LitNet se Kommadagga-slypskool in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot

  • 1

Click here for the English version.

Die Jakes Gerwel Stigting, LitNet en Huisgenoot wag aspirantskrywers se aansoeke in vir die Kommadagga-slypskool vir kort skryfkuns.

Die suksesvolle kandidate sal op koers wees na die vyfde jaarlikse Kommadagga-slypskool, een van die hoeksteenmentorskapprogramme by Paulet Huis, die Jakes Gerwel Stigting se tweede tuiste vir skrywers in KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap.

Gedurende die drie week lange residensie sal die skrywers onder leiding en mentorskap van Fourie Botha, voorheen uitgewer en nou voltydse digter en literêre agent, aan verskeie kort prosastukke werk en leer om hul styl aan te pas vir verskillende gehore. Terwyl die Jakes Gerwel Stigting in die Oos-Kaap die perfekte omgewing vir ’n storie bied, span LitNet en Huisgenoot saam om publikasiegeleenthede en blootstelling vir die skrywers te bied.

Hierdie jaar se slypskool, wat geskeduleer is vir 14 Oktober tot 3 November, bied boonop die uitsonderlike geleentheid om Paulet Huis met die ikoniese skrywer Zoë Wicomb te deel. Dié gebore Suid-Afrikaanse skrywer is ’n emeritusprofessor by die Strathclyde-Universiteit en die outeur van onder meer You can’t get lost in Cape Town, David’s story, Playing in the light, The one that got away, October en Still life.

Fourie Botha sê oor die slypskool: “Om drie weke lank te kan fokus op jou skryfwerk in ’n omgewing soos dié is ’n voorreg. Om tyd in dieselfde huis as ’n skrywer soos Zoë Wicomb deur te bring, kan ’n nuwe skrywer se lewe verander.”

As jy wil deelneem aan vanjaar se opwindende Kommadagga-slypskool, doen aanlyn aansoek by https://jgf.org.za/af/aansoek-kommadagga/.

Sluit die volgende by jou aansoek in:

  • Motiveringsbrief
  • Kortverhaal (2 000 woorde)

Vereistes en belangrike datums:

  • Slegs vir opkomende skrywers (geen vorige publikasies nie)
  • Sperdatum vir aansoeke: 26 Julie 2024
  • Aankondiging van suksesvolle kandidate: 2 September 2024
  • Bevestig asseblief reeds in jou aansoek dat jy beskikbaar is vir die residensieperiode – 14 Oktober tot 3 November 2024.

Die residensie sluit in:

  • Nasionale retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
  • Vervoer tussen die lughawe en KwaNojoli (Somerset-Oos)
  • ’n Gerieflike, eie “room with a view”
  • Skoonmaakdienste
  • Heerlike maaltye wat deur die Stigting se inwonende sjef voorberei word
  • Onbeperkte toegang tot die internet
  • Die leiding van ’n ervare mentor en die geselskap van medeskrywers
  • Plek in jou kamer en in stil hoekies in die huis en tuin om te skryf
  • Die geleentheid om op jou skryfwerk te fokus en om jou potensiaal te ontgin.

Meer oor die Jakes Gerwel Stigting:

Die Jakes Gerwel Stigting bou voort op die ryk nalatenskap van wyle professor Jakes Gerwel wat uitgestaan het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en besigheidsman. Die naam van die Kommadagga-slypskool verwys na die Oos-Kaapse platteland waar professor Gerwel grootgeword het en na die gemeenskap wat die Stigting steeds eer en steun in nagedagtenis aan hom.

Lees meer oor die Jakes Gerwel Stigting by www.jgf.org.za.

See also:

LitNet’s Kommadagga workshop with the Jakes Gerwel Foundation and Huisgenoot

  • 1

Kommentaar

  • Ek sal beslis belangstel om in die toekoms aan die slypskool deel te neem en ontvang graag gereeld meer inligting.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top