"Los ons kinders uit!" sê skrywers aan pedofiele

  • 0

Fotobron: Canva

Kort nadat ek dié baie interessante en insiggewende voorlegging deur Rushiella Songca en Michelle Gail Karels op LitNet Akademies (Regte) onder oë gehad het waarin geregtelike en wetgewende reaksies op seksuele misdade deur en teen kinders in Suid-Afrika en die potensiële gebruik van herstellendegeregtigheidspraktyke ondersoek word, het ’n kopie van Protecting your child from predators (Bethany House) op my lessenaar beland.

Geregtelike en wetgewende reaksies op seksuele misdade deur en teen kinders in Suid-Afrika en die potensiële gebruik van herstellendegeregtigheidspraktyke

Die lees van hierdie boek, asook die onlangse mediadekking oor die Britse sosiale vlinder Ghislaine Maxwell wat op 2 Julie 2020 in hegtenis geneem is op verskeie aanklagte watverband hou met die seksuele mishandeling van jong vroue en meisies deur Jeffrey Epstein, het my diep geraak.

’n Gedeelte van die klagstaat teen Maxwell lees volgens hierdie artikel glo só:

From at least in or about 1994, up to and including at least in or about 1997, Maxwell assisted, facilitated, and contributed to Jeffrey Epstein's abuse of minor girls by, among other things, helping Epstein to recruit, groom, and ultimately abuse victims known to Maxwell and Epstein to be under the age of 18. The victims were as young as 14 years old when they were groomed and abused by Maxwell and Epstein, both of whom knew that certain victims were in fact under the age of 18.

Seksuele predatore is daarop uit om jag te maak op ons kinders. Hierdie aanslag word by die dag feller en is tekenend van die siek samelewing waarin ons (en die res van die wêreld) leef. Die bovermelde voorlegging deur Songca en Karels stel dit só: “Seksuele misdrywe teen kinders en seksuele misdrywe deur kinderoortreders is ’n multidimensionele verskynsel wat veroorsaak word deur maatskaplike, ekonomiese en ander faktore.”

Daar gaan haas nie ’n dag verby dat daar nie berig word oor nóg ’n kind (selfs babas!) wat seksueel misbruik is nie. Ons lees ook gereeld van persone wat gearresteer word omdat hulle kinderpornografie besit of versprei. Songca en Karels beklemtoon:

Alhoewel die media en statistiekverslae dui op ’n toename in die aanmelding van gevalle van seksuele mishandeling van kinders, is ons van mening dat daar baie meer gevalle is wat nooit aangemeld word nie. Mediaberigte is gewoonlik gegrond op gerapporteerde sake en waar die oortreders óf skuldig bevind is aan die misdrywe óf skuld aan die misdrywe erken het. Ongerapporteerde sake gaan dus vir die strafpleging verlore.

Al hoe meer volwassenes, soos die oudpolitikus Pierre-Jeanne Gerber, kom ook na vore en erken dat hulle as kind seksueel misbruik is. Lees gerus Jean Oosthuizen se artikel hieroor wat op Voertaal verskyn het:

Oud-LP sê boer het hom as kind gemolesteer

Wat veral onrusbarend is, is die feit dat pedofiele as doodgewone, goeie mense onder ons skuil, boonop dikwels in vertrouensposisies waar hul maklik toegang het tot kinders. Gewoonlik is hulle ook nie gesiglose vreemdelinge nie, maar juis mense (manlik of vroulik) wat aan hul slagoffers bekend is.

Latayne C Scott, ’n bekroonde skrywer van Christelike lektuur, en Beth Robinson, ’n gelisensieerde en professionele berader, gee in Protecting your child from predators waardevolle wenke aan ouers om ouderdomtoepaslike gesprekke met hul kinders te hê oor seksuele predatore wat op loer mag lê. Scott en Robinson is dit eens dat kinders bemagtig kan word om krygerharte (warrior hearts) te hê, maw kinders kan geléér word om gereed te wees (en die moed te hê!) om met gesag “Nee!” te sê wanneer ’n molesteerder hulle nader.

Seksuele misdrywe teen kinders figureer ook dikwels in plaaslike letterkunde. Suid-Afrikaanse skrywers wat standpunt inneem teen die seksuele misbruik van kinders is onder andere Hans du Plessis, Fanie Viljoen, Christine Barkhuizen-Le Roux, Wendy Maartens en Sidney Gilroy. Hierdie dapper skrywers het in hulle onlangse boeke die kollig geplaas op pedofiele wat op kinders se onskuld teer. Hiermee dek hulle die tafel vir ’n broodnodige gesprek oor hoe ouers én kinders bemagtig kan word om ’n standpunt in te neem teen molestering en ook hulp kan kry.

