Livingston se Beukes Willemse: "Ek droom gereeld dat ek op die Main Stage op Oppikoppi staan"

  • 0

Die rockgroep Livingston maak al jare lank golwe in veral Brittanje en Europa. Hulle is onlangs aangekondig as een van die internasionale groepe wat vanjaar by Oppikoppi optree. Beukes Willemse, voorman en een van twee Suid-Afrikaners in die groep, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Beukes. Hoe's dinge?

Baie lekker! Ek sit hier in Berlyn in die son en drink ’n bier. Baie lekker somersdag hier. Ons het ’n show in Hamburg môre, so ons almal ontspan ’n bietjie.

Livingston is pas aangekondig as een van die internasionale groepe by Oppikoppi vanjaar – lekker! Sover ek verstaan, is dit Livingston se eerste toer na Suid-Afrika, al is twee van die lede (jy en Chris van Niekerk) Suid-Afrikaners. Hoe voel jy oor die vooruitsig van optree in Suid-Afrika? Jy het sekerlik herinneringe aan optredes bywoon (en doen) hier – hoe onthou jy dit en hoe verwag jy sal dit anders wees nou? Enigiets buiten die optredes waarna jy spesifiek uitsien van Suid-Afrika saam met die band besoek?

Om die waarheid te sê is ek verskriklik opgewonde om weer in Suid-Afrika te speel. Na al die jare van musiek maak, droom ek nog gereeld in die aande dat ek op die Main Stage op Oppikoppi staan, met die son wat oor die mense ondergaan oor die bosveldagtergrond. Oppikoppi is die eerste groot stage wat ek ooit gesien het net voor ek Londen toe is, en dit het letterlik my lewe verander. Ek en Chris het in Sunnyside in Pretoria uitgehang in die laat ’90’s en het so ontmoet. Ons eerste band, Shag, was nie geboek om te speel by Oppikoppi nie, toe huur ons ’n generator en PA en speel elke aand ’n show daar op die grond, net langs die hek van die Main Stage by Oppikoppi. Ek onthou dit nog soos gister!

Ons tyd in Sunnyside was ongelooflik lekker. Elke aand ’n ander gig/jam saam met ander muso’s van oral in die land af. Die beste tyd van my lewe. Ek weet van toe af het dinge baie verander in Suid-Afrika, maar ek is ’n baie groot volgeling van Suid-Afrikaanse musiek, so ek weet die musiek scene rock daar. Ek dink ook baie van die nuwe musiek wat ek hoor is regtig baie goed. Veral van die meer “left-field” Afrikaanse goed wat deesdae uitkom. Ek is ’n groot fan.

BILTONG! Ek mis ordentlike wildsbiltong verskriklik!

Gedurende Augustus, wanneer ons in Suid-Afrika is, gaan ons na my pa se plaas toe net buite Newcastle om te skryf en op te neem aan ons volgende album. My pa het vir ons gereël om een aand daar saam met die Zoeloemense by hul huise te gaan luister na hulle tradisionele sang en danse. Ek kan nie wag om dit met die res van die band te deel nie.

Livingston is nou al ’n geruime tyd aktief, sedert die debuut met Sign language in 2008. Vir Animal (2014) het julle julself afgesonder in ’n woud in Duitsland om die album te skryf en op te neem. Dit klink moerse idillies, maar was sekerlik ook ’n groot uitdaging ... Wat het aanleiding gegee daartoe dat julle dié ekstreme besluit geneem het, siende dat julle voorheen al by onder meer Abbey Road opgeneem het? Watter soort impak het dit op die ou end op Animal gehad, beide in die gehalte van die songs en in die opname en ook hoe dit verskil van julle vorige opnames?

Nadat ons ons tweede album met Universal vrygestel het, was daar ’n verskriklike groot behoefte in die band om vir altyd en almal presies te wys wie ons is. Daar was soveel mense betrokke gedurende die skryf en opneem van ons tweede album dat ons self nie eers regtig self meer geweet het nie. Toe ons Animal begin skryf het, het ek ’n “epiphany” gehad een aand, en dit is dat elke keer as ons ’n nuwe demo vir ons label of management speel, dan word hulle opinie van die liedjie dadelik deel van ons eie opinie as ’n band. Dus was die enigste manier om die kuns absoluut suiwer te hou, om dit alles te skryf, op te neem en te master voordat ons dit vir enigiemand speel. En dis presies wat ons gedoen het. Ons het ’n ooreenkoms gemaak tussen die vier van ons daai aand dat totdat ons heeltemal klaar is, mag niemand anders ’n enkele noot hoor nie. Nie eers ons familie nie. Dis een van die moeilikste dinge wat ek nog ooit gedoen het, maar ons het dit gedoen. So, ek dink as ’n gevolg is Animal, vir nou, óns – heeltemal ongefiltreerd. 

