![]() Foto: verskaf
|
|
Sêgoed van Andries Buys “Latyn is ’n pragtige taal wat deur ons gekoester en deur ons kinders geleer moet word sodat dit nooit verdwyn en ons geestelik armer laat nie.” (Rapport, 15 April 2018) ’n Naam soos Daan van der Walt word in die titel betrek by ’n “volksvreemde” konsep soos die Dao. Hoekom? wou Frederik de Jager weet. “Is die plig van die skrywer nie om te verras nie? Hoe vreemder die kontras, hoe groter die konflik, hoe kragtiger die enjin wat die storie aandryf, en die skrywer kom dalk met iets vars en ongewoons in sy roman te voorskyn.” (Rapport, 15 April 2018) Oor die humor in die boek: “Daan vra hom af waarom die letterkunde so ernstig is. Dit kraak en splinter af as dit net probeer glimlag, sê hy. Daarom verbaas dit ons nie wanneer hy die ernstige gesig van die Groot Letterkunde hier en daar laat kraak nie. Ironie is immer teenwoordig in Die Dao. Harold Bloom sê daar is baie uiteenlopende omskrywings van ironie. Ek staan by wat ek op skool geleer het: Ironie is ’n lag met ’n traan. Dalk sien lesers raak hoe pynlik die gebeure in die komiese tonele vir Daan moet gewes het.” (Rapport, 15 April 2018) Nog oor humor: “Soveel boeke oor vervreemding, verlies en diskriminasie is so ernstig en vol selfbejammering. Op die Weg van die Dao is daar groot klippe en diep slaggate, maar Daan verloor nie sy sin vir humor nie. Daan is ’n boer met ’n boerse humorsin, ’n diepe besef van sy eie nietigheid en ’n afkeer van opgeblasenheid en pretensie.” (Rapport, 15 April 2018) “Skryf is nie ’n stokperdjie nie, veral oor onderwerpe soos vervreemding, verlies, godsdiens en seks. Dis bitter harde werk. Maar die skryfproses was vir my opwindend. Ek is lief vir woorde.” (Huisgenoot, 2 Mei 2019) Hoe sien hy skrywerskap? “Die bouer bou met stene, die skrywer bou met woorde. Die vakmanskap van die skrywer berus op die korrekte begrip van die betekenis en gebruik van woorde.” (Netwerk24, 15 September 2019) “Woorde het nie net ’n letterlike betekenis nie, maar ook ’n gevoelswaarde. Die sorgvuldige keuse van woorde maak assosiatiewe resonansies met dieselfde en ander tekste moontlik. Die gestoei met woorde in die roman was vir my ’n heerlike uitdaging, die herhaaldelike oorskryf en verbetering van die teks ’n verkenningstog in my taal.” (Netwerk24, 15 September 2019) Oor die liefde in die roman: “Die twee mees intense liefdes in die roman is sekerlik die liefde wat onbeantwoord is aan die een kant en aan die ander kant die geheime liefde, die liefde waaroor nie gepraat of aan uiting gegee mag word nie, dié een wat nie sy naam durf sê nie – en ook die onuitspreeklike hartseer by die verlies van hierdie liefde waarvan niemand weet nie en daar dus niemand is met wie jy jou pyn oor die verlies kan deel nie.” (LitNet, 23 Mei 2018) |
Gebore en getoë
Andries Buys is in 1938 gebore, een van vier kinders van Gert Lodewyk Buys en ’n nooi Du Plessis. Sy pa was ’n weeskind en het as skaapwagter by ’n ryk boer in die Oos-Kaap gewerk. Sy ma is in 1901 in ’n tent in die Britse konsentrasiekamp te Kimberley gebore en Andries is na haar pa vernoem – Andries Johannes du Plessis Buys.
“Terwyl my ouma besig was om te kraam het daar ’n geweldige donderstorm losgebars. Enkele dae vantevore moes sy aanskou hoe hulle plaashuis met alles daarin tot op die grond afgebrand is. Haar man, Andries Buys se oupa, is na die interneringskamp op St Helena gestuur.” (Daily Maverick, soos aan Karel van der Vyver vertel; hier en elders vertaal)
Andries se oupa het alles verloor behalwe ’n barre stuk grond en die verwagting van vergoeding wat nooit verwerklik is nie. En tog het nie sy ouma of sy ma ooit iemand geblameer vir die swaarkry wat hulle moes deurmaak nie: “Wat ook al gebeur het, was bloot iets wat gebeur het en hulle moes aangaan met hulle lewens. Ná die oorlog moes die familie noodgedwonge na Johannesburg toe verhuis. My ma moes die skool in standerd ses (graad 8) verlaat om in ’n Chinese klerewassery te gaan werk, waar sy haar man, my pa, ontmoet het wat klere ingebring het om te laat skoonmaak” (Daily Maverick).
Andries se pa het nooit skoolgegaan nie. Hulle was arm, maar dit het die jong Andries nie gepla nie, want almal was arm en almal het kaalvoet skool toe gegaan. Hy vertel aan Daily Maverick dat hy 14 jaar oud was toe hy gedurende skoolvakansies uitgespring het om te begin werk.
Andries vertel aan Therese Bam (Kwêla) dat hy ’n alleenkind was. Hy was die jongste van vier kinders – 10 jaar jonger as sy suster, 15 jaar jonger as sy middelste broer en 18 jaar jonger as sy oudste broer, die digter PW Buys. Hy was nie sportief nie, maar baie nuuskierig en ook ’n rebel.
