LitNet Akademies: Verskuif Lang Lang die interpretatiewe grense van die kunsmusiek-teks – of bevestig hy dit?

  • 0

In die huidige intellektuele klimaat bestaan daar sedert die reeds oorbekende uitsprake van Barthes en Foucault sensitiwiteit daarvoor dat ’n onomwonde vereenselwiging van die outeur se intensies met die teks net so problematies is soos die idee van ’n afbakenbare vereenselwiging van teks met leser. Ook in die geval van musiek het die komponis (outeur) nie meer besitreg van die teks wanneer dit uitgevoer word nie: selfs al lewe die komponis nog, skep die uitvoerder (leser 1) se herinterpretasie reeds ’n konseptuele afstand tussen die komponis en die teks – en word hierdie afstand nogmaals bevestig of vergroot deur die luisteraar (leser 2) se ontvangs van die werk. Soos Paul Ricoeur (1981:145 ev) dit stel: daar vind in die interpretasie van ’n teks altyd ’n dubbele proses van vertroebeling plaas; om dit in die huidige konteks van toepassing te maak beteken dit dat die luisteraar nie deel van die skeppingsproses is of direkte insae daarin het nie, terwyl die komponis insgelyks nie deel aan die interpretasieproses het nie.

Musikale uitvoering voeg, soos hier bo gemeld, ’n verdere interpretatiewe stap by, naamlik die interpretasie van die luisteraar (die resepsie van die werk). In elk van die gevalle dien die teks as uitgangspunt, maar kan die interpretasie verskillende, selfs onbepaalbare, wendings neem. Ricoeur (1981:139) wys op ’n verdere distansiëringsproses van die teks, waarmee hy bedoel dat dit sigself mettertyd losmaak van die konteks van die eerste lesers, en dus van die spesifieke sosiale en historiese kondisies van die teks se produksie. Hierdeur maak die teks sigself inderdaad oop vir wat Ricoeur (1981:139) beskryf as ’n “onbepaalbare aantal interpretasies” (eie vertaling). Volgens Ricoeur lei hierdie proses tot ’n vierde vorm van distansiëring wat die emansipasie van die teks voltrek en die teks vrymaak van die beperkinge van die outeur se oorspronklike intensies.

Hierdie opmerkings dien as ’n inleiding tot die oordenking van die Chinese virtuoos-pianis Lang Lang se komplekse artistieke persona. Volgens Kleynhans en Van der Mescht (2012) se onlangse studie berus hierdie persona op ’n sorgvuldig-saamgestelde beeld soos deur die navorsers nagegaan in talle resensies, koerantberigte, tydskrifartikels, transkripsies van radio-onderhoude, gepubliseerde onderhoude, CV’s en outobiografieë. Die vernaamste bevinding waartoe hulle kom, is dat die kunstenaar ’n uitsonderlike posisie binne die klassieke-musiek-bedryf inneem, omdat hy sy openbare beeld aktief vorm, hierdeur ongekende roem en bekendheid verwerf het, en gevolglik deur talle skrywers as ’n soort klassieke rockster beskou word. Lang Lang floreer op kontroversie, en is uitgesproke daaroor dat hierdie aspek van sy openbare beeld beide sy artistieke persona en sy werk “verkoop”. Nietemin – soos wat Kleynhans en Van der Mescht duidelik uitwys – is daar talle kritici wat voel dat sy virtuose spel resepmatig is, en dat sy kuns ’n berekende dimensie het wat veral aan struktureel-musikale insig en dieper interpretatiewe vermoëns mank gaan.     

Lang Lang se kommersiële beeld kan moontlik vanuit die perspektief van die sogenaamde “ster-narratief” wat in populêre musiekstudies na vore gebring is, oordink word. Andrew Goodwin (1992:98 ev) beskryf hierdie narratief as ’n populêr-kulturele metateks wat met die narratiewe van spesifieke liedjies of musiekvideo’s versmelt. Hierby word die ster-persona as ’n deur en deur “gemedieerde” identiteit gekonstrueer wat óf deur die aanhangers geobjektiveer word, óf as objek dien met wie hulle kan identifiseer. Sommige sterre streef daarna om hierdie identiteit so konstant en voorspelbaar te hou, terwyl ander juis weer trag om hul identiteit voortdurend aan te pas en te verander (dink maar aan Madonna of, plaaslik, Brenda Fassie). Maar in alle gevalle staan die ster-narratief openlik in diens van kommersiële oogmerke.

