![]() Foto: NB-Uitgewers |
|
Sêgoed van Louis Krüger “Dit is belangrik om die ruimte te hê om jou eie waarheid te soek, en dit ook hardop te kan sê.” (Suid-Afrikaan, Junie/Julie 1989) “Ek dink dit is die rede waarom jy ’n roman skryf: om die dinge wat jy andersins moeilik kan verwoord of kan begryp, onder woorde te bring en te ondersoek.” (Suid-Afrikaan, Junie/Julie 1989) “In die kleingeestigheid in die Suid-Afrikaanse literêre kringe, in die roddel circuit, in die venyn en die afguns wat daar heers, het ek ’n pes. Daarin wil ek nie beland nie. Dit is ontsettend jammer dat dit so is, want die Afrikaanse letterkunde ly daaronder.” (Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992) “’n Kleingeestige mens kan nie resensies skryf nie. ’n Resensent moet ruim van gees wees. In Suid-Afrika het dit egter die punt van absurditeit bereik. Resensies van Afrikaanse boeke word uit handboeke geskryf, dit is ’n akademiese gedoe en ’n rondgooi van terme soos dekonstruksie en post-modernisme en wat nog alles. Dit het so ver gevorder dat dit gewoon absurd en deursigtig vir enigiemand is.” (Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992) “Ek besef nou meer as ooit tevore dat ’n mens sy samelewing maak. Ons gaan almal beloon word vir goeie keuses en die prys betaal vir slegte keuses. Daar wag vir elkeen van ons ’n rekening.” (Beeld, 6 Februarie 1992) “Ek besef nou meer as ooit tevore dat ’n mens sy samelewing maak. Ons gaan almal beloon word vir goeie keuses en die prys betaal vir slegtes. Daar wag vir elkeen van ons ’n rekening.” (Beeld, 6 Februarie 1992) “’n Mens moet kennis neem van alle kritiek. Dit hinder my nie. Ek waardeer dit as ’n kritikus my op die swak punte in my werk wys. Ek wil dit nie ignoreer of myself probeer regverdig nie, want dan leer ’n mens nie daaruit wat jy kan leer nie.” (Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1983) Oor ’n mentor: “Dit hang af van persoon tot persoon. Mens kan seker sonder een ook klaarkom, maar jy kan baie leer van ’n mentor. So op die ou end kan dit maar net goeie vrugte dra, mits dit natuurlik die regte persoon is, mits hy vir jou ’n sekere openheid laat en nie vir jou in ’n rigting druk nie.” (Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1983) Kortverhaal of roman? “Ek sou graag wou leer om albei mediums te gebruik, want kyk wat gebeur in die praktyk; jy kry ’n stimulus of jy kom op ’n storie af wat jy wil vertel en party gegewens moet jy net eenvoudig as ’n kortverhaal aanbied, jy kan nie ’n roman daarvan maak nie, ander is weer langer en jy moet ’n roman of novelle skryf. Ek het nie ’n voorkeur nie, dit hang maar af van die tema of die gedagtes wat my interesseer.” (Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1983) Hoe versoen hy sy predikantwees met sy skryfwerk? “Ek dink die twee gaan juis saam: jy bly besig met die groot vrae van die lewe. Vrae oor lewe en dood, oor die bestaan van God, oor die sin van die lewe, oor die hiernamaals, oor reg en geregtigheid, oor waarheid en leuen. Jy kry met mense te doen wat in krisissituasies verkeer, en dit het ek ook baie duidelik met Son op die water ervaar. Die enigste nadeel van predikantwees, is jy moet baie praat en praat en praat, en dit maak my moeg.” (Suid-Afrikaan, Junie/Julie 1989) “’n Tema of verhaal meld hom as ’t ware by my aan om geskryf te word en dit is maar met verloop van tyd wat dit in ’n bepaalde rigting ontwikkel en dat ek agterkom dat dit ’n volwasse of jeugverhaal word.” (Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992) Het sy Europese verblyf enige invloed op sy skryfwerk? (1992): “Nee, Afrika spook nog heeltemal te veel in my kop. Ek mis die son, die warmte. Jy kan mos sien hoe stook ek die kaggel!” (Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992) “Nie net my ondervindings in die buiteland beïnvloed my skryfstyl nie, maar alles wat ek sien en ek doen. Elke boek wat ’n skrywer skryf, is nóg ’n lewe wat hy leef. Ek skryf om die lewe te probeer verken.” (Beeld, 20 Februarie 1990) “Kinders het iets moois, suiwers aan hulle. Die soort kind wat tot my spreek, is ’n kind wat deur omstandighede gedwing word om te veg vir ’n sinryke bestaan. Die kinders in my werk is ontheem, in die gemors wat grootliks die volwassenes se skuld is. Ja, slagoffers van geweld.” (Beeld, 6 Februarie 1992) “Skryf is ’n oerkreet. Het jy al kinders onder ’n treinbrug sien staan en skree? Daarmee druk ek my verbystering, ontroering, angs oor die mens se bestaan uit. Ons bestaan is so geheimsinnig (...) ons het skaars tien persent van die antwoorde. Skryf is ’n uiting van my innerlike behoefte na sin.” (Beeld, 6 Februarie 1992) Uit Herinnering aan Agnes: “Ek twyfel aan toeval net so maklik as wat ek daarin kan glo. ’n Wêreld van toeval is ’n wêreld sonder God, en iets in my weier om dit te aanvaar. Die menslike oog is een van die dinge wat my in God laat glo. Toeval kan nie ’n oog laat ontstaan nie.” (Taalgenoot, Januarie 1997) “Dis soms ’n geskeide soort lewe. My openbare lewe is Nederlands, maar my persoonlike, innerlike lewe is nog 100 persent Afrikaans. Jou taal verskaf tog jou persoonlikheid, jou menswees.” (Rooi Rose, 21 Augustus 1996) “Ek beskou die beoordeling van letterkunde aan die hand van teorieë as ’n futiele spel. Die beste leser is die ervare en gevoelige leser. Om ’n boek aan die hand van ’n teorie te lees, is soos iemand wat na ’n sielkundige gaan om te leer lewe. Dit is tragies.” (Boekewêreld, 9 Julie 1997) “Vir my is die verhouding tussen mense die kern van die lewe. Die swart mense in Suid-Afrika het ’n uitdrukking daarvoor – ‘ubuntu’ – ’n mens is ’n mens deur ander mense. Iemand wat ’n goeie verhouding met ander mense het, is ’n gelukkige mens.” (Taalgenoot, Januarie 1997) “Afrikaans is steeds volkome die taal van my kop en hart, behalwe miskien wanneer ek ’n preek skryf. Wat ek nie verstaan nie, is waarom so baie Afrikaanse mense uit die staanspoor eerder lompe, dom Engels praat wanneer hulle ’n vreemdeling nader. Waarom het ons so ’n minderwaardigheidsgevoel oor ons taal (…) ’n mens moet mos trots genoeg wees om dit te praat, selfs met vreemdelinge, want só sê jy wie jy is en die vreemdeling kry die kans om in Afrikaans te antwoord indien hulle die taal magtig is.” (Rapport, 8 Mei 2022) Oor die pandemie en die uitwerking daarvan op sy skryfwerk: “Niks is so goed en inspirerend vir skryfwerk as ’n pandemie nie. Dit het my die tyd en ruimte gegee om die roman betyds klaar te kry, en daarvoor is ek natuurlik baie dankbaar.” (LitNet, 23 Maart |
Gebore en getoë
Louis Krüger is op 25 Oktober 1955 op Upington in die Noordweste gebore. Sy oupagrootjie het in hierdie barre wêreld van sand en kalkbanke en klipkoppies en kokerbome by Kakamas en Keimoes kanale help beplan en grawe saam met die sendelinge. Want die rivier is daar, vertel Louis in ’n biografiese skets aan NALN.