Hy meen dat sy liefde vir woorde gedurende sy vormende jare op skool begin het. “Ek was in standerd agt (vandag graad 10) toe die Latynse onderwyser, meneer Mentz, ’n kwartaal lank vir ons Afrikaans gegee het. Een van ons voorgeskrewe werke was Die grenslose deur WA de Klerk – ’n storie oor die konflik tussen idealisme en materialisme. Ek kan goed onthou,” vertel Andries aan Karel van der Vyver, “hoe meneer Mentz langs die venster gestaan het met sy een voet op die verwarmer. Hy sou ’n paar sinne lees en dan het hy begin praat, en herinneringe opgehaal terwyl hy verduidelik het waaroor dit gaan … hy het oor homself gepraat, sy ideale, sy liefde vir Latyn en die klassieke. En dit dan gekontrasteer met die realiteit om aan ’n klompie veertienjariges in ’n myndorp Afrikaanse letterkunde te leer.
“Ek is seker dit was meneer Mentz wat my belangstelling en liefde vir letterkunde en geskiedenis en die klassieke aangewakker het. Ek was gelukkig baie jare later in die bevoorregte posisie om dit vir hom te kon vertel.”
Verdere studie en werk
Ná skool is Andries Buys vir vyf jaar na die PUK vir sy BA LLB, vertel hy aan Francois Lion-Cachet (Klyntji). “Gedurende my studies het ek ’n staatsdiensbeurs gekry en ek moes gevolglik drie jaar vir die staat werk. Ek is twee weke ná ek begin aankla het in die landdroskantoor op Krugersdorp, na Durban verplaas en ’n paar maande later op die Prokureur-Generaal se personeel op Pietermaritzburg aangestel, waarna ek in die Hooggeregshof in Natal deel was van die vervolgingsgesag.
“In 1964, aan die einde van die drie jaar staatswerk, het ek in Durban by die balie aangesluit en begin praktiseer as advokaat. Willem Booysen, later aangestel as regter, was toe die enigste Afrikaanssprekende advokaat in Durban. Ek het ses weke in my kamers gesit voor die telefoon die eerste keer gelui het. Die prokureur was ’n gelyste kommunis. Hy het my opdrag gegee in ’n strafsaak wat om veiligheidsredes nie in Durban verhoor sou word nie, maar in die streekhof in Ladysmith. Daar het ek toe saam met twee ander advokate, Piet Thirion, ook later regter, en MD Naidoo vir weke gesit en ’n hele aantal beskuldigdes se verdediging waargeneem. Die beskuldigdes se verweer teen sommige van die aanklagte was dat die gewapende vleuel van die ANC, uMkhonto we Sizwe, ’n aparte, onafhanklike beweging was wat niks met die ANC te doen gehad het nie. Dit was 1964. Hulle is skuldig bevind. Oor die volgende twee jaar het swart, Joodse en Indiër-prokureurs my ondersteun en die Engelse firmas het stadig bygekom en aan die einde van 1967, kon ek bekostig om vir die eerste keer in my lewe oorsee te gaan [...].
“Uiteindelik het ek ’n hoofsaaklik Engelse praktyk gehad. Afrikaans was in elk geval daardie jare maar skaars in Durban. Een van die regters, ’n dierbare ou man vir wie ek af en toe ge-crew het op sy seilboot, het glad nie Afrikaans gepraat nie. Oor die jare het my praktyk gegroei en in 1987, dertien jaar ná ek begin het, het ek aansoek gedoen vir senior status, dis toegestaan en ek kon SC, Senior Consultus, agter my naam skryf. Nie lank daarna nie is ek gevra om waar te neem as regter in Venda om ’n lang muti saak te verhoor. Ek het nie besonderlik van my maand of twee op die bank gehou nie en daarna alle waarnemingsaanstellings van die hand gewys. Uiteindelik het ek begin moeg raak vir die praktyk en vir my ’n plaas gekoop in die Waterberge waar Eugène Marais sy Burgers van die berge geskryf het, en deeltyds met proteas en Switserse beeste begin boer.
“Een Woensdagaand het ek op die kraalmuur by my beeste gesit en besluit om die balie te verlaat. Toe ek Donderdag by my huis in Durban terugkom, was daar ’n boodskap op my antwoordmasjien om die minister van justisie te bel, wat ek die Vrydagoggend gedoen het. Hy het my gevra om vir ses maande in die Noord-Kaap te gaan waarneem, setel Kimberley. Ek het geweier. Hy vra my toe om die aanbod ten minste te oorweeg en om hom vieruur daardie middag terug te bel. Ek gaan vertel vir regter Thirion van die aanbod, voor wie ek met ’n lang deelsverhoorde saak besig was. Sy advies was: Gaan sit op die bank vir ses maande en oorweeg jou besluit om die balie te verlaat. Ek maak toe so. Ek was twee maande in Kimberley toe die regter-president my vra of ek ’n permanente aanstelling sal oorweeg. Ek het gesê ek sal hom ná vier maande ’n antwoord gee. Die antwoord was: ja. Ek is permanent aangestel en dit was die begin van my gelukkigste 16 jaar in die regsberoep. In die Noord-Kaap het ek weer die wonder van Afrikaans ontdek, ook die kleurvolle weergawe daarvan wat daar langs die Vaal- en Gariepriviere gepraat word. Die vriendelikheid en gasvryheid van die mense was nóg ’n verrassing.”