Dit is moontlik as gevolg van hierdie aansluiting by kommersieel-gerigte objektiewe dat Lang Lang binne die milieu van kunsmusiek-uitvoering as ’n soort “rebel” beskou word – en tog weerspreek sekere van sy ingesteldhede en artistieke besluite ’n suiwer materiële ingesteldheid. Ofskoon hy byvoorbeeld weier om aan konvensies soos die alombekende swaelstertpak te voldoen (“Was the waiter my colleague?”, Kleynhans en Van der Mescht 2012), spreek sy alternatiewe verhoogdrag – veelkleurige Tang-dinastie-pakke – van ’n verknogtheid aan sy Chinese herkoms en van sy respek vir kulturele tradisie. Net so interessant is die feit dat sy “ekstreme choreografie” en die talle “truuks” van sy speelstyl (Kleynhans en Van der Mescht 2012) veel eerder na 19de-eeuse Romantiese speelstyle verwys as dat dit enigsins as revolusionêr binne die 21ste-eeuse tydvak beskou kan word.

In ’n onlangse studie oor die postmoderne kronotipe bevind Paul Smethurst (2000:72) dat die bogemelde dedifferensiasie tussen outeur en teks, asook teks en leser, nie die enigste belangrike konseptuele verskuiwing van postmoderne denke is nie – ’n ander belangrike paradigmaskuif is die vervaging van die voorheen sorgvuldig-bewaakte grense tussen “hoë” en “lae” kuns. Hierby word daar veral weggedoen met die idee van die “outentieke” of “oorspronklike” impuls waarby interpretasiemoontlikhede streng afgebaken is, en word die speelveld letterlik en figuurlik oopgegooi.

Dit is slegs binne hierdie konteks dat die oënskynlik krasse teenstrydighede van Lang Lang se artistieke persona verklaar of minstens geduld kan word. Aan die een kant minag hy tradisie deur met die swaelstertpak weg te doen – maar terselfdertyd omarm en vier hy sy persoonlike kulturele herkoms. Volgens resensente wil hy besondere beheer oor uitvoeringsaspekte soos tempo en klankkleur uitoefen – en tog wil sy liggaamstaal in uitvoerings suggereer dat hy homself volkome in die musiek verloor. Hy streef daarna om elke werk individueel volgens die vereistes van die musiek te vertolk – maar ten spyte hiervan word hy daarvan beskuldig dat hy as musikale “showman” net één geykte interpretatiewe resep volg – en dat hierdie resep al kleintyd deur sy vader “uitgedink” is. Terwyl sommige luisteraars deur sy engelagtige gesigsuitdrukkings betower en weggevoer word, maak van sy uitsprake dit duidelik dat hy reeds op ’n relatief jong leeftyd ’n geharde en berekende verhoogkunstenaar is.

Ricoeur (1981:139) se uitsprake soos hier bo aangehaal maak duidelik dat enige objektiewe betekenis van ’n teks nie bestaan nie – dit is reeds onderhawig aan die subjektiewe intensies van die outeur. Hierna ondergaan dit verdere prosesse van interpretasie – in die geval van musiek word dit deur die kunstenaar geïnterpreteer, en daarna deur die luisteraar. Nietemin glo Ricoeur (1981:14) dat interpretasie – hoewel dit “oop” is – geen selfreferensiële proses is nie, omdat dat die outeur sekere betekenisse in die teks “inkodeer”. Maar selfs in hierdie opsig ondergaan ’n teks voortdurend “nuwe” interpretasie.

Dit is interessant om in Kleynhans en Van der Mescht se studie op te merk dat resensente (skynbaar) wêreldwyd vashou aan die mite van een bepaalde, “korrekte” interpretasie en dat Lang Lang telkemale verguis word indien hy van vooropgestelde oorgelewerde idees afwyk. Ofskoon hy met reg vir sekere van sy interpretatiewe strategieë gekritiseer kan word, is dit tog opmerklik dat musiek-kritici blykbaar nog grotendeels binne die modernistiese raamwerk van één bepaalde soort stilistiese “korrektheid” dink.

Die vele teenstrydighede van Lang Lang se artistieke persona en van sy kuns is immers veel méér suggestief van ’n (postmoderne) weerspreking in sy duidelike projeksie van eklektisisme, afwyking en ironie – en in sy onbeskaamde vermenging van kuns en geld, asook kuns en kitsch.

Bibliografie

Goodwin, A. 1992. Dancing in the Distraction Factory: Music Television and Popular Culture. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Kleynhans, C en H van der Mescht. 2012. Die pianis as vertoonkunstenaar: Die Chinese virtuoos-pianis Lang Lang se populêre sukses. LitNet Akademies 9(1).

Ricoeur, P. 1981. Hermeneutics and the Human Sciences: Essays on Language, Action and Interpretation. JB Thompson (redakteur en vertaler). Cambridge: Cambridge University Press.

Smethurst, P. 2000. The Postmodern Chronotype:  Reading Space and Time in Contemporary Fiction. Amsterdam: Rodopi.    

Terug na indeksblad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top