
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Lostorring
Skrywer: Jadrick Pedro
Uitgewer: Turksvy Publikasies
ISBN: 9781997460077
Lostorring van Jadrick Pedro het my getref soos ’n onderhoud met iemand wat lankal moes praat. Dit is nie ’n bundel wat net gelees word nie, dit is ’n ervaring. Die gedigte beweeg deur trauma, identiteit, manlikheid en oorlewing, maar sonder drama of pretensie. Dit is eerlik. Dit is rou. Dit is herkenbaar.
Wat vir my besonders was, is hoe sy stem nooit losstaan van ander mense nie. Trauma bestaan nie in ’n vakuum nie. Dit gebeur in families, in gemeenskappe, in ruimtes waar mense mekaar dra, soms seermaak, en soms red. Dit het my laat dink aan die belangrikheid van konneksie, selfs wanneer die storie swaar is. Want sonder konneksie is daar nie getuies van ons pyn nie, maar ook nie van ons oorlewing nie.
In my eie werk met families en met stories van kinders en ouers, weet ek dat trauma dikwels juis daar gegroei het waar konneksie gebreek is. Lostorring wys vir my die ander kant: dat die deel van ’n storie, hoe pynlik ook al, ’n manier kan wees om verbintenis te versterk. Om te hoor en gehoor te word, is selde net ’n literêre ervaring. Dit is ’n menslike een.
Ek het die bundel toegemaak met ’n gevoel van respek. Ek sal Lostorring aanbeveel vir enigiemand wat belangstel in poësie wat nie net versier nie, maar blootlê, en vir dié wat verstaan dat genesing soms begin by die eenvoudige daad van ’n storie vertel. Dat niemand vir iemand anders heel kan maak nie, maar dat ons teenwoordig kan wees in mekaar se stories, seer en groei. Dis die saam sit, die luister, die getuieskap. Die vorm van verbintenis, al is dit hoe klein, wat maak dat ’n mens nie alleen hoef te dra nie. Vir my is dit alreeds ’n vorm van heling.
Lostorring is ’n absolute moet-lees.