Hy vertel aan Karel van der Vyver (Daily Maverick) dat hy moes leer “to be acquainted with the vicissitudes of life and human nature, a prerequisite for making a success as an advocate and for the execution of a judge’s duties”.
Toe hy in 2023 besluit om af te tree, vestig hy hom in Kaapstad, “waar ek elke dag die seelug wou ruik en met my voete in die water loop en lees en reis en ’n roman skryf. Dit is dan ook wat ek die afgelope 16 jaar stil en rustig, ver uit die openbare oog, gedoen het,” vertel hy aan Rapport se Johan van Zyl.
Andries het na sy aftrede ’n klompie jare in Asië gewoon. Oor sy besluit om na die Ooste te gaan en waar hy oral was, vertel hy op LitNet in ’n onderhoud aan Naomi Meyer: “Dié nasies se onderskeie kulture, hul geskiedenis en vertrapping deur die groot Westerse moondhede spreek tot my.
“Ek sal vertel hoe dit gekom het dat ek in die Ooste begin reis het. ’n Baie interessante man, Tiziano Terzani (aan die einde van sy lewe bekend as Anam – letterlik ‘die een sonder ’n naam’) se boek A fortune-teller told me was een van die redes dat my lewe ’n totaal nuwe en wonderlike rigting ingeslaan het. ’n Fortuinverteller het Terzani, Der Spiegel en verskeie Italiaanse koerante en tydskrifte se verteenwoordiger in Hongkong gewaarsku: ‘Pasop! Jy loop die gevaar om in 1993 te sterf. Moenie vlieg nie. Nie eers een keer nie.’ Terzani het die waarskuwing ter harte geneem en daardie jaar te voet, per motor, bus, trein en boot Suidoos-Asië en China deurkruis en diep onder die indruk gekom hoe die Amerikaanse popkultuur die eeue oue Oosterse beskawings so korrupteer dat daar uiteindelik weinig daarvan gaan oorbly. Van sy ondervinding daardie jaar sê Terzani: ‘I was marked for death, and instead I was reborn.’ En ja, Terzani sou waarskynlik op die vliegtuig gewees het wat daardie jaar in dié wêreld verongeluk het.
“Na ek die boek gelees het, het ek besluit om vir ’n week in Phuket, aan die weskus van Thailand, te gaan vakansie hou. In plaas daarvan om aan die einde van die week terug te keer Suid-Afrika toe, het ek daarvandaan na Bangkok toe gevlieg en van daar noordwaarts gereis deur Chiangmai en Chiangrai tot by die samevloeiing van die Ruak- en Mekongriviere waar Thailand, Mianmar en Laos aan mekaar grens en die Goue Driehoek vorm, een van die wêreld se grootste opiumproduserende gebiede. Per boot is ek toe met Mekongrivier stroomaf na die suide tot in Luang Prabang, die ou hoofstad van Laos, en van daar na die tempels in Angkor in Kambodja. Op ’n latere vlug tussen Bangkok en Luang Prabang lees ek in die vlugtydskrif van ’n tai ji-skool in China en toe is ek soontoe en het tai ji leer doen. Dit was die begin. Maleisië, Singapoer, Viëtnam, Hongkong, Taiwan, die Filippyne en Indonesië het daarop gevolg. […]
“In Laos het ek geleer arm mense steel nie. Hulle hoenders slaap snags in die straat onder ’n gevlegte bamboesklok; in Singapoer en Maleisië kyk die inwoners sonder verwyt terug na die voordele wat kolonisasie vir hul lande gebring het; die Viëtnamese haat nie Amerikaners en Franse nie; Chinese werk tot 16 uur per dag, sewe dae per week vir hulleself. Die regering daar help tans arm boere met geld en deskundige raad en die boere kweek orgideë vir medisyne en sampioene wat binne 24 uur gereed is vir die mark en teel kakkerlakke om afval te verorber en word ryk. En ek het gesien hoe oorbevolking en toerisme die mooi plekke op die aarde vernietig.”
Buys woon steeds in Kaapstad saam met sy lewensmaat, Tan Twan Eng, ’n Maleisiese regsgeleerde, aikidomeester en ’n internasionaal bekroonde skrywer. Sy debuutroman, The gift of rain, was in 2007 op die langlys van die Man Booker-prys en The garden of evening mists was in 2010 op die kortlys vir dieselfde prys.
En toe, in 2018, verskyn Die Dao van Daan van der Walt, wat Andries onder die skuilnaam Lodewyk G du Plessis geskryf het en loop hierdie roman met ses letterkundige pryse weg:
- 2019 UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk: debuut
- 2019 Eugène Marais-prys
- 2019 WA Hofmeyr-prys
- 2019 ATKV-Prosaprys
- 2019 kykNET-Rapport-prys vir fiksie
- 2020 Helgaard Steyn-prys.
In 2022 vertaal Michiel Heyns die boek in Engels onder die titel The Dao of Daan.
