Lyriek van Stefan Hertmans in Afrikaans

  • 0

© Saskia Vanderstichele | De Bezige Bij

Ter gelegenheid van Stefan Hertmans’ zeventigste verjaardag vertaalde Daniel Hugo in totaal acht gedichten in het Afrikaans. De vertaling is de introductie van Hertmans’ poëzie in Zuid-Afrika, nadat Hugo eerder al Oorlog en terpentijn vertaalde.

Oorlog en terpentyn (Protea Boekhuis, Pretoria, 2016) is bekroond met de SA Akademieprijs voor vertaling.

De teksten zijn geselecteerd uit Een beeld van jou. Gedichten over de liefde (De Bezige Bij, Amsterdam/Antwerpen, 2016). Voor deze zelfbloemlezing koos de Vlaamse schrijver uit Muziek voor de overtocht. Verzamelde gedichten 1975-2005 (2006) en De val van vrije dagen (2010).

Yves T’Sjoen publiceerde vorig jaar een dubbelessay over de lyriek van Stefan Hertmans. Tot besluit van ‘Ontschoten woorden’ zijn drie Zuid-Afrikagedichten uit de bundel Vuurwerk zei ze (2003) overgenomen:

Stefan Hertmans: Gedigte uit Een beeld van jou. Gedichten over de liefde (De Bezige Bij, Amsterdam/Antwerpen, 2016)

 

A.

In feite mag hier niks staan nie.
Ure al sit ek voor hierdie blad
wat leeg moes bly vir jou naam
en vir die lente-aand in die stad.

Wondere vlug met elke woord.

 

My beurt

Die kaas moet vars uit Parma kom;
die pepers rooi uit Pomeriggio.
Die mascarpone moet roomgeel wees
en jy moet sing by die wyn.

Ek sal ’n jong kwartel eet,
die vulsel van mortadella en Toskaanse dagga.
Jou bloes hang ons voor die venster
teen afloerders en insekte.

Die vrugte sal brand in jou mond,
en wat jy sing word stilletjies honger,
waagmoed, die geblaf van ’n loopse hond.

Met peperoncini wat glim op jou buik
lê jy op die tafel en jy beef.
Vurke en messe klaar gedek.

Die koffie met kaneel gaan met
onuitspreekbare sillabes deur jou keel.

 

’n Beeld van jou

Iets gaan in jou kop lê
iets soos ’n bries
’n verre eggo van geboorte

dit was ’n dag van
ou goud en wonde
waaruit bloedvog vloei
soos op die eerste dag

die lug van staal
en die water, waar jy was,
vul die wêreld met
’n nuwe kilte.

Jy sien die loper in
sy swart skadu nie
die ruwe teëls en
die slot wat vir jou
argelose vingers wag

en tog trek jy, in
steeds nuwe eensaamheid,
die laken van die jare
oor jou warm liggaam

en jy lag.

 

Huisman

Ek het weer rusie met die dinge,
die vorms val uitmekaar.
’n Skerf begin in ’n wond te sing.
Ek sit die messlyper langs die skêr.

Ek vyl aan vingernaels en aan tande,
die ronding van ’n kruik maak my al woes.
Ek gee jou mooiste onderklere weg,
en waar jy kaal is, sien ek roes.

Let op die duiwe in die geute,
let op die slange in jou hare.

Jy het jou lyf verniet ontsluit,
dié niemandsland is steeds onvrugbaar.

Ek veg vir jou in al dié dinge.
Ek sal hul skerwe in jou liggaam

wring.

 

Laat vorms

Net daardie een wolk het ons gesien,
in glad niks aan iets anders ooit gelyk nie:
bo ’n heuwel skielik soos ’n tregter verskyn
naelstringrooi en dieppers, deuraar en hol,
’n vat vol aandwind en dreiging,
miskien selfs kilometers breed,
’n reusagtige oester drywend in die tyd.

Kon ek maar die plek op so ’n afstand sien
waar ek en jy, jare terug, verstrengel
gelê het op ’n houtbank, in voorjaarswind
en skel wit lig, waaiende jong blare,
grillige vorms, ’n bospad wat
blind lei na ’n vergesig;

miskien dat ek daardie wolk
toe al ’n oomblik lank in
jou droomagtige diepte
sou kon sien verskyn;

want niks verraai ’n ou krag
so veel as stilbly en verdwyn.

