macbeth. slapeloos
24 -28 September, Clover Aardklop
Produksiehuis: TEATERteater
’n Clover Aardklop-produksie, in samewerking met die Kunstekaap
Moontlik gemaak deur die Dagbreek Trust en die LW Hiemstra Trust en ondersteun deur Standard Bank en die Rustenbosch Gastehuis (Stellenbosch).
Oor die eeue heen het Shakespeare se Macbeth van die wêreld se mees vooraanstaande akteurs en aktrises vir die rolle van onderskeidelik Macbeth en vrou Macbeth (oftewel Lady Macbeth) getrek. Die rol van Macbeth vereis ’n akteur wat die dualiteit en kompleksiteit van wreedaardigheid, bedrog én skuldgevoel kan uitbeeld – ’n rol wat Dawid Minnaar in macbeth. slapeloos by vanjaar se Aardklop uitmuntend volvoer het. Vrou Macbeth (in macbeth. slapeloos deur Anna-Mart van der Merwe vertolk) is Shakespeare se kragtigste vroulike karakter. Met ambisie en listigheid aan die een kant en ’n diep gevoel van skuld wat in slaapwandeling vergestalt word aan die ander kant, is sy ’n komplekse karakter wat besondere sterkte en diepte van ’n aktrise vereis.
Met sy temas van misleiding en die sielkundige gevolge van wreedaardigheid is Macbeth inderdaad een van Shakespeare se magtigste en mees intense tragedies en beslis die bloedigste. Geen wonder Marthinus Basson, wat die verwerking van die Afrikaanse vertaling van die teks deur Eitemal, asook die regie en ontwerp, behartig het, het beplan om van die teks ’n grootskaalse magistrale verhoogproduksie met ’n rolverdeling van 33 te maak nie. Weens die feit dat van die befondsing van die produksie deur die mat geval het, was Basson egter genoop om heelwat af te skaal. In plaas van 33 akteurs, het slegs nege in macbeth.slapeloos die teks gedra. Die heks-trio wat die voorspelling aan Macbeth bring dat hy koning gaan word en die handeling aan die gang sit en ook later weer hulle sinistere opwagting maak, is byvoorbeeld uitgelaat. Hierdie heksefigure bied die bonatuurlike element van Shakespeare se stuk en beklemtoon op dramatiese wyse die element van misleiding, hallusinasie en gruwelikheid.
macbeth. slapeloos was dus ’n kleiner produksie as wat Shakespeare met Macbeth én Basson aanvanklik met macbeth.slapeloos beplan het. Met die uitlating van karakters en teks, en met ’n kleiner rolverdeling, het die taak nóg swaarder op die nege karakters (wat onder andere ook Antoinette Kellerman en Jana Cilliers insluit) gerus om die wreedaardigheid en intensiteit van Shakespeare se teks te dra. Basson sê self in ’n onderhoud met LitNet dat hy genoop was om die teks om sy twee hoofkarakters te laat groei.
Hoewel macbeth.slapeloos dus kleiner is as wat oorspronklik beplan is, word daar groter klem geplaas op die kompleksiteit van die spel. Mens gewaar op ’n intieme manier die verandering en sielkundige effek van die moord op die psige van beide die hoofkarakters. Sonder twee sulke uitstekende akteurs, wat albei vanjaar die Aardklop Smeltkroes-pryse vir beste akteur en aktrise onderskeidelik gewen het, en natuurlik ’n eiesoortige en grensverskuiwende regisseur soos Marthinus Basson (wat uiteraard ook die prys vir regie gewen het), sou die sukses van die produksie nie moontlik gewees het nie.
Basson het met sy verwerking van Shakespeare se Macbeth die aspek van slaap, slaaploosheid, droom en hallusinasie uitgesonder. Macbeth droom van glorie, droom van mag, maar kan ná die moord glad nie slaap nie. Ook vrou Macbeth verkeer in ’n permanente slaaptoestand ná die moord – wat nie net na gewetensonrus verwys nie, maar ook ’n teken is van diep depressie. Die ontwikkeling van beide karakters word met groot sensitiwiteit – maar ook met teenwoordigheid – vertolk.
In Shakespeare se Macbeth kom ’n paar onnatuurlike voorvalle in die natuur voor. Donderweer, weerlig, wind, storms weerspieël, soos in vele van Shakespeare se toneelstukke, politieke en morele korrupsie. Hier het Basson dus óók die geleentheid gehad om met vormlike elemente te eksperimenteer. Agter die verhoog is beelde op ’n groot skerm geprojekteer. Nie net beelde van storms en onnatuurlike weersomstandighede nie, maar beelde van die Tweede Wêreldoorlog, geboue wat inmekaarstort, motors, helikopters en bomwerpers, word met beelde van orkane en onweerswolke afgewissel. En die effek daarvan? Dit wys dat die magstirannie en wreedaardigheid van Macbeth steeds vandag, 400 jaar nadat die oorspronklike drama geskryf is, relevant is. Sodat die woorde “O, arme land!/ Byna te bang om haarself te ken./ Noem haar/ Nie meer ons moeder nie/ Maar ons graf” steeds vandag op ons eie land en die wêreld van toepassing is.
Ten spyte van die kleiner skaal en beperkte hulpmiddels is macbeth.slapeloos, met die kleure swart, wit, rooi en goud, ’n span top akteurs en projeksies van die sterrehemel en die klank van gebreekte glas, beslis geen vlietende teater nie.

