Luna Paige: "Die belangrikste was om die projek met integriteit aan te pak"

  • 1

Die sanger en musikant Luna Paige het al verskeie hoog-aangeprese albums en produksies aanmekaargesit. Die Korreltjie Kantel-teaterproduksie, waarvan sy aan die stuur is, se musiekalbum is pas uitgereik. Sy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Luna. Geluk met die Korreltjie Kantel-album, wat onlangs vrygestel is. Korreltjie Kantel was natuurlik aanvanklik ’n teaterproduksie, gebaseer op die liefdesbriewe tussen André P Brink en Ingrid Jonker (soos vervat in die boek Vlam in die sneeu). Hoe het dit gekom dat julle eerstens ’n teaterproduksie uit hierdie bronteks wou bou, en toe nou later die album? Watter soort reaksie het julle verwag, en hoe het dit vergelyk met die uiteindelike ontvangs – nie net in terme van "goed" nie, maar ook wat betref die emotiewe aard van só ’n produk(sie)?

Baie dankie. Dit was en is steeds ’n heerlike projek om aan te werk. Die projek het sy ontstaan gehad weens RSG. Hulle het my in 2015 genader om ’n program vir hulle Kunstefees aanmekaar te slaan waarin vyf onvoorspelbare musiekgroepe Ingrid Jonker se gedigte moes toonset. Dit was die 50-jaar-herdenking van haar dood – en hulle wou graag iets spesiaal doen, maar anders as die norm. So baie mense het al Jonker se gedigte getoonset, waarvan Chris Chameleon se werk seker die bekendste is. Hulle wou hê ek moes musikante nader wat ’n vars blik op haar werk sou gee. Ek het toe vir Hatchetman, Inge Beckman, Nick Turner en Medicine Boy genader om deel te vorm van die projek. Elkeen van hulle het gedigte getoonset en die program was uiters gewild tydens die RSG Kunstefees (2015). In so ’n mate dat ek gevoel het dit hoort op die verhoog.

Daardie selfde jaar het Vlam in die sneeu uitgekom. Die nuwe belangstelling in Jonker en haar liefdesverhaal met André P Brink het my die idee gegee om die verhoogproduksie juis daarop te skoei. Op dié manier kon ons toe Ingrid se verhaal vanuit ’n ander perspektief vertel. Drie van ons stem toe in om deel te vorm van die verhoogproduksie. Dit was ek self, Hatchetman en Nick Turner. Die verhoogproduksie het gedebuteer by Woordfees 2016. Dit was die perfekte plek om die produksie bekend te stel. Gehoorreaksie was ongelooflik en bywoning was werklik baie goed. Die produksie is ook by KKNK 2016 aanvaar, waar ons dit toe ook opgevoer het. Bywoning daar was minder goed. Kompetisie by die fees is maar altyd straf, omdat baie mense verkies om na die meer kommersiële vertonings te gaan kyk.

Na afloop van 2016 was dit duidelik dat die musiek opgeneem moet word en dat die vertoning bene het wat lank en ver kan hardloop. RSG het ingestem om die CD te ondersteun en ons het einde 2016 begin opneem. Ongelukkig kon Hatchetman nie deelneem aan die opnames nie, en moes ek soek na ’n nuwe deelnemer. Nick Turner het Jamie Jupiter voorgestel. Die twee ken mekaar vanuit die ’90’s rock scene. Nick was in Sons of Trout en Mechanic en Jamie was in die band Honeymoon Suites.

Jamie was ’n perfekte keuse – sy liedjieskryfvaardighede is wonderlik en hy kan ’n verskeidenheid instrumente speel – wat ’n werklike aanvulling tot ons vertoning is. Ons het ons eerste CD-bekendstelling by die Boer in Durbanville gehad en gehoorreaksie was oorweldigend. Mense het ons ’n staande ovasie gegee en soveel van die gehoorlede het na die tyd kom vertel dat hulle op ’n “high” is na hulle die show gesien het. Dit is natuurlik wonderlike nuus. Ons is baie opgewonde om die vertoning na meer mense in Suid-Afrika te bring.