Louis vertel verder: “Party somers het die rivier afgekom en dan was daar ’n onrustigheid in die dorp as die mense wag op die vloedwater wat uitkoms moet bring en opdrifsels en boerbokke en bome en pampoene sal meesleur en ’n enkele keer ook ’n mens, en ’n paar landerye sal toeslik. En dis ook naby die Kalahari (ná ’n donderbui my oom wat in die rooi duinsand spit om te sien hoe diep die water ingetrek het, en jy ruik die boesmangras en boomwortels).”
Hy gaan skool op Upington en swem somers in die kanaal, of in die rivier, en later in die munisipale swembad toe dit oopgestel is aan die onderste punt van die straat waarin Louis-hulle gebly het. “Saans kon jy die chloorwater ruik, saam met die katjiepierings en jasmyn, en jy kon die sinkplate op die dak krakend hoor afkoel.”
Hy matrikuleer aan die Hoërskool Upington.
Gedurende die seswekevakansies het hulle die lang pad Boland toe aangepak. “Geen pad is werklik godverlate nie, maar die stuk tussen Kenhardt en Calvinia het, menslik gesproke, ontstemmend na daaraan gekom; as jy teen laatmiddag uit jou kar klim om jou bene te rek of koffie te drink, hoor jy die telefoondrade sing. En snags was daar springhase en dooie bakoorjakkalse op die teer. Op Hermanus waar my oupa-hulle ’n strandhuis gehad het, het ek met die see kennis gemaak en in Bellville het ek my verwonder aan die verkleurmannetjies in die heinings.”
In sy voorlaaste skooljaar het Louis ’n mislukte novelle, asook ’n mislukte roman oor die Boere-oorlog geskryf.
In ’n onderhoud met Thomas van der Walt (Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992), vertel hy dat avontuur ’n belangrike deel van kinder- en jeugboeke behoort uit te maak. Kinders soek dit in boeke. “Ek onthou uit my jeug hoe ek boeke in beeld beleef het. Aan die begin het ek natuurlik woorde gelees, maar uiteindelik het ek my so ingeleef dat die boek weg was en ek my totaal in die verhaal ingeleef het. Ek het doodgewoon deel daarvan geword, alles meegemaak wat daar beleef word. As ’n kind eers so ’n magiese ervaring met ’n boek gehad het, dan is hy vir lees gewen.”
Verdere studie en werk
Na skool is Louis na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy Afrikaans-Nederlands en filosofie as sy hoofvakke kies; en op Kweekskool moes hy hom noodwendig in die teologie verdiep. Op universiteit skryf hy ’n aantal kortverhale, waarvan sommige in tydskrifte gepubliseer is. Hier was hy ook saam met Etienne van Heerden by die tydskrif Graffier betrokke wat nogal opwindend was vir hom. Van sy kortverhale verskyn ook in Blommetjie gedenk aan my, wat deur Hennie Aucamp saamgestel is, en in Skepping en struktuur (PJ du Toit).
“Besoek van ’n heilige” en “Buite speel die kinders” is die eerste van Louis se kortverhale wat in ’n literêre tydskrif verskyn het, maar hy het baie oefening gehad met stories in Die Huisgenoot. Hy het genoeg goed vir tydskrifte geskryf om sakgeld te verdien. Toe Hennie Aucamp “Buite speel die kinders” in Blommetjie gedenk aan my opgeneem het, was dit vir Louis ’n groot aanmoediging. “Wat ek veral van hom (Aucamp) geleer het, is daardie kwessie van die belangrikheid van ’n storie; om ’n storie te vertel. Jy kan alle truuks uithaal, maar as daardie element nie daar is nie, dan skort daar iets groots.” (aan Koos Prinsloo in Tydskrif vir Letterkunde)
Op Stellenbosch is hy met Quelene getroud. Hulle het twee seuns, Regardt en Tjabe.
Na die voltooiing van sy studies is Louis vir twee jaar dienspligkapelaan in Pretoria. In 1982 is hy ook kapelaan in Okalongo in die destydse Suidwes-Afrika, vandag Namibië. In 1984 is hulle Nederland toe, waar hy as predikant in ’n Gereformeerde gemeente in Nieuwlande (Drente) bevestig is. Louis was destyds bevriend met dr Nico Smit, wat predikant in Mamelodi was. “Iemand het hom gevra of hy nie weet van ’n jong Suid-Afrikaanse predikant wat na Nederland wil kom nie, en toe nader hy my,” vertel Louis aan Laura van de Langenberg. (Die Taalgenoot, Januarie 1971)
Hier is Louis en Quelene se eerste kind, Regardt, gebore – “’n klein snotkoppie wat in die oggende die bure se hoenders en koeie namaak, wat teen die trap uitklim as die hekkie oop is”. Hulle tweede seun is Tjabe. Later is Louis predikant by die Gereformeerde gemeente Sliedrecht en sedert 1994 is hy by die Koningskerk Feyenoord, Rotterdam, ’n skippersgemeente. “Die gemeente is klein, omtrent vyfhonderd lede. Soms sien jy hulle maande lank nie. Rotterdam is hul tuisbasis en wanneer hulle hier vasmeer, kom hulle graag kerk toe. Ná die diens drink ons altyd koffie en dan gesels hulle ’n hond uit ’n bos. Die kinders is meestal op internate, ’n soort kosskool. Wat my veral tref, is dat dié mense se lewe op basiese dinge gerig is – die essensie van die lewe. Hul leefstyle op die binneskepe is gevaarlik en daar is byvoorbeeld talle gesinne van wie ’n kind al oorboord geval het. Hulle is ook onafhanklike mense. Die klassieke uitdrukking waarmee hulle beskryf kan word, is dat hulle ‘overal en nergens’ tuis is. Hulle is voortdurend aan die beweeg, soos die waterweë waarop hulle vaar,” aan Laura van de Langenberg.
In sy universiteitsjare begin Louis aan ’n soort spanningsverhaal werk. Na ’n paar keer se herskryf het hy dit in Belfast in Ierland gesitueer teen die agtergrond van die IRL-stryd. Die roman is later as Die skerpskutter gepubliseer. Hy was self op ’n kort besoek aan Belfast, waar hy veral met Katolieke studente aan die Queen’s Universiteit kennis gemaak het.
In 1981 word Die skerpskutter deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Louis vertel aan Koos Prinsloo (Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1983) dat hy ongeveer ses jaar aan die roman gewerk het en dat dit eintlik ’n soort oefening was. “Daar’s baie mense wat sou sê dis die soort ding waarop jy oefen en dan in jou laai sit en dan iets anders begin skryf. Maar die tema het my bly boei; ek kon nie loskom van hom nie. Dit was ’n soort leerskool vir my en toe gebruik ek dit wat ek geleer het in die skryf van die roman om die finale weergawe daarvan te skryf.”
Die manuskrip het ’n lang geskiedenis by die uitgewers gehad. “Die heel eerste was vaag en ongesitueerd, half swewend. Toe het ek hom voorgelê en ek is dankbaar bly dat hulle hom afgekeur het. Toe gaan ek Ierland toe en werk hom weer oor, maar toe is daar nog swak plekke. Daarna het ek hom maar oorgewerk en oorgewerk totdat hy so goed is as wat ek hom kon kry.”