Dit was dan ook die dubbele bekroning in 2019 – die UJ-debuutprys en die Eugène Marais-prys – wat hom laat besluit het om sy ware identiteit openbaar te maak. Hy verduidelik aan Johan van Zyl: “Die ongemak het begin toe ek die kortlys vir die UJ-debuutprys haal … [T]oe ek uittreksels uit die commendatio en die positiewe en soms roerende kommentaar op die sosiale media lees oor hoe my boek lesers se lewe geraak het, het ek die oorsaak van die ongemak verstaan: Ek het begin wonder oor die verantwoordelikheid van ’n skrywer teenoor sy lesers en erkentlikheid teenoor ’n organisasie wat sy boek met ’n prys bekroon.”
Dit was ook ’n “ope geheim” dat hy al baie lank besig was “om oom Daan se storie aanmekaar te timmer en ek en my vriende het dikwels grappies gemaak oor dié ou man se wedervaringe. Dit het my eintlik verbaas dat die storie, wat nié outobiografies is nie, nie die afgelope jaar gelek is binne hoorafstand van ’n nuuskierige oor nie.”
Hy vertel verder aan Van Zyl dat met die gebruik van ’n skuilnaam hy só sy dankbaarheid teenoor sy ouers (albei lank al oorlede) wou betuig “wat met ’n agterstand moes begin en met so min in die lewe moes klaarkom om my met twee universiteitsgrade die toekoms in te stuur”.
Op LitNet is die commendatio vir die UJ-debuutprys Amanda Lourens te sien. Sy skryf onder andere: “Die plesierige, soms skreeusnaakse, maar diep deurleefde verhaal van Daan van der Walt, ’n afgetrede boer en eertydse advokaat, neem die leser as reisgenoot saam op Daan se weg om homself te vind ná ’n veelbewoë lewe, maar ook een waarin hy nie die verskillende fasette van en ervarings in sy lewe tot integrasie kon bring nie. Die roman, as die medium waardeur hy sy eie geskiedenis (sy ‘Historia’) opteken, maar ook gesprekke met sy gestorwe vrou en hond voer, word egter die saamkomplek van jin en jang wat op verskillende vlakke uitspeel: Afrika en China, Calvinisme en Daoïsme, sinnelikheid en askese, jeug en ouderdom, liggaam en gees, manlikheid en vroulikheid.
“Du Plessis (want dít is sy skrywersnaam, ook in die toekoms, sê Buys onlangs aan die media) bring met hierdie roman iets wesenliks nuuts en verrassends in die verhaal van die ouer Daan van der Walt wat in ’n katartiese verblyf in China opnuut na sy eie lewe en die samelewing met sy gebaande weë kyk en insigte verwerf wat sy lewe daadwerklik verander. Daan reis na China om sy seun – ’n afgestudeerde predikant wat tot sy enorme teleurstelling die bediening gesystap het – te besoek, maar daar raak hy ongesteld wanneer hy agterkom dat Jan-Willem met ’n Chinese vrou getroud is. Sy seun besef dat sy pa se balans herstel moet word en neem hom na die Tempel van Ewige Vrede, waar hy onder die groot meester Yang se oog tài jí leer beoefen. Hy maak kennis met nuwe gebruike en lewensfilosofieë (wat vir heelwat vermaak sorg wanneer dit vanuit Daan se stoere perspektief as volksvreemde afgodediens beskryf word), en maak algaande vrede met sy eie lank-onderdrukte gaywees. (Ek vermoed wel baie lesers sou die lieflik verwoorde liefdestoneel teen die einde eintlik veel meer uitgebrei wou hê.) Maar die roman is ook ’n herbesoek aan die verlede, en Daan probeer die verlede – en sy skuld teenoor sy naaste familie – tot afsluiting bring in onder meer briewe aan sy oorlede vrou. Uiteindelik blyk sy nuutgevonde lewenswysheid wanneer hy onomwonde kan verklaar: ‘Ek dink, daarom is ek deurmekaar.’ Die afstand wat hy met hierdie woorde tussen hom en die aanvaarde Westerse denke van cogito ergo sum plaas, wys op die enorme reis wat hy reeds afgelê het.
“Ek haal my kollega Frederick Botha graag aan, wat in sy keurverslag skryf: ‘Die nuwe bedeling en algemene omstandighede in postapartheid Suid-Afrika, magonteiening, manlikheid, skuld en vergifnis, godsdiens, seksualiteit, taal en kommunikasie, en ’n besinning oor die letterkunde, is maar slegs ’n paar kwessies wat in die roman ondersoek word. ’n Skrywer wat op so ’n boeiende wyse dit kan regkry om ’n groot lesersgehoor te bereik en hul hartsnare te roer terwyl hulle uitgedaag en gekonfronteer word, is vir my een van die opwindendste kwaliteite waaroor ’n debuutwerk kan beskik.’
“Wat merkwaardig is, is hoe die teks daarin slaag om aanknopingspunte met ’n hele paar aktuele kwessies in die eietydse Suid-Afrikaanse diskoers te vind.
“In Daan se verlede op die plaas Ystervarkfontein is die verwantskap met die plaasroman, maar dan ook met vertrek, soos in ander voortreflike hedendaagse aansluitings by hierdie tradisie, soos in Eben Venter se Ek stamel ek sterwe en Marlene van Niekerk se Agaat.
“Daar is distopiese elemente: die plaasaanval en die moorde wat Daan se wêreld onherroeplik verander en sy arrestasie kort daarna. Daar word verwys na die wegkwyn van Afrikaans in ’n nuwe despotiese orde, soos wat byvoorbeeld ook in Venter se Horrelpoot gesien word.