 

Ryp kersies

Wat stand hou, is oneetbaar.
Die oudste huise word ingeruil vir nuwer puin,
en gladde steen steek al ’n hand uit na ouer puin.

Maar ek het Under Milkwood in die kamer
en Richard Burton wat, soos ’n dronkman
wat in sy droom by sy oermoeder slaap,
waarsêery verkoop op ’n plaat.

Hy droom haar twee-en-twintig jaar oud
en kaal onder ’n wye, swart jurk,
haar bene bruin van werk op ’n onbereikbare land.
Haar wit borste weeg hy op sy een hand,
terwyl hy met die ander een haar nat bostuk span.

Die strate word teen die hitte gespuit, tienuur in die oggend al.

Ek het kersies gekoop, ek spoel hul met koel water af
en sit die glasbak op die graniettafel neer
in die verskroeide tuin.

In die nag word dit nog warmer,
die teëls lê in gloeiende rye op die dak
en straal die hitte tot in die kamer waar ons lê
en luister hoe ander slaap.

Nie een van ons twee slaap nie.
Ek hoor jou sug, half aan die slaap, harder en reëlmatig.
Ek dink ek hoor my naam. Die trap se oorloop
is gelyk, ’n oomblik tussenin,
so koel soos water onder my voete.

Jou deur is oop. Die venster is oop.
In die hitte lê jy oop op die bedsprei.
As ek, twee uur later, weer stroomop terugloop
het jy al aan die slaap geval. Die eerste lig sien
die intieme glinstering wat ons saam daar gelaat het.

Ek het kersies gekoop.

’n Jong vrou het twee in my hand gegee om te proe;
ek het hul geweeg, met ’n klein gebaar, en lank na haar gekyk.
Toe het haar pupille vergroot.
Met swart kersies het sy my aangestaar.

Ek het die volle pond by haar gekoop,
die skoongelekte pitte in die bed gestrooi
waarop jy laggend in die sweet iets oor ryp kersies gesê het.

Die wortels in die dakgeut, jare later,
word gevoed deur die puin van jou en my,
’n boompie wat diep wordt gesnoeid en duizelt,
lief, soos die ou digter gesê het.

Dit blom eers in Desember, wanneer die bloeisels uit die hemel kom,
koud en rillerig soos ’n ballerina in haar eerste lentety.

Ons het tyd.
Vannag wanneer die hitte uit die nok weer op ons val,
sal ek Under Milkwood vir jou speel.
Ons lê daar, met liggame oop soos ore,
liefde en sweet wat saam skandeer.

 

Wandeling

Die blou druif wat in die lente bloei,
sien nooit die laat roos nie, want dié kom
in September. Natuur het ’n kalender
wat maak dat die vorms nie in staat is
om mekaar te ken nie, laat staan
die geure en hul kleure.

Ons strompel, die keie is nie rond nie.
En onder ons lê vaag die stadjie
waar parkering ’n probleem is,

die gasmonteur is ’n suiplap
en agter kroeg Le Siècle kweek ’n man
sy kanker soos ’n ligte, hoë plant.

Ons wankel onder die yswind
en die dooie, mensagtige eike.

Jy dra ’n kind.
Ons word eendag mekaar se gelyke.

Tyd slaan kalenders
in die wind.

 

Roermond

Ons lê saam in ’n
Achterberg-gedig: ’n spieël
met sy rug na jou gesig,
ek wat slaap langs ’n warm pop.

Die skaal van Richter
hef ons op, laat ons dan
wiegend hang in ’n leegte.

Ons skuif heen en weer.
Die swaartekrag maak seer.

Staan ons drome in die
maanlig op?

Is die huis
se diepste anker los?

Waai die skadu nou
verby die buitemuur en word
stede weer ’n bos?

Slaap maar, ons skip
dryf weer die water in.

 

Copyright: De Bezige Bij, de auteur en de vertaler

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top