Loki Rothman: "’n Song, vir my, is nooit klaar nie ..."

  • 0

Die kitaarmaestro, sanger en liedjieskrywer Loki Rothman het onlangs sy eerste vollengte-album, The way back, bekendgestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Loki. Hoe's dinge?

Goeiedag! Dinge is lekker besig en aan die gang. Solank dit besig is, gaan dit goed.

lokigrootweb

Geluk met die vrystelling van jou debuutalbum, The way back. Jy het voorheen groot opslae gemaak met die enkelsnitte wat jy op hul eie vrygestel het ("Light these fires" in 2013 en "Clocks" in 2014). Waarom het jy in hierdie geval besluit om eerder ’n vollengte-album vry te stel as ’n reeks enkelsnitte? Hoe het jy vir die debuutalbum te werk gegaan om te besluit watter snitte bly en watter snitte gly, en om die uiteindelike balans van die snitte perfek reg te kry?

Baie dankie. Ek wou eintlik net enkelsnitte vrystel. Soos dinge op hierdie stadium lyk, dink ek dit mag dalk klaar die toekoms wees van musiek, met die algemene daling in CD-verkope. Daar was wel altyd aanvraag van mense vir ’n volle album. Ek het nog nooit een gemaak nie en het ook meer oorspronklike materiaal gekort vir optredes. Ek het maar die beste songs uitgehaal wat ek gedurende die twee jaar geskryf het en wat in die boks pas vir die tema en klank van The way back.

Die album is tjok-en-blok vol sterk snitte met ’n hoë gehalte (en kreatiwiteitsvlak) van vervaardiging. Hoe werk die liedjieskryfproses by jou, vandat die eerste woord en akkoord geskryf is tot dit uiteindelik opgeneem en vrygestel is? Verkies jy om alleen te bou aan iets tot dit klaar is, of werk jy met insette? Hoe weet ’n mens wanneer ’n song nou rég is?

Die meeste van hierdie liedjies is op die klavier geskryf. Ek sal gewoonlik met ’n interessante “loop” of “sample” vorendag kom en dit dan bou met akkoorde en lirieke van daar af. ’n Song, vir my, is nooit klaar nie, maar ’n mens moet op ’n punt kom wat jy dit los en dit uitsit. "Art is never finished, only abandoned" (Leonardo da Vinci).

Buiten die snitte wat voor die hand liggend sterk kandidate vir radiolugtyd is, is daar ook ’n paar stadiger, meer meesleurende snitte (soos "How love feels" en "Hold on") op die album. Siende jy by verskeie groepe en projekte betrokke is as musikant en vervaardiger (ons kom nou-nou daarby ...), hoe belangrik is die kans om jou eie liriekwerk op die album ten toon te stel vir jou? Ervaar jy dit as ’n nuwe soort uitdaging, of hoe belangrik is die lirieke vir jou in die krag van ’n song? Hoe werk die skep van lirieke by jou?

Al die lirieke op die album het ek self geskryf. Ek weet nie noodwendig hoekom dit belangrik was vir my nie, maar dit het net reg gevoel om beheer te hê oor wat ek wou sê. Daar was genoeg tyd in twee jaar om nie ’n geforseerde song te skryf met deadlines vir die album ens nie. Ek het op my eie tyd dit geskryf. Elke song is geskryf wanneer ek gevoel het ek wil skryf. Ek kan maklik saam met mense skryf aan iemand anders se song. As dit by my eie kom, nie so maklik nie. Ek dink dis omdat my lirieke persoonlik is, maar dit word op ’n baie universele manier geskryf.

Lirieke is definitief baie belangrik. Op party songs het ek al drie bladsye se lirieke geskryf dan is ek nog steeds nie happy nie. So ek skryf maar totdat dit perfek is vir my. As daar enigsins ’n gevoel is van twyfel, gaan dit terug in die ideeboks en ek skryf verder.