“Die roman sluit aan by die groeiende korpus van gayliteratuur, bied boonop ’n besinning oor manlikheid – iets wat bitterlik nodig is in ’n tyd waarin identiteite voortdurend uitgedaag en herdefinieer word.
“Die gesprekke met die gestorwe Kaspaas sluit natuurlik aan by die opwindende studieveld van diere, en spesifiek die rol van honde, in die Suid-Afrikaanse literatuur.
“En dan bring Die Dao van Daan van der Walt nog ’n speler op die toneel wat die meer teoretiese gesprek oor sogenaamde laatwerk betref. Daar is die groeiende verskynsel in Afrikaans van debute deur ouer skrywers, en van langer skrywers- en digtersloopbane – baie wat eers na aftree-ouderdom behoorlik vlamvat. Indien hierdie roman wel ’n voorbeeld van laatwerk is, sal dit een wees wat spreek van integrasie en integriteit – waar laasgenoemde die teenpool van desperaatheid is, volgens Erickson se bekende uiteensetting van die konflikte in die verskillende lewensfases.
“Die skrywer gee deur hierdie roman dan erkenning aan ’n soort menswees – dié van die ouer, wit, manlike Afrikaanssprekende – wat in die eietydse klimaat dikwels aan verguising onderwerp word, maar wat, as deel van die groter weefwerk van menslike ervaring, ’n ondersoek én ’n nuwe reis verdien.”
In sy repliek op die commendatio vir die UJ-debuutprys sê Buys: “In my 81ste lewensjaar staan ek vanaand voor u in verwondering – in verwondering oor die Afrikaanse taal. Die onmeetbare hoogtes wat die taal bereik, in die letterkunde, die digkuns, in die akademie, en die beroepswêreld. Dit sou oneerbiedig en ondankbaar wees teenoor die keurpaneel en die Universiteit van Johannesburg om nie vanaand hier te wees nie. Hoe kan ek u bedank vir die eer? Ek spartel nog.
“’n Mens moet baie ondervinding van die lewe opdoen voordat jy kan hoop om dalk ’n goeie sin te skryf. Ná al die oorskrywery het ek, die debuutskrywer, myself afgevra: Is alles wat ons skryf nie maar net eggo’s van stories wat ons voorheen gehoor het en oor gedroom het nie?” (Volksblad, 8 Mei 2019)
En op Netwerk24 skryf Elmari Rautenbach só in haar commendatio vir die ATKV-prosaprys: “As jy die beste prosaprys van die jaar moet kies, soek jy vaardigheid van skrywe, selfvertroue in die weergee van die materiaal, innovering in hoe dié weergawe verpak word, maar bo alles soek jy ’n verhaal wat jou wegvoer en nuwe wêrelde oopmaak – ook binne jou.
“En dit, en méér, is hierdie boek – verstommend genoeg ’n debuutwerk. Ek glo nie daaraan dat een boek al die pryse van die jaar wen nie. Maar dit is min dat ’n boek jou pad kruis wat so beleë is, tegelykertyd so hartseer en snaaks is, en geskryf met ’n hele lewe se perspektief van soeke en vertwyfeling. Hierdie is nie my boek van die jaar nie, maar van die afgelope paar.”
Thys Human was een van die beoordelaars vir die kykNET-Rapport-fiksieprys. Hy skryf: “Die Dao van Daan van der Walt is een van daardie uitsonderlike romans wat ’n mens intellektueel uitdaag, met aktuele vraagstukke konfronteer én uiteindelik ook emosioneel aangryp. Te oordeel na die literêre pryse en akkolades wat dié roman reeds verower het, wil dit voorkom asof Frederik de Jager se woorde op die agterblad – ‘Hierdie boek behoort ’n golf deur die Afrikaanse letterkunde te stoot’ – inderdaad profeties was. En hééltemal verdiend.
“’n Belangrike deel van Daan se moeisame pad na insig (sy dao), is om te leer hoe om saam met én deur ander mense te lewe. Hiervoor benodig hy ’n nuwe woordeskat (en hoe pragtig kreatief draai Du Plessis nie die krane in die roman oop nie!) wat hom in staat sal stel om vry te raak van sy innerlike spanning en om uit te druk wat hy nooit met sy gebrekkige Dopper-, volks- en regstaal gesê kon kry nie.
“Al speel die aflegging van dinge, die wegwerping van bagasie en die losraak van aardse drange so ’n deurslaggewende rol in Daan se relaas, is Die Dao van Daan van der Walt in die eerste plek ’n lewenswerk: Dit asem wysheid en ervaring waaraan ’n leeftyd versamel is; dit gooi byna halsstarrig (maar ook hartgrypend mooi) wal teen verlies; én dit huldig die komplekse verhoudings wat ons ondermaanse staning so kosbaar (en kostelik) maak. Dit is ’n roman wat ’n onuitwisbare indruk op die leser maak.” (Netwerk24, 15 September 2019)
Bernard Odendaal was die sameroeper van die beoordelaars vir die Helgaard Steyn-prys vir 2020 en hy het as volg gesels oor Die Dao van Daan van der Walt: “Die Dao van Daan van der Walt is ’n uitsonderlike debuutwerk. Dit is ’n roman wat die leser intellektueel uitdaag, konfronteer met aktuele vraagstukke én emosioneel tref. Terselfdertyd is dit ’n innemende boek; die hoofkarakter is iemand met wie lesers om verskeie redes kan vereenselwig” (Beeld, 21 Oktober 2020).