JP Smuts (Die Burger, 15 Oktober 1981) skryf: “Krüger se werk wil die wêreld van die spanningsverhaal versoen met ’n dieper verkenning van die karakters – of ten minste van één karakter, die hooffiguur, Malcolm Owens, wat as skerpskutter veg vir die bevryding van Noord-Ierland en later (onvermydelik en ook voorspelbaar binne die verhaal) self slagoffer word van die vyand. Malcolm is nie net professionele vegter of self fanatikus wat stry vir ’n saak nie, hy probeer ook sy persoonlike problematiek besweer in die stryd.”
Anita Lindenberg (Die Vaderland, 28 Januarie 1982) meen dat Louis met Die skerpskutter die moontlikhede kon benut waartoe uiteenlopende benaderings hom in staat stel. “Dis verblydend om kennis te maak met ’n kompetente en genuanseerde nuwe skryftalent en om te sien dat ’n skrywer soveel het om te bied dat hy in die gedaante van ’n spanningsroman ’n eerlik en intens deurleefde stuk werklikheid kan kom daarstel. Hierdie roman is, hoewel dit vir sommige smake miskien ’n bietjie hibridies mag wees, baie bevredigend. (…) Hoewel die meeste van die kenmerke van die spioenasie- of spanningsroman in hierdie werk aangetref word – agtervolging, verrassing, misleiding, skets, geweld – verskil die roman in sy sombere intensiteit van tradisionele werke in dié genre. Die skerpskutter is ’n spanningsroman in mineurtoon. Die interessantste aspek van die skrywer se talent is juis die lugubere ontroering waarmee hy skryf. (…) Hoewel die verhaal met ’n vaart vertel word, word ’n talmende betekenisinhoud met die handeling verweef. Van ’n skrywer wat tot so iets in staat is, kan ’n mens nog baie verwag. Dit sal my nie verbaas as Louis Krüger nog eendag ’n baie goeie roman skryf nie.”
Gideon Wahl (Transvaler, 21 Desember 1981) voel dat hierdie kort roman duidelik blyke gee van Louis se vermoëns as skrywer. “Hy skryf beheers, evokatief; sinne en paragrawe kan individueel verstil word tot voltooide raampies van ’n rolprent. Die skerpskutter is ’n debuutroman wat goeie dinge vir die toekoms van Louis Krüger voorspel.”
Die skerpskutter word in 1982 met die Eugène Marais-prys bekroon. Louis vertel aan Koos Prinsloo dat dit vir hom ’n verrassing was, want hy was nie so seker dat die roman as literêre werk ontvang sal word nie, omdat dit ook baie van die spanningsverhaal, of aksieverhaal, in hom het – “die soort tema wat kommersiële skrywers gebruik. En ’n mens kan nie jou eie werk so goed beoordeel nie. Ek het nie gedink dat hy in aanmerking sou kom vir ’n suiwer literêre prys nie; dis genuine, dis regtig so. So dit was vir my ’n verrassing gewees omdat van die ander werke wat in aanmerking gekom het, was suiwer literêr, jy weet digbundels en so aan.” (Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1983)
In 1984 verskyn ’n Basis oorkant die grens, wat handel oor ’n groep soldate wat ’n ammunisie-opslagplek oorkant die grens moet uitwis, en weer is dit nie ’n blote avontuurverhaal nie. Louis se ondervindinge in Karoi in Zimbabwe, waar hy in 1980 en 1981 as predikant afgelos het, en gesprekke met mense wat in die Zimbabwiese oorlog geveg het, veral Eben Louw, het aanleiding gegee tot die skryf van die boek.
Louw het aan Louis vertel van ouens wat oor die grens van Zimbabwe na Mosambiek toe moes gaan waar hulle twee basisse moes uitwis. Die eerste basis was leeg. Toe gaan hulle verder, sewe stuks, en word vasgekeer deur Frelimo, en hulle luitenant word geskiet. Hulle het daardie lyk ’n week of meer saamgedra, terug oor die grens. Louis meen dat die meeste mense die boek misgelees het.
Hy vertel aan Helize van Vuuren (Suid-Afrikaan, Junie/Julie 1989): “Ek het die verhaal gebruik om ander dinge ook te ondersoek, soos die dood en die waansin. Ek hoop nie dat ’n Basis énigsins ’n positiewe beeld van die oorlog uitdra nie. Dan sou ek beslis totaal die pot misgesit het. Ek hoop ’n Basis illustreer die waansin van oorlog, en die onlogiese, die demoniese van oorlog, van mense wat mekaar doodmaak.” Die boek was in 1985 die naaswenner van die ATKV-prys.
Oor die kwessie van geweld in sy boeke laat Louis hom as volg uit teenoor Helize van Vuuren: “In elke samelewing sit daar ’n stuk geweld. En dit is een van die dinge wat my baie interesseer: hoe subtiel dit kan wees. Dat mense mekaar verskriklike goed kan aandoen, pynlike dinge.” (Suid-Afrikaan, Junie/Julie 1989)
JP Smuts (Die Burger, 25 Oktober 1984) meen dat Krüger in ’n Basis oorkant die grens die spanning baie goed opbou, selfs beter as in sy eerste roman. “Nes in sy voorloper is dit gou duidelik dat die roman méér as avontuur wil gee; dat uiterlike handeling in ’n belangrike mate draer en onthuller van innerlike gesteldhede wil wees. (…) Krüger se poging om verskuiwings binne geykte vertelpatrone te probeer maak, is ’n unieke eksperiment in die Afrikaanse verhaalkuns, maar ongelukkig oortuig dit in belangrike opsigte nie.”
Hein Viljoen (Beeld, 26 November 1984) skryf: “Die roman is nie net brandend aktueel is nie, maar ongelooflik spannend; dit word besonder knap vertel en ontwikkel langsamerhand ’n diep begrip uit die afskuwelikheid van die oorlog. Die storie is ingewikkeld, veral omdat die relaas van die operasie oorkant die grens maar ’n deel van die gebeure uitmaak. Die res bestaan uit die gedagtes van die sewe bosvegters. (…)
“Die boek word fragmentaries aangebied, in flardes herinnering, uit verskillende perspektiewe. Só boots dit die verwarring van die groep na. My vernaamste beswaar teen die boek is dat dit uiteindelik te fragmentaries is en dat die karakters vlak bly. Desondanks is dit ’n belangrike en waagmoedige boek.”
André P Brink (Rapport, 25 November 1984) beskou ’n Basis as ’n “gedurfde poging om uit ’n geweldsituasie te probeer sin maak – verhaalsin, nie didaktiek nie – en daarom ’n verhaal is van ’n jong skrywer wat gewis aandag verdien.”
Louis se eerste jeugverhaal is Murasie in die stad (1984). Dit is die verhaal van ’n wit meisie en twee seuns tussen dertien en sestien jaar oud, en Patrick, ’n swart seun. Die verhaal het die moderne stad as agtergrond en belig die hedendaagse menslike problematiek. Patrick het saam met sy ma vanaf die tuisland stad toe gekom en besoek saam met die wit kinders ’n sogenaamde murasie (’n klipskuiling wat hulle self gebou het) om te ontlug en te gesels. At beskou hom as ’n indringer en eers later kom daar groter meelewing en begrip.
Elsabe Steenberg (Oosterlig, 28 November 1984) meen dat die taalgebruik sonder sprankel is. Louis self vertel aan Thomas van der Walt dat hy nie graag oor die boek gesels nie. “Ek probeer hom maar altyd verswyg.”
