Vernuwing ontbreek in Louis Krüger se Wederkoms

  • 0

Titel: Wederkoms. Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop
Outeur: Louis Krüger
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780798149976
Bladsye:
128
Datum uitgereik:
Maart 2009

Klik hier en koop Wederkoms. Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop nou van Kalahari.net!  

 

1

Louis Krüger se nuwe roman, Wederkoms. Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop, het my dadelik aan Jochem van Bruggen laat dink. Spesifiek aan Ampie. In die eerste Ampie (die eerste roman in die trilogie) word Ampie se gesin só beskryf: "Vreemde toestande het hom en sy gesin afgestoot langs die hange wat opklim uit die moerasse van ons armblankedom" (14).

Die sin geld byna net so vir Jannes Hoop se gesin. Ook hier het "vreemde toestande" die gesin afgestoot tot in die moerasse van armoede. Elize Botha se beskrywing in Perspektief en Profiel (1990:650) van Van Bruggen se Ampie as "'n kind in 'n moeras van armoede en wanorde, met sy hunkering om as mens gereken te word", geld eweneens vir Jannes Hoop. Uit diepe eensaamheid hunker Jannes daarna om as mens gereken te word. Sy van, wat dui op hoop dat hy wel uit hierdie moeras van 'n moederlose gesin, drinkende pa, rowwe broers en verwerping deur skoolmaats gaan uitstyg, bly egter onvervul. Die hoop beskaam.

Die stereotiepe beeld wat baie mense oor die ouer Afrikaanse prosa koester, is van die oorheersende armoede en gesukkel van boere (of bywoners) wat moet veg teen droogtes, sprinkane en inhalige geldskieters, of op werkers wat onder haglike omstandighede uitgebuit word deur die nywerhede en myne (die kapitaliste van die grootstad). Op soortgelyke wyse is ook die "lewe en geskiedenis van Jannes Hoop", 'n geskiedenis van 'n lewe waarin elke hoopvolle wending, elke poging om uit die armoede te ontsnap, uitloop op 'n verdere ramp.

Die groot gesin, die pa wat drink, die ma wat weens geboortekomplikasies sterf (omdat die dokter te laat daar uitkom), 'n pa wat sy gesin en kinders afskeep en by ander vrouens rondloop, opstandige seuns wat selfs later met die pa handgemeen raak, 'n suster wat swanger raak en wegloop na 'n ander dorp in 'n poging om uit die omstandighede te ontsnap, die arm kind wat by die skool gespot word en alleen is weens sy armoede, sy stink asem, sy gebrek aan sosiale vaardighede, is alles deel van 'n opset wat sodanig by die stereotipe aansluit dat dit alles as bekend aandoen.

Enige pogings van die Hoops om uit hulle ellende te kom, misluk. Die poging om 'n varkboerdery aan die gang te kry, verteenwoordig uiteindelik al die mislukkings en soos die varke in die modder verdrink, sink ook die Hoops al dieper in die modder van hooploosheid weg.

2

Hoewel 'n eksterne verteller in die roman aan die woord is, is die roman eintlik 'n vertelling van die lewe van Jannes Hoop uit sy eie perspektief. Aan die begin van die roman is hy swaar gewond en sterwend. In die teenwoordigheid van engele wat aan hom verskyn, "het alles deursigtig geraak" (11). Die deursigtigheid stel hom in staat om selfs sy ma, "die vrou wat hy nooit geken het nie" (11), voor sy eie geboorte waar te neem. (Krüger se vertelwyse sluit aan by die verteltegniek wat hy in Basis oorkant die grens aangewend het – waar die verteller sterf in die aanval waarmee die roman open en steeds verder vertel.) Die verteller wat so digby die karakter staan, maak ironie moontlik – die leser kry 'n bietjie meer inligting as slegs Jannes se kennis en begrip van sy eie situasie.

Jannes Hoop is eensaam. Sy pa het nie 'n goeie verhouding met enige van die kinders nie en Jannes is die enigste kind wat nie sy pa openlik teëgaan of verwerp nie. Anders as sy broers, wat hulle pa 'n loesing gee onder aanmoediging van sy suster, haat Jannes nie sy pa nie. Hy bejammer eintlik sy pa: "As jy iemand jammer kry, hoef jy nie meer te vergewe nie. Jy's al verby dié punt" (53).