Ek moet ook byvoeg dat Chris, ons kitaar- en keys-speler, na al die jare van oefen en leer, uitgedraai het as die beste producer en mixer saam met wie ek nog ooit gewerk het. Niemand het dit sien kom nie, ek dink nie eers hy nie. 

Animal is stampvol vinnige, groot, byna cinematic rock, met ruim gebruik van elektroniese elemente, tog is daar ook meer intieme snitte soos "Reckless", die titelsnit "Animal" en "Human" (laasgenoemde bou wel kliphard op) wat die oor sterk tref. Trouens, "Reckless" is die jongste single van die album af. Wat voel die natuurlikste vir julle om te skryf en uit te voer in terme van die harder, vinniger snitte versus die meer intiemes, wat ewe sterk staan as singles? Hoe werk die ontwikkeling van ’n liedjie in die algemeen in Livingston, vandat iemand die eerste akkoorde en woorde neerskryf tot dit op die ou end opgeneem word?

Ons almal in die band het ons baie spesifieke rolle wat ons speel. Ons almal skryf. Van konsepsie af word ’n nuwe idee in die mp3-pot ingegooi en rondgestuur tussen almal. Dan, as ons ’n paar goeie idees het, vat Chris hulle en maak iets vir my om lirieke voor te skryf en dan op te sing. Die hele proses is digitaal, so dis baie maklik om idees rond te stuur en uit te ruil met mekaar. Dis eintlik ’n noodsaaklikheid, want die res van die band bly in Berlyn en ek in Londen.

Ten opsigte van wat meer gemaklik voel om te skryf – ek weet nie regtig nie. Alles vir ons is oor die emosie en die gevoel. Enigiets wat ons iets laat voel, word verder gevat, vir so lank as wat dit dit doen. Hard, stadig, midtempo, whatever. So lank as wat ons dit voel.

Aan die een kant word geargumenteer dat daar veel groter geleenthede vir bands in die VK/Europa/Amerika is as in Suid-Afrika, maar aan die ander kant is die kompetisie natuurlik ook veel sterker. Hoe ervaar jy en die res van die band daardie soort druk wanneer julle optree, en ook wanneer jy skryf? Met ander woorde, is daar in ’n die VK/Europa-mark ’n spesifieke soort druk om uit te staan bo die res en treffers voort te bring, of gaan ’n mens maar net voort met dit wat jy goed doen?

Presies, jy doen net wat jy goed doen. Die oomblik as jy te veel rondkyk na wat die ander doen, verloor jy fokus. 

Alhoewel, daar is ’n rede hoekom Londen, New York en Berlyn op die voorgrond is van nuwe moderne musiek. Om net met oogklappe reg voor jou te kyk, waar ook al jy woon, en nie te weet wat op die cutting edge van jou musiekgenre is nie, sal ook nie werk nie. Nie as jy ernstig is oor wat jy doen nie. Wat ons doen, is: ons almal soek elke week nuwe musiek wat nie een van die ander ken nie en deel dit met mekaar. Dan, as ons na ons huis in die bos toe gaan om te skryf en op te neem, luister ons na niks anders as waaraan ons besig is om te werk nie. Dit maak dinge meer vars, spontaan en drukvry.

As ’n mens kyk na Livingston se Wiki-blad, blyk dit julle het al ’n hele paar lede gehad wat oor die jare gekom en gegaan het, veral op die bassist-front ... en Animal is ook met ’n nuwe tromspeler in Jan Siekmann van Duitsland opgeneem. Watter effek het dit op die dinamika van ’n band in die algemeen, en ook hoe dit vir julle spesifiek gewerk het, as daar ’n gereelde kom-en-gaan van lede is? Het julle nou die regte balans gevind? Hoe lyk ’n "perfekte" of "ideale" balans in ’n band in terme van wat bereik wil word, indien so iets bestaan?

Livingston was nog altyd ’n demokratiese band. Dis algemeen dat daar een of twee skrywers in ’n band is en hulle kry gewoonlik die meeste van die aandag en geld. Ons het vinnig agtergekom die enigste manier vir ’n band om ’n langtermyn toekoms te hê, is om 100% demokraties te wees. Dit kom by skryf ook. Met ander woorde, toe Martin, ’n Deense Chilli Pepper fan, ons basspeler was, het ons bietjie soos die Chillies geklink in party songs. 

