Lochner de Kock het vir die eerste maal in jare ’n nuwe album, Haal asem en leer dans, vrygestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Lochner. Hoe's dinge?

Nieteenstaande skewe berigte in Rapport gaan dinge baie goed. Ek is steeds doenig met musiek-shows saam met Richard van der Westhuizen, kook-shows met Jannie du Toit, my sot-reeks brei mooi uit, en ek doen gereeld kosbeoordelings. Ook aan die werk met ’n erotiese kosboek!
Baie geluk met die vrystelling van Haal asem en leer dans. Luidens ’n resensie van die vrystellingsgeleentheid op die looklocal-webwerf het jy daar beken die album het sewe jaar geneem om te voltooi. Hoe voel jy nou oor die voltooide produk en hoe ervaar jy die reaksie daarop tot dusver?
Ek is dankbaar en verlig. Ek het alles self befonds en ongelooflike ondersteuning van medemusikante gehad. Hy's klaar, en al maak ek nie ’n sent nie, is dit belangrik dat mense dit hoor! JNS Musiek versprei dit en hy's blykbaar in sommige Musicas. Kontak Flip asseblief vir meer inligting.
Dis ’n besonder diverse album, wat afskop met ’n soort oordra van wysheid (soos in talle van die liedjies) in "Leer dans", ’n vertelling van ’n katoolse navolg van "persoonlike" advertensies in "Snuffelgids" en ’n treffende vertolking van "Sarie Marais", asook ander uiteenlopende sketse. Waar kom hierdie verskillende inslae vandaan en hoe gaan jy daarmee om om elk op sy eie manier te laat werk?
Alles is semibiografies. ’n Mens deel maar eenvoudig dinge wat vir jou belangrik is. Nie almal hou van alles nie, dus hoop ek iets raak iemand, al is dit net een sin of noot.
Onder meer het jy met Riku Lätti, Laurinda Hofmeyr, Bacchus Nel en Les Javan saamgewerk aan van die liedjies. Hoe ervaar jy, as iemand wat al dekades lank in plaaslike musiek betrokke is, die manier waarop die jongeres die musiek en lirieke benader? Hoe het jy dié samewerkingsprosesse in die algemeen ervaar?
Ek sien hulle nie as jongeres nie. Hulle is almal ou siele by wie ek ontsettend baie geleer het. En dalk het iets van my ou lewe op hulle ook ingewerk. Dis ’n osmotiese proses gewees.
Op daardie noot, hoe beskou jy die stand van plaaslike en ook Afrikaanse musiek op die oomblik, in terme van wát vrygestel word en ook hóé dit vrygestel word? In watter opsigte verskil dit van toe jy destyds begin het, en wat aan die verwikkelinge is goed en wat is sleg?
Ligtrap innie daisies hier! Ek is beïndruk met ’n hele klomp nuwe mense, en dit besweer die kots-refleks wat wannabe’s, mooilyfie-blêrbokkies en wydsbeen-gespierde apies op mens het. Vir hulle maak ek oge en ore toe, en konsentreer op die goeie.
Watter snitte op Haal asem en leer dans staan vir jou uit as gunstelinge, en waarom?
Elkeen is maar deel van my. Arms, bene, poephol, long en tong van my siel en lyf. Hulle is maar daar.
Jy het sedert die vrystelling van die destydse treffer "Tussen treine" (saam met Richard van der Westhuizen) al wyd naam gemaak as akteur, televisie-aanbieder en ook as kok. In watter mate het jy druk ervaar, of dit nou van ander of van jouself was, om weer meer betrokke te raak by musiek, gegewe die legendariese status van jou vroeë treffers?
Weet nie van die “legendariese” deel nie, ek leef maar van dag tot dag. Ek moet erken ’n bietjie ekstra pennies sou die lewe draagliker maak en mens meer vryheid vir skep gee, maar die kreef is al gewoond daaraan om skuinsweg te swem.
Watter van hierdie "rolle" (musikant, skrywer, akteur en so meer) was oor die jare vir jou die mees aantreklike en watter was vir jou die mees lonend, in watter opsig ook al? Enige spesifieke herinneringe in hierdie opsig wat jy nie sommer sal vergeet nie, en enige wat jy eerder sal wil vergeet?
As ek kon, sou ek elke aand op die verhoog wou wees, maar ekonomies is dit selfmoord.
Al die ander fasette is vir my goed. Ek kon 9–5 in ’n kantoor gesit het, aaaaargh, dus is ek oneindig dankbaar vir die volheid van my lewe.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir jou in, in die verskeie opsigte waarin jy uiting gee aan die kreatiewe drang?
Soos reeds genoem, doen ek ’n paar diverse dinge. Almal is soos die Lotto. Dalk wen ek, dalk wen ek nie. Dis nie belangrik nie, maar wel die probeer!
Wat is die sin van die lewe?
Haal asem en leer Dans!
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