In hierdie wanfunksionerende gesin is Jannes se enigste ervaring van liefde die kere wat sy oudste suster, Greta, haar oor hom ontferm het. Hierdie ervaring van liefde en warmte is egter kortstondig. Greta raak swanger en verlaat die dorp saam met die pa van haar kind. Wanneer Jannes later van die huis af wegloop na haar toe, besef hy dat die toegeneentheid ook maar beperk was, dat sy eensaamheid nie deur haar opgehef kan word nie. Hy keer alleen terug na die hopelose Hoop-huishuiding in een van die werklik roerende dele van die roman.

Jannes bly op homself aangewese. Sy huwelik met Myrte is ook van die begin af gedoem tot 'n droewige einde – al besef Jannes dit nie. Dieselfde "deursigtigheid" wat die engele se teenwoordigheid vir Jannes ten opsigte van sy ouers bring, geld nie vir Myrte nie. Hy bly in onbegrip, ook nadat die leser al besef wat Myrte se huislike omstandighede is. Selfs wanneer sy swaer opmerk dat almal vir Jannes 'n "drol" noem omdat hy nie Myrte se agtergrond verstaan nie, is hierdie inligting vir Jannes 'n skok.

Nietemin is daar by Jannes 'n herstel van hoop deur Myrte, deur haar seun, Bas, maar veral wanneer Jannes ervaar dat hy in die kerk aanvaar word. Op 'n manier herinner hierdie aanvaarding wat Jannes in die kerk vind, ook aan Van Bruggen. In Van Bruggen se kortverhaal "Org Basson" sien Org aanvanklik nie kans om 'n ouderling te word nie, juis omdat hy so arm is en minderwaardig voel. Wanneer hy egter later wel in die amp bevestig word, verkry hy geleidelik selfs 'n bietjie status en erkenning onder die mense, en ook selfrespek.

Jannes vorder nie in dieselfde mate as Org Basson binne die gemeenskap nie, maar hy kry tóg meer selfrespek as hy 'n mate van geborgenheid in die gemeente vind. Uiteindelik neem sy kennis van die Bybel en sy ervaring van die Christelike boodskap dermate toe dat hy selfs die pastoor se woord en die "profesie" tydens 'n byeenkoms openlik teëgaan. In hierdie uiteindelike verset lê Jannes se hoop – die hoop om verby alle hooploosheid te kan reik – 'n hoop wat uiteindelik nie beskaam word nie (soos die verskyning van die engele bevestig).

Die roman herinner ook aan een van die sterk Vlaamse invloede op die Afrikaanse romans van die twintiger- en dertigerjare, naamlik die werk van Stijn Streuvels. In Streuvels se roman, De teleurgang van de waterhoek (1927), het die aankondiging dat 'n brug by 'n klein dorpie gebou gaan word, 'n groot impak op die inwoners. Die inwoners van die dorp word radikaal verdeel. Sommige wil betrokke raak by die brugbouprojek (al is dit net om den brode), terwyl ander dit vurig teenstaan omdat hulle besef dat die effek van die brug op hulle dorpie 'n onvermydelike verandering en modernisering sal meebring.

In Wederkoms het die aankondiging van 'n dambouprojek 'n soortgelyke effek op die arm bewoners van 'n eiland in die Oranjerivier. (Die ruimte word vaag gehou; die eiland waarop Jannes se arm gemeenskap woon, word beskryf as sowat 50 km "stroom-af" van Aggenys (179), al is Aggenys nie werklik aan die rivier nie.) Jannes Hoop se gesin is, soos die ander Eilanders, afhanklik van "Die Koöperasie" vir werk. 'n Aantal mense verlaat die koöperasie se diens om by die damprojek, waarheen hulle met beloftes van goeie betaling gelok word, te gaan werk. 'n Deel van die gemeenskap staan ook die dambouery vurig teen en word uiteindelik ondersteun deur 'n skimagtige groep, die Templars of the New Earth ('n soort militante Greenpeace). Hierdie groep deins nie daarvoor terug om geweld te gebruik om die regering se dambouplanne te stuit nie.

Die bewoners van die eiland besef aanvanklik nie dat hulle eiland uiteindelik onder water sal verdwyn nie en word deel van 'n veel groter geveg tussen multinasionale maatskappye (wat geneties-gemanipuleerde kos onder besproeiing wil kweek), die regering wat verleë is vir beleggings deur hierdie maatskappye, en die geheimsinnige ekologiese versetgroep. Die armes, die gemarginaliseerdes, word deur al die partye gebruik en hul belange word nie deur enigeen op die hart gedra nie.