Louis se volgende boek is weer ’n jeugboek, Donkerboskind. In die verhaal leer die leser vir Rupert ken wat na sy ma se dood sy sussie, Maja, moet versorg omdat sy pa ’n dronklap is. Hy sluit by ’n straatorkes aan om ’n geldjie te verdien. As hoofkarakter maak Rupert ’n stropingsproses deur wanneer hy sy sussie, aan wie hy baie geheg is, verloor; en wanneer hy Grootskool toe moet gaan, moet hy ook van sy vriende in die straatorkes afskeid neem.
Donkerboskind is tydens die 1985-Sanlamprystoekennings met ’n merieteprys in die kategorie Jeuglektuur bekroon. Die beoordelaars skryf: “Deur middel van ’n verhaal wat spannend vertel word en met personasies met wie jong lesers maklik kan identifiseer, word lewensrealiteite op ’n nie-didaktiese manier boustof vir ’n stuk jeugletterkunde wat meer as slegs verbygaande waarde het.” (Die Vaderland, 4 November 1985)
In 1989 word Donkerboskind in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens, wat op daardie stadium nog ’n student was van die bekende Nederlandse akademikus en kritikus Hans Ester. Hans Ester (Zuid-Afrika, Februarie 1989) meen dat dit ’n pragtige boek is wat sorgvuldig en met ’n suiwer gevoel vir Afrikaans vertaal is. In 1994 het Mirjam Pressler dit in Duits vertaal en hierdie vertaling word in 1995 met die Österreichischer Kinder- und Jugendbuch-Übersetzungspreis bekroon. Die Duitse titel is Sing noch einmal, mein Bruder.
Donkerboskind het ontstaan toe Louis en sy vrou in hul motor na die skrywer Chris Pelser op pad was, vertel hy aan Thomas van der Walt. Van der Walt skryf verder: “Louis het die liedjie ‘Willy and the poor boys’ van Creedence Clearwater Revival op die radio gehoor en vir die eerste keer werklik na die woorde geluister en agtergekom dit gaan oor ’n groep kinders wat op ’n straathoek staan en musiek maak. Hy het self sulke kinders geken en ’n verhaal het begin vorm aanneem. Omdat die karakters vanself geleef het, met hom gepraat het, het die skryf daarvan vlot verloop en was dit binne ’n jaar klaar geskryf.”
Elsabe Steenberg (Beeld, 26 Februarie 1990) meen dat Louis met Son op die water (’n elegie) (1989) die Afrikaanse jeugletterkunde beduidend aanvul. Sy beskryf dit as ’n treursang oor die lewe wat weens oorlogvoering sinloos geword het vir dié wat ’n ruk nog daarna bestaan. “Dit is egter ook veel meer, soos die motto dit in die vooruitsig stel: dit gaan om die verkenning van lewe wat soos ’n rivier steeds voortvloei en waaroor heen en dan weer terug beweeg word. Aanvanklik wil Mannas net wegkom van sy ouerhuis, voordat hy ook, soos hulle, in steriele patrone stagneer. Dan sien hy en Gaai, wat later by hom aangesluit het, hoe die stad deur ’n atoombom verwoes word. Hy draai terug en dit word die ideaal om by ’n groot meer naby moerasse uit te kom.”
Louis vertel aan Thomas van der Walt (Vrystaatse Biblioteke) dat Son op die water ontstaan het toe hy op ’n dag skielik ’n beeld of gedagte gekry het van ’n woonboot wat op water dryf en dat daar kinders op die boot was. “Die eerste impuls of my eerste gedagtes was dat hulle ’n kommervrye bestaan op die boot gevoer het. Ek kan nog spesifiek onthou dat ek ’n idee gehad het van kinders wat ’n kommervrye lewe lei op en om die water soos ’n groep otters. Geleidelik het een van die karakters begin gesig kry en dit was Mannas. ’n Besef het later begin posvat dat die lewe van die karakters tog nie so kommervry is nie, dat daar ’n oorlog aan die gang is. Hulle bestaan was glad nie so paradyslik nie. Langsamerhand het daar ’n verband ontstaan tussen hierdie kinders van my en baie ander kinders wat sonder huislike verband leef. Op die ou end was die grondtoon van die werk kinders wat ontheem is en wat op hulle eie manier probeer om vir hulself ’n tuiste en ’n uitvlug te skep – ’n soort metafisiese poging om weer ’n paradys te skep.”
Louis spreek hom sterk uit teenoor Thomas van der Walt (Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992) oor die tendens waar outeurs doelbewus besluit om ’n verhaal rondom ’n bepaalde probleem soos tienerseks, dwelms, ensovoorts te gaan skryf: “Dit grens vir my aan prostitusie. Ek kan nie dink hoe iemand doelbewus oor ’n bepaalde probleem kan gaan skryf nie. By my werk dit andersom. Ek het ’n verhaal wat ek wil neerskryf en gedurende die skryf meld die probleme hulle eerder aan.” Tog erken hy dat hy doelbewus ’n anti-oorlog-boodskap in Son op die water ingewerk het in Gaai en Mannas se gesprekke oor die oorlog. “Ek hoop maar dit is geïntegreer en nie te opsigtelik nie. Dit is ’n risiko wat ’n mens neem, maar ek wou dit spesifiek in die verhaal gehad het.”
Louis het self Son op die water in Nederlands vertaal. Riet de Jong-Goossens het net sy taal geredigeer. Die twee jeugboeke is in Nederland in oplaes van 3 500 gepubliseer – net soveel as in Suid-Afrika – en die kommentaar op die Nederlandse vertalings was baie positief.
Gevaarlike land word in 1990 uitgegee en word ook deur Riet de Jong-Goossens in Nederlands gepubliseer. Hierdie roman is veel positiewer in Nederland ontvang as in Suid-Afrika. Louis laat blyk teenoor Thomas van der Walt (Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992) dat hy baie ongelukkig gevoel het oor die negatiewe kritiek wat hy van Afrikaanse resensente ontvang het: “Suid-Afrikaanse resensente skryf nie oor die letterkundige kwaliteite van ’n bepaalde werk nie. Hulle soek allerhande goed in die boeke. Omdat ek dikwels maatskaplike aspekte in my boeke aanraak en dit ’n gevoelige senuwee mag wees, is resensies van my werk dikwels negatief. Die negatiewe kritiek op Gevaarlike land skryf ek juis daaraan toe. Mense wil sekere dinge nie hoor nie. Is dit omdat die boek nie gaan oor die geweld in die black townships nie, maar oor die geweld in die blanke psige? Volgens my is dit die rede. Die resensente wil nie daarvan weet nie.”
Gevaarlike land handel oor ’n Afrikaans-gebore Nederlandse sluipskutter, Evert Schepers, wat op ’n moordsending in Suid-Afrika is. Hy moet generaal Frederik Landman, die gevreesde leier van die militêre junta, kom doodmaak.
George Weideman (Die Burger, 19 Maart 1991) voel dat die boek so ’n bietjie op twee stoele sit – die literator s’n en die gewone leser s’n – en dat hy tussendeur sak. “Die vervlegting van veral drie temas – die herskryf van die geskiedenis, die droom van onsterflikheid en die magteloosheid van die mens teen geweld – word wel verhaalmatig goed ingeklee. Ook die verwildering van die mens as ‘politieke slagoffer’; in Landman herken Schepers die donkerte van sy eie eensaamheid.
“Die waarde van die boek? Al voel jy hóé opgewonde oor die ‘nuwe’ Suid-Afrika, durf jy nooit jou waaksaamheid verslap nie. ’n Skrywer kan nóóit sy bewindhebber vertrou nie (…)”
Ia van Zyl (Die Republikein, 12 April 1991) meen die styl én die verhaal is futloos en nie wat ’n mens van Louis Krüger verwag nie: “Die boek as geheel, lyk dit my, bewys weer eens dat die skrywer wat hom op die gebied van die politieke begeef, maklik in die warm water beland.”