Frederik de Jager, wat saam met die skrywer die lang pad van hierdie boek geloop het, het in Rapport met Buys gesels terwyl sy regte naam nog nie bekend was nie. En De Jager wou weet hoekom dit Lodewyk du Plessis só lank geneem het om gepubliseer te word, siende dat hy so ’n ooglopende skryftalent het.
Buys het geantwoord: “Ongeveer 20 jaar gelede het ek in ’n tydskrif op ’n brief aan die troostante afgekom waarin ’n wewenaar raad vra: Hy het met ’n gawe weduwee bevriend geraak. Een aand nadat hulle gaan uiteet het, het hulle in haar woonstel gaan koffie drink. Hy is badkamer toe, en toe hy uitkom, sit sy nakend op die rusbank. Hy wou weet wat is fout met haar. Met dié gegewe het ek my hand aan ’n kortverhaal gewaag wat in ’n laai beland het.
“Ná my aftrede het ek in Suidoos-Asië begin reis en in China tai chi leer doen. In ’n plaaslike koerant lees ek toe van miljoene Chinese vroue wat met gay mans getroud is en in opstand gekom het. In dié land móét ’n man trou en ’n seun verwek. Hierdie huwelike is ongelukkig en die vroue dink die probleem lê by hulle, totdat die waarheid uitkom. Die vroue is skandelik misbruik … maar wat van die man wat hom in so ’n huwelik bevind, het ek begin wonder. Die storie van Daan van der Walt is daar gebore, en ek het begin skaaf aan my kortverhaal oor die ou wewenaar en die kaal weduwee.
“Dit het ’n goeie tien jaar se skryf en herskryf geneem om die verhaal te skep wat uiteindelik kon begin by die stokou sterwende koning Dawid wat ’n jong meisie, die Sunamiet, misbruik het om snags in sy skoot te lê vir warmte, en ’n ou boer uit die Kalahari te laat konstateer dat seks eintlik so normaal is soos koeksisters en melktert by ’n koppie koffie terwyl hy goed weet seks is iets ‘heiligs’ of ’n doodsonde.”
In Die Dao van Daan van der Walt blyk dit dat hoewel Daan en sy vrou se verhouding nie altyd so glad geloop het nie, daar tog ’n toegeneentheid tussen hulle was, soos blyk uit sy nadoodse briewe aan haar, stel De Jager dit aan Buys, en wil dan weet hoe dit dan strook met sy liefde vir ’n man. “Met hierdie vraag,” antwoord Andries, “raak jy aan die hart van die boek: Die problematiek van die gay man wat trou omdat die gemeenskap dit van hom verwag, tradisies hom in die huwelik dwing, sy godsdiens hom in die 21ste eeu steeds geen alternatief bied nie.
“Hoe hanteer Daan dié dilemma? Hy verbloem sy onvermoë op kinderagtige wyse: Hy verkleineer sy vrou en spot met haar liefde vir die letterkunde. Wat doen Margrieta? Sy onttrek haar aan ’n sekslose huwelik en gaan op in die wêreld van fiksie. Eers nadat kanker by haar ontdek is, begin die twee mense mekaar ontdek. Ná haar dood vreet skuldgevoelens hom op. Die briewe wat hy dan vir haar skryf is aanvanklik ’n uitreiking, ’n gryp na ’n grasstingel totdat hy in die antieke literatuur nuwe insigte kry en hy ’n finale offer aan sy gestorwe vrou kan bring.”
Vir Buys is Die Dao van Daan van der Walt nie ’n liefdesverhaal nie. “Dis ’n boek wat hom besig hou met die liefde in sy vele vorme. Ook die liefde tussen ’n pa en sy twee seuns en sy stryd met een van hulle. Die stryd tussen pa en seun het begin in die einste mitologie wat ons vandag nie meer ken nie. Heel aan die begin, voor die hemel en die aarde van mekaar geskei is, het Kronos sy pa, Uranus, met ’n krom sekel van klip gekastreer. Van toe af is die stryd tussen die seun en sy vader met ons. Ook in Die Dao van Daan van der Walt, maar saam met liefde” (Rapport, 15 April 2018).
Die uitgewer, Tafelberg, skryf as volg oor die roman: “Toe die eertydse Kalahari-boer Daan van der Walt ’n vertigo-aanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ’n monnikeklooster in China af waar hy onder leiding van Meester Yang taichi moet doen in ’n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan hom vreet, iets wat hy van sy hart móét afkry voordat hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het.
“Die Dao van Daan van der Walt is ‘oorspronklik en uniek, erudiet maar nooit met akademiese hamerhoue nie’, ’n roman wat hom geweldig ontroer en baie laat lag het, sê Frederik de Jager, wat byna twee jaar lank saam met die skrywer die manuskrip versorg het.
“Dit is iets heel unieks op ons literêre toneel … iewers tussen MM Walters, Klaas Steytler, Anna M Louw en Berta Smit met ’n stuk Karin Brynard se Plaasmoord ook in. Ouwêrelds, maar allermins outyds. Genoeglike Afrikaans. Dit put diep uit die klassieke van die Grieke en Romeine, die Chinese mitologie en die Afrikaanse landelike wêreld.” (Rapport, 15 April 2018)
In die boek vertel Daan die storie van sy lewe aan sy hond, Kaspaas. Maar Kaspaas is vir die grootste deel van die boek reeds dood. Ook praat en verstaan Kaspaas net Engels. Hierdie hond is vir Elna van der Merwe (Huisgenoot, 17 Mei 2018) een van die “vreemdste, verfrissendste” karakters in die letterkunde.
