| Jannie Pretorius reageer op Suzanne Bester en Dorothea Steenkamp se kommentaar op sy LitNet Akademies-artikel "’n Positiewe profiel van ’n buitengewone hoofmeisie as rolmodel: Emme-Lancia Veronique Faro van die Sekondêre Meisieskool Oranje". |
Ek wil, soos per geleentheid van die aanlynseminaar verlede jaar oor my Gerhardus Bosch-waardering, my dank teenoor die redaksie van LitNet Akademies en die twee deelnemers uitspreek vir hulle bereidheid om waarde toe te voeg tot my studie – maar ek is minder geesdriftig daaroor: dit is my mening dat die akademiese standaard van die kommentaar hierdie keer minder bevredigend is. Dit wil vir ook my lyk asof die debat van verlede jaar grootliks by die twee kollegas verbygegaan het, want ek kon geen aanduiding in hulle kommentaar vind dat hulle enigsins bewus was van die vorige kommentaar (Berkhout was in die algemeen krities ingestel, terwyl Wolhuter besonder positiewe kommentaar gelewer het) en my kommentaar daarop en dit gevolglik met hulle kommentaar kon integreer, belyn of vergelyk nie. Dit is billik om aan te voer dat, omdat daar in beide studies individue waardeer word, hulle ’n soort eenheid vorm, en dat hulle daarom nie afsonderlik waardeer of gekritiseer kan word nie: dit sou vir my lyk na akademiese balkanisering.
Die twee kollegas het ook nie van verwysings in die teks gebruik gemaak, of bronnelyste ingesluit nie – wat natuurlik die akademiese substanse van hulle repliek ondermyn en hulle akademies gesproke blootgestel laat.
Ek verwys die twee kollegas dus in die eerste plek na die debat van verlede jaar, waarin ek reeds talle van hulle besware verreken het. Ek verwys daarom slegs kortliks na ’n enkele voorbeeld: beide Bester (“Die ontwerp van hierdie studie is nie korrek nie, aangesien daar nie met al die elemente van die waarderende ondersoek omgegaan is nie”) en Steenkamp (“Die trefkrag van die ondersoek word egter ernstig geknou deur Pretorius se besluit om die derde en vierde fases van WO uit sy studie te laat en ‘vir voltooiing aan huidige en toekomstige skoolleiers en onderwysers oor (te) laat’”) spreek hul kommer uit dat al die elemente of fases van die Waarderende Ondersoek (soos design en destiny) nie voltooi is nie.
Soos ek egter in my kommentaar tydens die Bosch-gesprek aangetoon het, is die ondersoek wel in die breëre gemeenskap voortgesit. Ek kan ongelukkig nie ingeligtes verveel deur die hele relaas te herhaal nie – die aanlynseminaar is hier beskikbaar en my kommentaar is hier beskikbaar.
Waaroor ek wel graag wil rapporteer, is dat daar, soos ná die Bosch-artikel, ook na afloop van die Faro-artikel ’n opwindende voortsetting van die waarderende proses was: ’n berig oor die artikel het op 22 Maart in Volksblad verskyn en ek en Faro is op grond daarvan deur ’n plattelandse gemeenskap genooi om hulle daaroor te kom toespreek. Ons het Faro se inspirerende toespraak gekombineer met ’n mini-WO binne die gemeenskap.
Dus, wat betref die voltooiing van die vier fases binne ’n bepaalde organisasie: soos deur Crous ea (2006) en Pretorius (2010) is dit ook in hierdie geval doelbewus nie gedoen nie, en om gehoor te gee aan die positiwistiese versugting/aandrang dat die fases almal volledig voltooi moet word, sou die potensiële positiewe impak van die navorsing beperk. Ek gebruik byvoorbeeld die Bosch-artikel by die opleiding van toekomstige biologie-onderwysers, en wil doelbewus die voltooiing van die laaste twee fases aan hulle oorlaat. Soos ek dit in die Faro-artikel gestel het: “In die proses is dit moontlik dat haar profiel en nalatenskap hul bestemming raak (Crous e.a. 2006:4).” Dit is my oortuiging dat die artikels daardeur lewende dokumente bly. Die wetenskaplike tydskrifte van ons tyd word immers daagliks oorstroom met voltooide studies wat soos paddavissies wriemel, maar min vordering maak en spoedig ’n vroeë dood sterf.