Ena Jansen (Vrye Weekblad, 1 Februarie 1991) skryf: “Die skrywer kry dit nie reg om ’n geslaagde onthutsende roman af te lewer nie. Bespiegelings oor hoe Suid-Afrika in die toekoms gaan lyk, is al so talryk, dat – gemeet aan byvoorbeeld Gordimer, Coetzee, Schoeman – Krüger ’n sinistere maar tog te simplistiese scenario kies om te boei. By tye het ek die boek wel spannend en selfs aangrypend gevind, maar daar is te min volgehoue en oortuigende ontleding van enige van die temas.”
André le Roux skryf in Insig van Desember 1990 / Januarie 1991: “[Krüger] probeer van ’n ontspanningsverhaal vir seuns volwasse literatuur maak. Sy uitgewer help hom met die flapteks waarin daar selfs sprake is van ‘’n Kafkaeske wêreld’. Veronderstel die leser ignoreer die soort pretensie en beoordeel die verhaal bloot as ontspanningsverhaal, ligte leesstof waaraan daar so ’n gebrek in Afrikaans is. Dán kan daardie leser waardering hê vir die trefsekere manier waarop Krüger sy verhaal uitbou, vir die spanning wat hy ten spyte van sy held skep. Maar Krüger se hantering van sy stof, sy teks inherent, maak só ’n veronderstelling nie maklik nie. Tot die leser met alle simpatie besef: Só kan dit nie aangaan nie (...)”
Oor hierdie kritiek wat André le Roux op Gevaarlike land uitgespreek het, reageer Louis as volg: “André le Roux het wel ’n baie negatiewe resensie geskryf. Dit gaan oor macho mans. Ek weet nie of dit op dié wyse tot hom gespreek het nie. Origens vind ek kritiek ’n reinigende proses. Ons dra mos almal die verantwoordelikheid vir ons eie oordeel.” (Beeld, 6 Februarie 1992)
Na ’n stilte van ongeveer vyf jaar sien Herinnering aan Agnes in 1995 die lig. Die verhaal speel af teen die politieke situasie in Suid-Afrika net voor die verkiesing van 1994. LS Venter (Beeld, 7 Augustus 1995) som die roman as volg op: “As beroepsfotograaf kry die ek-verteller die opdrag om verslag te lewer van die stigting van die regse Boerenasieparty. Toevallig loop ’n vreemde vrou voor sy kamera in. Hierdie sekonde of twee dat sy kamera se lens oop is, bestem sy latere lewe en geluk. Die verteller word deur die beeld van Agnes bekoor, hy volg haar na haar woonplek, daar is ’n ontmoeting, ’n verhouding, ’n huwelik; dan ’n verwydering, en uiteindelik die dood van Agnes.”
Vir Venter is al hierdie gebeure momente van ’n noodlotsverloop wat begin is deur die mag van die toeval. “Die skrywer se vindingrykheid en inlewing in die komplekse ervaringswêreld van sy karakters boei, maar die vertelling is soms werklik bloot uitpluiserig en koersloos.”
AP Grové (Insig, September 1995) beskryf dit as volg: “Dit is ’n roman wat teoreties goed beplan is, wat boei, wat tot nadenke stem, maar wat in sy konkrete beelding van mens en menslike handelinge tekortskiet.”
In Die Burger (9 Augustus 1995) skryf Louise Viljoen: “Die roman demonstreer hoedat Agnes se patriargale familie-opset (veral die ambivalente verhouding met haar pa) neerslag vind in haar verhoudings met gewelddadige mans en haar aangetrokkenheid tot die regse politiek. Hoewel karakters met regse simpatieë dikwels in die jonger Afrikaanse letterkunde figureer, word hulle selde so geteken dat hulle die leser se simpatie wek. (…) Dit blyk uit hierdie roman – soos uit talle ander die afgelope tyd – dat die storie van die Afrikaner se psigiese geskiedenis nog lank nie klaar geskryf is nie. Krüger gee met sy sober getekende en onderhoudende portret van die gedoemde verhouding tussen twee volslae ‘aparte’ mense ’n blik op die verwikkelde oorspronge en tragiese gevolge van ‘apartheid’ in die mees omvattende sin van die woord.”
Ingrid Glorie sluit haar resensie van Herinnering aan Agnes as volg af: “Dit is ’n ambisieuse roman waarin ’n groot verskeidenheid onderwerpe aangesny word sonder dat alles miskien ewe goed deurdink en uitgewerk is. Louis Krüger kan egter ’n verhaal spannend vertel, daar is mooi momente en die boek bied telkens stof vir oorpeinsing.”
Hans Ester (Zuid-Afrika, Oktober 1995) beskryf dit as ’n meesterlike roman wat toon dat ’n ruskans by ’n skrywer uiters “heilzaam” kan wees.
Louis het self Herinnering aan Agnes in Nederlands vertaal. Oor hierdie proses vertel hy aan Helize van Vuuren: “Dit was vir my ’n noodsaaklike en baie moeilike oefening. Dis een ding om ’n taal te praat en daarin te preek, maar om dit literêr te beheer, is ’n ander verhaal!”
Na ’n letterkundige stilswye van ongeveer veertien jaar word Louis se jongste roman, Wederkoms: die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop, in 2009 uitgegee. In Wederkoms maak die leser kennis met Jannes Hoop, sy armoedige lewe en sy stryd om oorlewing. Dié jongste van vyf kinders, met ’n soeke na aanvaarding by die skool, die verwerking van veral sy pa se dood en sy lewe op die Eiland, word volgens Joan Hambidge (Die Burger, 6 April 2009) delikaat verhaal. “Op behendige wyse word die spel tussen die simboliese en aardse werklikheid volgehou. Hy sien engele en woon op ’n plek genaamd die Eiland.”
Vir Willie Burger (LitNet, 13 Mei 2009) laat Wederkoms hom dink aan Jochem van Bruggen se Ampie en spesifiek aan die beskrywing in die eerste Ampie: “‘Vreemde toestande het hom en sy gesin afgestoot langs die hange wat opklim uit die moerasse van ons armblankedom’ (14).”
Dieselfde kan, volgens Burger, gesê word van Jannes Hoop en sy gesin. Alles – die groot gesin, die pa wat drink, die ma wat weens geboortekomplikasies sterf, opstandige seuns, ’n suster wat swanger raak, die arm kind wat by die skool gespot word, sy gebrek aan sosiale vaardighede – vorm so deel van die stereotiperende dat dit alles baie bekend voorkom. “Enige poging van die Hoops om uit hulle ellende te kom, misluk. Die poging om ’n varkboerdery aan die gang te kry, verteenwoordig uiteindelik al die mislukkings en soos die varke in die modder verdrink, sink ook die Hoops al dieper in die modder van hooploosheid weg. (…) In hierdie wanfunksionerende gesin is Jannes se enigste ervaring van liefde die kere wat sy oudste suster, Greta, haar oor hom ontferm het. Hierdie ervaring van liefde en warmte is egter kortstondig. Greta raak swanger en verlaat die dorp saam met die pa van haar kind. (…) Jannes bly op homself aangewese. Sy huwelik met Myrte is ook van die begin af gedoem tot ’n droewige einde – al besef Jannes dit nie.”
