Ma se offer

  • 3

“Ma se offer” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Ma se offer

“Gaan jy vir Ma vertel?” kom Johan se woorde, bang en winterkoud.

Ek kyk op na hom en sien weer die tiener met die vuilbruin kuif en knopknieë. Ernstige groen oë, heeltemal te oud vir sy jare.

My stram vingers klou stywer om die koffiebeker, terwyl my duim bly vee oor die rand. Ek kyk af na die koue koffie wat al ’n velletjie begin vorm. Ek wil nie die dooie kyk in Johan se oë sien nie. Ek is bang dit weerspieël my eie. Vir ’n oomblik verbeel ek my ek kan haar sien lê daar in die hospitaal se lykshuis in ’n vaal dorpie in die middel van die land. My skouers bewe onder die dik swart trui. Die Kaapse koue dwing homself in my kombuis in.

Vandat my selfoon vyftien minute gelede gelui het, het ek nog nie beweeg nie. Johan het oorkant my gesit toe Willem gebel het. Vandat Johan en Annemie ’n jaar gelede langs ons ingetrek het, kom val hy af en toe in vir koffie. Dis ook ons tyd om op te vang met die familie, en veral Ma se toestand. Ek het pas die twee bekers voor ons neergesit. My selfoon op die hoek van die tafel.

Toe ek sien dit is Sanna se man Willem, het ek die oproep op luidspreker gesit. Ek wou nie alleen die nuus hoor nie. Ek het geweet dit is verby; Sanna het die laaste paar dae begin om weg te glip en Willem het ons gewaarsku om ons fone naby te hou.

So, ek en Johan het dus al kans gehad om dit te verwerk, nog voordat Sanna haar laaste asem uitgeblaas het. Nou is ons net stil, gelate. Geen trane, geen stortvloed van geskokte, geykte woorde nie.

“Lourinda, ek vra, gaan jy ...”

“Ek het jou gehoor, Johan.” Ek kyk nog steeds net na my beker. Die een met die karikatuur van ’n vet vroutjie met rooi tuitlippe wat wulps oor ’n bankie lê. Onder haar krul die woorde om die beker: Begin jou dag met ’n warm enetjie. Ek het eendag in ’n stuitige bui vir Wiets die beker by ’n kunstefees gekoop. Hy het gelag en die simpel geskenk agter in die kas gesit. Ek was seergemaak en het besluit om self uit die beker te drink en draai hom gewoonlik so dat die vet vroutjie vir Wiets lag as hy oorkant my sit.

As Wiets maar hier was, kon hy raad gee, of met Johan redeneer. Maar nee, Wiets kerjakker op ’n hengelboot iewers aan die Namibiese kus. Verdomde mans, ’n mens kan nie op hulle staatmaak as die hel in die hek is nie! Kyk nou net haar ouboet se lafhartigheid.

“Dink jy Ma sal dit kan hanteer? Dalk moet ons die ouetehuis se dominee vra om die nuus oor te dra?” Paniek verdun my stem. “Jy is die oudste; dit is jou plig.” Smekend, verwytend.

“Jy is emosioneel die sterkste van ons, Lourinda. En diplomaties.” Hy vryf oor sy opstaankroontjie met sy plat hand. Dit was nog altyd sy bang-gebaar as hy ’n onderwerp wou vermy.

“Wat van Marinda, sy kan dit doen!” Ek skop vas.

“Marinda sit in Thailand. Sy kan nie oor die telefoon vir Ma vertel haar witbroodjie is dood nie. Buitendien, jy gaan kuier in elk geval elke Dinsdag vir Ma. Jy kan dit net sowel doen.” Johan die skoolhoof.

“Ma weet nie eens Sanna was siek nie. Nou moet ek vir haar vertel haar kind is dood.” Ek is opstandig, soos toe ek klein was en moes toekyk hoe Sanna met moord wegkom.

Verandering van taktiek. Hy sê mos ek is die diplomaat in die gesin. “Hoekom kom jy nie saam nie, dan doen ons dit saam?” Ek pleit nou skaamteloos.

“Ek kan nie môre nie. Daar is ’n span inspekteurs by die skool en ek moet my onderwysers ondersteun.” Dan as ’n nagedagte. “Jy weet hoe om met Ma te praat sodat sy verstaan. Van ons almal het jy ’n slag om tot haar deur te dring.”

“Jy laat my klink soos die familie se demensie-konsultant!” Ek kap die vet vroutjie op die tafel en swart koffie stort oor haar geel hare en drup tussen die vet borste in.

“Ag toe, sus, groot asseblief?” Sagter nou. “As dit by Ma en haar toestand kom, is ek ’n lafaard, ek weet.” As niks help nie, erken jy is ’n lamsak.

“Ag magtig, Johan, stop die alewige guilt trip! Ek sal dit doen!”

