Dis tyd vir die kleingoed om terug te keer skool toe. En vir sommiges om vir die heel eerste keer aan die genade van ’n (hopelik) liefdevolle en bekwame graad 1-juffrou oorgelaat te word.
Beursies wat gedurende die Feestyd geplunder is, moet van voor af deurloop. Skryfbehoeftes en uniforms is boaan die inkopielysie, maar skaf gerus ook ’n paar storieboeke aan. Ouers kla dikwels hul kleuters bring te veel tyd voor rekenaar- en televisieskerms deur, maar erken dan dat kinderboeke nie deel is van hul maandelikse begroting nie. Of dat hulle nie tyd maak om hul bloedjies biblioteek toe te neem nie.
Maak dit jou Nuwejaarsvoorneme om gereeld ’n kinderboek aan te skaf. Begin sommer nou. As jy nie weet waar om te vat of te los nie, verskaf LitNet ’n paar voorstelle. Die meeste boeke is geskik vir voorlees óf selflees.
Dis nie toevallig dat Jakkals en Wolf bo aan ons lys is, of dat daar onlangs twéé sulke bundels verskyn het nie: hierdie fabels tel ná baie dekades steeds onder die gewildste Afrikaanse kinderverhale en word in albei bundels in maklik verstaanbare Afrikaans oorvertel. Die kleurvolle illustrasies is telkens ’n plesier op sy eie. Jakkals en Wolf verskyn in hardeband en is op glanspapier gedruk; Die kaskenades van Jakkals en Wolf is ook op glanspapier gedruk en word in groot formaat en in sagteband uitgegee. Sommige verhale kom uiteraard in albei bundels voor en dit gaan nie maklik wees om te besluit watter een om te koop nie.
As daar nie reeds ’n boek met Jakkals en Wolf-stories op jou boekrak staan nie, is dit nou tyd om een aan te skaf. Afgesien daarvan dat ’n mens nie jou kleuters die plesier van hierdie plesierige fabels wil ontneem nie, is daar baie ouers wat dit sal geniet om opnuut – of vir die eerste keer – met dié karakters kennis te maak.
Jakkals en Wolf deur Pieter W Grobbelaar, illustrasies deur Séan Verster, word uitgegee deur Human & Rousseau. Die kaskenades van Jakkals en Wolf, oorvertel en bygewerk deur Leon Rousseau en geïllustreer deur Johann Strauss, verskyn by LAPA.
Druk ’n boek in ’n kleuter se arms en jy loop jou dikwels in ’n verbouereerde gesiggie vas. Wat máák ’n mens met ’n ding wat op die oog af nie naastenby soveel pret kan wees soos ’n speelding of rekenaarspeletjie nie?
Kleuters hou darem nog van fliek. As jy LitNet se uitdaging wil aanneem om boeke deel van jou kleuter of peuter se lewe te maak, is die “film tie-inns” wat soms saam met kinderflieks verskyn, ’n goeie wegspringplek. Jonger kinders word dikwels so aangegryp deur fliekkarakters dat hulle maklik geprikkel word deur boeke wat op dié karakters gegrond is.
Die animasie-weergawe van Jock of the Bushveld is ’n goeie voorbeeld. Dan is daar die Smurfies – dié karnallies is al dekades met ons en het onlangs weer opgeduik. Daar is ’n hele paar Jock van die Bosveld-kartonboekies vir die heel kleintjies. ’n Splinternuwe weergawe van dié klassieke verhaal vir kinders van ongeveer tien jaar en nog een vir lesers van twaalf jaar en ouer het ook verskyn. Daar is selfs inkleur- en plakkerboeke. Die meeste van dié boeke word in Afrikaans en Engels uitgegee en ’n paar in Zoeloe. Dié boeke verskyn by Penguin.
As jou kleuter aangegryp is deur die Smurfies, verlei hom of haar met een of meer Smurfie-boeke (uitgegee deur Fantasi). Daar is ’n reeks storieboeke in harde- en sagteband, asook plakkerboeke en kartonboekies vir die heel jongste Smurfie-aanhangers. Die kersie op die koek is ’n Smurfie-woordeboek. Ander splinternuwe Fantasi-titels is Sprokies voor Slapenstyd en Wat van ’n storie voor Droomland?, asook twee kostelike opwipboekies getiteld Ha, Ha! Astrante Apie en Brul! Hier Kom Leeu. Daar is geen groter plesier as om ’n boekie oop te slaan en ’n kleurvolle dierekarakter woeps!tussen die bladsye te sien uitspring nie.
Ontdek ons ekstreme wêreld (uitgegee in groot formaat en in hardeband) is ’n unieke gids waarin die “plofbare, onvoorspelbare en ongelooflike” ondersoek word. Buitengewone verskynsels soos spoedmasjiene, reusediere en supervulkane word aan die hand van vele illustrasies beskryf.
Human & Rousseau is nie net verantwoordelik vir een van die Jakkals en Wolf-bundels nie, hulle is ook die uitgewer van Louise Smit se Wielie Wielie Walie. Die televisiereeks is reeds in 1975 geskep, maar Smit het sommige van die stories aangepas vir die hedendaagse jongklomp. Séan Verster se illustrasies is weer eens in die kol.
Human & Rousseau staan ook pa vir die jongste uitgawe van Die mooiste sprokies van Grimm, met tydlose illustrasies deur Piet Grobler. Marita van der Vyver het haar vertalings vir dié heruitgawe “afgestof”. Dié boek is duursaam uitgegee en die versoeking is groot om dit as ’n persoonlike versamelstuk aan te skaf eerder as om dit aan soms onverskillige kinderhandjies oor te gee. Van der Vyver sê buitendien in die voorwoord nie al die Grimm-broers se sprokies is op kinders gemik nie ...
Lux Verbi.BM het onlangs ’n omnibus van Ewald van Rensburg se gewilde Stories vir jong ore (ook in Engels beskikbaar as 100 Stories for Young Ears) saamgestel. Tien splinternuwe verhale is by dié bundel ingesluit.
Briewe van God aan Kinders deur Hannes Burger (Carpe Diem Media) is ’n dagstukkieboek wat spesiaal vir amper-tieners en jong tieners geskryf is. Elke dagstukkie is kort genoeg sodat die lees daarvan nie soos “werk” gaan begin voel en die boek later ongelees op ‘n bedkassie gaan bly lê nie.

