Lyfstraf: ouerlike reg of aanranding?

  • 4

Die Konstitusionele Hof het onlangs beslis dat ouers nie meer in hul privaatwonings lyfstraf aan hul kinders mag toedien nie.

Dit was ter bevestiging van ʼn vroeër beslissing wat lyfstraf as teenstrydig met die Grondwet verklaar. Lyfstraf in skole word natuurlik al geruime tyd nie meer toegelaat nie. Ten spyte daarvan gaan onderwysers in sommige skole nog steeds voort om kinders te slaan, en hulle word met reg dan vervolg.

Nou is daar groot ongelukkigheid omdat lyfstraf in die huis ook verbied word. Daar is te veel inmenging in ons privaatlewens, word beweer. Die staat word nou ʼn nanny-staat, teem hulle. “Tugtig diegene wat jy liefhet” word in die Bybel voorgeskryf, preek die skynheiliges.

Daai skrif was tot nie te lank terug nie voorgehou deur vroueslaners as rede hoekom hulle hul eggenote aanrand. Dis natuurlik dieselfde groep wat vroeër jare apartheid as bybels geregverdig het. Dieselfde groep wat nou oor en oor verskoning vra en voete was asof dit die skade ongedaan gaan maak.

Die beslissing was skaars uit, of daar was alreeds grappe oor hoe mense die beslissing gaan omseil. Ander het weer te kenne gegee hulle gaan hulle kinders vir die polisie gee om groot te maak as daar klagtes kom. Daar bestaan hierdie idee dat daar net een manier is om kinders te dissiplineer, en dis om hulle te slaan.

Wat is dit omtrent die vermoë om iemand oor wie jy in ʼn gesagsposisie is, en wat fisies aansienlik kleiner is, te kan aanrand, wat mense nou so wil beskerm? Ons woon in ʼn land waar ons vroeg reeds geleer word om alle probleme met geweld op te los. Ons woon in ʼn land waar “Might is right” ons nasionale slagspreuk is. Kry jy nie jou sin nie, brand af. Wil jy iets hê, rand aan en vat af. Die staat doen dit. Groepe doen dit. Individue doen dit.

En niemand vra of daar dalk ʼn ander manier is nie. Niemand vra hoe die siklus van geweld gebreek gaan word as niemand bereid is om die eerste tree te gee nie.

Ek vermoed die rede daarvoor is dat dit gewoon makliker is om iemand te slaan as om hulle optrede te bespreek en te verduidelik hoekom dit verkeerd is, en wat die gevolge is. Slaan die kind, en hulle sal dit nie weer doen nie, omdat hulle vrees om aangerand te word. Hulle het niks geleer uit die ervaring nie. Hulle het beslis nie geleer hoekom hulle optrede verkeerd was nie, net dat hulle nie van die gevolge gaan hou as hulle weer gevang word nie. Dit maak nie die kind meer moreel nie. Dit maak net die kind bang vir hul ouers. Dit beteken net dat die kind nie meer veilig voel in die ouerhuis nie. En dit maak nie saak met hoeveel liefde die roede ingelê word nie, die kind vrees die ouer. Hulle verander nie hulle gedrag uit liefde nie, maar uit vrees. Vir die meeste ouers is dit dalk goed genoeg, maar wat leer die kind regtig?

Hulle leer jy hoef nie te kommunikeer oor iets wat jou ongelukkig maak nie, jy kan dit met geweld regmaak. Jy hoef nie te leer hoe om dispute op volwasse maniere op te los nie. Sit iemand nie hul flikkerlig in verkeer aan nie? Pluk hulle uit hul voertuig en gee hulle opstoppers. Padwoede. Doen iemand nie hul werk reg nie? Gooi dokumente in hul gesig en skree op hulle. Wat is die ergste wat kan gebeur? Jy word op “Anger Management” kursusse gestuur.

Waar begin die respons om probleme met geweld op te los? In die huis.

Onderwysers kla dat daar geen dissipline in die skole is vandat hulle nie meer mag pakgee nie.

Alreeds in my skooldae, en dit was nog midde-in die tyd toe staatsgoedgekeurde aanranding in skole toegelaat is, het nie alle onderwysers lyfstraf toegepas nie. In sommige van my klasse was dit nooit vir die onderwyser nodig om te slaan, te skree, of te skel nie. Wat het daai onderwysers gedoen wat anders was? Deur die bank was hulle persoonlike lewe onberispelik. Hulle het die kinders met respek behandel, en as beloning het hulle respek teruggekry. Hulle het hulle vak met entoesiasme probeer oordra. Hulle het opreg belang gestel in die kinders, nie as wetters wat tog net iets geleer moet word nie, maar as volwaardige persone met eie persoonlikhede. Hulle het hul werk gerespekteer, en die meeste van alles, hulle het self-respek gehad.

As ʼn kind ʼn reël oortree het, het hulle moeite gedoen om met die kind te sit en te verduidelik hoekom die gedrag onaanvaarbaar is. En hulle het geluister na redes hoekom die kind dit gedoen het.