Jy het reeds genoem van die ooglopende uitdaging om die Ingrid Jonker-gedigte ’n vars kinkel te gee ná talle ander toonsettings wat al gedoen is. Hoe werk daardie proses van toonsetting/interpretasie by jou, vandat jy die eerste woord lees tot die laaste noot bygeskryf is?

Dit was natuurlik ’n uitdaging gewees, maar ons het dit almal met redelike gemak gedoen. Ek dink die belangrikste was om dit werklik met integriteit en oorgawe aan te pak. Ek dink ook dit het gehelp dat nie een van ons werklik bekommerd was of gefokus het daarop om iets kommersieel te doen nie. Ons het nie gedink en gewonder oor dinge soos lugtyd, tempo en so meer nie. Dit was eerder ’n kwessie van: Hoe voel die gedig? Hoe moet die musiek voel? Ingrid se werk is ritmies en op ’n visuele vlak so stimulerend dat dit maklik is om te toonset. Haar verhaal en geskiedenis is ook so hartseer en terselfdertyd inspirerend dat mens maklik opgesweep raak in die romanse daarvan – en dit slaan deur in die musiek.

Ek dink haar temas is universeel en dit is nie gebonde aan tyd nie – wat dit maklik maak vir ’n mens om daarmee te identifiseer. Vir my was dit belangrik om al haar werk te lees, om dokumentêre oor haar te kyk, artikels te lees en so meer. Dit was amper ’n tipe akademiese proses. Dit het baie gehelp om die liefdesbriewe te lees – en om werklik ’n gevoel te kry van haar ervarings- en denkwêreld (sover dit hoegenaamd moontlik is). Ek dink Jamie en Nick het sulke pragtige toonsettings gedoen. Hulle het werklik ’n unieke aanslag – beide van hulle. Hulle het ook ’n speelse element na die tafel gebring – wat goed aansluit by Jonker se humor, en die kinderlikheid wat soms in haar werk deurgesyfer het.

Vlam in die sneeu was ’n besonder suksesvolle boek. Wanneer ’n mens gaan sit met só ’n produk, hoe moeilik is dit om getrou te probeer bly bloot aan wat jy op die bladsye vind, versus ’n groter bewustheid van als wat voor en ná die liefdesbriewe gebeur het (byvoorbeeld Jonker se uiteindelike lot)? Hoe sypel daardie bewustheid in by die musiek wat ’n mens pleeg, en die groter narratief van ’n teaterproduksie of album? Voel ’n mens dat jy die twee afgestorwe skrywers op ’n manier iets "skuld", of probeer mens eerder koud daarna kyk en ’n vars interpretasie van die woorde alleen vorendag bring?

Dit was vir my nie so belangrik dat ons noodwendig “akkuraat” moes wees nie – en die idee was nooit om dit wat in die boek weergegee word, woord vir woord weer te gee nie. Ek wou eerder hê ons moes deur middel van haar digkuns die loop van hul verhouding uitbeeld. ’n Sielsveranderende ontmoeting, ’n intellektuele, filosofiese en fisieke band wat gelei het tot oneindige passie en “betrokkenheid” by mekaar; die skaamte en geheimsinnigheid wat met verbode liefde gepaard gaan; die isolasie binne die verhouding; die ontmaskering wat plaasvind tussen twee mense wat mekaar innig leer ken en die vrese wat daarmee gepaard gaan; die twyfel in die realisme en langdurigheid van so ’n liefde; die uiteindelike ontrafeling van die verhouding; die woede, die verwerping, en dan ook die erkentenis dat alhoewel die verhouding nie gewerk het nie, dit ’n onsterflike impak op hulle albei gehad het. Is dit nie maar hoe baie verhoudings loop nie? Juis daarom dat ek dink mense so intens reageer op die vertoning. Almal smag na daardie tipe erkenning binne ’n liefdesverhouding, en baie mense is bereid om met vuur te speel om ’n smakie van daardie tipe “konneksie” of passie te ervaar.

Wat wel vir my belangrik was, was om nie op die tragedie alleen in hul verhouding te fokus nie, maar eerder op die positiewe impak wat hulle op mekaar gehad het. Brink het dit op ’n manier in sy hoofstuk oor Ingrid in sy biografie Vurk in die pad erken. Mense bring verandering. Hulle verfris en daag mekaar uit. Of hulle vir ewig fisies by mekaar betrokke is, is nie altyd relevant nie. Hoe hulle mekaar verander, ten goede, is dikwels soveel meer belangrik. Ons leer by mekaar.

