Luisterindruk: Gevlerktes deur Lizanne Barnard

  • 3

Luisterindrukke word uit eie beweging deur LitNet se lesers aan die redaksie gestuur.

Lizanne Barnard se nuwe solo-album, Gevlerktes, is in Mei 2018 in die Atterbury-teater met die produksie Bêreboksie vol vlerke vrygestel.

Die Kanadese sangeres Loreena McKennitt sien die kreatiewe impuls as ’n besoek, ’n klop aan jou deur, a thing of grace, not commanded or owned so much as awaited, prepared for. Met haar nuwe album, Gevlerktes, het die muse inderdaad aan Lizanne Barnard se deur kom klop. In die gedaante van Lidi de Waal. Die sleutel was ver weg en verroes, skryf Barnard in die voorwoord, maar De Waal se tekste het ’n deur kom oopsluit. Die resultaat is twee kunstenaarsiele in tuimelvlug.

Die openingsnit, “net ’n mens”, met sy stuwende ritme en Barnard se innemende stem, eis jou aandag onmiddellik op. Dié liefdesbrief van die lewe aan die luisteraar maan teen pretensie, die gejaag na “wind shit” en pogings om jouself te “oorheilig”. “wals van die ou wonde” kyk met deernis na ’n verwonde vrou en word ’n pleidooi vir heelword en aanbeweeg. “promenade” is ’n klaaglied met die intensiteit van ’n Jonker-gedig. Die spreker soek na haar geliefde by Seepunt, die jettie op Houtbaai, die boekwinkel in Langstraat en die rotse by Llandudno. Maar die geliefde is nêrens te vind nie. Barnard se woorde raak op en Camelia Onnea se huilende viool neem oor. Lanklaas is die liefdesverdriet so rou vertolk.

Afwisseling bring telkens verligting wanneer jou hartsnare dun begin span. Barnard se komposisies bied ’n heerlike variasie van musiekstyle en instrumente. Sy speel die klavier, klawerbord, dwarsfluit en melodika. Haar seun, bekend as Pajama Shark, speel die akoestiese en elektriese kitaar en die marimba.

“niks onder die son” vermaak met die klanke van die didjeridoe (gespeel deur Leon Ecroignard); “jan frederikkie” se orkestrasie herinner speels aan “Jan Jan Jan die Bielie van die Bosveld”; “patat se hotel” neem jou terug in die tyd met sy nostalgiese kleindorpse feel; en “’n lyf” vertel van die liggaam as draer van ’n leeftyd se sensuele en pynlike ervarings.

Gevlerktes is iets uitsonderlik in Afrikaans. Dit klink so oud soos “die berggans het ’n veer laat val” van Boerneef en so nuut soos HemelBesem se rap song “Moenie worry nie”. Maar jy moet met aandag kyk en luister – soos ’n voëlkenner met ’n verkyker. Dan sal die voëls en die gepunte blare ritselend aanmeld: die “rietskraal naaldekokertjies”, die wit duif met ’n olyftakkie in sy bek en “trooswoorde op elke blaar”, en die jan frederikkie wat kom sê hoe diep die liefde lê.

Lizanne Barnard was vanjaar een van vyf benoemdes vir die Ghoemas in die kategorie, Beste Kontemporêre Album deur ’n Vroulike Kunstenaar.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Petro Ebertsöhn

    Dit raak my hart en siel sommer so onwillekeurig diep aan. Rustig gaan lê die skoon, diep woorde asook die kunswerk so saggies in Afrikaans my moedertaal hier diep in my moederhart❤... dankie vir deel❣

  • Avatar
    Marié Jacobs

    Petro Ebertsöhn, dankie vir jou waardering en passie. Ek hoop jy kry dit in die hande. Van hart tot hart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top