Die onderwyser wat net na die rottang gegryp het, het heelwat minder tyd bestee. Hulle het nooit gesonde verhoudinge met die kinders gehandhaaf nie. Hulle het ook nooit daarin geslaag om die kind se volle potensiaal te ontgin nie. Wie kan leer as jy die heeltyd bang is jy gaan 'n pak slae kry as jy ʼn fout maak?

Dis dieselfde in die huis. Hoe leer kinders om volwaardige, nuttige lede van die samelewing te word as hulle die heeltyd moet vrees vir die gevolge van foute? En almal maak foute. Ouers ook.

Ouers wat gesonde verhoudinge met hul kinders het, hoef nie oor die beslissing bekommerd te wees nie. Hulle hoef in elk geval nie geweld te gebruik om dissipline te handhaaf nie.

En die ander ouers, dié wat net gesag deur geweld afdwing? Hulle verdien alles wat na hulle kant toe kom noudat die Hof beslis het.

  • 4

Kommentaar

  • Beste Bettina
    Ek lees altyd graag jou rubrieke al verskil ek dikwels van jou.Maar hierdie rubriek is 'n klomp snert waarby jy nou apartheid intrek.

    Ek het my skoolloopbaan voltooi aan 'n seunskool en glo my ons was dikwels stout
    en het 'n pakslae gekry en niks daarvan oor gehou nie.Glo my as testosteroon vlakke hoog loop gaan mooi praatjies jou niks help nie.

    My vrou was vir amper 40 jaar 'n onderwyseres en van die uitgevrete veral matriekseuns sou jou behoorlik uitgelag het as jy hul met detensie gedreig het en het enige tyd twee houe op die agterent bo dit verkies.
    Hoekom dit brand net tydelik en is die kontak op die rugbyveld baie eger.

    Weet jy hoe dit voel as 'n 100 tot 110 kg bondel spierte jou onder die kortrib tref
    omdat jy hom en die bal gelyktydig ontvang? Dit is baie erger as 'n paar raspe op die agterent.

    Geen wonder die jeug ruk hande uit nie en word ouer mense dikwels die slagoffers
    want respek het saam met die roede verdwyn.Goddank ek het groot geword in 'n tyd waar die roede nie gespaar is nie.Dit het my en baie ander ook gereed gemaak vir strawwe weermagopleiding.

    Daar is 'n verskil tussen aanranding en tugtiging.Ek weet dat wat ek beleef het tydens my weermagopleiding nie verteenwoordigend kan wees van almal se ervarings nie.Tog was dit opmerklik dat die sg sielkundig groot gemaakte kinders dikwels die eerste was wat geknak het onder strawwe opleiding en tale wat nie vir alle ore bedoel was nie.

    Die talle uniformstukke waarvan ontslae geraak is tydens die eerste 25km 'route march' het daarvan getuig.

    Die bosse het op die pad terug was erger as kersfeesbome versier.Die gevolg
    'n grootskaalse diefstal want mammie se seuntjies wou nie sonder dit by die eerste
    inspeksie betrap word nie.

    Ja daar is kinders wat 'n mens anders benader maar as jy betrap word dat jy van die buurman se vrugte gesteel het dan moet jy buk.Ai dit was darem nog altyd die moeite werd.

  • Wat van so baie kinders wat sonder ouers moet grootword ? Daar is baie van hulle wat sonder ouers moet grootword, in enkelouerhuisgesinne grootword en party wat nie eers weet wie hul pa is nie. Die vraag is ook wat het verkeerd geloop In die demokratiese SA dat ons nie meer gehalte onderwysers het nie. Die probleem is groter as die probleem van lyfstraf.

  • Daar is mos altyd drie kante aan 'n storie. Vir party kinders werk lyfstraf vir ander nie. Ek het in die era van lyfstraf groot geword. Ek het baie slae gekry. Sommige gevalle was dit geregverdig ander kere nie. Ek was naderhand dikvellig en het dit maar gelate aanvaar. Ek het droog gemaak of was naby aan die persoon wat droog gemaak het. Ek is eerlik dat dit my glad nie skade berokken het nie. Ek gaan ook nie my polse afkou daaroor nie. Ek gaan ook niemand dagvaar wat my in die vorige eeu aangerand het nie. Ek kry die nuwe geslag mense bitter bitter jammer. Hulle is soekend, verboureerd, en baie onseker. Nie dat ek sê slae gaan dit regmaak nie. Ek is bevrees die dag gaan kom wanneer die hedendaagse denkwyses van mense in hul gesigte gaan ontplof. Dit sal dan te laat wees.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Ek het skool met 'n passie gehaat, veral Hoȅrskool Piet Potgieter. Die onderwysers - met enkele uitsonderings - was boelies en het ook die senior seuns se geboelie goedgekeur onder die vaandel van tradisie. Dat 'n onderwyser kon dink dat mens met vrees en geweld 'n skolier Latyn of wiskunde kan leer kan ek nou nog nie verstaan nie. Miskien het hulle my nie genoeg geslaan nie; daarom my voortdurende onnoselheid.

    Bygesê, my Latyn en wiskunde onnies was uitsonderings op die reȅl.

    Ons samelewing is besig om algaande weg te beweeg van ondeurdagte praktyke soos lyfstraf, die doodstraf en selfs oorlog, en ek stem saam daarmee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top