In ’n mediaverklaring noem jy dat daar "tailoring and replacements" gebeur het tussen die teaterproduksie en die album. Watter noodwendige aanpassings moes gebeur om ’n selfstandige album te bou uit die produksie se musiek? Met ander woorde, watter verskille (ooglopend of genuanseerd) is daar in die onderskeie aanbiedinge van wat grotendeels dieselfde materiaal is? Watter rol het gehoorreaksie en dies meer gespeel in dié aanpassings?

Die veranderinge was meer met betrekking tot die kunstenaars wat betrokke was. Ons moes nuwe materiaal inwerk toe Hatchetman nie kon deel vorm van die opnames en nuwe vertoning nie. Ons maak ook gebruik van stemwerk deur twee akteurs (Christine Truter en Wessel Pretorius) en het na afloop van die Woordfees en KKNK geleer dat die beligting uiters belangrik is wanneer ons die stemwerk speel. Dit is altyd ’n probleem by feeste – tegniese spanne het bykans geen tyd om aandag aan tegniese vereistes te spandeer nie – en mens het dikwels tegniese probleme by feeste. Dit kan ’n enorme impak op jou vertoning en jou gehoor se ervaring hê – wat ook met ons gebeur het. So ons moes maatreëls tref om hierde tegniese probleme te vermy.

Ons het ook klein veranderinge aangebring om die vloei van die vertoning te verbeter. Dit is die tipe nodige veranderinge wat mens kan maak slegs na jy ’n paar vertonings gehad het en gehore se reaksies kon aanvoel en daarvolgens reageer. Nie so nice as daar kritici/resensente in die gehoor sit nie, maar nou ja. Uiteindelik speel ons nie vir hulle nie, maar vir die publiek. En natuurlik ook omdat ons dit geniet – omdat dit is hoe ons ’n bestaan wil maak.

Die kombinasie van jou, Nick Turner en Jamie Jupiter is interessant – uiteenlopende kunstenaars met uiteenlopende geskiedenisse. Hoe moeilik was dit om die uiteenlopende benaderings bymekaar te bring vir die produksie en ook die album? Of is dit juis eerder ’n geval van aanvulling en aansporing? Wat was vir jou die lekkerste omtrent dié samewerking, en wat het jy uitdagend gevind?

Ons style verskil, ja. Maar ek dink ons dink dieselfde. En ons kom almal baie goed oor die weg. Daar is geen ego's in die groep nie. Daar is baie wedersydse respek en natuurlik ook ondervinding. Nick is ’n meester op sy instrument. Hy laat elke song net beter en beter klink die oomblik wat hy op sy kitaar begin tokkel. Sy eie verwerkings is intelligent, dog eenvoudig, ritmies en werklik catchy. Jamie vermaak al vir jare gehore. Hy het ’n wonderlike vibe op die verhoog. Dit is lekker om vir hom te kyk wanneer hy sy groot verskeidenheid instrumente speel. Sy liedjies steek in mens se kop vas.

Ons geniet mekaar se songs en toonsettings en ons almal sien die waarde van die diversiteit wat elkeen na die verhoog toe bring. Dit sorg vir veelsydigheid en variasie – iets wat noodsaaklik is vir ’n goeie konsert. Die uitdaging was om in ’n kort bestek van tyd nuwe materiaal te skryf en te leer. Ons het hard gewerk en baie geoefen om reg te wees vir die ateljee en ons eerste optredes as ’n nuwe ensemble.


Nick Turner, Luna Paige en Jamie Jupiter

Luna Paige is ’n gesoute liedjieskrywer en sanger, met baie jare op die verhoog en verskeie albums om daarvoor te wys. Vind jy daar is meer of minder druk as mens toonsettings doen, vergeleke met oorspronklike materiaal? As daar druk is, uit watter oorde kom dit, en op watter maniere verskil dit? Vind jy byvoorbeeld dat daar ’n groter kans op kommersiële sukses is na die een kant of die ander? Sal jy graag voorts ’n balans wil volhou in hierdie opsig, of sal die oorspronklike materiaal die hoofprioriteit bly?

