naòmi vertaal dit toe as “die smal weg”, iets wat vir ons baie meer sin maak.

Éric-Emmanuel Schmitt is nie ’n onbekende in die Afrikaanse teaterwêreld nie. Sy boek Oscar et la dame rose is vir die verhoog verwerk, en Sandra Prinsloo het vele harte oorrompel in die eenvrouvertoning Oskar en die Pienk Tannie. Madame Pylinska en die geheim van Chopin is verwerk vir die verhoog en geregisseer deur die einste Naòmi Morgan, en speel aanstons by Aardklop en die Vrystaat Kunstefees. Chris van Niekerk speel die hoofrol, begelei deur die pianis Eugène Joubert. Alhoewel die vertoning geklassifiseer word as ’n woordproduksie, is dit allermins ’n gryse affêre met iemand wat uit ’n boek sit en voorlees.

...........
In hierdie produksie is daar dekor, kostuums en ’n klankbaan. Naòmi sê die stuk het ’n titseltjie van ’n Alice in Wonderland-gevoel. Wat groot is, word kleiner gemaak, en wat klein is, word vergroot, wat lei tot heerlike humor en oomblikke van diepe patos.
.............

In hierdie produksie is daar dekor, kostuums en ’n klankbaan. Naòmi sê die stuk het ’n titseltjie van ’n Alice in Wonderland-gevoel. Wat groot is, word kleiner gemaak, en wat klein is, word vergroot, wat lei tot heerlike humor en oomblikke van diepe patos.

Foto van Eugène Joubert en Chris van Nierkerk: verskaf en geplaas met erkenning aan die Vrystaat Kunstefees: Klank en Klassiek

Die liefde vir ’n mens se ma is ’n goue draadjie wat Éric-Emmanuel Schmitt en Naòmi Morgan verbind: Schmitt het in 2019 ’n boek geskryf wat oor sy ma handel, en oor sy liefde vir haar. Naòmi se ma is in 2017 oorlede. Sy was ’n groot Chopin-speler, en die vertaling van Madame Pylinska is gedoen ter nagedagtenis aan haar.

Die musiek van Chopin is so hartroerend mooi, en dis presies wat ons nou kort: om weer in voeling te kom met ons emosies. Min dinge kan ’n hart so roer soos mooi musiek. Soos Madame Pylinska sê: “Liszt verstom, Chopin betower.”

Lees ook:

Naòmi Morgan gesels oor die bekroonde Oskar en die Pienk Tannie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top