Toe word daar ’n dambouprojek aangekondig. ’n Deel van die gemeenskap is sterk gekant teen die dambouery. “Die bewoners van die Eiland besef aanvanklik nie dat hulle eiland uiteindelik onder water sal verdwyn nie en word deel van ’n veel groter geveg tussen multinasionale maatskappye, die regering wat verleë is vir beleggings deur hierdie maatskappye en die geheimsinnige ekologiese versetgroep, The Templars of the New Earth. Die armes, die gemarginaliseerdes, word deur al die partye gebruik en hulle belange word nie deur enigeen op die hart gedra nie.”
Burger sluit af: “Geen vernuwende taktiek nie, geen indringende analise van skuld, verlossing, van sosiale omstandighede of armoede in hierdie roman nie. Hoewel sommige tonele ontroer, juis deur die onemosionele vertelling, skud die roman nie die ‘outydse’ gevoel af nie en doen dit as reeds gelees aan.”
Thys Human (Beeld, 18 Mei 2009) som sy mening van Wederkoms só op: “Krüger se vermoë om die beskrewe rivierwêreld so atmosferies en oortuigend tot lewe te wek, sy vaardigheid om die onderstrominge in menslike verhoudings trefseker te verwoord, en sy waagmoed om dit wat ongesê is in woord te probeer weergee, maak van Wederkoms ’n leeservaring wat jou lank bybly.”
“Die besondere krag van die roman is die voortdurende spel tussen werklikheid en verbeelding,” skryf Joan Hambidge. (Die Burger, 6 April 2009) “Die roman het ’n bykans allegoriese aanslag wat reeds van die begin aangedui word met die ervaring van die Engele. (…)
“Soos dikwels by romanskrywers is die slot – ten minste vir hierdie leser – ’n te maklike uitweg. Dit is bykans asof die geweldige implikasies en suggesties opgelos word. Dalk is dit juis die bedoeling in ’n sirkelgangteks.
“Wederkoms is ’n pragboek. Ek moet bely dat, ná die tweede lees, ek meer van die persoonlike gevegte teen die buitemagte gehou het. Die roman is ’n implisiete antwoord op CM van den Heever se romans.”
Louise Viljoen (Rapport, 10 Mei 2009) se uiteindelike mening is as volg: “Of ’n mens jouself intellektueel of religieus gesproke kan vereenselwig met Krüger se voorstelling van die wederkoms of nie, is daar geen twyfel dat hierdie roman ’n absoluut meesleurende vertelling is wat met groot skrywerlike vakmanskap, sorg en innerlike oortuiging uitgevoer is nie.”
Louis vertel dat Wederkoms lank by hom gespook het. Meer as sewe jaar gelede het hulle op die eiland Elba gaan vakansie hou en daar gekampeer. Skielik was die verhaal in sy gedagtes en het hy twee dinge geweet: dit moet afspeel by ’n rivier en teen die agtergrond van die wederkoms van Jesus. Dit het hom lank geneem om die roman klaar te maak.
Hans Ester skryf in Zuid-Afrika van April 2001 (toe die Nederlandse uitgawe verskyn het): “Het boeiende aan deze roman is dat de verlossing als uitvloeisel van die menselijke ellende wordt gezien en daardoor voortkomt uit de condities van het menselijke bestaan. Het bovennatuurlijke wordt hier niet op geforceerde wijze en traktaatachtig geïntroduceerd, maar het verschijnt ten diepste verbonden met het leven in de ondermaanse. Louis Krüger heeft het aangedurfd om een in wezen onbeschrijfelijk verschijnsel als de wederkomst van Christus in een roman vorm aan te geven.” Ester meen dat Louis met hierdie roman wat hy in Nederlands vertaal het, bewys gelewer het dat hy in beide Afrikaans en Nederlands ’n gesaghebbende skrywer is.
In 2021, 12 jaar ná die publikasie van Wederkoms, is die manuskrip van Louis se volgende roman, Die verleiding van Eva de Winter, op die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Dit word in 2022 by Human & Rousseau onder dieselfde titel gepubliseer.
Die aanvanklike titel van Eva de Winter was Hunkering, vertel Louis aan Phyllis Green in Sarie: “’n Belangrike ‘onderstroom’ in, en waarskynlik ook een van die belangrikste prikkels wat tot die roman aanleiding gegee het, is die mens se voortdurende knaende oer-verlange na die paradys wat ons verspeel het, en wat baie keer ook gestalte kry in ons verlange na die eenwording met die geliefde, maar wat as gevolg van die kompleksiteit van die man/vrou-verhouding, en sekerlik ook deur die tydsgees, selde vervul word.
“En tog, toe Die verleiding van Eva de Winter by my opkom, het ek redelik gou besef dat dit die eintlike titel van die roman is. En ja, ek dink ook dit is dubbelsinnig.”
Johan van Zyl het Louis in Kaapstad vir ’n onderhoud oor Eva de Winter ontmoet. Van Zyl skryf dat dit die eerste van Louis Krüger se romans is wat in sy werksdorp Rotterdam gesitueer is. Louis is daar ’n “skipperspredikant” en dat ’n mens die man met jeans en tekkies aan nooit as ’n predikant of ’n skrywer sien nie.
Maar, sê Van Zyl, wanneer hy begin praat “as skrywer”, voel dit asof dit eerder die “sagte dominee met die fyngeslypte herdersinstink [is] wat aan die woord is, die een wat nog nooit, ooit in die bestaan van God getwyfel het nie en wat later versigtig vra: ‘Gestel God bestaan, sal jy Hom wil leer ken?’”
Hy was ook baie verras en bly oor die goeie ontvangs wat Eva de Winter in Suid-Afrika gehad het. Oor sy redelike lang literêre swye ná Wederkoms, vertel hy aan Van Zyl dat hy wel aan ’n paar dinge begin skryf het, “maar dit het nie uitgewerk nie. Soos DJ Opperman destyds aan ons by die Letterkundige Laboratorium gesê het: As die beerwelpie dood is, help dit nie die ma bly hom lek en lek nie. Soos vir die meeste ander skrywers is kreatiewe skryfwerk wat ek tussendeur my ander verpligtinge moet inpas.
“Op papier vorm die preke wat ek elke jaar skryf eintlik klaar ’n roman van rofweg 800 bladsye, maar as dit kom by ’n régte roman skryf (…) o, watter stryd is dit nie om onder woorde te bring wat in jou onderbewuste aangaan nie!”
Louis gaan voort om aan Johan van Zyl te vertel: “Jy weet, ek het so ’n mooi en geweldig bevoorregte lewe, maar die waarheid is dat gelukkige mense nie boeke skryf nie. Ek het twee baie moeilike jare beleef – nie Covid nie, dis persoonlike sake, asseblief – maar dit het my op ’n manier voorberei op hierdie boek.
“Ek het geweet Eva de Winter gaan oor owerspel en ‘big data’, en alles het begin by daardie eerste sin: Miskien was die belangrikste kenmerk van hul huwelik: eerlikheid.
“Daardie ironiese, pynlik intense eerlikheid wat mense mekaar kan aandoen, al is die fassinerende ding van owerspelige verhoudings natuurlik dat die partye terselfdertyd in ’n volkome leuen leef en dikwels ook geweldig eensaam is.
“Ek was verder geïnteresseerd in die teenstrydigheid: Het die slang vir Eva verlei? Eva vir Adam? Of was alles totaal andersom?”
Ander kwessies wat in Eva de Winter aangepak word, is “big data” (grootdata) wat, soos Louis dit stel, “die nuwe goud is, slimtoestelle wat jou afluister, verkragting, bedenklik farmaseutiese reuse wat fortuine maak terwyl gesondheid en welsyn nie in die eerste plek oor winsmarges behoort te gaan nie (…)”
In ’n onderhoud wat Naomi Meyer oor Eva de Winter met Louis op LitNet gevoer het, vertel hy meer oor die hoofkarakters: “Die hoofkarakters is Josua, ’n data-ingenieur, Eva de Winter, staatsaanklaer, en Peter Laksman, die verleier. ’n Skrywer hou altyd op die een of ander manier van sy karakters: liefde, haat-liefde, liefde-haat.