Vir die feesgangers onder ons het jy natuurlik eers naam gemaak as uiters behendige kitaarspeler (trouens, te danke aan SA's Got Talent het die hele land jou so leer ken). Een van die interessantste dinge op The way back is die stukke ingewikkelde kitaarspel tussendeur die krag-elektro-pop-klanke. Was dit ’n opsetlike soort onderskeidende eienskap wat jy deel wou maak van die musiek wat jy vrystel, of hoe het jou beplanning daarrondom gewerk? Hoe sien jy die rol van jou kitaarvaardighede in jou toekomstige musiek, en ook in jou loopbaan in die breë? Wat onthou jy van daardie SA's Got Talent-kompetisie en die deure wat dit vir jou oopgemaak het, en die voor- en nadele daarvan?

Nee. Ek het my kitaarwerk baie teruggehou op hierdie album, voel ek. Ek het regtig gefokus op my songwriter/producer kant. Ek is tans besig om ’n instrumentele kitaar-DVD te maak. Hierdie twee kom by ’n optrede baie nader aan mekaar uit. Ek dink in tyd sal dit uiteindelik uitgesit word as een produk. Ek het gewonder of ek die kitaarkant van my en die singer/songwriter-kant op een album moet sit, maar toe besluit ek liewer nie. Dit is twee verskillende goed vir my op die oomblik.

SA’s Got Talent was gedurende my finale matriekeksamen. Ek het in my eerste jaar uit die skool gestap en kon dadelik solo-optredes begin doen en werk skep vir myself. Dit is definitief ’n goeie platform om te begin.

Die rol van ’n sanger/liedjieskrywer wat ook vir ander sangers en groepe liedere skryf, is altyd interessant ... Skryf jy dan met die spesifieke sanger of groep se stem en algemene klank in gedagte, of word dit spesifiek gedoen, of sit jy met ’n liedjie en dink dít sal goed werk vir dié of daai kunstenaar? Voel jy jy wil jou beste liedjies vir jouself hou, of hoe werk dit? Sal jy graag voorts meer en meer net liedere wil skryf vir jouself om op te neem of uit te voer?

Al twee. Hulle vra óf vir ’n idee óf stuur vir my ’n idee aan. Ek speel en skryf baie genres. Jack Parow se acoustic album Nag van die Lang Pette is ’n goeie voorbeeld daarvan. Ek hou nie die beste vir myself nie. Ek wéét net wanneer dit my song is. Ek is baie lief daarvoor om saam met ander mense te skryf, so ek sal altyd vir ander en myself skryf.

Jy werk saam met die bekende vervaardiger Justin de Nobrega en het al vervaardigingswerk vir groepe en sangers soos Toya Delazy, Jack Parow en Die Antwoord gedoen. Verder is jy ook betrokke by die skep van musiek vir televisie-advertensies. Hoe het hierdie ervaringe en werk jou uitkyk op musiekskep beïnvloed? Het jy spesifieke filosofieë oor wat goeie musiek ís, byvoorbeeld vergeleke met die blues-filosofie van "three chords and the truth", of hoe het jou filosofieë verander en ontwikkel oor die jare?

Deur saam met hierdie groepe te werk, kry jy baie keer ’n ander manier van dink of kreatief wees en dit hou jou as skrywer altyd vars. Jy moet baie keer die persoon met wie jy werk se creative space enter. Dit is altyd interessant. Dit sit jou partykeer ook in moeilike situasies wat lekker challenging is. Nee, ek het geen filosofieë oor wat goeie musiek is nie.

Jy het al honderde vertonings agter die blad – van Up The Creek tot in Moskou saam met Jack Parow. Enige hoogtepunte wat uitstaan in hierdie verband, of enige stories agter die skerms waarmee ons nog nie bekend is nie? Enige plekke of gebeure wat jy eerder sal wil vergeet?

Nee, ag, daar is nie agter-die-skerm-stories nie. Moskou is fantasties. Ek doen weer Holland, Londen en België saam met Jack Parow hierdie jaar. Die toere is altyd awesome en dit is lekker om met my kitaar op my rug in ’n vreemde plek in te vaar. Ons ontmoet altyd great mense en maak goeie vriende op die pad.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Loki Rothman, in so verre jy dit kan beheer?

Ek dink om myself nou te establish as ’n solokunstenaar. Baie mense ken my songs, maar hulle weet nie dis ek wat dit sing nie, of selfs andersom. Tweedens wil ek my kitaar-DVD klaarmaak en dit op die pad vat.

Wat is die sin van die lewe?

Hard werk en geleenthede skep vir jouself.

Lokicoverweb

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top