Ek staan op en smyt die vet vroutjie se inhoud in die wasbak uit. Ek is klaar spyt ek het na Johan gehap. Van al ons kinders is ek en hy die naaste, al is hy die oudste en ek die jongste. Net na hom het Sanna gekom, twee jaar later Marinda en ek, die glipsie toe Ma al veertig was. Pa het ver gewerk en Johan moes maar sy skoene probeer volstaan. Ek het op sy skouers geboer, veral as Sanna ons twee sussies afgeknou het.

Sanna is met ’n krom regtervoet gebore en sy is gevolglik bejammer en opgepiep deur die hele familie. Sy het gou die simpatie wat haar gebrek ontlok het, gebruik tot haar voordeel, veral waar dit by fisiese take gekom het. Haar vlymskerp tong en boeliegedrag is afgemaak as haar manier om haarself in ’n genadelose wêreld te laat geld.

Asof hy my gedagtes kan lees, vra Johan gelykmatig: “Dink jy Willem gaan sy vrou begrawe met daardie aaklige gebreide skoene van haar?”

Ek begin giggel en bars dan uit van die lag. Terwyl ek na Johan kyk deur my lagbuie, gebeur iets baie vreemds. Ek word ligter en ligter. My lyf styg op en my arms sprei vanself uit sodat ek met my vingerpunte aan weerskante van die kombuis raak. My kop sweef deur die dak en ek vlieg rondom die skoorsteen voordat ek opskiet na die hitte van die son en ’n duisend besies deur my brein skree.

Heelwat later bring Johan vir my tee. Ek lê op die sitkamerbank met my voete op een van my duur strooikussings. Hy kon ten minste my skoene uitgetrek het, dink ek terwyl ek na my huistekkies kyk. Dan dink ek weer aan Sanna se gebreide swart skoene met die dik sole, en die giggel stoot weer op in my keel.

“Wat gaan aan met jou? Jy het sommer omgekap.” Johan sit plat op die mat langs my, kommer en warmte in sy groen kykers. So anders as toe hy van Sanna gepraat het.

“Ek is oukei, Boeta, seker maar vertraagde skok oor Sanna, en die feit dat ek die nuus vir Ma moet gee. Ek weet nie hoe sy dit gaan hanteer nie. Matrone Marais het laas week gesê Ma raak meer deurmekaar by die dag.” Die bekende gevoel skop nou nes in my rug. Daardie styfheid wat ek ontwikkel het as klein dogtertjie wanneer ek en my drie sibbe op ’n afstand moes toekyk hoe Sanna weer wegkom met alles. Hoe ons haar huistakies moes doen en veral hoe ons droëbek moes toekyk as sy die pakke en pakke lekkergoed verorber wat oom Peet vir haar gekoop het.

“Ek dink nou aan oom Peet,” mymer ek met die warm beker tee in my hand. Johan het wraggies vir my tee gemaak in dieselfde vet vroutjie-beker, sonder om die koffie behoorlik uit te spoel. Dit smaak nie te waffers nie, maar ek drink dit.

“Daai ou orige ou man wat so baie lekkers en speelgoed vir Sanna gekoop het?” vra hy.

“Einste. Ek weet hy is al jare gelede dood, maar ek wonder of Sanna ooit weer kontak met hom gehad het nadat Ma hom destyds weggejaag het.” Ek het lanklaas aan hom gedink, maar in my kleintyd was hy die oorsprong van my haat teenoor Sanna.

Dit wou my by tye verswelg en het nooit werklik verdwyn nadat ons albei volwassenheid bereik het nie. Op ’n manier het dit maar altyd deurgesypel as ongeduld en nydigheid deur die krake van ons verhouding. Daardie krake wat gemaak het dat ons nooit langer as ’n uur bymekaar kon wees sonder dat die vonke spat nie. Alles aan Sanna was die teenoorgestelde van wat ek vir myself voorgehou het as die norme, waardes en aanvaarbare optrede van ’n goeie, deugsame mens.

Sanna was oorgewig, slordig, traak-my-nieagtig in haar optrede teenoor vreemdelinge – behalwe as sy iets van hulle wou hê. Haar huis was vuil, haar kinders ongedissiplineerd en haar tong so skerp soos ’n skeermeslemmetjie. Jy kon nooit ’n argument met Sanna wen nie en as jy haar wel in ’n hoek gedryf het, het sy bitsig en persoonlik begin raak. Met die jare het dit vererger soos wat haar gebrek meer medies uitdagend geword het. Sy het ’n man gekies wat so stil soos ’n muis was en niemand kon ooit verstaan wat die arme Willem in haar gesien het nie. Maar Willem was lief vir Sanna en het haar nooit teëgegaan nie. Nes haar ouers.

