Maandae was annerdag was, en Dinsdae strykdag

  • 1

Op Facebook gesien:

Foto: Facebook, Wendy Anthonie

Maandae was annerdag was, en Dinsdae strykdag. ’n Rigiede reël waaraan niemand kon bodder nie. My ma is nie meer in die rondte nie, so oor was-en-stryk slaan ek self die kitaar hier by Dawidstraat 19.

Ek het ’n broertjie dood aan stryk in dié hitte, maar ek móés net vanoggend die dakwaaier aanskakel, ’n glas yswater skink en my yster nadertrek.

En toe hardloop die nostalgie met my teen honderd myl per uur terug na my kleintyd en ma se Dinsdae-stryk-ritueel.

Sy het eers elke stukkie wasgoed natgespat, opgerol en soos worsrolletjies styf langs mekaar in die groot sinkbad gepak.

Die primus is gepomp totdat hy bolwange gehad het en dan is die swaar yster-yster op die lui, pers vlam geplaas om te verhit.

Ek onthou die klam doeke om haar kop en nek – pure treindrywer. Die askiestog-klein kombuisie moes vir haar soos ’n oond gevoel het.

Ek sien hoe die sweetkol tussen haar blaaie groter kol, hoe haar arms onwillekeurig van haar lyf oplig soos ’n arend in vlug – die tsssk-geluid van haar nat vinger teen die yster.

Hoe wens ek nie sy kon ook ’n dakwaaier en ’n regte yskas gehad het nie. Hoe wens ek nie sy kon destyds die genot van ’n Russell Hobbs-yster soos myne smaak nie.

Oor Russell Hobbs. Die tannie het vir haar ’n yster oppie boek gaan koop en spog toe by haar buurvrou: "Ek het nou ôk vi' my ’n Jack Russeltjie gekoop!"

#eksalueerjoumyma

 

  • 1

Kommentaar

  • Ja het ook grootgeword met die parsystertjies. My ma het ‘n kole-yster ook op die plaas gebruik. En kon sy netjies stryk. Die wit gestyfde boordjies van my pa se kerkhemde was iets om te aanskou. Later het sy die Tilley-olie-yster gebruik. Gebruik nog my ouma se koleyster as deurstop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top