Die opstand van Poppie Nel (LAPA)

Hans du Plessis se Die opstand van Poppie Nel vertel die aangrypende verhaal van ʼn meisie wat sedert haar kinderjare deur die pastoor van hulle kerk religieus mislei en seksueel misbruik word. Die pastoor oortuig haar dat alles wat tussen hulle gebeur, die wil van God is en deur boodskappe direk van die hemel af aan hom geopenbaar is. Poppie gesels oor haar ervaring met ene dominee Lukas en só ontdek die leser hoe sy oor etlike jare heen seksueel voorberei is (in Engels praat hulle van sexual grooming) deur haar molesteerder. Hieroor merk Du Plessis tereg op: “Verkragting is ’n daad, molestering ’n proses.” Op die voorplat ruk die volgende opmerking die leser tot stilstand en bring die gruwel van hierdie misdaad tuis: “Die wreedste moord van alle moorde is dié waar die slagoffer ná die moord moet bly lewe.”

Dit was vir Du Plessis emosioneel uitputtend om die boek te skryf, en hy het meer as een keer oorweeg om tou op te gooi. Die wete dat die werklike Poppie, wie se lewensverhaal die inspirasie agter die roman is, daarop reken dat die oopskryf van haar verhaal ander slagoffers kan help, het hom laat deurdruk. Hy het ook jare tevore ʼn student wat nóg erger seksuele misbruik ervaar het, gehelp om as terapie haar ervaring neer te skryf. Verder het hy navorsingsartikels en studies oor die onderwerp gelees en met joernaliste gesels wat sulke hofsake moes dek, byvoorbeeld met Veronica Fourie wat die Timothy Omotoso-verkragtingsaak vir die SAUK dek.

Sy raad aan slagoffers is: “Praat, praat, praat! As jou ouers jou nie glo nie, praat met ʼn onderwyser of bel die hulplyn.”

Klikbek (Human & Rousseau)

Sidney Gilroy se spanningsverhaal Klikbek is volgens hom ’n familieportret van moderne Suid-Afrika. ’n Groentjiespeurder kry opdrag om na ’n skatryk, vermiste boer te soek. Hy vind egter baie meer as waarop hy gereken het op die Vrystaatse dorpie Rhynveld, waar donker familiegeheime en -vetes met verwoestende gevolge swaar op die nageslagte druk. ’n Karakter wat as kind seksueel misbruik is, word uitgebeeld as ’n gekwelde jong man, deurmekaar oor sy eie seksualiteit en kwalik in beheer van sy gevoelens en, uiteindelik, sy lewe. Sidney reken die kruks lê juis daarin dat mans, gebroke mans, nie sommer gebroke is om geen rede nie. Iets moes met hulle gebeur het; of iemand moes betrokke gewees het.

Hy noem dat kindermolestering as sulks nie bedoel was om ’n sentrale tema in die boek te wees nie. Hy wou manlikheid in sy verskillende vorme, en veral die ongeskrewe broederband tussen mans (van klein seuntjies tot volwasse mans) ondersoek. Hy wou kyk na die toksisiteit wat dit in die samelewing teweeg kan bring en jong seuns in gekwelde volwassenes kan verander. Navorsing het hom egter laat besef dat kindermolestering sentraal staan in die uitkomste om gebroke mans vir die samelewing te lewer.

Tydens die skryf van Klikbek, het Sidney met drie volwasse mans – ’n baie suksesvolle besigheidsman, ’n sukkelaar en ’n professionele sportspeler – gesels wat as kinders gemolesteer was. Die gevalle is nooit aangemeld nie. Van al drie is verwag om dit op hulle eie te hanteer. Die besigheidsman is glo al vier keer geskei, die sukkelaar is ’n alkoholis met ’n paar kriminele sake teen hom, en die professionele sportster ’n gay man in die kas met ’n voorliefde vir dwelms. “Die mans het geredelik oor hulle ervaringe gesels (solank anonimiteit gewaarborg was) en die detail soms erg visueel oorgedra. Ook die onderliggende woede, nie teenoor die molesteerder nie, maar eerder teenoor mense wat nie na hulle wóú luister destyds nie of vir wie hulle te bang was om vir hulp te nader. Onderwysers. Dominees. Ouers. Sportafrigters. Ooms. Almal juis die mans wat ons as bewaarders voorhou.” Dit was vir hom baie hartseer dat die algemene gevoel onder dié drie was “dat dinge eerder daar gelaat moet word want dit is die verlede, maar sterkte met jou boek. Wie weet? Miskien help dit iemand.”