Dit is ’n interessante vraag. Ek dink as jy ’n bekende digter(es) se poësie toonset – en jy doen dit goed – is daar dalk ’n kans dat jy meer kommersiële sukses kan hê. Ek dink egter nie dit is noodwendig verseker nie. Ons weet dat ’n baie klein persentasie van ons bevolking lees. Dit is ’n belaglik lae persentasie (het ek nou die dag by ’n ATKV-praatjie gehoor). So – ek dink nie baie mense lees poësie nie. Ek was nogals verbaas om te hoor dat party mense wat ons vertonings bygewoon het, nog nooit Ingrid Jonker-gedigte gelees het nie (en haar werk was voorgeskrewe materiaal vir baie jare)!

Ek dink wel dit is effe makliker om gedigte te toonset as om jou eie oorspronklike lirieke te skryf. Een helfte van die werk is reeds gedoen. Iemand anders het gedink, geskryf, geskaaf, en weer geskryf – en dit goed genoeg gedoen dat ’n uitgewer dit wou publiseer. Jy weet dus die storie, die konsep – die diepte – is daar. Om musiek by te sit, is natuurlik ook ’n talent. Dis ongelooflik as mens luister na drie verskillende mense se toonsettings van dieselfde gedig. Mense lees ander dinge raak – hulle kies ander frases of idees as die hoofidee vir hul liedjie. Dis subjektief. Dis wat dit so wonderlik maak. Jy reageer in essensie met ’n ander taal op die gedig. Jy antwoord terug. Jy sê hoe jy oor die woorde voel deur middel van jou musiek. Dis eintlik amazing.

Ek voel dat enige liedjieskrywer wat ernstig is oor lirieke, moet lees. En om sulke projekte aan te pak kan mens dikwels help met writer's block; dit kan jou help om die kreatiewe sappe te laat vloei – om nuwe woorde te lees, te leer ken, nuwe ritmes te verken. Nes ons na ander mense se musiek moet luister, net so moet ons ander se skryfwerk lees. En juis by die meesters van die taal – die digters en die romanskrywers. Ek glo dit vas.

Sal ek weer so iets doen? Ek weet nie. As die geleentheid hom voordoen, ja. As ek opgewonde is oor die projek, ja. Sal ek aanhou skryf aan my eie oorspronklike musiek? Ja. Solank ek iets het om te sê. Dis ’n uitdaging. Mens se woorde raak soms op.

Soos bo gemeld, het jy al talle toere, optredes, opnames en dies meer agter die blad. Wat staan vir jou tot dusver uit as hoogtepunte, terugskouend? Enige vreemde agter-die-skerms-gebeure wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige aardige affêres wat jy eerder wel sal wil vergeet?

Toer is deel van my lewe. Dit is ook in baie opsigte een van my guilty pleasures – ’n verskoning om die huis te verlaat, alleen te wees, vry te wees, nuwe mense te ontmoet, gesprekke te voer, nuwe plekke te sien en jou gedagtes te laat vloei. Mens word baie vasgevang in mens se daaglikse roetines en verantwoordelikhede. Wanneer jy op die pad is, is daardie verantwoordelikhede vir eers effe opsy geskuif. En dis bevrydend. Dit maak jou kop oop. Dit is tog hoekom mense reis. As kunstenaars het ons daai voorreg. Ons word betaal om te reis. Dit is my gunsteling-deel van my werk. Elke keer wat ek op die pad is, besef ek hoe ongelooflik ons land is. Ons landskappe, die ekstreme verskille tussen dorpe, stede, ryk, arm, natuur, klimaat, kultuur – alles in een. Ek word elke keer ook herinner aan hoe gasvry Suid-Afrikaners is, en hoe nuuskierig ons is, hoe oop ons eintlik is vir nuwe ervaringe – glo dit of nie. Dis hoe ek Suid-Afrika op die pad ervaar.

Ek dink die kunste bring mense bymekaar – dit skep ’n veilige ruimte vir gedagtegange om te verskuif. Dit skep ruimtes waarin mense sonder om te veel te dink uit hul boksies kan klim en kan geniet wat buite daardie mure aangaan – al is dit net vir ’n uur of twee. Daar is niks wat ek wil vergeet nie. Alles wat ek ervaar het tot op hede het ’n impak gehad op wie ek is as kunstenaar en mens.