Buys se reaksie hierop: “Al van Steinbeck se Travels with Charley gehoor. Of van Marquéz se storie oor María dos Prazeres se hond, Noi, wat by haar graf gaan lê het. Kort voor haar dood het María gesê dis belangrik om ’n hond te leer om te lag en te huil.
“Navorsing toon dat ’n troeteldier ou mense se lewe in ouetehuise draagliker maak. ’n Hond is gewoonlik die aangewese troeteldier, maar papegaaie en donkies word ook aanbeveel.”
En hoekom het die skrywer in Daan se geval ’n hond gekies? wou Van der Merwe weet. “Dink jy Daan sou 358 bladsye lank met ’n budjie kon gesels?”
Oor die Engelse vertaling, The Dao of Daniel, skryf Jonathan Amid op News24: “Although this is a review and not an article for a translation studies journal, I’d like to congratulate the author and translator. The successful, fruitful, wildly enjoyable and altogether fascinating work of translation captures the essence while not feeling diluted, underdone or tonally problematic. […]
“You cannot miss the extended conversation at play between Christianity, the church and Eastern belief systems, nor how the author subtly, soberly, salaciously and sagaciously unspools a wealth of wisdom on humanity’s age-old obsession and fascination with questions of sex and death, creation and destruction. This review can only hint at the kind of greater conversations the author is having with the reader about a great many things, but be wise to the fact that this Dao is resolutely one containing multitudes: it is seemingly simple and even straightforward at times yet remarkably ambitious and complex in formal terms and in the ways it employs different registers and modes of narration and storytelling. […]
“Few will argue that the novel’s opening and first stretch are a hard graft; that Daniel’s unique and sometimes confounding narrative takes some getting used to. This is also what makes this sprawling, sensitive text so irresistible once you give in to its demands. There is a difference between an exercise in self-congratulatory literary masturbation and a challenging yet deeply rewarding creative act like this one, rendered so generously and acutely by an attuned translator.
“The Dao of Daniel is that rare book managing to be by turn accessible, gripping, inspiring and enervating, but never less than wholly immersive. Read it.”
In Vroukeur is Willie Burger die resensent en hy sluit sy bespreking só af: “Dit is ’n moeisame weg (die Dao van die titel wys op die ou Chinese geskrif, Dao de Jing waarin Dao ‘pad’ of ‘weg’ beteken), maar uiteindelik is die roman meer as slegs Daan se pad, dit is ’n pad na deugdelike bestaan, ’n sinvolle bestaan. Sy blootstelling aan ander kulture, ander geskiedenisse, ander mites en ander mense maak dit vir Daan moontlik om uit die beperkende woordeskat te ontsnap en ’n ander manier van bestaan oop te maak: ’n bestaan wat nie op uitsluiting en afwysing berus nie, maar op oopheid en insluiting.
“Die boek is dikwels baie snaaks. Daan se voorliefde vir boerekos, boeregewoontes en die voorskrifte van die dopperkerk staan in skrille kontras met die Chinese wêreld waarin hy beland en sy lomp gesukkel om daarby aan te pas, is vermaaklik. Maar die roman is ook ontstellend en droef, as mens agterkom hoe Daan met homself worstel en in die proses nie by die mense naaste aan hom kan uitkom nie.”
In Rapport skryf Jean Meiring: “As waffers voyeur tuur die leser oor Daniël Jacobus van der Walt – Daantjie, Klei’baas en nou in China Da Ni Eu – se neergevalle skouers terwyl hy, soos deur ’n spieël in ’n raaisel, die wit beendere van sy byna afgeloopte lewe in beskouing neem. […]
“Die neerslag van Daan se nagtelike gegriffel is ’n ryklik geskakeerde doek met karakters wat Breugheliaans die derde dimensie binnebars, verwysings na die mees gewyde letterkunde onverwags ingebed tussen skalkse grepies uit die lirieke van Bles Bridges, en ’n woordvernuftigheid wat ’n sweefstokarties na haar buustelyfie sal laat gryp. […]
“Dat Daan se stem aanvanklik effe pompeus en rococo aandoen, is so. Dit verg gewoond raak. Maar op die ou end is dit ’n kerndeel van die onvergeetlike sjarme van die ou bogher. Hy hou dit tot die heel laaste sin vol, wat waarskynlik een van die tegelyk snaaksste en treurigste in ’n Afrikaanse roman is.
“En asof die boek nie deur genoeg verraad en geheimhouding omgeef is nie, lees ’n mens in die nabetragting Lodewyk G du Plessis is die skrywer se skuilnaam en die boek is ‘fiksie’. Maklik te glo? Noem my maar ’n ongelowige Thomas.
“Wat wel geglo kan word – dit belowe ék – is dat Die Dao van Daan van der Walt met sy bietjies Groen soos die hemel daarbo, flitsies Spertyd, en stukkies Charlie Oeng ’n raserige optog van ’n boek is wat elke dan en wan skokkend tot stilte hort, voor dit weer met dolle genietlike vaart voortskal.”