Sidney voel sterk daaroor dat veral mans introspeksie moet doen oor hoe daar met slagoffers van seksuele misbruik omgegaan word. Die samelewing faal dikwels seuns wat gemolesteer is/word. “Manlikheid en seksualiteit loop hand aan hand. Op ’n manier vee ons as samelewing die molestering van seuns onder die mat in. Dit is duidelik uit my navorsing dat dit te make het met die toekomstige seksuele status van die seun en sy manlikheid as volwassene, gemeet aan voorafopgestelde standaarde.” Daar moet die nodige empatie wees met die volwasse man wat as kind onder ’n seksuele predator deurgeloop het.

Sy raad aan volwassenes wat as kind gemolesteer is, is: “Die verlede is ’n truspieëltjie. Die dinge daarin lyk nader as wat dit werklik is, maar dit maak dit nie minder eg nie. Konfronteer dit. Kry hulp. Dit is nie wie jy is nie. Dit is wat aan jou gedoen was.” Vir ouers sê hy: “Praat met kinders oor seks. Seuns én meisies. Moenie meer vertel as wat hulle vra nie as jy bang is jy druk jou kind ryp. Maar maak dit duidelik hul liggaam is hul eie en wat daarmee gebeur is alleenlik hul keuse. Nie ’n grootmens s’n nie. Nie Pappa of Mamma se keuse nie. Nie ander maatjies se keuse nie. Nie vriende of ooms of tannies se keuse nie. Hulle s’n alleen. Hulle het die sê. Ek lê in die aand wakker oor wat die een slagoffer gesê het: ‘Hy was ’n grootmens. Ek het nie geweet ek mag nee sê nie.’”

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (Human & Rousseau)

Christine Barkhuizen-Le Roux se roman My naam is Prins, ek slaap met die lig aan vertel die verhaal van volwasse mans wat as seuntjies deur ’n koshuisvader seksueel misbruik is. ’n Sielkundige vergesel ’n oudpasiënt toe dié ’n pelgrimstog onderneem na die dorp van sy kinderjare – dieselfde plek waar haar man, ’n predikant met ’n drankprobleem, vandaan kom. Dit is die aangrypende storie van hoe mans selfs baie jare nadat hulle gemolesteer is, nog getraumatiseerd is deur die verwoestende uitwerking wat dit op hulle lewe het. In my resensie oor die boek wat op Maroela Media verskyn het, skryf ek dat Barkhuizen-Le Roux haar lesers se oë oopmaak “vir hoe slinks ’n pedofiel sy slagoffers manipuleer sodat van hulle selfs dekades ná die misbruik soms nog sukkel om die ‘goeie’ oom wat hulle onskuld gesteel het te sien vir wie en wat hy werklik is – ’n monster wat op kinders teer.”

Hoewel dit ’n uiters ontstellend ervaring vir Christine was om die boek te skryf, het sy deurgedruk. “Dit het my sielkundig en fisiek sleg beïnvloed – maar ek is geen oomblik spyt dat ek dit gedoen het nie. Ná optredes kom daar mans na my toe en kom sê met trane wat loop dat hulle ook gemolesteer is.”

Pierre-Jeanne Gerber beaam: “Christine se boek het my finaal oortuig en die moed gegee om die saak so ver as moontlik te neem, veral om die pedofiel te ontbloot. Baie van sy slagoffers, dié wat my gekontak het en dié wat nie die moed het om hulself te identifiseer nie, kan dan vir oulaas sien dat hierdie pedofiel nie met al die smart weggekom het nie. Indien ek die saak sou los, sou ek al daai ander slagoffers in die steek gelaat het.”

Christine se raad aan slagoffers is: “Práát! Kry hulp. Jy was nooit skuldig nie – al wou die oortreder jou só laat glo. Jy as mens is veel meer as net ’n slagoffer. Daar is hoop, en jy het ’n toekoms. Deur berading en terapie kan jy gehelp word om hierdie onreg en pyn te verwerk.”

