LT-Afrikaans (afgelei van Let’s Talk Afrikaans) is ’n onderafdeling van ’n groter groep genaamd Let’s Talk Network. Daar was aanvanklik begin met ’n Engelse internetvideo-geselsprogram genaamd Let’s Talk Geek vroeg in 2010. Kort daarna is ’n Let’s Talk Sport-program bygevoeg, daarna ’n Let’s Talk Possibility-program (aangaande alternatiewe energiebronne en so meer), en uiteindelik is ’n LT-Afrikaans-program bygevoeg wat basies enige van hierdie besprekingsonderwerpe aanspreek.
Die hoofdoel van LT-Afrikaans is om Afrikaans op die internet uit te brei. LT-Afrikaans word weekliks regstreeks op ’n Donderdagaand van 19:30 tot 20:30 uitgesaai op die LT Network webwerf. Daarna word die program op YouTube gelaai en is dus voortaan altyd beskikbaar.
Naomi Meyer het vir Cecilia van der Merwe, een van die betrokkenes by LT-Afrikaans, nog oor die gespreksplek uitgevra.
Hallo Cecilia, vertel my asseblief van Let’s Talk Afrikaans – wie is julle?
Ons is deel van Let's Talk Network - 'n Suid-Afrikaanse internetkanaal wat verskeie "podcasts" oftewel potgooie uitsaai. (Hier is nog inligting.) Daar is tans drie potgooie wat Let's Talk Network uitsaai: Let's Talk Possibility; Let's Talk Geek en LT-Afrikaans (dit klink laf om te sê Let's Talk Afrikaans, so ons is net LT-Afrikaans). LTA se hoofdoel is om Afrikaans as 'n taal aan die gang te hou op die internet en ook om Afrikaanse materiaal beskikbaar te stel op die internet. Die hele Let's Talk Network (insluitende LTA) word deeltyds deur 'n handjievol mense bedryf en deur hulle self befonds.
Wie sit gewoonlik aan die ander kant van die tafel – met wie praat julle?
Siende dat LTA se visie is om Afrikaans as 'n taal te bevorder, gesels ons gewoonlik met ander Afrikaanssprekendes oor sake wat tipies van toepassing is op die Afrikaner. Goeie voorbeelde van vorige episodes en ons gaste is hier:
Wie is die luisteraars – weet julle dalk wie is die mense wat na die gesprekke luister?
Ons luisteraars is Afrikaanssprekendes met internettoegang! Ons het al korrespondensie ontvang van Nieu-Seeland, en een van ons “regulars” is 'n Pool wat Afrikaans as 'n vak aanbied by 'n Poolse universiteit in Pole. Ons episodes word regstreeks oor die internet uitgesaai, so luisteraars kan deelneem aan ons gesprekke deur saam te kuier in ons eie kletskamer.
Ek dink ons sal maar 'n plan moet maak om met LitNet te gesels in die nuwe jaar. Ons saai net een keer 'n maand uit (die laaste Donderdag in 'n maand), dus gaan ons November-episode ons laaste episode van die jaar wees. Ons het tentatief al klaar met ander gaste gereël vir ons November-episode. Ons kan julle in-Skype en dan kan ons vir so 'n halfuur gesels. Ons probeer om gewoonlik nie langer as 'n halfuur te kuier nie, maar dikwels loop ons oor die toegelate tyd!


