’n Kort tydjie gelede het jy dalk vir Loki Rothman nog op die verhoog opgemerk waar hy vir ’n ruk lank die rapper Jack Parow op kitaar begelei het. Miskien het sy heropname van die ikoniese treffer “Blou” saam met Laurika Rauch en die enkelsnit “Op ons eie” vir die film Jou Romeo jou laat regop sit en luister. Of dalk het jy hom al die afgelope paar jaar goed leer ken te danke aan sy Engelse pop-radiotreffers soos “Light these Fires”, “Clocks” en “Under the Stars”. Hoe dit ook al sy, deesdae is dit byna onmoontlik om nié notisie van hierdie sanger en kitaarvirtuoos te neem nie.
Tussendeur sy samewerking op die verhoog met Laurika, die onlangse komponering van die klankbaan vir die film Liewe Kersfeesvader en sy vele ander projekte as musiekvervaardiger en -regisseur, blyk dit of dié Bellville-boorling nooit stilsit nie. In Oktober vanjaar is sy jongste enkelsnit “Wherever you go” vrygestel en onlangs was hy ook as vervaardiger in die ateljee betrokke by Jack Parow se jongste album, Afrika 4 Beginners.
Dis duidelik dat Loki, wat bekendheid begin verwerf het toe hy in 2009 op agtienjarige ouderdom aan die eerste seisoen van die TV-program SA’s Got Talent deelgeneem het, nie net bedrywig is nie, maar ’n besonder veelsydige kunstenaar is. Hy lyk ewe gemaklik met ’n kitaar-“mash-up” van Eminem-treffers as met die skep van kraakvars Afrikaanse klankbane.
Tussen sy optredes by die verhoogskouspel Afrikaans is Groot wat vanjaar by die Time Square Sun Arena in Pretoria gehou is, kon ek vinnig by die hipertalentvolle Loki inloer en oor sy florerende loopbaan gesels.
Hoe op aarde het jy hierdie jaar tyd gemaak vir al jou projekte? As mens weer sien, het jy iets vervaardig of opgeneem, op die verhoog gekonseptualiseer of gekomponeer. Maar intussen lyk dit volgens jou Instagram-bladsy asof jy immer tyd het vir ’n vinnige cover van hierdie blues song en daardie funk of country tune ... en dan lyk jy boonop nog so uitgechill ook.
Dit was nogal ’n rowwe jaar van min slaap. Ek dink jy sal verras wees hoe ver jy jouself kan druk. Hoe meer passie daar is, hoe minder erg is dit. Ek geniet wat ek doen en ek kry bietjie van ’n skop daaruit om tjok-en-blok besig te wees met projekte, opnames, vervaardigings en optredes. Ek probeer ’n goeie balans handhaaf tussen al hierdie dinge wat ek doen. Die cover-video’s probeer ek maar skiet as ek kitaar oefen. Baie keer skiet ek ’n paar vooruit as ek weet ek gaan besig wees met ’n projek die volgende week of so.
Jy was nog altyd buiten musikant, ook as musiekvervaardiger betrokke by die opneem van jou eie liedjies, maar met “Wherever you go” het jy ’n ander benadering gehad. Vertel my bietjie daarvan.
Ek het met hierdie enkelsnit net weggestap daarvan om self die lied op te neem en te vervaardig. Ek is na [die musiekvervaardiger] Ben Ludik toe in Stellenbosch en hy het my kans gegee om vir die eerste keer in ’n lang tyd weer die kunstenaar te wees en nie te bekommer oor byvoorbeeld mikrofoonposisies of om ‘record’ of ‘stop’ te druk nie. Ek kon fokus op die performance van die stuk en ek glo ons het dit regtig mooi vasgevang.
Jy beweeg vryelik tussen Afrikaans en Engelse lirieke. In watter taal is jy die gemaklikste en is daar vir jou ’n wesenlike verskil tussen wanneer jy in Engels skryf en opneem versus in jou moedertaal?
Ek het nie ’n gunsteling nie. As ek Engelse liedjies vrystel, skryf ek Afrikaans, en as ek Afrikaanse liedjies vrystel, skryf ek Engels. As ek nie skryf nie, beoefen ek my kitaar en ander instrumente. Daar is altyd iets om te doen. Dit is hoekom ek nooit eintlik kan stilsit nie. Ek is wel baie gemaklik in albei.
Dit lyk asof jy nooit moeg raak vir die kitaar nie. Wat is dit aan musiekmaak wat jou so passievol daarmee laat voortstoom en boonop op so ’n onbegrensde wyse ten opsigte van genres?
Dit is moeilik om te sê, maar dit is ’n klomp dinge: Die reaksie op mense se gesigte by ’n lewendige optrede. Wanneer ek doodstil sit in die ateljee maar sweet van opgewondenheid wanneer daar iets mooi gebeur. Dit is passie. Die woorde, kommentaar en ondersteuning van die publiek voer dit en inspireer en druk my vorentoe.
Foto’s: Danie Nel