Drie hoera’s vir Denver (LAPA)

Wendy Maartens se kinderboek Drie hoera’s vir Denver is in Engels, Xhosa en Zoeloe vertaal en vergestalt dít wat sy as onderwyser saam met haar leerders beleef het. Die boek handel oor klein Denver wat begin hakkel nadat oom Jaap by hom en sy ma kom bly. Hy vertel vir juffrou Lea wat gebeur en tóé eers kom die misbruik tot ’n einde.

Wendy is as kind gemolesteer. Sy het lank met die trauma geworstel voordat sy professionele hulp gekry het. Sy het dit baie uitdagend gevind om Drie hoera’s vir Denver te skryf, maar die gedagte dat sy dalk daardeur één kind minder alleen kon laat voel, het dit vir haar die moeite werd gemaak. Sy het die pyn wat die gevoel van isolasie meebring wanneer iemand gemolesteer word, opnuut intens beleef. “Jy loop met hierdie ding wat jy self sukkel om te verwoord. Wat nog te sê oorvertel.”

Sy wil graag hê dat kinders moet weet dat dit nie net ooms is wat seksuele misbruikers kan wees nie, maar ook tannies en ander kinders. “Mishandeling beteken nie altyd dat iemand seergemaak word nie. As iemand iets aan jou doen wat jy weet verkeerd is of waarmee jy ongemaklik is, is dit ’n vorm van mishandeling en het jy die reg om op te tree.”

Die dag toe die draak kom (Human & Rousseau)

Fanie Viljoen se kinderboek Die dag toe die draak kom word uit beide seuns én meisies se oogpunte benader en vertel die verhaal van sibbe wat deur hulle ma se nuwe kêrel misbruik word. Die boek, wat daarin slaag om kinders op hulle begripsvlak teen seksuele misbruikers te waarsku, is ook in Engels beskikbaar. Dit leer hulle hoe om hulp te soek wanneer hul wel met so n persoon te doen kry. Ouers kan die boek ook gebruik as aanknopingspunt om oor hierdie moeilike onderwerp te gesels.

Die fliek Spotlight het Fanie geïnspireer om hierdie boek te skryf. Spotlight handel oor die seksuele misbruik van kinders in die Rooms-Katolieke Kerk. Hy beskryf ook die skryfproses as uitdagend. Dit was vir hom belangrik dat die boek vir ouers én kinders bruikbare inligting sou verskaf. Hy gee riglyne oor hoe om die boek saam met die kind te lees en te gebruik. Hy wys op gevaartekens, gee raad oor hoe om die kind te beskerm, en wat om te doen as ’n kind misbruik word. ’n Rympie help kinders onthou wat om in ’n onveilige situasie te doen. Die verskil tussen veilige en onveilige aanraking word verduidelik, en dan is daar ook die Veilige Hand-reël wat help om ’n ondersteuningstelsel te skep.

Hoe weet ek my kind word gemolesteer?

Kweek ’n vertrouensverhouding met jou kind en hou die kommunikasiekanale oop. Jou kind moet die vrymoedigheid hê om met jou oor enigiets te kan gesels sonder veroordeling en met die wete dat jy sal glo wat hy of sy jou vertel. Gesels dadelik met jou kind indien jy vermoed dat iets skort.

“Tekens dat jou kind dalk seksueel misbruik word: Seksuele praatjies of gedrag, selfstimulasie, speel met speelgoed op ’n seksuele manier, eksplisiete beskrywings van seksuele dade, uitermatige bewustheid van geslagsdele, klagtes oor pyn, kneusplekke of snymerke aan geslagsdele of mond, bloed in die kind se onderklere, gereelde blaasinfeksies, gereelde hoofpyne of siekteklagtes, seksueel oordraagbare siektes, swangerskap by ouer meisies, ’n skielike verandering in gedrag; depressie, die kind wil van die huis af wegloop, die kind vermy volwassenes of raak klouerig, drastiese woede-uitbarstings, slaapprobleme, ’n verandering in eetgewoontes, groot geheimsinnigheid en ’n skielike afname in klasdeelname en prestasie.” (Uittreksel: Die dag toe die draak kom, Fanie Viljoen, Human & Rousseau)

Die skrywers van Protecting your child from predators noem nóg gevaartekens waarop ouers ag moet slaan, naamlik: Kinders wat misbruik word, kan dalk buitengewoon skaam wees om voor ander te ontklee; hulle sal dalk sekere individue probeer vermy of nie langer wil deelneem aan eens geliefkoosde aktiwiteite nie; hulle kan die bed nat- of vuilmaak, selfmoordgedagtes koester of hulle afsonder.

