Losprys
Martin Steyn
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799390889
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Wie my ’n bietjie ken, weet ek kyk altyd na die groot geheel. Waar begin dié? Jy wandel tussen die boekwinkel se rakke en skielik val jou blik op ’n sekere boek. Wie dink die mens kan net kos koop deur alle sintuie te gebruik, is verkeerd. Boekliefhebbers en passievolle lesers weet presies waarvan ek praat.
As ons na hierdie boek se omslag gaan kyk, lyk dit asof ons deur ’n ou geel glasskerf moet kyk. Daar is baie skrape. Die sig is beperk, voorwerpe is nie duidelik te siene nie. Nogtans betrap ons ons telkemale dat ons weer deur dié skerf gekyk het. Die wêreld daaragter is te aantreklik, te geheimsinnig. Flame Design kry dit weer reg om deur ’n treffende omslagontwerp ’n sekere gevoel te skep. ’n Blik op stukkendgeskraapte mense se siele.
Losprys is Martin Steyn se nuwe misdaadriller. Steven Gordon, die slagoffer, is ’n tienerseun van ’n Amerikaanse gesin. Hy loop gereeld af na die rotse in Llandudno, maar hy raak weg en sy foon is af. Toe bel iemand die ouers: “Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”
Die ouers besluit nogtans om die polisie te betrek, maar hulle sal later wonder of dit die regte besluit was. Die situasie is baie uitputtend vir die ouers. Hulle moet verskeie kere dieselfde vrae beantwoord. Daar is protokolle en voorskrifte wat hulle moet volg, maar dis te frustrerend. “Hou op rondfok en kry my seun!” is dus heeltemal te verstane.
Terwyl almal aan die soek is, trek die onderhandelingspan by die gesin se huis in. Adjudant Karla Blanckenberg is die hoofonderhandelaar. Nadat die span hulle tegniese toerusting opgestel het, kan hulle net vir die ontvoerder se volgende oproep wag.
Daar is hy nou:
“Twintig miljoen rand en jy kry jou seun terug,” sê die stem in Engels. “Ek wil dit ...”
“Jy praat met Karla Blanckenberg. Ek is ’n onderhandelaar by die polisie.”
Die foon gaan dood, en toe is daar vir ’n rukkie stilte. ’n Trosbom is oopgemaak. Die ontvoerder bel daarna vir die vader en sê vir hom hy het ’n groot fout gemaak deur die polisie te betrek. Die situasie word al hoe meer gespanne en al hoe meer emosioneel in die vertrek waarin almal bymekaar sit. Die vader wil graag hê almal moet dadelik vertrek, want hy verwyt die span dat hulle geen beheer oor die situasie het nie. Die hoofdoel is om vir Steven veilig terug te kry en nie om ’n lyk in die veld te vind nie.
“En die beste manier om dit te doen is om opgeleide onderhandelaars te hê wat stadig die kaarte by die ontvoerders wen.”
Heath Gordon se kaakspiere bult. “My seun is nie ’n poker hand nie.”
Die leser sit sommer ook in die vertrek en kyk na al die onthutste gesigte, en hy begin sweet oor die argument se resultaat.
Dit gaan om ’n losprys. Die saak verander dus na menseroof, ’n hoëprofielsaak. Enzo Ariefdien word aangewys as die ondersoekbeampte. Hy verkies moorde en dooie slagoffers, maar nou hy het ’n vermiste kind se lewe in sy hande en dis iets wat hy nie wil hê nie. Boonop word druk op hom geplaas. Aan die een kant is daar Steven se desperate ouers en aan die ander kant sy ambisieuse kaptein. “Ek wil hê jy moet hom breek,” sê hy vir Ariefdien. Ariefdien sukkel om balans te vind tussen sy beroep en om vader en eggenoot te wees.
Ons sal vir Karla Blanckenberg nie net as ’n opgeleide onderhandelaar leer ken nie, maar ook as iemand wat haar eie demone het. Sy veg teen demone waarvan sy gedink het hulle is verslaan, en daardie demone het hulle nou weer in haar tuisgemaak. Nog ’n trosbom.
Toe is daar nog ’n joernalis. Sy kontak Karla Blanckenberg met inligting wat sy nie behoort te hê nie. Sy dreig om die storie te publiseer. Waarvandaan kom al die inligting? Is daar ’n lekkasie by die polisie? En sal sy die polisie se planne in duie laat stort? Al weer die gefluit van ’n trosbom.
Steyn is ’n uiters noukeurige beskrywer. Dit maak dat lesers hulself sekere situasies gou kan verbeel. Ons beland reguit in Steyn se storie. “Twee wit skoenlappers dwarrel om mekaar langs die pad, want dis mos amper lente, al lyk dit nie so met die grys lug en saamgepakte wolke nie.” ’n Mens voel dadelik die son op jou neus op ’n lentedag en verlustig jou in al die lentebodes.
Wanneer Steyn skryf: “Die woorde kom outomaties, proe soos karton in haar mond,” proe die leser karton in sy mond.
“Hy vat ’n koppie koffie, stamp dit twee keer op die toonbank, hou dit skuins en gooi die melk stadig in sirkels by. […] Hy gooi ’n kol melk in die middel. […] Nog ’n kol kom by, maar hy skuif dit op ’n manier sodat die eerste een rondom sprei, soos ’n C. […] Hy gooi ’n vierde kol by sonder om dit te skuif, trek net ’n lyntjie met die melk af deur die prentjie.” Hierdie beskrywing maak dat die leser saam aan die toonbank sit.
Die skrywer bewys telkens ’n sin vir fyn besonderhede, maar hy verloor hom nie daarin nie.
Martin Steyn se boeke word gekenmerk deur deeglike wetenskaplike en sielkundige navorsing en outentieke dialoë, en die uitstekende beskrywings van dinge, situasies en persone laat al dié goed voor die leser se oë verskyn. Steyn verskaf groot leesgenot.
Die geneë leser is seker hiermee vertroud uit eie ondervinding: “Dinge loop baie maklik verkeerd. En dan verander alles.”
Gaan vind uit wat die trosbom is.
- Alexander S Mickel is ’n Duitser wat homself Afrikaans geleer het.
Kommentaar
Jy verstom my telkens, Alexander!