“Hoekom sou jy nou aan oom Peet dink? Hy was vir ’n kort tyd deel van Ma-hulle se vriendekring en dit was ’n verligting toe hy verdwyn het,” sê Johan.

“Het jy nooit gewonder hoekom Ma hom weggejaag het nie? Hy het ons koskaste vol gehou. Ek onthou hoe skraps die geld destyds was.”

“Nee, ek was net verlig toe hy weg is. Hy het Sanna voorgetrek en sy moes altyd saam met hom ry as hy inkopies gedoen het.”

“En dan kom hulle terug met pakke lekkers en speelgoed vir haar, maar niks vir ons nie.” My mond is bitter en dit brand my verhemelte. Die tee help ook nie.

“In elk geval, dit is verby.” Johan staan op. “Gaan jy oukei wees, sus? Ek moet nou gaan.” Ek knik my kop en sluk die laaste van die flou tee.

By die deur draai hy om. Berouvol. “Ek is jammer dit is nou jou taak om met Ma te praat, maar jy was altyd die sterkste van ons vier. Jy het ’n manier om ... om ...”

“Om my hardegat te hou en te maak asof niks my pla nie?” Ek gee ’n suur laggie en waai hom weg met my hand. Hy glimlag verlig en maak die deur saggies agter hom toe. Hierdie is my pad om te loop, het Johan besluit, al moet ek hom kruip.

Ma sit op die hoë bed met die geblomde deken wat sy twintig jaar gelede gekoop het. Haar voete met die verbleikte pienk pantoffels aan raak nie grond nie. Na ’n halfuur se gesels, besluit ek sy is vandag helder genoeg om die aaklige nuus te hoor.

Ek gaan sit styf langs haar en vou my arm stewig om haar benerige skouers. “Sanna is oorlede, Ma. Beroerte. Sy het sag gegaan, in vrede.” Ek hoop maar dit is waar. Ek vou die woorde toe in ’n wolkombers, vir Ma. Die pad strek pynlik voor my uit.

Sy trek haar asem skerp in, haar skouers ruk ’n paar keer en dan lê sy haar kop op my skouer.

So hou ek haar vas en is verbaas dat ek nog nie ’n enkele traan gestort het sedert ek die nuus gehoor het nie. Dalk is Johan reg, ek is sterk met die kors wat Sanna se bitsigheid om my hart gelos het, ondeurdringbaar. Maar ek wens daar was ’n traan, al is dit net een. Een om my net te herinner dat ek ’n lewe, ouers en ’n huis gedeel het met haar. Maar ek en Sanna was op twee paaie, in twee wêrelde.

“Onthou jy vir oom Peet?” vra Ma.

Ek los haar skouers.

“Ja, ek onthou vir oom Peet. Hoekom vra Ma?”

Die stilte rek en ek sien die wegglip in haar waterige bruin oë.

“Onthou jy dat hy jou so gruwelik bederf het, Sanna?” Sy vryf oor my wang.

Ek sug. “Ja, Ma, ek onthou.”

“Ai, my arme Sanna-kind. Ek is so jammer oor alles.” Sy vee ’n traan met haar palm weg.

“Ma hoef nie jammer te wees nie. Oom Peet het my lekker bederf.” Die woorde klink hol deur die vertrek.

“Ek wou vir Lourindatjie beskerm. Peet wou altyd vir haar saamvat as hy gaan rondry. Hy wou haar dieretuin toe vat, teddiebere koop, maar ek het geweier.”

“Ma?” My asem is vlak.

“Peet het geweet ons het gesukkel. Jou pa se salaris was min en die monde was baie. Hy het kos gekoop en wou in ruil vir Lourinda hê. Soos in popspeel. Het mos nooit sy eie kinders gehad nie.”

Ek voel hoe my voete die grond verlaat en moet diep asemhaal om nie by die venster uit te vlieg nie. Popspeel. Yeah right, Ma.

Ma staar na die foto’s van haar vervreemde lewe teen die muur oorkant ons. Oorlede Pa, Johan en sy gesin, ek en Wiets. En in die middel, ’n foto van ’n jong Sanna. ’n Pienk teddiebeer in haar arms. Sy kyk terug na Ma agter die kamera. Verwytend, koud. ’n Ou kind.

“Toe gee ek jou vir hom. My Sanna met die horrelvoetjie. Jy was die sterk een. Jy sou nie sy nonsens duld nie. Jy het so ver gekom met jou pyn, niks was te veel vir jou nie.”

“Ma?” Die son bak my kop warm deur die plafon en baksteenmuur.

“Jy moet vir Lourinda vertel van oom Peet. Sy sal dan verstaan. Julle moet weer bymekaar uitkom. Ons paaie is korter as wat ons dink.”

Ek kyk in my ma se weggaan-oë en ons lig gelyk ons hande om mekaar se trane af te vee.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top