Nie alle kinders wat seksueel misbruik word, sal hierdie gevaartekens openbaar nie. Dit is waarom dit so belangrik is dat kinders moet wéét dat hulle kán en mág en móét praat.

Moenie stilbly nie!

Skrywers soos Hans du Plessis, Sidney, Christine, Wendy en Fanie plaas die kollig op seksuele misbruik van kinders. Hulle boeke beland in ons voorkamers en slaan enige taboes wat daar nog mag bestaan oor hoe openlik ons daaroor kan en mag praat, bloedneus. Ouers en kinders word bemagtig en aangemoedig om ’n standpunt in te neem teen die monsters in ons samelewing wat nie hulle kloue van ons kinders afhou nie.

Fanie beklemtoon: Volgens wet móét ’n mens seksuele misbruik rapporteer. Jy het nie ’n keuse nie. Jy kan ’n vonnis van tot vyf jaar gevangenisstraf opgelê word indien jy dit stil hou. Rapporteer seksuele misbruik direk by die polisie. Jy kan dit ook by die skoolbeheerliggaam, kinderbeskermingsdienste of die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aanmeld. Indien die rapportering te goeder trou plaasvind, kan jy nie later deur die aangeklaagde gedagvaar word nie. Christine wys ook daarop dat die persoon wat seksuele misbruik aanmeld se identiteit beskerm word.

Dit is belangrik dat jy kalm bly en nie emosioneel voor jou kind reageer sou dié wel erken dat hy of sy seksueel misbruik word nie. Kry onmiddellik professionele hulp en meld die misbruik aan. Fanie verduidelik dat jou kind vir omtrent ’n halfdosyn mense in die stelsel sal moet vertel wat gebeur het. Jou kalmte en onderskraging sal dus die wêreld se verskil maak vir jou kind. Wendy is dit met hom eens dat jou reaksie ’n bepalende faktor is in die kind se hantering van die voorval.

Hoe beskerm ek my kind?

Beskerm jou kind deur dié bedag daarop te maak dat daar wel persone is wat op ’n onveilige manier aan kinderlyfies wil vat. Skets moontlike scenario’s of gebruik rolspel, maar oefen jou kind daarin om alarm te maak indien ’n persoon vatterig raak, met onwelvoeglike voorstelle kom of hulle ongemaklik laat voel. Leer jou kind hoe om hard en duidelik NEE! te sê en dadelik vir jou daarvan te vertel sonder om bang te wees vir jou reaksie. Ook as iemand die kind dreig of wil omkoop om ’n geheim te hou. Onthou, jý moet aan jou kind die verskil uitwys tussen aanvaarbare en nie-aanvaarbare gedrag. Die kind kan nie altyd self die onderskeid tref nie. Dit is byvoorbeeld aanvaarbaar om ’n geheim te hou omdat julle ’n verrassingspartytjie reël, maar dis nie aanvaarbaar indien iemand sy tong in jou mond druk en dit dan ná die tyd afmaak as per ongeluk en jou aansê om stil te bly daaroor nie.

Laat vaar jou inkennigheid oor die onderwerp en hou ouderdomstoepaslike gesprekke met jou kind oor seks. Wees betrokke in jou kind se lewe. Weet altyd waar jou kind is, saam met wie die kind is en wat hulle daar doen. Seksuele predatore skuil ook aanlyn. Leer jou kind hoe om veilig aanlyn te wees en om nie persoonlike inligting te deel nie. Die goue reël is om wakker en waaksaam te wees. Dit kán met jou kind gebeur. ’n Boek soos Protecting your child from predators sal jou help om jou kind paraat te maak sonder om die kind vreesbevange te maak. Dankie aan elke dapper skrywer wat nie skroom om bewusmaking te skep oor die gevaar waarin ons kinders verkeer nie!

Kry hier inligting en hulp

Laai Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike Hulp Handleiding hier gratis af. Hoofstuk 1 bevat uitstekende inligting oor die beskerming van kinders.

www.samsosa.org

www.jellybeanz.org.za

www.childlinesa.org.za

Myths and Facts About Male Sexual Abuse and Assault

Kinderlyn: 08000 55555

SA Polisiediens – Stop Misdaad: 0860 010 111

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top