Lonmin-skietery: Wat is die politieke implikasies?

  • 0

Ná die skietery by die Lonmin-myn in Marikana het die internasionale media, drukgroepe, vakbonde en politieke partye heftig op die voorval gereageer. Die implikasies daaraan verbonde stop egter nie by die verlies aan lewens nie – die voorval het die potensiaal om ’n groot impak te hê in die politieke sfeer van Suid-Afrika. André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, beantwoord enkele vrae van LitNet oor dié politieke implikasies.

Daar is al verskeie menings uitgespreek uit politieke oorde oor die gebeure by die Lonmin-myn. Die nasionale polisiekommissaris, Riyah Phiyega, het al opgemerk dat sy die polisie opdrag gegee het om te “doen wat nodig is” by die staking. Was die polisie se optrede, ons demokratiese bestel en fokus op menseregte in ag genome, geregverdig?

Image source: Pixabay (User: mohamed_hassan)

Hier is duidelik twee kante aan die saak. Ons praat hier van ’n geskiedenis van geweld in die platinum-myne. Die stakers het gewelddadig opgetree, mense is vermoor en die meeste was gewapen en baie uitdagend. Dit moet ten minste as versagtende omstandighede dien vir die optrede van die kant van die polisie. Sommige sou hierdie omstandighede  selfs as regverdiging wou gebruik. Hoewel die omstandighede deeglik verken moet word, oordeel ek dat die gebruik van geweld te sterk was en dat die aangeleentheid beter hanteer kon gewees het deur byvoorbeeld van meer onderhandelinge en van minder geweld gebruik te maak. Dit is nie wat verwag word binne ’n demokratiese bedeling waar menseregte vooropgestel word nie. Trouens, dit herinner sterk aan Suid-Afrika van die jare tagtig en tendense wat met sekurokratisering verband hou. Wat ons by Marikana gesien het, is die uitkoms van ’n uiters onstabiele en oorverhitte politieke omgewing en die manifestering hiervan in geweld.

Van die internasionale publikasies wat die voorval gedek het, asook sommige figure in opposisiegeledere, meen dat hierdie voorval ’n teken daarvan is dat president Jacob Zuma nie beheer het oor hoe die owerhede in die land optree nie. Dink u dit is wel die geval, en in watter mate is die Lonmin-gebeure ’n voorbeeld hiervan?

Ons werk in Suid-Afrika met wat akademici en andere na verwys as die verswakkende staat. Dit impliseer swakker beheer op verskeie terreine en dus ook in die veiligheidsomgewing. Tog wil ek argumenteer dat die Marikana-slagting nie in die eerste plek oor swak beheer van die kant van die President of regering gaan nie, maar eerder oor swak besluite in die hitte van die stryd.

Die ANC-regering en die opposisie is albei van plan om taakspanne na die toneel te ontplooi om die gebeure te ondersoek en te ontleed. Selfs Julius Malema het reeds ’n verskyning op die toneel gemaak. In watter mate kom dié soort optrede neer op politieke opportunisme?

Hier is belangrike elemente van politieke opportunisme tussen partye, maar veral binne die raamwerk van die ANC. Dit is duidelik dat Malema probeer om munt uit die situasie te slaan ten koste van die Zuma-regering. Hierdie insident kan ’n keerpunt verteenwoordig  vir Zuma en ook sy poging om by Mangaung herverkies te word. Ek merk ook al hoe sterker tekens van die sekurokratisering van die staat. Dit is kommerwekkend en laat my dink aan die Suid-Afrika van die jare tagtig.

Die aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie in Mangaung later vanjaar is reeds gespanne, met bespiegelinge oor faksies binne die regerende party. In watter mate sal die gebeure by die Lonmin-myn ’n impak hê in die maande voor die konferensie?

Ongetwyfeld gaan dit tot die voordeel wees van die anti-Zuma-lobbies. Ek tel boodskappe op van die verkrummeling van die leierskapsposisie van JZ. Hierdie voorval mag vorentoe ’n waterskeidingsmoment vir beide Suid-Afrika en die ANC wees.

 

WAARSKUWING: Video bevat inhoud wat sensitiewe kykers kan ontstel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top