Bester raak ’n interessante aspek van WO aan met haar mening oor die posisie van WO en die oplos van probleme: “Waarderende ondersoeke word nie onderneem om sekere probleme op te los soos wat die navorser dit in hierdie artikel stel nie.” Soos wat ek destyds in my reaksie op Berkhout se kritiek genoem het, is dit te vroeg – en akademies riskant – om kategoriese uitsprake oor die verhouding tussen probleemoplossing en WO te maak. Bester ondermyn byvoorbeeld haar eie uitspraak in net die vorige paragraaf deur dit te stel dat “waarderende ondersoek as navorsingstrategie daarop gerig is om verandering te bewerkstellig (my kursivering).” Ek wil pertinent die volgende vraag aan haar stel: Sou verandering dan nodig wees as daar geen probleme is/was nie?
Ek wil my vraag en mening ondersteun deur Watkins, Mohr en Kelly (2011:16) aan die woord te stel:
Doesn't organization development as a method promote the identification and resolution of problems? Indeed, the practice of OD has traditionally highlighted deficits in the belief that the organization can be returned to a healthy state. Appreciative Inquiry suggests that, by focusing on the deficit, we simply create more images of deficit and potentially overwhelm the system with images of what is “wrong”. All too often, the process of assessing deficits includes a search for who is to blame. This leads to people being resistant to the change effort and to a large amount of literature in the field describing ways to deal with that resistance.
In Appreciative Inquiry, we take a different perspective. When we define a situation as a “problem”, it means that we have an image of how that situation ought to be – how we'd like it to be. Appreciative Inquiry suggests that, by focusing on an image of health and wholeness, the organization's energy moves to make the image real. Indeed, the seeds of the solution are in the images, and therefore it is not unusual to see a system shift directions “at the speed of imagination”!
Ek het in die Faro-artikel in die beste tradisie van WO die probleme kortliks gestel, maar daarna nie op hulle gefokus deur die beperkende proses van probleemoplossing nie: ek het, deur op die “health and wholeness” van Faro te fokus, positiewe beelde geskep wat die energie van lesers en deelnemers in positiewe rigtings kon stuur – inderdaad gestuur het.
Tydens ’n persoonlike gesprek met Watkins het sy genoem dat daar in hierdie verband ’n paradoksale element in WO teenwoordig is: probleme word opgelos deur nié op hulle te fokus nie! Die volgende beroemde woorde van Peter Drucker, “[o]ne of the great scholars of leadership and management over the past century” (Cooperrider, Whitney en Stavros, 2008:vii), word dikwels op WO-geleenthede (ook die onlangse World Appreciative Inquiry-kongres in Gent, België deur niemand minder nie as David Cooperrider, die vader van WO) aangehaal: “The ageless essence of leadership is to create an alignment of strengths in ways that make a system’s weaknesses irrelevant.”
Ek wil met hierdie opmerking afsluit: binne die omgewing wat deur die twee kollegas se oorwegend kritiese kommentaar geskep is, merk ek met stille genoegdoening op dat daar tans reeds 42 keer op die “Like”-ikoon by die Faro-artikel gekliek is, terwyl sy tydsgenote met 1, 3 of “Be the first of your friends to like this” tevrede moet wees. Ek is dankbaar teenoor LitNet Akademies dat daar op hierdie moderne wyse sulke heerlik positiewe terugvoer aan akademiese skrywers gegee word.
Bronne
Cooperrider, DL, D Whitney en JM Stavros. 2008. Appreciative inquiry handbook. 2de uitgawe. Brunswick, OH: Crown Custom Publishing, Inc en San Francisco: Berrett- Koehler Publishers, Inc.
Crous, F, GP de Bruyn, G Roodt, L van Vuuren, WJ Schoeman en AD Stuart. 2006. Appreciating Johann M Schepers. SA Journal of Industrial Psychology, 32(4):3–7.
Pretorius, JPH. 2010. ’n Waarderende ondersoek na die pedagogiese hoedanighede van Gerhardus PV Bosch. LitNet Akademies, 7(3):212–35.
Watkins, JM, B Mohr en R Kelly. 2011. Appreciative Inquiry: Change at the Speed of Imagination. 2de uitgawe. San Francisco: Pfeiffer.


Kommentaar
Ek lei dus na meer as 'n jaar uit die twee kollegas se voortgesette stilswye af dat hulle my gelyk gee?