Wat sal ek nooit vergeet nie? Dalk my en my orkes se optrede by die Rainbow Restaurant in Durban. Die venue is naby ’n taxi rank in die middel van die stad, ’n oorwegend werkersklas-jazzklub, waar ek vir die eerste keer vir ’n bykans uitsluitlik swart gehoor gespeel het. Dit was ongelooflik. Die ontvangs, die aanvaarding, die respek, die musikale kundigheid, die waardering, die absolute vreugde – dit sal my altyd bybly. As mens Durban toe gaan, moet mens Rainbow Restaurant toe gaan. Awesome bunny chows, brandhoender, en baie, baie bier.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Luna Paige, in so verre jy dit kan beheer?

Ek is bly jy vra dit so. Mens se planne verander mos maar gedurig en mens beplan dikwels dinge wat weens omstandighede in die wiele gery kan word. Maar as alles goed gaan, toer ons heel jaar met Korreltjie Kantel, dwarsoor Suid-Afrika. Ek wil graag in die middel van die jaar my musiekteaterproduksie saam met Pops Mohamed weer opvoer (ons het dit vir die eerste keer by die Woordfees vanjaar opgevoer). Konnexi (die show se naam) kort nog baie skaafwerk en ek gaan die volgende drie maande hard daaraan werk. Ek glo in die boodskap van die stuk, en ek geniet dit baie om saam met die legendariese Pops Mohamed te werk. Ek wil Korreltjie Kantel Nederland toe neem in 2018 en probeer die ding nog maak werk.

Verder begin ek nou aan nuwe materiaal werk vir my sesde CD. Ek het in 2014 laas ’n CD uitgebring en voel dit is nou tyd. CD’s is wel duur, en ek is ’n onafhanklike musikant (nie verbonde aan ’n platemaatskappy nie), so al my CD’s word self gefinansier, en mens moet dikwels lank en hard spaar daarvoor. Maar ek voel daar is weer iets om te sê. Ek hoop om dit Septembermaand bekend te stel. Volgende jaar bring ek ’n splinternuwe vertoning uit saam met die bluesmusikant Simon Orange. Baie opgewonde daaroor.

En dan het ek ’n produksiemaatskappy begin – Iluminar Productions. Denise Barnes is my vennoot en ons werk hard om jaarliks nuwe produksies op die planke te bring, en bestuur ook ander produksies, soos World Café se Vivaldi’s Four Seasons (’n klassieke stuk opgevoer deur Petrus de Beer, Stanislav Angelov en Schalk Joubert). Ons reël ook vermaak vir verskeie kliënte (privaatfunksies, verjaardae, feeste, korporatiewe maatskappe en so meer) – so ja, werk – daar is baie daarvan!

’n Paar jaar terug, in ’n vorige onderhoud, het ons gepraat oor die sin van die lewe. Wat is die sin van die dood?

Goeie genade! Ek sukkel nog met die sin van die lewe! Kyk – ek is bang vir die dood. Daar is geen twyfel daaraan nie. Maar hoe ouer ’n mens raak, hoe meer begin jy besef dat die onvermydelikheid daarvan jou forseer om vrede daarmee te maak en dan ook met jou lewe … wat enige oomblik kan eindig. Dood is deel van lewe. Een is nie beter as die ander nie, glo ek. Wie weet wat na die dood gebeur … Om nie te weet nie is seker maar wat die vrees veroorsaak. So, ek kies om te glo dat dit die begin van ’n nuwe avontuur sal wees. ’n Ontdekkingstog – waar die eindpunt hopelik kennis is. Imagine om skielik net te weet. Who knows?

  • 1

Kommentaar

  • Uiters fantastiese onderhoud, lees soos poësie. Het die Korreltjie Kantel-launch by die Boer bygewoon en dit was werklik uitmuntend en meevoerend. Hoe meer mens ook na die musiek luister , hoe meer groei dit op jou. Hoop werklik met die toer sal mense dit nie 'n mis gee nie. Sal hul beslis op 'n "high" sit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top