Die Aksieforum vir Inheemse Tale (Indigenous Languages Action Forum - ILAF) is die afgelope naweek in Boksburg geloods. Hierdie alliansie van sowat 30 taalpraktisyns en verteenwoordigers van etlike NRO’s het UNESCO se Aksieplan vir die Jaar van Inheemse Tale amptelik onderskryf, en wil ’n gesamentlike veldtog ter bevordering en ondersteuning van die inheemse tale en meertaligheid in verskeie sektore loods.
“Die Aksieforum is uniek,” sê dr. Carole Bloch, direkteur van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika (Project for the Study of Alternative Education in South Africa- PRAESA). “Die groep se diverse samestelling maak dit moontlik om die aandag te vestig op die enorme voordele wat die gebruik van die land se inheemse tale in sektore soos die onderwys, die regstelsel en die ekonomie vir ons inhou.”
Die Aksieforum vir Inheemse Tale wil op ’n konstruktiewe manier met rolspelers in die regering, die regsisteem, besigheidsektor, skole en universiteite skakel om die inheemse tale en meertaligheid te bevorder. “Ons sal ook kreatiewe meertalige inisiatiewe ondersteun en help om meertalige ruimtes by instansies soos universiteite en skole te beskerm en uit te brei,” sê Monwabisi Ralarala, Direkteur van die Sentrum vir Hoëronderwysontwikkeling (KPUT).

Monwabisi Ralarala
Die Aksieforum vir Inheemse Tale sal veral daarop mik om deur verskeie media met die “stilgemaakte meerderhede” te skakel. “Ons moet negatiewe stereotipes van die inheemse tale verander,” verduidelik dr. Sindiwe Magona, skrywer van meer as 100 kinderboeke in ’n inheemse taal. “Ons moet ouers en die jeug se aandag vestig op die waarde van hulle moeder- en huistale. Dit is die enigste manier waarop ons onself sal leer ken.”

Michael Jonas en Pedro Daussab

Prins Manene Tabane en Manzo Khulu

Sindiwe Magona en David Jantjies

Siyandiswa Mbungu en Phillip Pare

Conrad Steenkamp en Maria Mamenjai
“Sonder die inheemse tale sal dit moeilik wees om die land se volle ekonomiese potensiaal te bereik of om inklusiewe ekonomiese groei te bewerkstellig,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad. “Meertaligheid is nie ’n mode nie, maar ’n fundamentele keuse oor hoe ons land moet lyk.”

Perry Xengana en Pam Letsoalo
Die loodsing van die Aksieforum vir Inheemse Tale kom na etlike jare van gesprekke en debat tussen ’n wye verskeidenheid rolspelers. Die groep voel dat houdings teenoor die inheemse tale en meertaligheid besig is om te verander en dat UNESCO se Jaar van Inheemse Tale ’n unieke geleentheid vir konstruktiewe skakeling en steunwerwing bied. Die Aksieforum sal teen einde Maart meer besonderhede oor beplande aktiwiteite bekendstel.
Uitgereik deur die ILAF-voortsettingskomitee
Navrae:
Sinki Mlambo – sinki@ilaf.co.za
Conrad Steenkamp – conrad@afrikaansetaalraad.co.za
Kommentaar
Skitterende inisiatief! Beste wense.