Lokprent: Diva

  • 0

Uitgewer:
LAPA Uitgewers
ISBN:
 9780799359329

Diva
Isa Konrad

Een na die ander word mense in die vermaaklikeidswêreld vermoor. Dan word een van die wêreld se voorste soprane ’n verdagte, maar Janek Baptiste, die leier van ’n spesiale speureenheid, besef iets is nie pluis nie. Of dink hy dalk nou met sy hart, en nie sy kop nie?

Deborah Deysel is ’n suksesvolle operasangeres in Zürich – oorspronklik van Suid-Afrika – met geraamtes in haar kas. ’n Bekende dirigent, met wie Deborah ’n verhouding gehad het, word vermoor. Dié moord en ’n geheime opname van ’n opera-aria bring Deborah en Janek Baptiste se wêrelde in botsing met mekaar.

Uiteindelik word ’n hele aantal mense vermoor terwyl die leser vasgeneal sit om uit te vind wie dit gedoen het.

Chanette Paul, wenner van die 2012 Lekkerlit-kompetisie en LAPA se manuskripontwikkelaar, sê van Diva: “Henning Mankell, Fred Vargas, staan opsy. Hier kom Isa Konrad verby. Die manuskrip is gesofistikeerd, gekultiveerd en tog menslik en deernisvol. Isa Konrad is die skrywer met die fynste waarnemingsvermoë wat ek nog teëgekom het. Die humor is ragfyn, die karakterisering skitterend en die ruimtebelewing en ?beskrywing fenomenaal. Die beelding is uit die boonste van die boonste rakke.”

Die skrywer
Isa Konrad het in Namibië grootgeword. Ná skool het sy Switserland toe geëmigreer. Sy het jare lank in Zürich gewoon, daar getrou en met ’n gesin begin. In 2001 het die gesin Suid-Afrika toe geïmmigreer en in Pretoria gewoon. In 2002 het Isa ingeskryf vir ’n kreatiewe skryfkursus. Dit het tot die publikasie van haar eerste romanse, Die langste nag, gelei. Daarna het sy nog sewe romanses geskryf.

Ná agt jaar in Suid-Afrika is die gesin in September 2008 terug Switserland toe. Hulle woon tans in Solothurn, ’n barokstad op die Aare-rivier, maar besit ook ’n huis in die Penniniese Alpe naby die grens van Italië. Isa verdeel haar tyd min of meer gelykop tussen dié twee woonplekke.

Haar tweede vollengte roman, Die soenoffer, was ’n finalis in die ATKV-prys vir spanningsromans in 2012. Met Diva betree sy ’n sofistikasie wat net ‘n handjievol Suid-Afrikaners nog in hierdie genre bereik het.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Diva nou van LAPA Uitgewers!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top