“Jy vergeet nooit die dag, die oomblik, wanneer jou karakters uit die donkerte te voorskyn kom nie. Al met die eerste sinne (‘Miskien was dit die belangrikste kenmerk van hul huwelik: eerlikheid. Dié dag het hy hom verwonder aan die openhartigheid waarmee Eva hom vertel het van haar ontmoeting met Peter Laksman (...)’) was die drie belangrikste figure al daar: Josua, Eva, Laksman. En toe al het die owerspel in die lug gehang. Daarna het die boaardse element bygekom, saam met die wete hoe dit sou eindig.”
Louis het die kerntema van die boek só opgesom teenoor Meyer: “Twee beskadigde mense (’n data-ingenieur en ’n vroulike staatsaanklaer) wat verlief raak, ’n situasie van owerspel, die wêreld van grootdata, farmaseutiese bedrog en ’n pedofielnetwerk, ’n noodlottige en tegelyk suiwerende ontknoping.”
Die uitgewers, Human & Rousseau, som die verhaal van Die verleiding van Eva de Winter as volg op: “Josua, ’n rekenaardeskundige, probeer vasstel wie en wat agter die skatryk sakeman skuil met wie sy vrou, Eva, ’n buite-egtelike verhouding aanknoop. Die roman speel af in Rotterdam en fokus op twee soorte eietydse misdaad waardeur Jan Alleman uitgebuit word. Aan die een kant is reuse internasionale farmaseutiese maatskappye besig met konkelwerk en aan die ander kant word kapitalisme toenemend gedryf deur dotcom-firmas wat stilletjies persoonlike data oes en aan adverteerders verkoop. Die roman, wat beskryf word as ’n ‘ragfyn bestekopname van die grys newewêreld in ’n huwelik tussen man en vrou’, was op die kortlys van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2021.” (Rapport, 16 Januarie 2022)
Oor sy navorsing, spesifiek oor die agtergrond rakende grootdata en die insameling daarvan vir Eva de Winter, verduidelik Louis aan Phyllis Green: “Ek moes beslis baie navorsing doen. As jy oor so ’n onderwerp skryf, al is dit net sydelings, moet jy ten minste ’n basiese kennis hê van hoe dit inmekaarsteek.
“Dit was die Josua-karakter wat my in hierdie fassinerende wêreld ingelei het. Maar dan het jy natuurlik altyd nog ’n deskundige uit die praktyk nodig. Toe blyk ’n aangetroude neef van my, Kyle van Wyk, ’n briljante data-ingenieur te wees wat vir Telkom werk, en van hom kon ek baie, baie leer. Ek besef nou ook hoe ver ontwikkel Suid-Afrika op die gebied is. Reg aan die voorpunt.”
Jean Meiring is die resensent in Rapport van 24 April 2022: “Krüger is ’n meesterlike, serebrale storieverteller. Soos in baie min ander Afrikaanse romans, waaronder Eben Venter se roman My simpatie, Cerise (1999), tree hier karakters wat nie Afrikaanssprekend of Suid-Afrikaans is nie, op die verhoog – iets wat met die leesslag ’n vreemd verruimende uitwerking het.
“Juis daarom twyfel ek of die rit Suid-Afrika toe wat in die verhaal ingeweef is, nodig of funksioneel is. Ook kom die terloopse terugverwysings na die pandemie (bladsye 188 en 192) as kontinuïteitsglipse oor, asof die roman al voor die pandemie byna voltooi was en die gegewe nie sonder moeite behoorlik ingewerk kon word nie. Gesien die roman se tematiese klem op onder meer die staat en groot sakeondernemings se mag oor die publiek, moes daar óf iets meer van die pandemie gemaak word óf die verwysings daarna moes volledig weggelaat word.
“Maar dís stofvlekkies op ’n andersins spieëlblink boek. Die verleiding van Eva de Winter is ’n ontstemmende leeservaring, wat die menslike toestand in die skoonste Afrikaans oordink. Dit laat die leser met ’n kop én ’n hart vol vrae agter. En met die versugting na meer as ’n opslagsomer.”
Phyllis Green (Sarie, 28 Maart 2022) beskryf dié roman as “boeiend en ontgogelend. Dit laat jou diep nadink oor die samelewing van vandag, hoe die web ’n integrale en onvermydelike deel van elke mens se alledaagse lewe geword het. ’n Moet-lees!”
Geweld bly ’n onderwerp wat Louis geweldig boei. “Dit is vir my onbegryplik dat ’n mens só kan haat dat hy sy geweer vat en ’n ander doodskiet.” Hy erken ook dat hy bly sal wees as hy weet sy boeke maak mense bewus van die gruwels van oorlog. “Daar is niks heldhaftigs aan oorlog nie. Dit is ’n vuil, laakbare spel,” vertel hy aan Marguerite van Wyk. “As ’n mens ’n predikant is, moet jy oppas om nie moralisties te wees nie. Ek probeer dít wat ek wil oordra in my verhale, so subtiel moontlik doen.” (Beeld, 20 Februarie 1990)
In 1993 het ’n uitgewer in Louis Krüger se gemeente aan hom vertel dat die Nederlandsche TV-organisies Evangelische Omroep (EO) skrywers vir ’n nuwe televisiereeks soek. Sy naam is aan die EO deurgegee. Daar was uiteindelik 500 skrywers van wie 30 genooi is om aan ’n werkgroep deel te neem en Louis was uiteindelik een van agt draaiboekskrywer wat gekies is.
Louis het aan Gawie Keyser (Die Burger, 6 Maart 1993) vertel dat hy in 1992 ’n gesprek met Brümilda van Rensburg gehad het oor die totstandkoming van sepies en TV-dramas: “Ek het voorheen nooit daaraan gedink om dié rigting in te slaan nie. Uit dié gesprek kon ek my voorstel hoe só iets moet werk. Dit lyk toe vir my boeiend en interessant om dit ’n keer te probeer.”
Hy sou egter sy skryfwerk in Nederlands moes doen, maar dit was nie vir hom ’n probleem nie: “Jou taal bly maar altyd Afrikaans, ook jou skryftaal. In my werk gebruik ek egter baie Nederlands; ek praat die taal voortdurend. Dan leer jy ’n taal redelik ken. Ek laat tog ’n Nederlandse oog oor die eindproduk gaan, juis omdat die grens tussen Afrikaans en Nederlands so uiters ingewikkeld loop.”
Geweld is ook sentraal in Louis se werk: die mens is uitgelewer daaraan of moet sy eie geweld leer hanteer, vertel Louis aan Laetitia Pople (Beeld, 6 Februarie 1994): “My antwoord klink seker nou al soos ’n cliché. Ons almal se denke is gerig op geweld en teengeweld. Dit is inherent aan ons samelewing en dit gaan ons almal se ondergang wees. Daar is ook persoonlike elemente in my psige. As ’n kind is ek byvoorbeeld baie ontstel deur rusies. Geweld is ook die Afrikaanse pers se gewildste tema. Hul duidelike gerigtheid daarop ter wille van sensasie. ’n Gesinsmoord word op die voorblad geblerts en nie op bladsy 4 nie. Onreg, verdrukking en vrees sal altyd geweld oproep. Ons laat ook toe dat geweldenaars die leisels van die land oorneem. Suid-Afrika is nie ’n uitsondering nie. As die land deur vredemakers en sagmoediges geregeer word, is ons net duskant die paradys.”