Van Bruggen het ook die vergelykbare sosiale vraagstukke van sy dag oopgekrap. Dit lyk asof Wederkoms met die sosiale en ekonomiese probleme van ons tyd – die arm arbeider in die geglobaliseerde ekonomie en die prys van verset teen globalisering – bemoeienis maak. 'n Mens kry dus die hoop dat hier wel 'n ontginning van 'n nuwe tema sal wees. Die verwysings na groot maatskappye wat eintlik die regering beheer en die verset van die geheimsinnige Tempeliers, maak interessante moontlikhede oop. Hierdie moontlikhede word egter baie oppervlakkig aangeraak en my paar paragrawe daaroor is al meer as wat die roman daarvan maak.

Die tyd waarin die verhaal afspeel, word nie gespesifiseer nie. Daar is aanduidings dat die roman in 'n toekomstige Suid-Afrika afspeel waarin die geheimsinnige Tempeliers reeds sukses behaal het teen multinasionale maatskappye: "Hulle kies een multinational op 'n keer en dwing hom op sy knieë. Hulle eerste oorwinning was oor Shell in Nigerië, toe oor Microsoft en McDonald's. Ook die val van Nike is grotendeels aan hulle te wyte" (206).

Dit blyk ook (eers baie diep in die roman) dat daar TV's en radio's is, maar die tegnologie het absoluut geen impak op die lewenswyse van die arm inwoners van die Eiland nie. Niemand kyk eens sepies nie. Die Suid-Afrikaanse politiek word hoegenaamd nie betrek nie. Benewens 'n paar karakters wat klaarblyklik nie Westerse name het nie, is dit onmoontlik om die regeringsministers of inwoners van die Eiland van enige Van Bruggen-roman te onderskei. Hulle leef soos die Ampies van die ou Afrikaanse romans. Die gevolg is dat die verwysings na wêreldgebeure – konflik in die Midde-Ooste, die multinasionale maatskappye of die Tempeliers se verset teen globalisering – as anachronismes aandoen. 'n Gemeenskap en 'n vertelwyse waaraan die muf van die ou Afrikaanse romans kleef, word nie oortuigend opgewarm deur hierdie verwysings nie.

Uiteindelik is die sosiale en ekonomiese vraagstukke, asook die politiek van ekologie, bysaak. Jannes se terugskoue oor sy lewe gaan ná alles nie oor die ondersoek van sosiale omstandighede nie, dit gaan oor sy persoonlike groei. Dit is die geskiedenis van 'n persoon wat in absolute eensaamheid lewe. Die hoop dat sy eensaamheid opgehef gaan word in sy verhouding met Myrte, beskaam. Sy is te kompleks en hy verstaan ook nie haar omstandighede nie. Sy kan nie met hom kommunikeer nie, en juis hierdie eensaamheid van die twee mense wat saam leef en 'n kind het, is skreiend. Die stilte tussen hulle met die sin van voorbode oor 'n onvermydelike ramp is tóg, te midde van so baie geyktheid en clichés, uiteindelik roerend.

Die tema van skuld word ook ontwikkel. Jannes voel skuldig oor die dood van sy skoonpa waartoe hy bygedra het. Hy voel skuldig oor sy vrou se selfmoord. Uiteindelik gaan die roman eintlik oor sy groei van iemand heeltemal buite kerke en geloof – onder leiding van Myrte – tot deel van die gemeente.

Uiteindelik word hy tog uitgewerp as hy redeneer dat die pastoor se profesie dalk nie waar kan wees nie, dat verset nie die hart van die Evangelie is nie, maar om die ander wang te draai – dat die Ou Testament gaan lei tot 'n katastrofe. Uiteindelik is Jannes weer alleen, verwerp deur die gemeente waar hy 'n mate van geborgenheid gevind het; maar wanneer sy laaste uur aanbreek, is hy tog nie eensaam nie, want die engele is by hom.

Geen vernuwende tematiek nie, geen indringende analise van skuld, verlossing, van sosiale omstandighede of van armoede in hierdie roman nie. Hoewel sommige tonele roer, juis deur die onemosionele vertelling, skud die roman nie die "outydse" gevoel af nie en doen dit aan as reeds gelees.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top