Maar wat beteken #challengeaccepted regtig?

  • 0

Die gevare van kulturele toe-eiening in literatuur is nou al verskeie jare op die voorgrond. Onthou die bohaai rondom Lionel Shriver se blaps?

In literatuur kan dit baie keer soos ’n intellektuele oefening voel. Die skade, werklik of verbeeld, kan nie dadelik gekwantifiseer word nie. Maar wanneer kulturele toe-eiening buite literatuur plaasvind, kan die real world-skade baie vinnig gesien word.

Neem byvoorbeeld die tendens hierdie afgelope paar weke waar glansfoto’s in wit-en-swart sosiale media oorneem, met die woorde #challengeaccepted en een of ander vorm van ondersteuning vir ander vroue aangebied word. Eers was dit net bekende persone, maar nou is dit die algemene publiek wat entoesiasties deelneem. Dis seker nie lank voordat mans ook voel hulle moet hierin gehoor word nie.

Ek wonder hoeveel van die vroue wat hulle wit-en-swart foto’s plaas, die moeite gedoen het om uit te vind waaroor dit regtig gaan. Die oorgrote meerderheid doen dit met goeie bedoelings. Hoe kan dit dan ooit sleg wees om te sê vroue moenie in kompetisie met mekaar wees nie, hulle moet eerder mekaar ondersteun?

Nie baie mense besef dat die uitdaging in Turkye begin het nie. Daar is geslagsgebaseerde geweld ’n yslike probleem. Elke keer wanneer ’n vrou gewelddadig sterf, baie keer deur die toedoen van ’n manlike familielid of ’n romantiese maat, word die berig oor hul sterfte vergesel van ’n wit-en-swart foto van die oorledene. Die meeste van hierdie moorde, veral as dit sogenaamde honour killings is, word nie as misdade hanteer nie. In die enkele gevalle waar die man krimineel aangekla word, word hy nie swaar gestraf nie.

Turkye het die Istanbul-konvensie bekragtig. Hierdie konvensie is ’n menseregtedokument wat lidlande verplig om gesinsgeweld spesifiek, en geslagsgebaseerde geweld meer algemeen, aan te spreek. Te midde van hierdie vlaag moorde teen vroue is president Erdogan van Turkye en sy politieke bondgenote besig met ’n proses om Turkye aan hierdie verdrag te onttrek.

Anders gestel, die boodskap van die president is dat hy niks gaan doen aan die geweld wat die vroue in sy land teister nie. Hy gaan dit trouens makliker maak vir mans. Sy boodskap aan die mans is dat hulle maar na willekeur kan voortgaan met hul moord – daar sal geen gevolge wees nie.

Uit protes het Turkse feministiese aktiviste toe met ’n bewusmakingsveldtog begin deur hul eie foto’s op sosiale media te plaas, om uit te lig dat elke vrou potensieel ’n slagoffer is. Die uitdaging was om geslagsgebaseerde geweld, eermoorde en seksuele geweld teen vroue uit te lig en aan te spreek. Vir hierdie aktiviste, en vir elke Turkse vrou wat aan geweld onderworpe is, is dit ’n veldtog wat letterlik die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Die hoop met die veldtog was om druk op die regering uit te oefen om nie aan die Istanbul-konvensie te onttrek nie, en om aktief te begin om geregtigheid te laat geskied.

En nou is dit oorgeneem deur Westerse vroue vir hul eie soetsappige doeleindes. Party laat spesiaal professionele foto’s neem. Dit word gebruik as ’n prettige tydverdryf om die grendeltyd meer draaglik te maak. Hulle het geen idee oor die konteks waarbinne die uitdaging ontstaan het nie. Hulle doen ook nie moeite om te probeer uitvind nie.

In die proses word die oorspronklike hulpkreet van die Turkse aktiviste verswelg in ’n tidal wave van soetsappigheid. Erdogan, en al die moorddadige Turkse mans kan nou rustig agteroor sit en hul wandade in vrede uitvoer, want Westerse vroue het die protes vir hul eie vanity gekoöpteer.

Met elke nuwe glansfoto word die boodskap van moord en doodslag verder begrawe. Met elke nuwe glansfoto word die hoop van ’n Turkse vrou dat iemand iewers iets gaan doen, verder gemuilband.

En die ergste van als? Die oorgrote meerderheid van die vroue wat Erdogan se vuilwerk vir hom doen, sal met afgryse vervul wees as hulle weet wat die ware koste van hul prettige fotosessie en sosiale-media-uitdaging is.

Dis dan wanneer die gevaar van onnadenkende en onkundige kulturele toe-eiening dodelik word. Dis nie dodelik op ’n teoretiese, intellektuele toekomstige manier nie, maar in die hier en nou. Vandag word vroue in Turkye aan die brand gesteek, geskiet, gesteek, geslaan, met suur vermink. Vandag word die mans wat dit doen, oor die vingers getik en huis toe gestuur, om voort te gaan om vroue te terroriseer.

Die oplossing is eenvoudig. Maak die uitdaging oor Turkse vrouemoord, of hou op om die boodskap te verflou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top