
Die Centurion Hospice in samewerking met NB-Uitgewers bied vanaf Dinsdag 2 Junie ’n unieke gratis aanlyn kinderleesprogram vir kinders tussen die ouderdomme van 5 en 8 jaar aan.
Omdat dit op die Centurion Hospice se Facebook-blad aangebied gaan word, kan kinders regoor die land aan dié leesplesier en -pret deelneem. Dit is ook die eerste keer dat ’n niewinsgewendeorganisasie so ’n tipe aanlyn ervaring aanbied.
NB-Uitgewers, wat dié jaar verskeie nuwe kinderboeke uitgee, het met die Centurion Hospice hande gevat om die boeke aan die kinders bekend te stel. En boonop ook vir ’n halfuur ’n oggend tuisonderrig uit ouers se hande te neem.
“Tydens die grendeltydperk het baie gesinne meer tyd saam begin deurbring en lees is beslis een van die aktiwiteite wat die meeste aandag geniet. Ouers besef die waarde van lees en die genot wat leersame stories aan kinders verskaf. Selfs al kon nuwe boeke nie aangekoop word nie, is beskikbare boeke afgestof en weer gelees. Nou skep ons egter die geleentheid om met nuwe stories vermaak te word,” sê Henk Viljoen, streekverkoopbestuurder van NB-skole.
Boeke waaruit voorgelees word sluit Ouma Hester en die Getaway kar deur Janie Oosthuizen, Liewe Heksie deur Verna Vels, It’s Jamela deur Niki Daly en Speurhond Willem in New York deur Elizabeth Wasserman in.
“Klassieke en kontemporêre titels waarby oud en jonk van enige geslag aanklink sal vind, is vir hierdie opwindende projek gekies. Ouers sal Liewe Heksie en Pippie Langkous nostalgies herbeleef - hierdie titels is steeds uiters gewild. ’n Aksiebelaaide reeks soos Speurhond Willem en interessante nuwe titels gaan lees- en luistergenot verseker. Storievertel is beslis ’n feestelike familie-aktiwiteit,” sê Henk.
Die boekvoorlesings gaan op ’n kreatiewe, opvoedkundige en vermaaklike manier aangbied word. Elke boekvoorlesing gaan ook met ’n aktiwiteit vergesel word. Die voorlesings gaan om die beurt in Engels en Afrikaans gedoen word.
“Die boekvoorlesings gaan boonop ’n prettige saamgesels-aktiwiteit wees. Eerstens gaan ons die boekomslag bekyk en bespreek deur te probeer voorspel wat alles in die storie kan gebeur. Dan gaan ons gedeeltes lees, bespreek en selfs woordeskat uitbrei. Natuurlik sal ’n mens ook dink oor wat die skrywer eintlik wil sê ... Ons vertrou dat hierdie boekvoorlesings ouers en kinders se liefde vir lees opnuut gaan aanwakker,” sê Henk.
Die voorlesers sluit die bekende sanger en radio-aanbieder Riaan Grobler en ook Henk Viljoen, bekende skoolhandboeksrywer, in.
“Ons gaan ook ons kreatiewe personeel inspan om van die voorlesings te doen,” sê Annette Reed, die algemene bestuurder van die Centurion Hospice.
Volgens Annette is die Centurion Hospice se Legacy-boekwinkel bekend vir sy wye verskeidenheid boeke.
“Ons is die enigste nieregeringsorganisasie in die land wat kinderweek op die manier vier. NB-Uitgewers en Centurion Hospice is perfekte vennote omdat ons passievol daaroor voel om kinders te laat lees. My filosofie is dat verbeelding nie ingeperk kan word nie,” sê Annette.
Hou elke dag die Centurion Hospice se FACEBOOK-BLAD dop waar die storie en die aktiwiteite van die dag bekend gemaak gaan word. Daar gaan ook interessante feite oor die skrywers en die boeke geplaas word. Die aktiwiteite wat die boek vergesel en die benodighede gaan ook ’n dag voor die tyd op ons blad geplaas word.
Tyd: Elke oggend vanaf 10:30 tot 11:00
Plek: Centurion Hospice se Facebook Life-blad
Duur: Twee weke
Koste: Dit is gratis, maar julle is welkom om donasies te gee of een van die boeke wat voorgelees gaan word by die Centurion Hospice se boekwinkel te koop. ’n Persentasie van die boekverkope gaan ook aan die Hospice geskenk word.
Uitreksels uit boeke wat voorgelees en bespreek gaan word:
- Hasie hoekom is jou stert so krom en ander Afrika-stories byeengebring deur Michelle Cooper
- Speurhond Willem in New York deur Elizabeth Wasserman
- Its Jamela deur Niki Daly
- Pippie Langkous deur Astrid Lindgren
- Ouma Hester en die getaway kar deur Janie Oosthuizen
- "How water snakes come to be" uit Hasie, hoekom is jou stert so krom en ander Afrika-stories
- "Die drie varkies" uit Bennie Boekwurm se mooiste sprokies deur Louise Smith
- Bitterbosbende: Die geheim van die nuwe hoof deur Anzil Kulsen