LitNet se Naomi Meyer lê die volgende stelling aan Andries Buys voor: “Jou boek is dalk die teenoorgestelde van 'n bildungsroman, of hoe? Dis 'n terugblik, dis bestekopname. Of is dit 'n boek oor sterflikheid? Al bogenoemde?”
En die skrywer antwoord só: “Vir dié strikvraag om die boek in ’n blik te druk met ’n naam-etiket op die deksel, is ek skrikkerig. Die boek het vir seker te doen met Daan se sielkundige, morele en godsdienstige groei in die aangesig van die dood. Die terugblik en bestekopname waarna jy verwys, noop Daan om sy agtergrond, soos die stuk steenkool waaruit die vlamme moet breek, te konfronteer. Die leser moet besluit of ek daarin geslaag het om aan te toon of dié groeiproses dit vir hom moontlik gemaak het om verby vervreemding, verlies en verwerping en die latere verwarring te beweeg in die rigting van nuwe insigte oor die sin van die lewe en die liefde en die dood met ’n gevolglike aanvaarding van wie hy, die man met die vele name, is. Sou dit van Daan gesê kon word dat hy aan die einde van die roman die essensie van sy lewe kon vasvang in paar woorde soos dié van ’n Japannees in sy doodsgedig?
“Dit alles klink nou vreeslik ernstig. Daan konfronteer die stuk steenkool darem met ’n eiesinnige sin vir humor. Ek het verneem dat daar lesers is wat die boek so tussen die stukke hartseer deur heel komies vind.”
Andries Buys is baie lief vir lees. Hy vertel vir Naomi Meyer van boeke wat hy gelees het: “Verlede week het ek Lila deur Marilynne Robinson gelees, die laaste in die trilogie oor die predikant John Ames en sy mense. Die ander twee boeke is Gilead en Home.
“Oor die jare versamel ’n mens met lees pêrels wat jy met jou saamdra. In Gilead, wat ek lank gelede gelees het, het Robinson my weer laat besef hoe belangrik die eerste paar sinne en bladsye in ’n roman is. Ek gaan keer op keer terug na die eerste vier bladsye van Gilead om te sien hoe briljant en met groot insig in die karakter van John Ames sy die leser inlei in die geheimenisse van haar roman. Daan was natuurlik beïndruk met die ou predikant wat sy storie vir sy jong seuntjie in ’n lang brief neergepen het.
“Onlangs het ek Shusako Endo se The samurai gelees. Soos in sy vroeëre boek, Silence, wat ek gedurende die skryf van Daan se storie gelees het, gaan dit oor sendingwerk in Japan vroeg in die 17de eeu. Die Japannese het alle sending in Japan verbied omdat die Christelike boodskap in stryd was met hulle kultuur en hulle het Christene en sendelinge in die see aan kruise vasgemaak sodat hulle stadig met hoogwater, soos die golwe oor hulle spoel, verdrink. (In die Filippyne was dit weer die sendelinge wat Chinese mans wat by mans geslaap het, op brandstapels verbrand het.)
“Hoe ouer ek word hoe minder fiksie lees ek. Van my tydgenote vertel my dat dit ook hulle ondervinding is. (In die Maart-uitgawe van Literary Review is daar 47 resensies, waarvan sewe misdaadromans dek en net agt fiksie. Wat sê dit vir ’n mens van die stand van fiksie in die Verenigde Koninkryk! En elders?) In my studeerkamer lê ses boeke waaraan ek tans lees oor mitologie, die Griekse, Romeinse en Middeleeuse geskiedenis. Ek lees selfs fiksie stuk-stuk. Elsa Joubert en Cecile Celliers se onlangse boeke was ’n uitsondering. Twee boeke wat ek nie kon neersit nie.”
Publikasies:
Artikels oor en deur Andries Buys
- Andries Buys (Wikipedia)
- Bam, Therese: Onderhoud met Lodewyk G du Plessis op Kwêla. Facebook, 2 Augustus 2019
- Buys, Andries: Só word “Die Dao” ’n boek vir die ore. Rapport, 28 Maart 2021
- Du Plessis, Lodewyk G: By my lees. Netwerk24, 8 Maart 2025
- Human, Thys: “Dit was heerlike gestoei met woorde.” Netwerk24, 15 September 2019
- Lion-Cachet, Francois: Andries Buys oor Afrikaans, geloof, die reg en letterkunde. Klyntji, 27 Februarie 2021
- Pople, Laetita: Buys ontvang die WA Hofmeyr-prys. Netwerk24, 13 Junie 2019
- Van der Merwe, Elna: Dao-skrywer praat met HG oor skuilnaam. Huisgenoot, 26 April 2019
- Van der Vyver, Karel: A way with words – an interview with author Lodewyk G du Plessis. Daily Maverick, 15 Desember 2020
- Van Zyl, Johan: “Die Dao van Daan van der Walt” se skrywer haal masker af. Rapport, 14 April 2019
Lodewyk G du Plessis (skuilnaam van Andries Buys) se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2025-05-22 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.



Kommentaar
Dankie, Erika!
Die boek is briljant en verdien elke prys dubbel en dwars.
Jy het my konteks wat ek gehad het, aansienlik verruim met die skrywersalbum.
Ek is ’n Afrikaans-onderwyser en stel baie belang in LitNet.