Net aan die einde van Fire to fire, ons tweede laaste album, het Paolo, ons Italiaanse drummer, aangekondig hy trek LA toe. Dis net voor ons Animal begin skryf het, so vir die hele skryf en opneem van Animal was daar dus net vier van ons gewees. Om kreatief te wees met vier mense versus vyf is nou maar net baie makliker, en dis hoe dit nou is: die vier van ons wat Livingston opmaak is ek, Chris, Jakob en Phil, met Jan wat ons “session drummer” is en elke show saam met ons speel. Dis vir ons die balans wat die beste werk.

Van Livingston se sukses spruit daaruit dat ’n paar songs al gebruik is in films en vir bemarkingsveldtogte, soos met "Go" wat in 2010 in Duitsland gebruik is vir ’n uitsaaier se dekking van die Olimpiese Winterspele. Watter soort voordeel hou dit vir ’n band in as songs op dié manier ingespan word? Finansieel is dit sekerlik nuttig, maar hoe het dit ook jul algemene gewildheid beïnvloed? Is dit nou vir bands moeiliker om daardie elemente vol te hou in die digitale era van musiek aflaai en deel, of hoe benader julle dit?

Dis een van die beste tipes van publisiteit wat ’n band kan kry. Toe “Go” die amptelike song was vir die Winter Olympics hier in Duitsland was dit heeldag op die radio en TV vir weke. Mense het na ons shows toe gekom wat jy nooit sou dink na ’n rock show sal kom nie en baie van hulle volg ons tot vandag toe nog. Dis ’n baie groot publisiteitsplatform. Gedurende die 2010-wêreldsokkerbeker in Suid-Afrika was ons vir ’n week lank elke oggend op Live Breakfast TV om’ n akoestiese optrede te doen. Elke oggend uitgesaai na nege miljoen mense.

In terme van musiek aflaai: dis deesdae natuurlik baie moeiliker om geld te maak uit albumverkope as in die verlede. Ek glo dit is beter om te kyk na albums as besigheidskaartjies wat uitgegee word, eerder as om te probeer geld maak daarmee. Dit is baie meer produktief. Binne ’n week nadat ons ’n nuwe album vrygestel het, is dit in elk geval beskikbaar om onwettig van die net af te laai. Dis hoekom ons vir soveel jare so hard gewerk het aan ons live shows. Al ons publisiteit wys reguit na ons live shows toe en nie regtig albumverkope nie, want dis hoe ons mense kry om weer en weer terug te kom.

Livingston het nou al ’n paar albums en ’n swetterjoel optredes agter die blad. Wat staan vir jou tot dusver uit as hoogtepunte in terme van gigs en toere? Enige vreemde ervarings wat daarmee saamgegaan het, of plekke waarheen julle nie sommer sal terugkeer nie (of dit nou hulle of julle skuld was)?

Die grootste festival wat ons nog ooit geheadline het, was in Duitsland vir 30 000 mense. Ons was nog bietjie groen daai tyd, maar dis definitief reg boaan my lys van die beste gigs van my lewe. Dit gebeur baie min dat al die ouens in die band ’n perfekte gig het, maar dit was nog die naaste ooit. Die mense het na die tyd lank geskree “Zugabe Zugabe”, wat beteken “We want more”, toe ons al backtage gesit en ontspan het. Ek kry sommer hoendervleis as ek terugdink daaraan.

Die slegste, as ek nou móét, is ook ’n festival, maar gelukkig nie so baie mense nie, want dit het gereën. Ek het bietjie te dronk geraak op Poolse vodka en het, sal ons sê, bietjie rondgeval op stage. Die band was verskriklik kwaad vir my ná die tyd en dis tot vandag toe nog “the gig that shall not be mentioned”. Baie embarrassing! 

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Livingston, in so verre julle dit kan beheer?

Hierdie en volgende jaar is ons mission om die wêreld te toer met ons musiek. Buiten Suid-Afrika is ons veronderstel om Argentinië en Kanada toe te gaan hierdie jaar, en ons beplan vir volgende jaar ’n lekker lang Australiese toer. Dis vir ons almal ’n ongelooflike voorreg om in vandag se moeilike musiekklimaat nog steeds musiek te kan doen en ons is almal baie dankbaar daarvoor.

Dit, en om soveel moontlik pret te hê saam met my vier beste vriende.

Wat is die sin van die lewe?

Om so min as moontlik te dink aan die verre verlede of die toekoms.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top