Louis vertel aan Gawie Keyser dat hy baie sterk verbonde voel aan Suid-Afrika. “Ek verlaat die land nooit geestelik nie. Dis ingrypend enersyds, maar die lewe is ingrypend. Ons woon in ’n vreemde land, maar ons woon ook in ’n vreemde wêreld. Die eksistensiële situasie bly dieselfde.” (Boekewêreld, 9 Julie 1997)
Hy erken teenoor Laura Liebenberg (Rooi Rose, 21 Augustus 1996) dat hy elke jaar probeer terugkom na Suid-Afrika en veral na sy wêreld wat so gestroop is van als wat bykomstig is tot die rivier en die hitte. “Die kontras met Nederland is geweldig groot. Die natuur hier is so geil en groen en oorvloedig, die lewe so beskermd. Baie keer verlang ek na ’n stuk eenvoud en wens ek ek is weer terug in die veld, ver weg van alle mense.”
Louis skryf gewoonlik in die nag. Wanneer hy besig is met ’n roman, kom sinne en paragrawe in sy kop en dan moet hy dit dadelik neerskryf. Hy glo ook dat ’n roman groei en homself vertel. Hy glo onwrikbaar in die stelling: “Writing is the art of rewriting”, en hy herskryf sy romans baie maal, want in die herskryf kristalliseer dinge en temas hulle gewoonlik uit.
In 2014 het Louis ’n rol gespeel in die aanbieding van die eerste Week van die Afrikaanse Roman wat in Nederland en Vlaandere plaasgevind het. Ingrid Glorie vertel aan Naomi Meyer op LitNet (30 Mei 2014): “Gelukkig doen ek dit nie heeltemal alleen nie. Dit het daarmee begin dat die skrywer Louis Krüger, wat al van 1984 af in Nederland bly en wat as ’n dominee werk onder skippers in en rondom Rotterdam, my genader het. Ek dink omdat ek die redakteur van Maandblad Zuid-Afrika is. Louis vertel my toe Irma Joubert het planne om in September Nederland toe te kom. Soos jy dalk weet, is Irma se romans in Nederland geweldig gewild by ’n spesifieke doelgroep: die Christelike nismark. Maar daarbuite is sy heelwat minder bekend, hoewel Irma self, dink ek, glad nie bedoel het om Christelike boeke te skryf nie. Dis maar net dat die tyd en die kultuur waaroor sy skryf, aanklank vind by Christelike lesers in Nederland. Louis wonder toe of ons Irma se koms nie kan aangryp om iets te organiseer rondom Afrikaanse romans, sodat Irma ook aan ’n breër Nederlandse leserspubliek bekendgestel kan word nie. So het die idee vir ’n ‘Week van de Afrikaanse roman’ ontstaan.”
Wanneer Louis gaan aftree, weet hy nog nie. En dan vertel hy aan Johan van Zyl oor sy lewe in Nederland en in mindere mate ook in Suid-Afrika: “Dit is regtig een van die kosbaarste en verrykendste dinge omtrent my lewe: om in die Eerste én Derde Wêreld te kan leef. Vir my is Afrika jonk en energiek en dus die Eerste Wêreld. Europa is oud, afgeleef en op die rand van oorlog – die Derde Wêreld. Maar vir my het die wêreld ieder geval minstens vyf keer kleiner geword. Ons twee seuns is Nederlands, maar hulle is mal oor Suid-Afrika. Albei het nou saam met my besoek afgelê en my oudste seun het vir hom ook ’n Suid-Afrikaanse paspoort gekry.
“Die natuurskoon en helder sterrehemel, ’n veel vryer samelewing, baie meer ruimte (…) daar is ’n vrolikheid en ontspannenheid hier, terwyl baie Nederlanders eintlik onder ’n kaasstolp lewe. Hier sien jy die shacks in die strate, die lewe is rouer, jy voel die bloed in jou are. Maar alles hang af van wat die Baas sê.”
Publikasies:
|
Publikasie |
Die skerpskutter |
|
Publikasiedatum |
1981 |
|
ISBN |
0624016005 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Eugène Marais-prys 1982 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
’n Basis oorkant die grens |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624020827 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Murasie in die stad |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Donkerboskind |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Sanlam-prys vir Jeuglektuur Silwer, 1985 |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Son op die water (’n elegie) |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0624027600 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens, 1989 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Gevaarlike land |
|
Publikasiedatum |
1990 |
|
ISBN |
0624029611 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens, 1991 |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Herinnering aan Agnes |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
0624033821 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Nederlands vertaal deur outeur 1996 |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
|
Publikasie |
Wederkoms: die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop |
|
Publikasiedatum |
2009 |
|
ISBN |
978798149976 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
2001 Nederlands – Wederkomst deur Louis Krüger |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Bekroonde vrou: vryheid in vrouwees – ’n geestelike reis |
|
Publikasiedatum |
2009 |
|
ISBN |
9700796308627 (hb) |
|
Uitgewer |
Wellington: Lux Verbi BM |
|
Literêre vorm |
Geestelike lektuur |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Artikels oor Louis Krüger beskikbaar op die internet
- Afrikaans author beats the boycott. Pretoria News, 28 Desember 1988
- Afrikaans writer’s novel publishes in Holland. The Argus, 5 Januarie 1989
- Keyser, Gawie: Krüger skryf draaiboek vir Nederlandse TV-diens. Beeld, 18 Februarie 1993
- Keyser, Gawie: Louis die sagmoedige dominee-skrywer. Boekewêreld, 9 Julie 1997
- Keyser, Gawie: Nuwe TV-fase vir Louis Krüger. Die Burger, 6 Maart 1993
- Krüger, Louis: Een debat over taal, cultuur en betrekkingen. Zuid-Afrika, Junie 1992
- Krüger, Louis: Wat maak ons dominee daar? De Kat, Augustus 1985
- Le Roux, André: Deurbraak vir twee jong Afrikaanse skrywers. Die Burger, 6 Januarie 1989
- Le Roux, André: Louis Krüger kyk skerp na sy land. Die Burger, 17 Februarie 1990
- Liebenberg, Laura: Oor Afrikaans. Rooi Rose, 21 Augustus 1996
- Louis Krüger
- Louis Krüger
- Louis Krüger
- Louis Krüger
- Nel, Adèle en Wybenga, Gretel: Gesprek tussen twee kontinente: Louis Krüger met Marnix Gijsen
- Pople, Laetitia: Skryf is ’n oerkreet, sê Louis Krüger. Beeld, 6 Februarie 1992
- Prinsloo, Koos: Geweld, oorlog die tema. Oggendblad, 10 September 1982
- Prinsloo, Koos: Skerpskutter van die woord: ’n onderhoud met Louis Krüger. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1983
- Van de Langenberg, Laura: Gerig op die kern van die lewe. Taalgenoot, Januarie 1997
- Van der Walt, TB: Louis Krüger. Vrystaatse Biblioteke, Oktober–Desember 1992
- Van Vuuren, Helize: ’n Mens moet jou eie waarheid soek: onderhoud met Louis Krüger, Afrikaanse skrywer in Holland. Die Suid-Afrikaan, Junie/Julie 1989
- Van Wyk, Marguerite: SA kind bra sku vir boeke. Beeld, 20 Februarie 1990
- Van Zyl, Johan: As die Baas praat. Rapport, 8 Mei 2022
- Vertel vir die Afrikaner wat aangaan, sê dominee. Vrye Weekblad, 13 Januarie 1989
Louis Krüger se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-01-26 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


