Ludik – indrukke van die eerste 35 minute

  • 4

Fotobron: YouTube

...........
Die skep van hierdie reeks is ’n misdaad teen die mensdom. Oukei, ek oordryf. Dan ’n misdaad teen goeie reekse, teen Afrikaans en vir seker teen my oogballe.
..........

Die skep van hierdie reeks is ’n misdaad teen die mensdom. Oukei, ek oordryf. Dan ’n misdaad teen goeie reekse, teen Afrikaans en vir seker teen my oogballe.

Die musiek tydens die openingstoneel is gelaai met soveel bas dat my hele sitkamer vibreer het. Ek is nou gewaarsku, julle: Hier is moeilikheid op pad. Dit herinner my aan die mishoring wat in Five fingers for Marseilles gespeel is elke liewe keer as die boosaard op die toneel verskyn.

Rob van Vuuren se melodramatiese gehuil is amper so erg soos Arnold Vosloo se macho maniertjies. (Toe hy die luukse Toyota parkeer, het die kar wel teruggerol. Ek het gegiggel. Watter machoman weet nie hoe om ’n handrem op te trek nie?) Het ons nodig gehad om te sien hoe hy in ’n onderbroek en goue ketting sy vrou teen die muur vaspen? Hmm, nee. Het dit sin gemaak dat sy vrou op daardie oomblik sê hul seun gaan nie vandag skool toe nie? Nee.

............
Die kamerawerk kan ’n mens seesiek maak. Kom ons skiet van onder af. Nee, kom ons plak die kamera op die bak van die kar sodat die bak 90% van die skoot opmaak.
............

Die kamerawerk kan ’n mens seesiek maak. Kom ons skiet van onder af. Nee, kom ons plak die kamera op die bak van die kar sodat die bak 90% van die skoot opmaak. Interessante invalshoeke moet so goed wees dat 1) mens dit nie raaksien nie, en 2) dit bydra tot die film.

..........
Die redigeringswerk het my wenkbroue laat lig.
.............

Die redigeringswerk het my wenkbroue laat lig. In die middel van Rob se melodramatiese telefoniese gesprek met die AA is daar ’n glitch. Die kamera het nie geskuif nie. Die invalshoek het nie verander nie. Daar is net ’n paar sekondes uitgesny.

Die diamante in die meubels, Ludik se pa wat saam met die buurvrou uitstap en sy broek se ritssluiter optrek, Ludik se saggeaarde seun, sy rebelse dogter, ens, ens, is net so ooglopend.

Daar is ander elemente wat so bisar is dat jy eintlik giggel. Die diamante wat ten aanskoue van personeel langs hope kontant in ’n kas gesit word sonder ’n slot of selfs ’n handvatsel. Die Russiese handlanger wie se aksent so dik soos konfyt op ’n roosterkoek is, terwyl die Ierse boef se aksent kom en gaan soos die wind waai. Die beste is die terugflitse waarvoor datums en liggings aangedui word. Pretoria, 1979 ... Hoekom, hoekom, hoekom? Die kleurgradering wat verander en die stroperige musiek is seker genoeg van ’n aanduiding?

En dit was binne die eerste 35 minute.

  • 4

Kommentaar

  • Uitstekende resensie! Dis al.

    Ok wag, daar's meer.

    Ek sal probeer om my in te hou.

    As iemand wat in die filmbedryf te werke is (produksie, regie, skrywer) het ek net ’n paar minute nodig gehad om die hele spul se nommer te vind, en die tellie af te sit. Onsamehangend, slordige, amateuragtige regie, beyond pretensieus. En so meer. Die woord is kitsch en nie die cool weergawe nie. Ek gaan dit daar los. Netflix, wat op aarde het julle besiel om goeie en baie geld op dié gemors te mors? Dis insulting vir al die talentvolle filmmakers met goeie projekte daarbuite wat meer funding verdien as die spul. Ek's jammer om so wreed te wees julle wie die film gemaak het, maar asseblief, voor julle nog iets aanpak, werk hard om uit te figure wat julle beter kon doen, cause this is rock bottom.

  • Dankie vir uitstekende kommentaar. As ons fliekmakers tog net sal leer hieruit. Dis die hoofrede waarom ek langtand kou aan Afrikaanse produksies; sal na laaaang oorweging na een kyk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top